Karin Schimke gesels met Naomi Meyer oor 'n skryfkursus wat sy binnekort in Stanford aanbied. Hier onder is die pamflet met die inligting.
Karin, jy het die Ingrid Jonkerprys vir digkuns gewen. Vertel asseblief vir ons lesers nog van wie jy is?
Ek was eens op ‘n tyd ‘n politieke joernalis by koerante. Ek werk al sedert 2000 vir myself. Ek skryf. Ek vertaal. Ek redigeer fiksie. Ek is ‘n “Plain English Editor” vir groot projekte, waar die skrywers baie kennis het, maar soms sukkel om te skryf op ‘n manier wat inligting eenvoudig oordra aan die leser. Ek help mense om aan die skryf te kom. Ek help hulle om rigting te kry. Ek onderrig. My werk is baie uiteenlopend.
Jy bied binnekort ‘n skryfkursus in Stanford aan. Wie is jou mede-aanbieder?
Die skrywer Rahla Xenopolous. Sy het hierdie jaar begin om een keer ‘n maand skryfwerkswinkels te hou in die ou skuur agter die klein huis in Stanford wat aan haar en haar man behoort. Rahla is ‘n uitstekende gasvrou en kursusleier. Sy laat mens gemaklik en veilig voel. Ek en sy het mekaar amper vyftien jaar gelede vir die eerste keer ontmoet by ‘n skryfkursus amper soos wat ons nou aanbied. Na jare van joernalistiek wou ek weer meer kreatief begin skryf weer. Sy was daar omdat ‘n vriendin van haar nie alleen wou gaan nie. Nou ja, sy’t intussen drie boeke geskryf: A memoir of love and madness (wat hierdie jaar herdruk is), Bubbles en TRIBE. Rahla het nooit gedink sy gaan ‘n skrywer word nie - het sleg gevaar op skool as gevolg van bipolar. Ek dink haar verwondering in hoe skryf op ‘n manier haar lewe gered het, maak haar ‘n wonderlike skryf-“coach” – heeltemal egovry wanneer dit kom by ander mense se skryf. “Egovry” is die sleutelelement. Dis nie altyd vir suksesvolle skrywers maklik om in so ‘n situasie terug te staan nie. Die skrywersego kan maar rof speel partykeer.
Is dit vir mense wat fiksie of gedigte skryf?
Dis vir enigiemand wat enigiets wil skryf. Ek fokus in hierdie kursus op die metafoor: hoe mens dit raaksien, en maak, en nie oordoen nie. Maar terwyl mens hopelik iets nuuts leer oor hoe om jou skryfwerk skerper en meer beeldryk te maak – en ook hoe om die wêreld só waar te neem dat mens bewus word dat die maak van metafoor eintlik tweede natuur is – skryf mense ook vreeslik baie.
Sommige mense skryf vir die heel eerste keer in hulle lewens. Ander wil ‘n kortverhaal begin of klaarmaak. Ander skryf “per ongeluk” gedigte vir die eerste keer (dit is op so ‘n kursus wat ek besef het dat die digkuns “my” genre is). Ander werk aan karakters in boeke waarmee hulle besig is. Aan die einde van die naweek, of aan die einde van enige kursus wat ek doen, het jy iets wat jy nie gehad het voor jy begin het nie: baie, baie, baie blaaie vol woorde. Soms is dit rou materiaal. Soms is dit iets wat net geredigeer moet word voor dit reg is vir uitstuur.
As mens net kyk na die mense wat saam met my was op daardie kursus jare gelede en hoe ver hulle al gekom het – Rahla, Kiki Theo, wat baie suksesvol geword het as ‘n skrywer van boeke oor persoonlike geldsake, Margie Orford, Tracey Farren, wat Whiplash geskryf het wat nou ook ‘n fliek is, Christine Muller Coates – dan besef jy hoe belangrik sulke kursusse werklik is. Nie een van daardie skrywers was bekend voor ons daardie kursus gedoen het nie.
Dink jy die meeste mense wil skryf? Dink jy ook baie mense kan skryf?
