Pogings om in vandag se tyd nog groot digters van weleer te huldig, is skaars. Ek is seker bewonderaars van die digkuns en die kunsmusiek het met groot belangstelling én waardering na hierdie herlewing van Sheila Cussons se werk uitgesien. Hierdie produksie verteenwoordig egter ’n uitstekende idee wat nie tot volle potensiaal verwesenlik het nie.
Ek begin met Pieter Cilliers se Engelse vertalings van Cussons se gedigte – dikwels indrukwekkend. Die gedigte is oorwegend in Afrikaans gesing deur die mezzo-sopraan Jolene McCleland en toeskouers kon die vertaling op ’n skerm agter die kunstenaars volg. In ’n produksie waarin die unieke woord en teks voorop staan, sou mens egter verwag dat uiterste sorg aan die dag gelê sou word wat bogenoemde tekstuele elemente aanbetref. Ongelukkig het wie ookal verantwoordelik was vir die proeflees van die vertaalde gedigte nie hulle werk behoorlik gedoen nie. In minstens twee van die vertaalde tekste op die skerm was daar lelike spelfoute of ekstra woorde – eenvoudig onverskoonbaar. Dit het ook nie gehelp dat die projeksies soms nie met wat op die verhoog plaasgevind het, gesinkroniseer het nie. En dan was daar die aankondiger wat gehoorlede aangeraai het om voor in die saal te sit, omdat daar “effe leeswerk” was om gedurende die opvoering te doen – in ’n onnodig klein lettertipe.
Dit bring ons by die uitvoering as sodanig. Wat die lokaal aanbetref kon die kunstenaars/regisseur nie vir ’n onvriendeliker ruimte gevra het nie. Die akoestiek van die ouditorium is gruwelik en dit is selde ’n goeie idee om hierdie gebrek met klankversterking te probeer oorkom. Die resultaat in hierdie geval was ’n mikrofoon-gesuis gedurende stiltes en ’n oorverdowende skril timbre by die klarinet en mezzo-sopraan in hoë registers.
Wat Hendrik Hofmeyr se toonsettings aanbetref, kan mens kortliks noem dat die ryk, liriese kwaliteit van vroeër gedigte soos “Pêrel”, “Onthoofding”, “Vy” en “Twee Winter-akwarelle van Amsterdam” nie deur Hofmeyr se komposisie geëwenaar is nie. Die poësie en die musiek het gedurende die eerste helfte van die uitvoering bloot nie gerym nie – daarvoor is Hofmeyr se komposisie-styl net té avant garde. Dit was byna asof Hofmeyr ten alle koste ’n vooropgestelde en ongelukkig eendimensionele musikale konsep op die ryk variasie van die poësie wou afdwing. Nie al Cussons se gedigte is geskryf in die waansinnige toonaard van “Die swart kombuis” nie – en die musiek het ongelukkig nie hierdie variasies in Cussons se stem volledig ontgin of weerspieël nie.
McCleland se uitbeelding van Cussons het ook nie daarin geslaag om Cussons as ’n multidimensionele mens en digter uit te beeld nie. Eers is Cussons ’n soort verleidelike meisie wat die klarinetspeler se bril speels gaps en dan gaan sit sy op die bed, besmeer haarself met swart roet en dra ’n swart sykous aan die een been. Hierdie soort fasiele pogings om die transformasies en trauma in Cussons se persoon en liggaam te verteenwoordig, enersyds weens die verhouding met Louw en andersyds weens die berugte kombuis-ongeluk in Barcelona, het gegrens aan die belaglike.
Voorts word Cussons meestal vertolk as ’n digter wat ossilleer tussen volledige waansin en die randjie van die afgrond – min tot niks word gemaak van haar diep geestelikheid nie. Natuurlik kan McCleland nie alleen vir hierdie soort oppervlakkigheid geblameer word nie – die regisseur het immers die laaste woord oor die handeling en gebare wat op die verhoog plaasvind.
McCleland het ’n ryk mezzo-stem, maar in hoë registers klink sy soos ’n amateur. Visser Liebenberg se klarinetspel was passievol, maar ook hy het nie baat gevind by die distorsie van klank wat deur die versterking veroorsaak is nie. José Dias op klavier was simpatiek en ondersteunend – mens het die gevoel gekry dat hy die hele produksie aanmekaar hou.
Vir my was die hoogtepunt van die produksie die klankopname van “Christ of the Burnt Men” waarin ons Cussons in haar eie stem kon hoor – aangrypend en in strak teenstelling met die res van die produksie waarin ’n paar mooi oomblikke ongelukkig nie die indruk uitwis dat dit in die geheel nie daarin slaag om te oortuig nie.
- Jaco Barnard-Naudé is ’n professor in regsfilosofie aan die Universiteit van Kaapstad. Digkuns en kunsmusiek trek sy aandag af.
The post Teaterresensie: Hemp van vlam | Shirt of Flame (KIKS | CTICC) appeared first on LitNet.