Derek Hanekom se mosie van wantroue wat hierdie naweek by die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee-vergadering aangehoor is, was dapper. En vrugteloos. En waarskynlik die begin van die einde van sy tydperk as minister.
Gwede Mantashe het tydens die persverklaring duidelik gemaak dat alle lede van die NUK as lede daar is, nie as ministers nie, en dat ontplooiing as ministers ’n totaal aparte saak is, wat nie deur die NUK in ag geneem word nie. Dalk is die NUK in staat om so klinies te dink oor aanstellings. Ek twyfel egter of Zuma die mosie so objektief sal beskou. Hy het stappe teen Shaun Abrahams, direkteur van openbare vervolgings, gedoen die oomblik toe laasgenoemde tekens van onafhanklikheid begin toon het. Hy het in weerwil van die Grondwet en algemene prosedure lede van die EFF met geweld uit die parlement laat verwyder toe hulle hom oor Nkandla wou konfronteer. Hy het ministers van finansies rondgeskuif om die regte beïnvloedbare persoon in die pos te kry sodat hy besluite deurgedruk kan kry.
Hy het male sonder tal die howe en die polisie as sy persoonlike speelbal gebruik om van kritici ontslae te raak. Hoeveel te meer sal hy dit nie as persoonlik opneem wanneer sy kamerade binne die ANC stem begin dik maak teen hom nie? Hy het nog altyd daarin geslaag om agter die skerms te organiseer sodat sy ondersteuners sy kritici neutraliseer terwyl sy eie hande nooit regtig vuil is nie. Dit is dus waarskynlik net ’n kwessie van tyd voordat ’n kabinetskommeling aangekondig word en Hanekom en sy kamerade van hulle posisies onthef word. Waarskynlik as ’n Kersgeskenk van Zuma aan homself.
Zuma het weer getol. Hanekom is waarskynlik een van die meer senior lede in die ANC wat hom opponeer, maar gewis nie die enigste nie. ANC-veterane maak alreeds vir ’n maand of twee stem dik oor Zuma se vergrype. Hoe luider die stemme is wat roep vir sy herroeping, hoe hewiger verdedig sy ondersteuners hom. Daar is alreeds geluide dat Hanekom en die ander lede van die NUK wat die mosie ondersteun het, moet bedank of die gevaar loop om afgedank te word. Mantashe se ontkenning dat niemand se posisies in gevaar is nie, is leë woorde. Net die naïefste aanhoorder sou dit glo.
Meriete of bekwaamheid is lankal nie meer ’n oorweging by die toekenning van kabinetsposte of ander posisies nie. Lojaliteit aan Zuma word beloon, onafhanklikheid word gestraf. So eenvoudig is dit, en hoe langer Zuma in beheer is, hoe minder subtiel word dit gedoen.
Die “negative narrative around the president” waarteen Mantashe so maan, begin al meer lyk soos die begin van die einde van vryheid van spraak. As comrades nie meer hulle kommer kan opper in die struktuur wat daarvoor geskep is nie, watter kans het ons gewone burgers, of lede van opposisiepartye, dan?
Maar watter houvas het Zuma op die lede van die NUK? Dit gaan dieper as net ’n blote geskarrel vir posisies. “Zuma weet waar al die liggame begrawe lê,” fluister dié wat behoort te weet. Sy kennis is duidelik giftig genoeg dat hy die lede van die NUK in toom kan hou.
Zuma het getol, maar met elke aanslag word daar tog ’n bietjie aan sy pantser gehamer. Iewers behoort daar ’n swak plek te ontwikkel.
Gaan dit egter betyds wees om die land te red? Verlede week het ons vir die tweede keer hierdie jaar ’n afgradering na rommelstatus vrygespring. Tensy daar egter drastiese maatreëls getref word, gaan ons in 2017 ’n wrede ontnugtering belewe.
Die afgelope week was ekonomies nie goed nie. Werkers staak in protes teen ’n beoogde suikerbelasting; ’n minimumloon van R3 500 word, heeltemal verstaanbaar, verwerp as ’n klap in die gesig van werkers; die rand begin weer val nadat dit aanvanklik verstewig het teen die Britse pond.
Wat ons nou nodig het, is om te bewys dat ons sisteme het om korrupsie te keer. Ons moet bewys dat ons planne het om die gordel in te trek, en dat almal erns maak daarmee. Ons moet veral bewys dat ons howe, ons hoofstuk 9-instellings en ons staatsdepartemente onafhanklik is en met integriteit optree.
Wat ons nie nodig het nie, is ’n president wat hardnekkig volhou dat hy self wil besluit watter regter hy aanstel om die ondersoek oor korrupsie en onbehoorlike beïnvloeding, die sg staatskaping, teen hom te lei.
Ons het nie ’n openbare beskermer nodig wat lippetaal besig oor die belange van die publiek terwyl haar optrede al meer lyk asof die enigste een wat beskerming kan verwag, die president is.
Ons het nie ’n NUK nodig wat volstruisagtig hulle kop in die sand steek en die onverdedigbare verdedig nie.
Zuma het getol, maar ons betaal die prys.
The post Zuma tol weer appeared first on LitNet.