’n Opgewonde sprankel blink in jou oë.
Die verspreiding van pienk skaamheid wat in jou wange gloei.
Jou mondhoeke wat aan toutjies gepluk word wanneer jy wil glimlag.
Die trane van hoop en geluk as jy lag, maar ook hartseer trane wat reën en ’n teken van gevoel is.
Hoe jou kop agtertoe val as jy ons bederf met jou borrelgiggels.
Die dansies wat jy opvoer vir ’n gehoor vol moedelose gewetes.
Jou stem wat die engele jaloers maak.
Jou hande,
perfek op hulle eie,
maar gepas in myne.
Jy noem jouself ’n frats,
’n mens wat nêrens behoort.
Iemand wat nooit pragtig sal wees nie.
Maar, my lief,
as jy jouself in my oë sien,
waar jy heeltyd jou ware self is,
sal jy jaloers wees op jouself en jou anderste wese.
Die manier hoe jy uitstaan en nie êrens hoef te behoort nie.
Jy sal nooit pragtig wees nie,
want jy is klaar so beeldskoon soos die Here jou geskape het.
As jy jouself deur my oë kan sien,
sal jy verstaan hoekom my bewondering vir jou weergalm in ons goedkoop-liefde-wêreld.
My liefde vir jou is alles behalwe goedkoop,
dit is die liefde waarna alle mense smag.
’n Liefde
so duur en anders.
’n Liefde
wat skyn op alle goeie dinge.
’n Straatligliefde.
The post Straatligliefde appeared first on LitNet.