Ek het oor die jare verskeie van die NG Kerk-familie se sinodes bygewoon. Sommige van hulle was – om dit sag te stel – minder lekker, en ander was nogal lekker. Daar was sinodes wat my selfs weer moed gegee het vir die kerk en sy profetiese stem, wat veronderstel is om ’n kerk se grootste kenmerk te wees.
Die eerste sinode van die NG Kerk wat ek bygewoon het, was in 2002 in Pretoria. Dit was ’n stywe, formele affêre met groot binnegevegte, waar die broers en enkele susters nog in rye gesit het en byna soos in ’n parlement oor die Woord beraadslaag het.
Die gay-kwessie was nie so hoog op die agenda soos in 1986 toe daar onder “leiding van die Heilige Gees” besluit is homoseksualiteit is ’n afwykende vorm van seksualiteit en dat dit gevolglik ’n gruwel voor God is nie.
Daar is wel besluit etiek is ook belangrik en dat daar opnuut gekyk moet word na beleidstandpunte oor Skrifgesag en Skrifgebruik.
Tydens 2004 se algemene sinode het die gay-debat weer in alle erns op die kerk se agenda beland. Ten spyte van die feit dat dit vir hulle geblyk het die Bybel beoordeel homoseksuele dade as opstand teen God, en dit sodanig as sonde veroordeel het, was daar ’n al hoe luider wordende stem in die kerk wat anders gevoel het.
Skoorvoetend is die eerste klein treetjies begin na ’n ietwat meer akkommoderende houding teenoor gays. Piepklein babatreetjies, maar darem so effens vorentoe.
Die “Heilige Gees” het hulle begin oortuig homoseksualiteit is nie ’n gruwel voor God nie. Maar die daad! Ja die dáád! Wat maak ons tog met die dáád? Daaroor sou die broers nog jare lank biddend murmureer.
In 2007 woon ek weer die NG Kerk se algemene sinodesitting in Kemptonpark by. Die toon van die gesprekke was oor die algemeen minder veroordelend en die gayvriendelike faksie in die kerk het hulle stemme al hoe harder laat hoor.
’n Onwerkbare en totaal teenstrydige kompromis is bereik.
Daar is besluit gay dominees mag gelegitimeer word mits hulle nie die daad by die woord voeg en die daad pléég nie. As gay dominees en proponente die daad by die woord voeg kon daar daadwerklik teen hulle opgetree word.
Kerkrade kon darem besluit gays wat nie dominees is nie, mag min of meer die daad by die woord voeg en vir mekaar lief wees.
So het sommige dit verstaan.
Op die keper beskou was dit natuurlik ’n lawwe besluit wat nóg kant nóg wal geraak het, want mense van dieselfde geslag mog steeds nie trou nie. Om die daad by die woord te voeg is volgens die kerk sonde as mens nie getroud is nie.
Daarmee het sommige gedink die probleem is opgelos. Kort en klaar. Seks is vir die huwelik en basta met die res! Dat die huwelik soos wat die kerk dit vandag verkondig, eintlik maar ’n kultuurding is wat oor die jare baie verander het, nié deur God ingestel is nie en beslis nie die sogenaamde Bybelse huwelik is waarop die kerk hom beroep nie, word natuurlik met allerhande slim woordgimnastiek verswyg.
Die laaste woord oor die huwelik – wat net soos Skrifgesag een van die olifante in die vertrek is – is nog lank nie gespreek nie.
Tydens 2013 se sinode het die broers en enkele susters na hoeveel “verdere studies” vir nóg verdere studie gevra. Ek het vroeg geleer veral die kerk se broers is gaande daaroor om gays deur middel van “verdere studies” te "bestudeer".
Teen 2015 het ek so min hoop gehad dat die kerk ooit ’n dapper besluit oor homoseksualiteit sou neem dat ek ’n weddenskap daaroor verloor het. Ek gewed het dit sal nie gebeur nie.
Die sinode van Oktober 2015 het die wind uit my seile gehaal. Kort voor spertyd moes ek ’n halfklaar artikel wat ek vir die volgende Sondag se Rapport Weekliks moes indien, in die asblik gooi. Teen al my verwagtings in het die sinode dit goedgekeur dat gays mag trou, al word dit nie ’n huwelik genoem nie. Dieselfde sou vir dominees geld. Ek het die pot heeltemal mis gesit met my voorspelling. Ek moes die halfklaar artikel waaraan ek gewerk het, inderhaas van voor af oorskryf om die koerant se spertyd te haal voordat die koerant drukkers toe is.
Die nuwe artikel, wat ek teen die spoed van wit lig geskryf het terwyl die redakteur ongeduldig plek oophou en daarvoor wag, se opskrif het gelui dat die NG Kerk sy Rubicon oorgesteek het.
Die kerk het skielik weer integriteit gehad. Gewone mense het nie meer so hardop gelag vir die kerk nie. Daar was weer hoop. Dit het gelyk of die liefde seëvier en dat Paulus tóg reg was toe hy in ’n oomblik van wysheid geskryf het die liefde is groter as geloof en hoop.
Maar die hoop was van korte duur. Die kerk se U-draai oor 2015 se gay-besluit is teen dié tyd ou nuus. Die sinode se broers en susters wat teen verhoudings tussen mense van dieselfde geslag gekant is, het “onder leiding van die Heilige Gees” stert in die lug al die pad terug oor die Rubicon tot amper weer binne in die Middeleeue in retireer.
Die meeste van hulle weet waarskynlik nie dat die Rubicon wat Julius Caesar in 49 vC oorgesteek het, eintlik ’n baie vlak rivier is nie. Nie een van hulle sou daarin verdrink het as hulle die vlak modderige rivier regtig sou oorsteek nie.
Al wat nou van die NG Kerk se 2015-Rubicon oorgebly het, is die modder in die rivier waarmee hulle mekaar in 2016 gegooi het en mekaar steeds mee besmeer.
Iewers in die toekoms sal die kerk wéér omswaai en sulke verbintenisse goedkeur. Ek is egter bevrees teen daardie tyd sal daar so min van die kerk se geloofwaardigheid oor wees dat dit geen impak meer sal maak nie.
Vir die soveelste keer in sy geskiedenis het die kerk wéér die bus verpas.
Al wat nou oorbly, is dat daardie gemeentes wat sterk voel oor menswaardigheid, hulle eie kerk se sinodebesluit eenvoudig ignoreer en voortgaan om ’n veilige ruimte te bied vir daardie handvol mense in die gay-gemeenskap wat hoegenaamd nog deel wil wees van ’n kerk wat hulle menswaardigheid vir die soveelste keer verneder en vertrap het.
Lees ook: Artikels op LitNet Akademies
Homoseksuele predikante: ’n Regs- en morele dilemma
Helena van Coller |
|
Homoseksualiteit en sewe klassieke Bybelse tekste: Antigay of misverstaan?
Ernest van Eck, Ralph Barnard |
Webseminaar op grond van 2015 se sinode
Die begin van 'n ruimer gesprek
Lulani Vermeulen, Charlene van der Walt |
|
God se Woord verander nie. Of hoe?
Ralph Barnard |
|
Geestelike geletterdheid en die sekspolisie
Louis van der Riet |
|
Sinode se gay-besluit: keuse vir verantwoordelike gebruik van die Bybel
André Bartlett |
|
Daar is 'n olifant in die kerk
Jean Oosthuizen |
The post Die NG Kerk se U-draai oor die Rubicon appeared first on LitNet.