Joe se oë gaan oor die besige kroeg. Hy is Joe gedoop en het bitter arm grootgeword. Hy verlaat skool vroeg en doen klein werkies by klein plekkies. Dit gee hom geen werksbevrediging nie. Wanneer Lena in sy lewe kom, word ʼn groot leemte gevul. Baie gou is daar nog ʼn mondjie wat gevoed moet word. Joe is baie gelukkig om hierdie werk as kroegman te kon kry. In die aande wanneer hy die laaste dronkie by die deur uitkry en deur die kroeg loop om alles af te skakel, dan wens hy hy kan sy eie klein hotel besit. Die kroegman sal vir hóm werk en hy sal die plek goed bestuur, dit netjies en skoon hou.
Hierdie tyd van ʼn Vrydagaand is die kroeg gewoonlik bedrywig. ʼn Suur bierreuk hang swaar in die lug terwyl ʼn enkele dakwaaier die rookwalms stadig in die rondte draai. Joe sien aan die oorkant ʼn dronkie wat op die tafel aan die slaap geraak het. Hy het sy glas soetwyn omgestamp en dit het ʼn poeletjie op die tafel gevorm. Elke keer as die dronkie sy asem steunend uitblaas, maak dit golfies in die plas wyn.
In die oorkantste hoek sit ʼn man agter ʼn mikrofoon en tokkel op ʼn kitaar. Hy sing hartseerliedjies van vervloë dae. Die verouderde luidsprekers blêr die klanke uit, maar niemand luister daarna nie. Aan die verste punt van die kroeg is ʼn enkele televisiestel. Dit is permanent ingestel op die sportkanaal. ʼn Paar mans kyk na ʼn middag-aandkrieketwedstryd.
Joe slaan die hele prentjie gade terwyl hy ritmies die kroegtoonbank met ʼn klam lap afvee. Hy het ʼn oor om te luister. Hy het in die agt jaar hier as kroegman na meer lewensverhale geluister as wat daar boeke in die dorp se biblioteek is. Hartseer verhale van verlore liefde, vol pyn en tragedie. Desondanks het hy nog steeds ʼn simpatieke glimlag vir elkeen. ʼn Glimlag waaragter sy eie lewensverhaal verskans is. Deel van ʼn kroegman se werk is om te luister.
Joe se oë flits na die groot horlosie teen die muur. Die oomblik dat die wysers oorskuif na negeuur kyk hy na die deur. Op daardie sekonde kom die man ingestap. Dit is vanaand die vyfde aand wat die man by die kroeg inkom. Joe het vanaand seker gemaak van die tyd. Hy het die eerste aand al kennis geneem van die man. Hy pas nie in by ʼn kroeg van hierdie kaliber nie. Trouens, hy pas nie in by hierdie omgewing nie. Hierdie hotel is aan die verkeerde kant van die dorp. Joe hou hom onderlangs dop terwyl hy stadig na die toonbank aangestap kom. Die man lyk in sy middel-vyftigs. Sy slape begin net-net silwer vertoon en sy hare is in ʼn presiese kantpaadjie gekam. Die opvallendste is sy kleredrag. ʼn Grys langbroek met fyn donker strepies. Pynlik netjies en duursaam. Dan het hy ʼn spierwit langmouhemp aan met ʼn onderbaadjie wat by die broek pas. Daar is ʼn groot sakhorlosie aan ʼn silwer kettinkie wat aan sy heup hang. ʼn Donkergrys das met ʼn netjiese knoop wat effens by die onderbaadjie uitbult, rond die prentjie af. Vir Joe lyk die kleredrag outyds. Die man kry ʼn leë stoeltjie en gaan sit. Joe wag nie vir hom om iets te sê nie, hy buk en haal ʼn bottel mineraalwater uit die yskas en sit dit met ʼn glas vol ys voor die man neer.
“O, ek sien jy weet al wat ek drink,” sê die man en sy staalgrys oë kyk deurdringend na Joe.
“Ek ken my klante,” sê Joe, en is verbaas dat die man enigsins met hom praat. Elke aand het hy net kortaf mineraalwater bestel en dan het hy Joe peinsend dopgehou met daardie staalgrys oë totdat hy die water klaar gedrink het. Daarna het hy weer net so stil gegaan as wat hy gekom het. Joe voel dat daar is iets sinisters omtrent die man.
“Iemand wat so toegewyd is behoort meer met sy lewe te doen,” sê die man en ʼn effense glimlag speel om sy mond.
Skielik voel Joe ongemaklik. Al die jare was dit hy wat na almal se lewensverhale geluister het. Nou wil hierdie vreemde man hom pols om oor sy eie lewe te praat.
