- Hier is nog agtergrond van Teksmark
Kunste Onbeperk, in samewerking met die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi), het vanjaar die eerste Teksmark by die Baxter-teater aangebied. Soos die titel aandui, is dit ‘n tipe forum waar skrywers hul werk kan "bemark". Na afloop van die mark kies NATi een uit die 14 finalis-tekste wat hul dan verder saam met die skrywer ontwikkel en uiteindelik in 2018 op die planke sal bring. Dit bied egter ook die geleentheid vir ander vervaardigers, feeste en teaters om hierdie werke te sien, en selfs die moontlikheid om dit saam met die skrywers verder te ontwikkel sou hul potensiaal daarin sien. Die skrywers het elkeen ‘n kort inleiding tot hul tekste gegee, waarna spelers ‘n kort uittreksel uit die teks gedoen het. Hierna kon gehoorlede aan die skrywers vrae rig sowel as terugvoer bied op die teks.
Die 14 tekste wat gekies is om aan die Teksmark deel te neem, is Melk en vleis deur Marina Albertyn, Abel deur Ricardo Arendse, Fees deur Ludwig Binge, Oculus deur Wilken Calitz, Rendezvous deur Rachelle Greeff, Prey deur Pieter Jacobs, Dans van die watermeid deur Amee Lekas, Die ramparty deur Deon Maas, Duiwelshoek deur Albert Maritz, Vat aan my deur Alma Nel, Portret van Dorian Gray deur Phillip Rademeyer, Kaalvoetspoor deur Sjaka Septembir, Ons is almal freaks hier deur Ingrid Winterbach en Cradle deur Stephina Zwane.
Die geleentheid het ook ‘n baie waardevolle paneelbespreking aangebied, onder leiding van Danie Marais, Lara Foot, Hennie van Greunen, Amy Jephta, Ismail Mahomed en Saartjie Botha. Cornelia Faasen, uitvoerende hoof van NATi, stel dit in haar programinleiding soos volg: "Teksmark [is] ’n uitstekende platform vir die slyp van nuwe (en ou) stemme, waar die fokus op die teks is." Uit die paneelbespreking het die gesprek meermale juis om hierdie behoefte by skrywers gedraai. Daar is ‘n groot noodsaaklikheid vir ontwikkeling by die ontstaansfase van die proses, by die tydsame skep en skaaf van ‘n teks, voer Amy Jefta aan. Die bestuurder van die US Woordfees, Saartjie Botha, voer selfs aan dat wanneer hul aansoeke vir dié fees ontvang, hulle eers na begroting en die voorgestelde geselskap kyk voordat hulle die teks bestudeer. Foot het weer die herkenning en ontwikkeling van seminale stemme benadruk. Sy meen dat die fokus moet terugskuif na die skrywer en dat, in ‘n era van gelykheid waar die skep van teaterwerke deur die werkswinkelproses hoogs populêr is, die belangrikheid van ‘n outoritêre stem nie onderskat moet word nie.
Verder het die vraag oor hoe mens gehore, en meer spesifiek jong gehore, na die teater lok, meermale oor die twee dae na vore gekom. Mahomed het ‘n baie belangrike vergelyking getref tussen gehoorontwikkeling en gehoorretensie. Hy lê klem op die feit dat dit as twee aparte doelstellings beskou moet word en dat skrywers moet waaksaam wees dat die gehalte van die werk nie hierdeur beïnvloed word nie. Oor die algemeen was die gesprek dat die tekort aan hulpbronne lei tot die kompensasie van inhoud. Sandra Temmingh gaan so ver as om te sê dat Suid-Afrikaanse teater nie ‘n debat ontlok nie, ‘n resultaat van die "veilige" manier waarop werk geskep moet word. Marthinus Basson sluit hierby aan as hy sê: "Nêrens is daar meer ruimte om te val nie."
Uiteindelik het NATi Amee Lakees se Die dans van die watermeid as die teks aangekondig wat hulle verder saam met die skrywer gaan ontwikkel. Lakees is ‘n 26-jarige kunstenaar wat in Willowmore grootgeword het. Sy het in 2014 haar dramagraad aan die Universiteit Stellenbosch verwerf en werk tans as aktrise. Hierdie teks merk haar debuut as skrywer.
Bo en behalwe hierdie wonderlike geleentheid was dit ook baie opwindend om teatermakers, skrywers en vervaardigers tussen tonele deur met mekaar te sien gesels en onderhandel oor toekomstige projekte. In hierdie opsig het die organiseerders van die Teksmark beslis geslaag in hul poging om die gesprek verder te voer as hierdie twee dae lange geleentheid en sal dit interessant wees om te sien watter van die ander uitstekende tekste wel hieruit verdere ontwikkelingsgeleenthede geniet.
Die volgende Teksmark is reeds vir 2017 bevestig en dit sal hopelik ‘n baie noodsaaklike jaarlikse geleentheid word.
- Foto's: Stephen Elliot van Lumico
The post Teksmark: vars platform vir die skep van verhoogtekste appeared first on LitNet.