Hoërskoolleerders van die Drakenstein-omgewing in die Boland het hulle sterk uitgelaat oor Afrikaans as onderrigtaal tydens die jaarlikse Skerpskryfkompetisie.
Altesaam 84 leerders het vanjaar deelgeneem aan die sesde Skerpskryf in Afrikaans-kompetisie vir graad 7-, 10-, 11- en 12-leerders van Drakenstein.
Dit word jaarliks deur die Hugenote Gedenkskool (HGS) in Dal Josafat in samewerking met die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in die Paarl aangebied.
Die Hugenote Gedenkskool was die eerste skool in Suid-Afrika waar kinders amptelik onderrig in Afrikaans ontvang het.
Vanjaar se opdrag was om ʼn bloginskrywing te skryf oor Afrikaans as onderrigtaal.
Volgens Janine Brown, opvoedkundige beampte van die ATM, trusteeraadslid van die HGS en Skerpskryf-organiseerder, is die doel van die kompetisie om leerders se kreatiwiteit te stimuleer deur storielyne rondom sekere temas te ontwikkel en te skryf. “Die kompetisie is tot voordeel van elke leerder wat in Afrikaans skryf en help om belowende jong skrywers in Afrikaans te identifiseer.”
Enige leerder wat Afrikaans as huis- of addisionele taal neem, kon inskryf. Daar was vanjaar twee kategorieë. Leerders in gr 10, gr 11 en gr 12-leerders moes ʼn blog skryf oor die onderwerp “Die belangrikheid van Afrikaans as onderrigtaal”. Die vorige vyf jaar moes hulle onderskeidelik ʼn nuusartikel, ʼn rubriek, ʼn nuusberig, ʼn resensie en ʼn gedig skryf. ʼn Nuwe kategorie is vanjaar vir gr 7-leerders van landelike skole geskep, wat ’n opstel oor die onderwerp “Ek en my omgewing” moes skryf.
Daar is vanjaar 51 inskrywings van hoërskole ontvang en 33 van laerskole.
Vanjaar se algehele wenner van die hoërskoolkategorie was Jeanné Rabie (gr 11, Hoër Meisieskool Paarl). Cassidy Pietersen (gr 10, New Orleans Sekondêre Skool) het die prys vir kreatiwiteit gewen, en Kay-Leigh Bier (gr 11, Hoër Meisieskool Paarl) die prys vir taalgebruik.
Hierdie jaar se inskrywings het beslis nie aan kreatiwiteit ontbreek nie. Volgens die beoordelaars was Rabie se aweregse standpunt téén Afrikaans as onderrigtaal waarskynlik omstrede, maar uit ʼn beoordelaarsoogpunt was dit geslaagd omdat sy daarin slaag om verdere gesprek aan toe moedig en baie mense na die pen sal laat gryp.
Volgens Rabie is Afrikaans as onderrigtaal nie belangrik nie: “Kom ons wees eerlik. Dat Afrikaans die taal van die onderdrukker was, is so amptelik soos ons grondwet. Die regstellende aksies wat die grondwet bewerkstellig word geïmplementeer om iets te voorkom wat in ons verlede gebeur het: apartheid. Ja, ek weet dit is kru gestel, maar om ons te beywer vir Afrikaans as onderrigtaal sal ons beperk en verhoed dat ons op ʼn skoon bladsy begin skryf oor ʼn gelyke land wat gered is van ons aaklige verlede wat apartheid veroorsaak het.
“Daarom moet die onderdrukker-taal, Afrikaans, sy vlerke span en weg vlieg uit die verhaal van onderrigtale in ons reënboognasie. Ons het pakslae gekry in 1994, maar die taal staan steeds met ʼn sweep in die hand en ons, die gebruikers van die taal, buk steeds vrywillig.”
Die wenner van die taalkundige afdeling, Kay-Leigh Bier, het geen doekies omgedraai oor haar gevoel ten gunste van Afrikaans as onderrigtaal nie: “Goeie genade liewe mense! Vat aan my liefde vir my taal en ek word briesend boos. Dit voel asof ek deurboor word met ʼn hittige vuuryster sodra daar pogings aangewend word om hierdie pragtige taal op die agterstoep te plaas. Nee! en nogmaals nee kreet dit in my binneste dat dit kan nie gebeur nie. Ons moet walgooi sodat hierdie onding nie vastigheid kry nie. Afrikaans verdien die allerhoogste respek as ʼn onderrigtaal en daar sal nie weer komies daarna verwys word as ʼn kombuistaal nie.”
Die wenner in die afdeling oor kreatiwiteit, Cassidy Pietersen, was ook sterk ten gunste van Afrikaans as onderrigtaal: “Afrikaans is die taal waarin ons praat, slaap, lag, sing, dans, vry en vloek. Waarom dit dan nie gebruik om slim dinge te leer nie,” skryf sy.
Sy sê dit onafwendbaar dat Afrikaans ook op ander vlakke sal agteruitgaan as dit nie langer as onderrigtaal gebruik word nie. “As jy wonder wat Suid-Afrika sonder Afrikaans gaan wees dink net aan kaas en tamatie toebroodjie sonder kaas.”
Die finaliste en hulle onderwysers is genooi om by die prysoorhandiging by die Hugenote Gedenkskool aan ʼn werkswinkel deel te neem. Die aanbieders was die joernalis Jean Oosthuizen en die ontwerphoof van Die Burger, Johnn-Grant Munro.
Meshaan Jonkers van Alfons Primêr is as algehele wenner van die laerskoolkategorie aangewys, met Sinead van Wyk van Bakerville Primêr in die tweede plek en Jodine Groeners van Alfons Primêr in die derde plek.
Die leerders én hul skole het lekker pryse gewen. Die algehele wenner kry R1 000 kontant plus ’n koopbewys vir R1 000 vir Afrikaanse boeke. Die twee wenners in die kreatiewe en taalkundige afdelings wen elkeen R500 kontant plus ’n koopbewys vir R500 vir Afrikaanse boeke. Die wenners se skole ontvang ook elk ’n koopbewys van R1 000 en R500 vir Afrikaanse boeke.
Die opvoeder of persoon wat die weninskrywing aangemoedig het, sowel as die onderwyser wat die meeste inskrywings instuur, kry elkeen R500. Die algehele laerskoolwenner kry R500, die naaswenner R300 en die leerder wat die derde prys wen, R200. Elkeen kry ook ’n boek as prys.
Foto's: Isabeau Botha
The post Boland se leerders skryf skerp Afrikaans appeared first on LitNet.