Regisseur: Mira Nair
Spelers: Madina Nalwanga, Lupita Nyong’o, David Oyelowo, Ethan Nazario Lubega, Taryn Kyaze
Die Indiese regisseur Mira Nair is bekend vir uitstekende films: Salaam Bombay, Mississippi Masala, Monsoon Wedding en die meer onlangse The Reluctant Fundamentalist. Dat Walt Disney Pictures haar aan die stuur van hierdie besonderse film gelaat het, is ’n seëning, want daar is niks so erg soos ’n versuikerde weergawe van die harde lewe in Afrika nie. Des te meer omdat dit die lewensverhaal van die Ugandese skaakkampioen Phiona Mutesi is.
Phiona (Madina Nalwanga) se pa is oorlede en haar ma Nakku (Lupita Nyong’o) sukkel om die gesin van vyf aan die lewe te hou. Hulle woon in Katwe, die armste buurt in Kampala, en is deel van “die stinkes”, die heel armstes wat vir ander water moet aandra. Daar is eenvoudig nie geld vir Phiona en haar broer Benjamin (Ethan Nazario Lubega) om skool toe te gaan nie, maar die twee beland by skaaklesse wat smiddae deur Robert Katende (David Oyelowo), ’n tydelike onderwyser by die sendingskool, aangebied word. Gou blyk dit dat Phiona die soort talent het wat haar ’n kampioen kan maak. Afgesien van ’n gebrek aan geld om aan toernooie deel te neem, is haar ma egter hewig gekant teen die skaakspelery.
Wat ’n mens bybly van hierdie plek-plek skreiende film, is die drie sentrale karakters – die vasberade Phiona, haar vegter-ma en die wyse, ruimhartige Robert – gespeel deur drie akteurs wat mekaar perfek aanvul. Die Oscar-wenner Lupita Nyong’o is absoluut oortuigend as ’n sukkelende enkelma, terwyl die nuweling Madina Nalwanga met een woord indrukwekkend is.
Queen of Katwe word met graagte aanbeveel.
Sterre: 5
The post Filmresensie: Queen of Katwe appeared first on LitNet.