Byna twee keer soveel inskrywings is ontvang vir die US Woordfees se kortverhaalkompetisie vir 2017 as vir die bundel se eerste uitgawe in 2016.
Inskrywings het op 1 November gesluit en staan op net meer as 180. Die 2017-bundel word tydens die US Woordfees, wat van 3-12 Maart 2017 in Stellenbosch aangebied word, bekendgestel. Tydens dieselfde geleentheid sal die wenverhaal aangekondig word – die skrywer hiervan kry R30 000 prysgeld, geborg deur Du Toitskloof-wyne.
Sowat 90 verhale is voorgelê vir moontlike insluiting in die 2016-bundel.
Die inskrywings, wat deur ’n onafhanklike ouditeursfirma ontvang is, sal nou aan die keuringspaneel gestuur word vir die volgende ronde.
“Die prysgeld van Du Toitskloof maak die kortverhaalkompetisie een van die mees gesogte pryse vir korter literêre werk,” sê Saartjie Botha, US Woordfeesdirekteur oor die goeie reaksie van deelnemers. “Ons glo dat ons uiteindelik ’n bundel kan saamstel van diverse, hoëkwaliteitverhale wat ook nuwe stemme insluit.”
Volgens Marius Louw, uitvoerende hoof van Du Toitskloof-wyne, is die belangstelling oorweldigend. “Dit is 'n aanduiding van die kreatiewe vlam wat helder onder gepubliseerde en ongepubliseerde skrywers brand. Du Toitskloof-wyne sien uit om deel te wees van hierdie vername element van die Woordfees en glo dat die inskrywing 'n bydrae sal lewer tot die Afrikaanse letterkunde.”
Die US Woordfees word van 3-12 Maart 2017 in Stellenbosch aangebied. Die feesprogram word op 17 November bekendgestel.
The post Persverklaring: Inskrywings vir US Woordfeesbundel verdubbel appeared first on LitNet.