1. Inleiding
Talle maatskappye of organisasies se suksesse word gemeet aan hul finansiële beplanning en verantwoordelike spandering van die begroting, rapportering oor hul aksies en die monitering van die befondsing. Volgens Paul Rangogo, Mokgadi Mohlakwana en John Beckmann (2016) is die uitdagings van finansiële bestuur op skoolvlak ’n wêreldwye verskynsel. Finansiële aanspreeklikheid is een van die hoekstene van goeie beheer, verslaggewing en monitering.
Volgens bogenoemde skrywers se navorsingsverslag (2016) bestaan daar verskillende beskouinge (persepsies) van rolspelers oor die pligte en verantwoordelikhede van skoolbeheerliggame. In ’n ander ondersoek, deur Mgadla Xaba en Dumisane Ngubane (2010), word daar ook bevind dat daar gebrek aan vermoë en ervaring bestaan om verantwoordbaar vir skole se finansies te wees. Eersgenoemde navorsers se ondersoek het op Limpopo gefokus, en laasgenoemdes s’n op Gauteng.
Joubert (2009) en Van Rooyen (2012) is dit eens dat Suid-Afrikaanse skole betekenisvolle uitdagings in die gesig staar ten opsigte van wanbestuur, bestuursonbevoegdheid, gebrek aan leierskap, en beperkte vermoë. Xaba en Ngubane (2010) beklemtoon in hul ondersoek dat goeie bestuur van skoolfondse bydra tot die gehalte van die insette en uitsette wat die skool kan lewer. Artikels 36 en 43 van die Suid-Afrikaanse Skolewet (Nr. 84 van 1996 van die Republiek van Suid-Afrika) (SASA) stel dit duidelik dat skoolbeheerliggame wetlik verplig is om skoolfondse te bestuur deur al die wetlike prosedures in ag te neem en toe te pas.
Vir lede van skoolbeheerliggame is dit belangrik om die betekenis van die konsepte finansiële wanbestuur en wanadministrasie, te verstaan.
Rangogo (2011) omskryf dit soos volg:
The literature defines financial mismanagement as the poor management of finances in school, maladministration as corrupt behaviour, corruption as the wrong-doing on the part of an authority and misappropriation as dishonest use of funds for one's own use.
2. Wetlike aspekte
Artikel 16 A(2)(i; k) van SASA plaas die verpligting op die skoolhoof om goeie finansiële bestuur toe te pas en om enige vorm van wanbestuur te verhoed. Beide ondersoeke dui aan dat:
- skoolbeheerliggame en prinsipale ’n gebrek aan kennis, vaardighede en kundigheid het om die skool se finansies te bestuur
- skole nie beskik oor die noodsaaklike finansiële beleide om hul besluitneming te rugsteun nie
- die versoeking groot is om fondse vir eie gewin aan te wend
- daar ’n gebrek is aan monitering en kontrole van fondse
- daar onkunde ten opsigte van die wetgewing bestaan
- daar laksheid van prinsipale en departementele amptenare bestaan om op tree teen diegene wat die Skolewet oortree
- daar ’n gebrek aan eerlikheid, openheid en vertrouenswaardigheid bestaan
- wanneer die begroting opgestel word, daar ’n gebrek aan deursigtigheid is
- sommige skole se beheerliggame nie in staat is om ’n begroting op te stel nie – prinsipale neem in die meeste gevalle hierdie rol oor
- terwyl sommige van die skole by die korrekte prosedure hou, daar skole is wat nie by beplande begrotings hou nie
- finansiële bestuur bepaalde bekwaamhede vereis en dat nie alle skoolbeheerliggame daarin slaag om hul funksie, pligte en verantwoordelikhede suksesvol te vervul nie.
In ag genome die bogenoemde uitdagings, moet daar indringende gesprekke plaasvind om die uitdagings aan te pak en reg te stel.
3. Hoe kan die uitdagings oorbrug word?
Raj Mestry, onderwysnavorser van die Universiteit van Johannesburg, is van mening dat bogenoemde bevindinge belangrike faktore is om goeie bestuur en beheer in skole toe te pas. Sy waarneming is dat nie alle beheerliggame goed in die Skolewet onderlê is nie. Nie alle beheerliggame kan dus hul pligte en verantwoordelikhede behoorlik uitvoer nie. Gedurende ’n opleidingsessie met beheerliggaamlede in die Vrystaat het die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) waargeneem dat Engels nie noodwendig vir alle Afrikataalsprekers verstaanbaar is nie.
Aanbevelings wat deur twee navorsingspanne, Rangogo, Mohlakwana en Beckmann (2016) en Xaba en Ngubane (2010), gemaak word, is dat:
- die Skolewet hersien moet word omdat van die funksies hoogs gespesialiseerde kennis en vaardighede vereis
- die termyn van beheerliggame hersien moet word – ten minste moet die funksionarisse twee termyne dien
- kapasiteitsontwikkeling vir distriksamptenare aangebied moet word
- gereelde rapportering van inkomste en uitgawes aan al die rolspelers en belanghebbendes gedoen moet word
- alle gevalle van finansiële wanbestuur aan die skoolbeheerliggaam, die hoof van onderwys en die polisiediens rapporteer moet word
- beheerliggame intensiewe opleiding in finansiële bestuur moet ondergaan.
Benewens die aanspreeklikheid van die finansiële bestuur moet skoolbeheerliggame toenemend bewus word van die King Kode IV, wat ’n versterking en verdieping van die King Kode III is. Die belangrike temas in hierdie Kode is:
- leierskap, etiek en korporatiewe burgerskap
- strategiese beplanning, prestasie en rapportering
- beheerstrukture en delegering
- risikobestuur, nakoming, beheer van inligting en tegnologie
- vergoeding en versekering
- belanghebbendes en verantwoordelikheid van institusionele beleggers.
4. Slot
Gegewe die bevindinge van outeurs van navorsingverslae wat in hierdie artikel aangehaal is, is dit belangrik dat wanneer beheerliggame verkies word, ouers mense moet kies wat die belange van die kind eerste stel en wat gehalte-onderwys bevorder. Indien skoolbeheerliggaamlede nie oor hierdie vermoëns beskik nie, word dit aanbeveel dat die skoolbeheerliggaam kundigheid in die gemeenskap kan koöpteer om die funksies te vervul. Indien finansiële aanspreeklikheid nie een van die hoekstene van ’n skoolgemeenskap is nie, gaan goeie beheer en uitnemendheid in die onderwys daar onder ly.
Bibliografie
Joubert, R. 2009. Policy-making by public school governing bodies: law and practice in Gauteng. Acta Academia, 41(2):230–55.
King Code IV. 2016. Report on Corporate Governance for South Africa. Institute of Directors, Southern Africa.
Mestry, R. 2004. Financial accountability: the principal or the school governing body? South African Journal of Education, 24(2):126–32.
Rangogo, PN. 2011. The functionality of school governing bodies with regard to the management of finances in public primary schools. MEd-verhandeling, Universiteit van Pretoria.
Rangogo, PN, M Mohlakwana en J Beckman. 2016. Causes of financial mismanagement in South African public schools: The view of role players. South African Journal of Education,NR 36: p.1 - 8, Augustus 2016.
Suid-Afrikaanse Skolewet Nr 84 van 1996 (SASA) van die Republiek van Suid-Afrika.
Van Rooyen, J. 2012. Financial management in education in South Africa. Pretoria: Van Schaik.
Xaba, I en D Ngubane. 2010. Journal of Education, 50: p. 139 - 157.
The post Finansiële aanspreeklikheid as hoeksteen van goeie skoolbeheer appeared first on LitNet.