“Om te skryf” beteken vir elke volwassene (en ek praat nou spesifiek van volwassenes – kinders is ‘n ander storie) wat nog ooit wou of wel geskryf het, iets anders. As jy ‘n redelike opvoeding het, kan jy skryf, ja. Dis nie noodwendig iets wat mense wil lees nie, en dit loop nie altyd uit op ‘n gedrukte vorm nie, maar om aan te neem dat elke keer as iemand skryf is dit omdat hulle gelees of gepubliseer wil word, is ‘n fout. Op daardie vlak: ja, amper enigiemand kan skryf – soms móét hulle skryf – dis ‘n drang, ‘n behoefte. Enigiemand kan woorde op papier neerskryf om uitdrukking te gee aan iets.
Die vraag of baie mense “kan skryf” beteken iets anders: Kan baie mense iets skryf wat effektief kommunikeer, wat iets nuuts oordra aan ‘n leser? Kan baie mense suksesvolle skrywers word soos Zukiswa Wanner, of Chanette Paul, Lauren Beukes?
Dit hang van ander dinge af: Is jy bereid om te luister na kritiek, om verwerp te word, om aan te hou, om te probeer om beter en beter sinne of reëls of strofes te maak? Dit verg ‘n sekere tipe hardnekkigheid, en daar is mense wat graag skryf, maar eerder sulke hardnekkigheid in ander dele van hulle lewens toepas.
Om meer direk te antwoord: wanneer mense besluit hulle wíl skryf, kom die “kan” van die “doen”. En doen en doen en weer doen en oordoen en aanhou doen.
Die boerpotvraag: Hét mens dit eenvoudig, of nie? Met ander woorde: sal dit enigeen baat om die kursus te kom bywoon?
Ek het oor die jare mense se werk gelees of gehoor wat aanvanklik maar saai en onoorspronklik en vol clichés is; werk wat min gedoen het om ‘n hand te probeer uitsteek oor die afgrond tussen dit wat in die skrywer se brein aangaan en hoe ‘n leser dit moet ervaar. Maar hulle is vasbeslote om iets te kommunikeer en hulle hou aan probeer totdat hulle iets regkry.
Ek weet dus nie of “talent” die regte woord is nie. ‘n Aanvoeling, ‘n sensitiwiteit vir die geskrewe woord, ja, sekerlik. Maar skryfsukses – sukses in die sin van jy kry positiewe terugvoering deur gepubliseer te word – gaan baie keer oor uithouvermoë, vasberadenheid, hare op jou tande.
Maar, soos ek vroeër gesê het, dis nie al rede hoekom mense wil skryf nie. Mens kry uit ‘n skryfkursus gewoonlik wat jy nodig het. En mens weet nie altyd voor die tyd wat jy nodig het nie.
My fokus was nog nooit eintlik skryfwerkswinkels nie, maar daar is so ‘n aanvraag daarvoor dat ek besluit het om volgende jaar meer gereeld privaat skryfkursusse aan te bied. Tot dusver het ek my kursusse ontwerp om die behoefte wat bestaan – vir skoolkinders, vir administratiewe personeel by besighede wat beter verslae of e-posse wil skryf, vir studente, vir pensionarisse, vir mense wat besig is met ‘n manuskrip, vir mense wat wil leer om gedigte te skryf. Ek pas aan. Maar van volgende jaar af gaan ek meer gefokus te werk gaan en privaat begin aanbied. My eerste kursus – met ‘n baie klein groepie – vind in Januarie plaas.
Die taal waarin mens skryf is ook nie ter sake nie. Ek praat meestal Engels, wat die meeste mense natuurlik verstaan, maar mense het al in Xhosa, Zulu, Sesotho, Sweeds, Frans, Duits en Afrikaans geskryf op my kursusse.
Wanneer weet jy of iets ‘n goeie gedig is? Waarna is jy op soek (of is dit nie waarna jy daardie naweek op soek sal wees nie)?
Hierdie spesifieke kursus in Stanford gaan nie oor ‘n waardeoordeel oor die skryfwerk nie.
