“Daar is net één Jans Rautenbach.” Dié woorde van regisseur Koos Roets eggo iewers binne my tydens die vlug na George. Dit vervleg in my gedagtes met die stem van Jans Rautenbach self wat by my opkom: “Anna-Marie, wanneer jy jonk is, you go where angels fear to tread…” Dit is ’n aanhaling uit ’n onderhoud wat ek op sy tagtigste verjaardag met hom gedoen het. Die vraag was hoe hy dit reggekry het om in die Apartheidstyd daardie toneel in Katrina te verfilm waar ’n bruin baba gebore word. En weereens kom Roets se woorde by my op: “Hy is nog net so hardkoppig soos altyd. Daar is net een Jans Rautenbach.”
Nie om te sê dat ander rolprentmakers nie uitdagings het nie. Elke kunstenaar kan eintlik getuig dat om die prentjie op die silwerdoek te sien verskyn, die einde is van ’n láng proses waarvan jy ’n groot deel (altans so voel dit) op jou eie moet stap, al is dit dalk ’n samewerkende (collaborative) proses. Maar wat maak Rautenbach so uniek? Wat het hom juis ’n baanbreker gemaak? Meer as soveel van sy ander tydgenote? Hy was eerste. Hý het die grense verskuif. Sodat ander ná hom kon kom. In 1967 met Die Kandidaat en in 1968 met
Katrina was hy die eerste rolprentmaker wat die wit Afrikaner van binne af uitgedaag het, soos die sestiger literêre beweging. En sonder dat hy één keer na ’n buitelandse rolprentfees gereis of internasionale opleiding ontvang het, het hy met Jannie Totsiens die eerste ware sogenaamde avant-garde kunsrolprent in Afrikaans gemaak. Maar die belangrikste: hy was nie skaam om sy kennis te deel nie. Daarvan kan verskeie ander: Koos Roets, Katinka Heyns, Regardt van den Berg, Gustav Kuun, en selfs ek getuig.
Maar met sy gedenkdiens het ’n ander sy van Jansen Dolorosa Rautenbach na vore gekom. Die doener. Die helper. Die een wie se hart vir niemand te klein was nie – soos sy oudste dogter Andri met reg tydens die opening van sy huldeblyk by die Vlakteplaas Skool gesê het: “Wat ek die meeste van hom gerespekteer het, is – hy kon altyd pyn raaksien in ander mense… en hy’t baie maklik opgespring en begin help…”
Die Athlone skool vir die blindes, die Elim créche en die Vlakteplaas UCC Skool. Elke persoon wat wou het ’n kans gekry om te getuig hoe hy hulle gehelp het, en op watter manier. Hierdie was nie die fliekman nie. Tog was dit steeds die dromer.
Met die afskeid van enige groot gees, is die kans daar om die persoon effens te verafgod, soos in 2013 met die afsterwe van Nelson Mandela gebeur het. Dan is ’n mens soms geneig om hulle slegte eienskappe te vergeet. En dit het Jans Rautenbach wél gehad, soos Jackie Lätti in haar afskeidsgedig geskryf het: “Jy was knorrig en moeilik, hardkoppig en soms net so domastrant.”
Maar wie van ons het nie slegte eienskappe nie? Ons is tog ook net mens. En met groot begaafdheid, groot intellek, en groot drome, kom groot perfeksionisme en min geduld met die wat nie altyd streef na die beste nie. Maar terwyl Jans Rautenbach se gees nou by Oulap in die Swartberge rus, wil ek hom graag groet met Jackie Lätti se woorde: “My skim op die berg, slaap sag.”
Teks en foto's: Anna-Marie Jansen van Vuuren
The post By die gedenkdiens van Jans Rautenbach appeared first on LitNet.