Menán van Heerden het die gemeenskapsmuseum in Pniël ter ere van die herdenkingsdag van die vrystelling van slawe in die Kaapkolonie (1 Desember 1834) gaan besoek.
Slawerny is op 1 Desember 1834 amptelik in die Kaapkolonie afgeskaf, maar slawe moes as vakmanne vir vier jaar vir hul eienaars gewerk het. Slawe is dus ten volle bevry op 1 Desember 1838.
In die skaduwee van Simonsberg, verby die wingerde van Delaire Graff en Tokara op die R310 vanaf Stellenbosch oor Banghoekpas, op pad na Solms-Delta, is die sendinggemeenskap Pniël gesetel.
Hierdie voormalige sendingstasie is in 1843 deur die Apostoliese Unie van eerwaarde GW Stegmann gestig. Volgens die museum se webtuiste is Pniël “effens verbonde aan die bevryding van slawe in 1834”. Pniël is vir onder andere die vrygestelde slawe gestig.
Pniël (uitspraak Pinie-el) beteken "Aangesig van God": "Die oorsprong van die naam is baie betekenisvol en geneem uit die Bybel na aanleiding van GW Stegmann se inwydingsboodskap uit Genesis 32:30."
In die voorwoord van die boek wat deur lede van die gemeenskap self geskryf is, word vermeld dat hierdie gemeenskap, ’n kulturele erfenisskat, ryk is aan slawegeskiedenis. (Pniël en sy mense, 2008. Hoofredakteur: Matthew Cyster; skrywers: Lot Cyster, Matthew Cyster, Eleanor Damon, Freddie Simpson. Uitgegee deur Cyster, Cyster, Damon en Simpson, Pniël.)
In die boek, te siene in die museum, word beklemtoon: "Hierdie skrywe dan, is die Pniël-perspektief op die mense van Pniël. ... [D]it is ons storie oor die mense van Pniël."
Te siene in die museum en op die "werf":
"Die monument bestaan uit ’n rots wat vanaf Robbeneiland gebring en gemonteer is op rotse wat van die hange van Simonsberg verkry is. Hierdie rotse is vas aan ’n rotsbasis, ’n afbeelding van Afrika, wat geplaas is binne ’n rotssirkel wat die ganse aarde simboliseer. Hiermee word die geskiedenis van ons dorp (en vallei), vir altyd gekoppel aan die vernedering en uitbuiting van miljoene mense in ons land en regoor die ganse wêreld. Die oprigting van die monument in Pniël het aan ons ’n duidelike plek in die erfenisarena van hierdie land gegee."
Lees ook:
- Vrystelling van slaweherdenking en 'n onderhoud oor die Adam Small-fees in Pniël
- Vrystelling van slaweherdenking, uit die argief: My naam is Februarie
- Vrystelling van slaweherdenking, uit die argief: 'n Besoek aan Pniël
- Vrystelling van slaweherdenking, uit die argief: Ons slawe-erfenis – 'n Foto-toer
The post Die vrystelling van slawe: Pniël-gemeenskapsmuseum – "Ons storie" appeared first on LitNet.