Een van my ander kursusse – die een wat ek weer in Januarie aanbied – is spesifiek om te probeer vasstel wat ‘n goeie gedig is en om te probeer om een te skryf. Ek begin met “Wat is ‘n slegte gedig?”. Mens moet baie slegte gedigte skryf om by goeies uit te kom en jy kan nie ‘n goeie een raaksien as jy nie weet hóékom dit goed is nie. Dis deel van die proses.
Maar daardie kursus – wat “What if a poem were a house?” heet – is nie wat hierdie naweek aangebied word nie. Hierdie naweek gaan oor hoe om metafore raak te sien en uit te buit om jou skryfwerk lewe te gee, en dit gaan ook net oor skryf.
Is dit ‘n goeie ding om saam met mense te skryf? Is skryf nie eintlik ‘n alleen ding nie?
Om saam met ander te skryf is ‘n “treat”. Ek dink nou skielik aan daardie Garfield-grappie, iets soos “Eating is social, but when you diet, you diet alone.” Mense wat skryf ernstig opneem, spandeer die meeste van hulle skryftyd alleen. En mens kan nie lekker redigeer met ander mense by nie. Maar dit is ‘n absolute genot om nou en dan saam met ander in stilte te sit en skryf.
Die kursusleier gee jou idees of “prompts” wat jy nie verwag nie, en soms nie van hou nie, maar in die stilte word jy gedwing om iets nuuts te probeer, want al die ander mense sit en skryf.
Wat almal altyd sê na so ‘n kursus is hoe hulle geforseer is om iets te doen wat hulle nie op hulle eie sou gedoen het nie, en hoe verras hulle is – en soms hoe oorweldig en emosioneel hulle voel – deur die goed wat op die bladsy uitkom.
Skryf is ‘n alleending, maar elke nou en dan kry mens ‘n geleentheid om dit saam met ander te doen, en dit is eenvoudig ‘n plesier. Boonop leer jy nuwe mense ken – en skrywersnetwerke is net so belangrik soos talent en vasberadenheid.
Wat moet mense se verwagtinge van die naweek wees?
Skryf. Skryf, skryf, skryf. Mens skryf vreeslik baie.
Rahla se tuin is pragtig, haar koffie is lekker, middagetes is werklik iets besonders en die kos by die Trattoria op die dorp is van die lekkerste Italiaanse kos wat ek nog ooit geëet het in Suid-Afrika. Dis die lekker kuieroomblikke.
Maar die naweek gaan oor skryf en mens skryf bladsye vol. Daar is mense wat gereeld gaan sodat hulle hulle boeke kan klaar skryf, en ander wat dit vir die eerste probeer en amper meer skryf in ‘n naweek as wat hulle in hulle hele tienerskryfstadium geskryf het.
Hoekom skryf jy? Hoekom lees jy?
Ek lees, want dit ruk my uit die wentelbaan van my eie gedagtes, dit maak die wêreld terselfdertyd baie groter as wat ek ooit in een leeftyd op my eie sou kon ervaar, en dit maak my wêreld ook kleiner in die sin dat dit my bind tot ander se gedagtes en drome en ervaringswêrelde en my dus meer mens maak – dalk ook, hopelik, nederig hou. Ek skryf omdat ek nie weet hoe anders om die wêreld tegemoet te gaan nie, hoe anders om dit te beleef, te probeer verstaan en daarvan betekenis te maak as deur te skryf nie.
Nog ‘n paar praktiese dinge: kostes, verblyf, hoe bespreek mens ...?
Die skryfnaweek in Stanford van 19 en 20 November kos R2 000. Dit sluit tee, koffie en koek, en middagetes in. Mens bespreek deur vir Rahla ‘n e-pos te stuur by stanfordwriters@gmail.com. Sy sal dan ook verblyf-idees kan gee. Dis ‘n wonderlike dorpie met allerhande tipes bekostigbare verblyf. Aandete by die Trattoria is nie ingesluit nie. Al wat mens nodig het, is papier en ‘n pen.
Mense kan vir my ook ‘n e-pos stuur aan karinschimke@gmail.com vir inligting oor hierdie of oor my privaat kursusse.
The post Karin Schimke oor 'n skryfnaweek in Stanford appeared first on LitNet.