Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik. Hierdie regsbiblioteek is ’n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskikking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za.
Miskien het jy ook al daardie TV-advertensie gesien waar ’n man se stilstaande motor van agter deur ’n ander motor getref word. Hoewel dit klaarblyklik nie ’n ernstige botsing is nie, ontplof die bestuurder van die voorste motor egter in ’n verbysterende vertoning van padwoede – so asof dit nou normaal is.
Wanneer die briesende man uit sy motor klim, verander hy in die advertensie in ’n vuurspuwende draak wat vlamme spoeg oor die motor wat die ligte stampie veroorsaak het. Die ou agter daardie motor se stuur krimp ineen van vrees.
Dis als onnodig, lui die advertensie, want so-en-so-versekeringsmaatskappy sal die skade mos sommer tjoef-tjaf laat herstel.
Padwoede is egter nie ’n grap nie en ek vind die advertensie om verskillende redes minder gelukkig. Maar laat ek nie op tone trap nie.
Tot watter ernstige gevolge padwoede kan lei, wil ek aan die hand van twee uitsprake illustreer. Die een is die bekende geval van Eadie[1] wat een aand laat ná ’n geselligheid – waartydens die voggies gevloei het – in die rigting van Vishoek, in die Kaapse skiereiland, met sy gesin op pad huis toe was.
’n Ewe beskonke motoris het die Eadies se motor van agter ingehaal en herhaaldelik met sy ligte op skerp vir Eadie probeer ontsenu. Stellig was dit nie sonder rede nie. Daarna het hy Eadie se motor verbygesteek en toe skielik sy snelheid aansienlik verminder, weer in ’n poging om Eadie te intimideer.
Dit het meer as een keer gebeur, en toe die twee motoriste albei by ’n verkeerslig stilhou, het Eadie uitgeklim, ’n hokkiestok uit sy motor gehaal en op die ander ou afgestorm. Blind van woede het hy die man, wat intussen self besig was om uit sy motor te klim, met die hokkiestok geslaan. Dit het in twee gebreek, waarna Eadie die arme man verder met sy vuiste toegetakel het. Toe die slagoffer op die grond val, het Eadie hom so erg geskop dat hy op die toneel gesterf het.
Eadie se verweer was sogenaamde niepatologiese ontoerekeningsvatbaarheid wat die gevolg was van oormatige alkoholinname, provokasie, uiterste woede – noem maar op. Anders gestel: hy het aangevoer dat hy in ’n staat van sogenaamde outomatisme gehandel het. Hy moes daarvoor ’n basis lê en het die getuienis van twee psigiaters en ’n sielkundige voor die hof geplaas.
Dié verweer is deur regter Griesel verwerp en Eadie is aan moord skuldig bevind. Die hof het versagtende omstandighede bevind en hom ’n vonnis van 15 jaar gevangenisstraf opgelê, waarvan vyf jaar voorwaardelik opgeskort is. Ek meen die regter was besonder gulhartig, maar Eadie het daarteen na die hoogste hof van appèl in Bloemfontein geappelleer – onsuksesvol, moet ek byvoeg.
Appèlregter Navsa het in ’n deeglike en omvattende uitspraak onder meer soos volg beslis:
When an accused acts in an aggressive goal-directed and focused manner, spurred on by anger or some other emotion, whilst still able to appreciate the difference between right and wrong and while still able to direct and control his actions, it stretches credulity when he then claims, after assaulting or killing someone, that at some stage during the directed and planned manoeuvre he lost his ability to control his actions.
En verder:
There is no doubt that in the present case the appellant was provoked and that the deceased behaved badly. The deceased and the appellant had no business being on the road in their state of insobriety. The deceased's aggressive and provocative behaviour did not entitle the appellant to behave as he did. It must now be clearly understood that an accused can only lack self-control when he is acting in a state of automatism. It is by its very nature a state that will be rarely encountered.
Die appèlregter sê dan verder: “The message that must reach society, is that consciously giving in to one's anger or to other emotions and endangering the lives of motorists or other members of society will not be tolerated and will be met with the full force of the law.”
’n Ander voorval van ernstige padwoede het hom op 8 November 1996 in Welkom afgespeel. Ene Ntshasa se bakke was in ’n botsing betrokke met ’n Volkswagen kombi, bestuur deur ’n mev Oberholzer. ’n Hof het later bevind dat die botsing die gevolg was van die nalatige wyse waarop Ntshasa sy bakkie bestuur het.
Kort na die voorval het ene mnr Shooter by die botsingstoneel stilgehou, klaarblyklik met die bedoeling om hulp te verleen. Ntshasa het egter ’n vuurwapen te voorskyn gebring en op Shooter losgebrand en hom ernstig verwond. Daarna het hy hom gewend tot mev Oberholzer, wat nog steeds agter die stuurwiel van haar kombi gesit het. Ntshasa het haar verskeie kere geskiet en sy het op die toneel beswyk.
Ntshasa se verweer was dat hy in noodweer opgetree het, maar dit is as volkome vals deur die verhoorhof verwerp. Hy is lewenslange gevangenisstraf opgelê, en daarteen het hy na ’n volbank van die Vrystaatse hooggeregshof geappelleer.
In sy uitspraak van Maart 2011[2] beslis regter-president Musi dat gevalle van padwoede per definisie nooit vooraf beplan word nie. “Road rage,” sê die regter, “has been described as a product of the confluence of a number of factors: aggression, increasing frustration, the feeling of power associated with driving, which converge to create a cauldron of stressful conditions.”
Oor die besondere geval bevind die regter dat daar ’n reeks ongelukkige insidente in Ntshasa se lewe plaasgevind het kort voor die moord op mev Oberholzer. Die ergste was dat hy pas sy werk verloor het en dat die skade aan sy bakkie hom geweldig ontstel het.
Oor die lewenslange vonnis wat die verhoorhof hom opgelê het, merk regter Musi op: “With respect, the trial court overlooked the fact that this was a typical road-rage incident, as a result of which it imposed a sentence that was out of step with sentences normally imposed for this type of offence, and which was shockingly inappropriate.” Die regter het na die myns insiens besonder ligte vonnis wat Eadie opgelê is, verwys.
Op appèl is Ntshasa se vonnis tot 23 jaar gevangenisstraf verminder – steeds ’n swaar vonnis vir ’n paar oomblikke van ongebreidelde woede.
Hoewel hy dit straks goed bedoel het, vind ek – met respek - regter Musi se verwysing na die voorval as “a typical road-rage incident” ongelukkig. Dit mag daartoe lei dat die erns van sulke voorvalle – wat oënskynlik wêreldwyd aan die toeneem is – onderskat word.
En juis daardie subtiele boodskap – dat padwoede as die “nuwe normaal” afgemaak word – is een van die redes waarom ek regtig nie van die advertensie van die vuurspuwende padwoededraak hou nie. Dit plaas die klem op die verkeerde plek.
[1] S v Eadie 2002 (3) SA 719 (SCA)
[2] S v Ntshasa 2011 (2) SACR 269 (FB)
Foto: verskaf
The post Regsalmanak: Padwoede is nie die "nuwe normaal" nie appeared first on LitNet.