Coenie de Villiers is geen onbekende as dit kom by oorspronklike en unieke klanke in sy musiek nie en nou, vyf jaar na sy vorige CD, beïndruk hy met Emoji, sy jongste CD.
Emoji is ’n CD wat aan die een kant getuig van eenvoud en gestroop van alle pretensie om ’n unieke klank uit te bring en aan die ander kant getuig dit nie net van unieke en interessante klankkombinasies nie, maar ook van briljante samewerking tussen nasionale en internasionale musikante. Híér is ’n musiek- en woordkenner aan die woord. Daar is ’n verskeidenheid musiekstyle, soos hip-hop, rock en gospel, wat vars op die oor is; asook nuwe lirieke en uitstekende verwerkings van ou bekendes. Hierdie is ’n multitalige (behalwe Afrikaans en Engels, hoor die luisteraar ook Koisan en Zoeloe) en veelsydige CD wat in baie mense se smaak sal val as gevolg van die “musikale emotikon” wat dit by luisteraars uitlok.
Die titelsnit, opgedra aan oorlede pianis en komponis Christa Steyn, bewys dat dié CD vernuwend en skeppend is. “Emoji” het ’n jazzerige aanslag, maar dis veral omdat De Villiers al die klanke op ’n enkele vleuelklavier uitgevoer het, wat spreek van die kreatiewe denke wat in die snit én in die CD ingegaan het.
Die CD skop af met die nostalgiese “Notting Hill” wat die verlange van Suid-Afrikaners wat oorsee woon briljant uitbeeld met reëls soos “Ja, die vlaktes van die Vrystaat is al wat ek onthou as die verlange my kom beetpak” en “Afrika lê baie ver. Ek mis sy halala”. Hierdie verlange na en invloed van Afrika vind neerslag in die klanke van ander snitte soos byvoorbeeld in “Shesha” waar Wouter Kellerman, Grammy-wenner, die fluit speel; in “Die Visser” met die mondfluitjie wat die melancholiese lirieke ondersteun; en veral in die instrumentele “Naledi” met die gebruik van Afrika-instrumente soos die kora deur Pops Mohamed en die kalimba, die mondboog en die stem van !Gubi, ’n Khoisan-musikant.
Die samewerking met ander plaaslike kunstenaars word voortgesit en kom verder byvoorbeeld voor in “Desert conversation” (saam met Leon Gropp) wat die tematiek van oorlog treffend en ironies aanraak met pragreëls soos “We shoot a desert flare and it feels like Christmas cheer” en “We sing them in hoarse voices to try and right the wrongs” en in De Villiers en Elvis Blue se roerende weergawe van die Afrikaanse vertaling van Nkosi Sikelel’ iAfrika deur Hans du Plessis in “Seëngebed”. “People get ready” van Curtis Mayfield is fantasties en interessant verwerk en De Villiers word goed ondersteun deur Kgomotso Moshugi en sy a capella-groep No Limits. “Windmeul van jou hart” is die Afrikaanse vertaling deur Linette Retief van Michel Legrand se “Windmills of my Mind”. Die beskrywende lirieke (byvoorbeeld “Soos ’n sirkel in ’n sirkel, ’n spiraal in ’n spiraal wat nooit ophou, immer aanhou, nes ’n ewige verhaal”) word mooi en aangrypend ondersteun deur die buitengewone orkesbegeleiding – soos ook gehoor by een van De Villiers se vorige treffers “By jou”.
Die tweede snit op die CD, “Miskien”, is ’n verwerking deur De Villiers van die Franse komponis Gabriel Faure se “Pavane”. Hier het hy met Turkse duduk-speler, Gürkan Ҫakmak, saamgewerk, wat ’n evokatiewe atmosfeer aan die verwerking gee. De Villiers werk saam met die bekende Amerikaanse saksofoonspeler, Dave Koz op “Forbidden Love” met aangrypende en gestroopte lirieke oor verbode liefde: “Turn the pictures to the wall/ Close the shutters in the hall/ If there’s no story, if there’s no past/ This love might even last...”). Van die interessantste samewerkings is die laaste twee snitte op die CD saam met die hip-hop-sanger Hemelbesem op “Luister” en saam met rocksanger Karen Zoid op “Karoonag”. Hierdie tipe oorkruis-samewerking van verskillende musiekgenres kan net goed vir Afrikaanse musiek wees.
Emoji beklemtoon die individualiteit en vernuwende denke van De Villiers. Koop die CD en luister na oorspronklike Suid-Afrikaanse musiek op sy beste met ’n internasionale klank.
The post Resensie: Emoji beklemtoon unieke aanslag van Coenie de Villiers appeared first on LitNet.