“Ek is gelukkig in my werk.” Joe glimlag, maar voel die glimlag weerspieël nie in sy oë nie. Die oomblik voel vir hom ongemaklik en hy draai om en begin wegstap.
“Johnny!”
Joe gaan staan botstil. Dit voel of sy bloed in sy are vries. Die hare op sy arms staan penorent. Die geraas in die kroeg klink skielik veraf. Die naam weergalm in sy ore. Net één mens het hom nog ooit Johnny genoem. Sy pa, wanneer hy ernstig met Joe was. Skielik is hy weer ʼn seuntjie van agt jaar oud in sy siek pa se slaapkamer. Sy pa het al vir weke nie meer uit die bed opgestaan nie. Hy is hartseer om sy held so te sien. Hy soen sy pa nag op die wang en draai om.
“Johnny.” Sy pa se stem is swak.
Hy draai om en kyk na sy pa.
“Ek gaan op ʼn lang reis, Johnny.” Joe verstaan nie hoe kan sy pa op reis gaan as hy so siek is nie. “Gebruik jou kanse in die lewe, Johnny. Moenie dat die lewe by jou verbygaan nie. Soms kry mens net een kans.” Sy pa se stem draal weg. Die seuntjie verstaan nie alles wat sy pa sê nie.
Later die aand droom Joe dat daar maanmannetjies kom land. Hy vlieg orent in sy bed. Deur die kamervenster sien hy rooi flitsende ligte en hoor baie voetstappe in die huis. Die volgende oggend staan Joe in sy pa se kamerdeur en staar na die leë bed. Hy sal sy pa nooit weer sien nie.
Joe se hande bewe wanneer hy omdraai en na die man met die netjiese klere kyk. Die man wat hom so pas Johnny genoem het.
“Wie is jy?” vra hy en voel hoe sy onderlip bewe. Die man ignoreer die vraag en skuif ʼn papiertjie oor die toonbank na Joe toe. Joe neem die papiertjie en sien dat daar verskeie nommers op geskryf is. Hy kyk vraend na die man.
“Dit is die ses wen-nommers van môre se lotto-trekking,” sê die man en staan stadig van sy stoel af op.” “Gebruik dit, Johnny.” Joe is uit die veld geslaan en wil nog iets vra, maar die man het reeds begin uitstap. By die deur draai hy om en wys met sy vinger na Joe.
“Môre is jou dag, Johnny. Môre, is jóú dag,” sê hy en stap uit. Joe frons en kyk weer na die nommers op die papiertjie. Dan gooi hy die papiertjie geïrriteerd op die rak onder die toonbank en klik met sy tong. “Die lotto-trekking ís dan eers môreaand, hoe kan dit die wen-nommers wees?” sê-vra hy by homself en begin ʼn ongeduldige klant bedien.
Saterdagaand moet Joe weer rondspring om die bedrywige kroeg te bedien. Hy sien die wysers van die groot horlosie teen die muur wys kwart voor nege. Die man in die hoek kerm sy hartseerliedjies in die mikrofoon. Die dakwaaier maak woer-woergeluide en sny deur die rookbelaaide lug. Die sportkanaal saai rolbal uit en niemand stel belang nie. Dan word die sport onderbreek en hulle skakel oor na die ateljee vanwaar die weeklikse lotto-trekking uitgesaai word. Joe worstel nog met gedagtes oor die netjiese man se vreemde gedrag gisteraand. Hy sien op die TV hoe die lottoballetjies een vir een deurval, en dan onthou hy skielik die papiertjie wat hy gisteraand op die rak gegooi het. Onwillig om toe te gee aan die impuls kyk hy tog of dit nog daar is. Hy vind dit en kyk op na die TV. Die sesde balletjie het deurgeval. Joe se kop gaan stadig af en hy kyk na die papiertjie, dan weer op na die TV. Hy voel hoe sy bene lam word. Die papiertjie glip willoos uit sy hand. Die aanbieder se woorde weergalm in Joe se kop, “Die spesiale boerpot was vanaand twintig miljoen rand en daar is geen wenkaartjie nie.”
Joe sien dat die tyd wys twee minute oor nege. Hy kyk vinnig na die deur, dan langs die toonbank af, maar daar is geen teken van die vreemde man nie. Hy het nie vanaand ingekom nie. Sy hele wese is verstar.
ʼn Dronkie by die toonbank wink na Joe. “Hey Joe, vir wie is die mineraalwater wat jy elke aand in ʼn glas ys gooi?”
The post Vrydagaand se kroeg appeared first on LitNet.