Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Boekonderhoud: Vir die voëls deur François Bloemhof

$
0
0

vir-die-voels-covVir die voëls
François Bloemhof
Uitgewer: NB-uitgewers
ISBN: 9780624080466

Skrywers oor hul nuwe boeke: François Bloemhof gesels met Naomi Meyer oor Vir die voëls.

’n Vrou het haar en haar man se storie vir Huisgenoot vertel. Jy’s genader om ’n boek van haar storie te maak. En toe speel jy saam telefoontjie – reg? Vertel, asseblief.

Dis reg! Een van die redes waarom ek betrokke wou wees, is omdat die storie reeds een maal verwerk is, en toe kon ek dit verder verwerk. So iets sal seker vir enige skrywer interessant wees, veral as dit ’n sterk storie was om mee te begin. Soos met telefoontjie speel, verander die storie elke keer as daar nog ’n verteller bykom. Nòg my weergawe nòg die filmmakers s’n is "die volle waarheid" en ek skat ek het die meeste van almal gejok ...

Telefoontjie-speel verduidelik jy in die boek se inleiding vooraf. Mens verstaan die proses van die boek se totstandkoming. Maar om iets af te luister in ’n gesprek veroorsaak ook humor of misverstand. Hoe het jy dit benader om die regte mense Irma en Sampie de Klerk se stories neer te skryf?

Ek het nie probeer om getrou aan die werklikheid te bly nie, omdat ’n mens uit die staanspoor nie kan nie. Voorin die boek het ek ’n beveiligende voorwoord waarin ek noem dat verbeelding en vryheid met die karakterisering ’n groot rol gespeel het. Die storie het in my kop anders vorm gekry as hoe situasies regtig destyds uitgespeel het; dit is noodwendig so. Ek het beslis ook ander woorde in die mense se monde én ander gedagtes en oorwegings in hulle koppe geplaas as wat regtig by hulle opgekom het. Ek het eers met Irma de Klerk kontak gemaak nadat die manuskrip rofweg klaar was, want ek was bang sy beïnvloed my interpretasie van die karakter as ek vroeër met haar praat. Toe gesels ons so lekker dat ons nou nog gesels!

"Elke mens is eintlik ’n hele ry mense. ’n Klomp wat agter jou aan tou: vooraan is die jy van hier en nou, en dan al die ander, jonger jye wat jou tot hier gebring het." ’n Eerste sin wat die leser die kamer intrek en die deur agter haar sluit totdat sy die boek klaar gelees het. Het hierdie sin vir jou gebeur toe jy, die skrywer, reeds jou karakter gekén het? Of wanneer?

Ek is baie bly jy hou van daardie sin. Maar ek kan jou nie behoorlik antwoord nie, omdat ek nie onthou hoe dit ontstaan het nie! Ek glo ek het eenvoudig voor die rekenaar gaan sit en myself afgevra: Goed, hoe gaan ek begin? Daar was ’n situasie wat uitgebeeld moes word, en ek moes op ’n manier die boodskap oordra dat die leser deur die loop van die boek met Irma in verskillende fases te make gaan kry ... En daar het ek myself nou so half weerspreek, dink ek. Ek het tog geweet wat ek met die karakter wil doen, so ek skat die antwoord op jou vraag is: ja, ek het haar reeds geken.

Jou eerste sin laat mens dink aan babushka-/matryoshka-poppe. Jy het hulle uitmekaar gehaal en na elke een gekyk. Wat het jy gesien? By haar, by hom?

Hoe meer fasette hoe dieper jy daarop ingaan. ’n Mens kan dieselfde sê van die storie wat Irma na Huisgenoot gestuur het, waarmee sy die kompetisie gewen het wat tot die rolprent aanleiding gegee het. Dit was reeds ’n opsomming, en dus ’n interpretasie van die werklike gebeure, wat ander mense op ander maniere sal onthou. Toe kom daar ’n draaiboekskrywer by, en later was daar drie van hulle, en uiteindelik is die negende weergawe van die draaiboek verfilm. Daar is lae op lae in die storie, nes daar is in ons almal se lewens, maar waarby ek in elke stadium wou uitkom, is wat in die karakters se koppe aangaan. Dis natuurlik een van die voordele van ’n roman – ’n rolprent wen veld as dit kom by beelde en gepaardgaande musiek, maar ek kon sterker vorm gee aan karakters se persoonlikhede. Mense verander ook natuurlik na aanleiding van wat met hulle gebeur; in die boek gebeur daar baie dinge met Irma en Sampie wat hulle help vorm.

Wie is jou gunsteling-karakter? As dit ’n onregverdige vraag is (tog, ek praat nie van die regte mense nie): wat was vir jou die lekkerste deel van die skryf van hierdie boek, of jou gunsteling-toneel?

My gunsteling was noodwendig die sentrale karakter, saam met wie ek die meeste tyd deurgebring het. Irma is die leser se ingangspunt tot die gebeure en dit is omdat sy so ’n sterk karakter is, een wat haar tyd vooruit was, dat die storie sy loop kry. Maar ek het dit ook baie geniet om Sampie se karakter sterker uit te bou en dalk is my gunstelingtoneel een van ’n hele paar wat nie in die rolprent voorkom nie, waarin Sampie – in die tyd wat hy en Irma uit mekaar se lewens was – ’n kroeg besoek en met ’n ander meisie flankeer. En hoe dit anders afloop as wat hy beoog het ...

