Titel: Plasenta
Skrywer: Peet Venter
Uitgewer: LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799375053
Plasenta is die vierde en laaste boek in Peet Venter se Krige-reeks. Vir Thys Krige het alles begin die nag toe sy pa vermoor en sy twaalfjarige sussie, Karen, ontvoer is. Sy motivering om by die polisiediens aan te sluit en tot speurder te vorder, was juis om sy pa se moordenaar op te spoor en aan die pen te laat ry. In die eerste boek, Dieper as die bloed, leer ken die leser vir Krige as ʼn alleenloper wat effens eksentriek is en nie noodwendig daarvan hou om die reëls te volg nie.
Die aand van sy pa se moord het ʼn geheimsinnige figuur vir hom gesê om “dieper as die bloed” te kyk. Dié persoon maak in Ou bloed, die tweede boek, sy opwagting. Krige se soektog word telkens gedwarsboom – onder andere deur korrupsie in die polisiemag. Maar nou kry hy onwetend hulp van sy halfbroer, en dié lei hom op die donker spore van kinderpornografie, mensehandel en dwelmsmokkelary. In hierdie boek verkry Krige vinnig die reputasie van ’n bloedhond én ’n veghond; hy maak mense dood.
Waar boosheid broei neem hom na Zimbabwe waar Krige besef dat daar boosheid in die Suid-Afrikaanse polisiemag en die wêreld van oudmilitariste is wat die gruwels oorskry waarvan koerante berig. Hy probeer om Robyn, die mooi joernalis wat sy hart gesteel het, beskerm teen die boosheid wat sy oopvlek. Maar Krige is slegs een man teen ʼn oormag boosheid.
Met die opening van Plasenta weet die leser wat hierdie reeks getrou gevolg het, dat Krige alles verloor het: sy loopbaan en almal vir wie hy lief was. Hy is alleen en veroordeel homself vir Robyn se dood. Want Robyn het sy kop en sy hart deurmekaar gekrap, maar ook uitgewys presies waar sy prioriteite lê, hoe sterk die vergeldingsdrang en die soeke na bloed in hom loop: “Daar was konflik tussen sy prioriteite. Op die kritieke stadium het vergeldingsdrang sy besorgdheid oor Robyn se veiligheid oorheers, sy oordeel beïnvloed. In stede van om haar eers buite gevaar te kry, het hy die manne wat haar verkrag het, se bloed gesoek” (6).
Hy kon Robyn nie red nie, maar vir die eerste keer in jare is daar ʼn sterk leidraad wat hom na Karen kan lei. Krige is nie naïef oor Karen nie; hy weet meisies soos sy word vir die sekshandel ontvoer. Kry hy haar, is sy waarskynlik in ʼn haglike toestand. Maar hoe kan hy nie die leidraad opvolg nie? Hoe kan hy die bloedband tussen hom en Karen, ’n plasenta wat gedeelde gene dra, verontagsaam? Meer nog: hoe kan hy hierdie keer nié slaag daarin om haar te red nie? Sy missie is ook boetedoening vir Robyn.
Venter se vorige boeke was reeds filmies geskryf, maar Plasenta kon net sowel ’n aksiebelaaide fliek wees. Die elemente is almal daar. Karen, die mooi blonde meisie wat as uitsondering nie as dwelmverslaafde seksslaaf verkoop is nie, maar die rol van “dogter” vir ʼn kartelhoof moet vervul. Die bedonnerde, mallerige kartelhoof, Dilman, wat in weelde en byna ondeurdringbare sekuriteit leef. Dilman se posisie binne die kartel is boonop in gedrang; daar is baie wat in die skadu’s wag om hom te onttroon. En dit sorg vir wantroue, gek optrede en ondeurdagte planne. Wat sou ʼn goeie aksiefliek wees sonder die welaf vigilante wat, vanweë goeie kontakte en konneksies, geen geregsdienaar nodig het in sy stryd teen ʼn oormag booswigte nie? Hy tree nie binne die wet op nie, maar sy gedrag kan verskoon word omdat dit eerbaar is.
Krige werk vir ʼn tweeman-privaatmaatskappy wat misdaad bekamp en spesifiek fokus op die groot kartels wat uitblink in kinderhandel en dwelmsmokkelary. Hy is onder geen illusies van wie en wat hy is nie. Die aanvanklike pyn van Robyn se dood en sy mislukking het “vinnig van vloeibare witwarm na yskoud gestol. Nou sit dit in hom soos ʼn blok ys. [...] En die kern daarvan is die boosheid in hom wat sonder skroom doodmaak. Ook daarmee het hy vrede gemaak. Hy is wat hy is. Klaar.” Krige het geen wroeging meer oor wat hy doen en hoe hy optree nie. Volgens hom is sy denke nou “minder gekompliseerd, maar dieper”: “Dit gaan nie meer oor reg of verkeerd nie. In die moeras van ʼn permissiewe samelewing is die reg ʼn vloeibare ding wat aan slagoffers en kriminele gelyke regte gee. [...] Tegniese punte. Dis waaroor dit gaan. [...] ʼn Kompetisie van vernuf. ʼn Spel. Die wet, die speelding. [...] Wie is reg? Wie is verkeerd? Wat maak dit saak? Moraliteit en etiek is net konsepkontrakte. Elke mens voeg sy eie fynskrif by” (7). Omdat hy geld en ʼn obsessiewe dryfkrag agter hierdie missie het, is selfs die kartelbase skrikkerig vir hom. Dilman, wat nie eers vir die duiwel stuit nie, bewonder Krige se domastrante dryfkrag, want “selfs die mees waaghalsige man weet waar om die streep te trek” (213).
Ons het dus die meisie, die kartelhoof, die vigilante. Voeg hierby Eldimir, die fyn kunstenaar wat in opdrag vir Karen, oftewel Ayla, moet skilder en haar so wegkry uit die imposante huis wat haar tronk geword het. Dan is daar ook die eksotiese plekke waarin die verhaal afspeel (van Johannesburg tot by Mosambiek en Ciprus), oorgenoeg gevegstonele waarin booswigte op hulle herrie kry en ons man so byna die spit afbyt, ontploffings – die hele lot. Selfs ʼn goeie car chase! Plasenta is die hoogtepunt van Venter se Krige-reeks en ʼn adrenalien-rush. Dis naelbytlekkerte, beter as enige aksiefliek, met Thys Krige as ʼn tipiese James Bond in die hoofrol. Dit vra vrae oor reg en verkeerd, waar die grense van etiek en moraliteit is en of ʼn mens jou optrede kan regverdig mits jy dit met “suiwer” intensies doen. Peet Venter posisioneer hom met hierdie reeks in die groep briljante krimiskrywers in Suid-Afrika. Vergeet maar van fliek by Ster Kinekor – jy sal Plasenta in een sitting wil deurlees en veel meer plesier daaruit kry.
The post Resensie: Plasenta deur Peet Venter naelbytlekker appeared first on LitNet.