’n Kissie as
vir Joan
Ná die klein vagevuur,
die swart rooksuile
bo die skoorsteen,
na die geraap & skraap
in ’n skoppie,
vir splinters been & gruis & as —
die stukkies goud
moet jy eenkant hou,
al wat noodsaak of sierraad was,
& laat smelt in ’n fyn ring
of iets om aan te speld
op jou lapel —
op ’n reëngrys dag moet jy
kaalvoet die water in by Drieankerbaai
die horison onwisbaar mooi
met die ebgety
wat aan jou enkels trek
& my aardse boete vrolik om jou strooi
The post ’n Kissie as appeared first on LitNet.