Jou verhaal speel vyftig jaar gelede af. Die verlede is ’n ander land, veral in die geval van hierdie land. Kon jy die omstandighede van daardie figuurlike ander land losmaak van die storie? Dalk vra ek: met watter era se bril het jy gekyk toe jy hul storie geskryf het? En wat het jy gesien?

Dit was lekker om ’n storie te skryf wat nie in die hede afspeel nie, want ons kan ons blind staar na ons omstandighede sodat daar ’n mate van voorspelbaarheid en eendersheid mag intree. Daar was egter meer navorsing nodig as wat ek graag doen – ons skrywers raak mos maklik verlief op ons navorsing en raak dan gou-gou verstrik in allerhande irrelevante “interessanthede” – en ek moes keer dat dit ’n geskiedenisboek raak. Daardie tyd se gebeure het egter (nes vandag s’n) so ’n sterk impak gehad op mense se lewens, met die Grensoorlog om slegs die mees voor die hand liggende voorbeeld te noem, dat dit heelwat aandag moes kry. Ek het die karakters egter nog steeds as moderne mense gesien, want soos gesê, Irma was haar tyd vooruit deur ’n bevryde vrou te wees toe dit kwalik hoogmode was – en vir Sampie om daardie aspek van haar te kon waardeer, beteken hy was óók sy tyd vooruit.

En nou, van telefoontjie gepraat: die film Vir die voëls is pas uitgereik. Hoe is dit om die interpretasie van bladsy na skerm te beleef?

francoisbloemhof300

François Bloemhof

Ek is bly om te kan sê ek het die fliek erg baie geniet. Ek is net so bly dat daar so baie verskille tussen die roman en die film is, sodat mense ’n vollediger prentjie kan kry as hulle albei doen, die boek lees en die fliek kyk. Die verskille lê ook nie net in die aard van die twee mediums nie, maar ook in hoe ek en die filmmense die storie benader het. Die regisseur se interpretasie oortuig my heeltemal. Eintlik is ’n skrywer baie soos ’n regisseur, hoewel veel minder afhanklik van ander mense se samewerking!

Realiteitsvermaak – boeke, TV of film. Bestaan daar regtig so iets? Daar’s immers altyd redigering. Die kamera, die skrywer, die regisseur ... almal kyk met ’n doelbewus-subjektiewe oog. Of wat is jou mening?

Moenie dat ek oor die Kardashians lostrek nie ... maar nee, realiteitsvermaak bestaan nie. Almal weet as twee mense in so ’n reeks met mekaar baklei, en die kamera is ewe toevallig byderhand wanneer hulle dit doen, en hulle is pynlik mooi gestileer vir die geleentheid, is dit nie eg nie. In ander gevalle weet almal weer die betrokke vervaardigers kan besluit watter deelnemers hulle simpatiek of onsimpatiek gaan uitbeeld, en dit bepaal dan watter filmmateriaal van daardie persoon hulle vertoon of uitlaat. Jy weet ook die persoon wat tot op die einde in die Big Brother-huis agterbly omdat hy mense vermaak deur nonsens aan te jaag, is waarskynlik die een met wie jy die heel minste ’n huis sal wil deel. Dis net so fiktief soos enige sepie, net met swakker dialoog en soms oortuigender spel ... En ja, net so was die werklikheid ’n basis vir hierdie roman en rolprent, maar dis nou ’n storie, of eerder twee soms taamlik uiteenlopende stories.

Bestaan daar ware liefde, in ware lewensdramas, in ’n regte wêreld wat elkeen van ons ons elke dag verbeel?

Maar alte seker! Ware liefde lyk net totaal anders in die werklike lewe as in liefdesverhale. Ons het nie die voordeel van redigering nie, daarom sit ons opgeskeep met ’n klomp vervelige en soms lelike oomblikke tussen die mooiheid deur; tog is die goeie dinge daar en ons moet beter daarna oplet en dit meer waardeer wanneer dit voorkom. Geen persoon gaan jou elke oomblik ekstaties gelukkig maak nie en as julle soms of selfs dikwels vassit, beteken dit nie dis nie ware liefde nie – dis juis meer waar omdat dit meer menslik en dus meer faalbaar is.

Nou maar, ongeag jou antwoord in vraag nege: waarom dan “vir die voëls”? Verklap iets van die titel, as jy wil.

In die boek (ek het dit effens anders aangepak as wat dit in die rolprent voorkom) hoor Irma as kind by haar ma liefde is vir die voëls. Natuurlik is dit ’n groot struikelblok vir ’n jongman as die meisie wat hy in die oog het nog altyd só geredeneer het. Op letterlike vlak het Irma ’n groot belangstelling in voëls, wat ruimte gelaat het vir ’n bietjie lekker simboliek oor hoe mense mekaar soms soos die verskillende voëlspesies kan behandel. Dit is ook sommer net ’n lekker titel! Al het ek dit nie self uitgedink nie, het ek dadelik geweet ek sal nie omgee om dit op ’n boek van my se voorblad te sien nie.

  • Foto: verskaf

The post Boekonderhoud: Vir die voëls deur François Bloemhof appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>