Gesprek van Estelle Kruger met Henriëtte Loubser oor haar artikel:
1. Hoe het jou belangstelling in ekokritiek ontwikkel?
Tydens my nagraadse studies het ek talle vorme van literêre kritiek ontdek en dit was seker net ‘n kwessie van tyd voordat ek die ekokritiese teorieë sou raaklees. Ek het geweet dat indien ek enigsins verder navorsing sou doen, dit iets met kinder- en jeugliteratuur te doen sou hê. Dit was by die lees van navorsing deur verskeie ekokritici, soos Gerrard, Buell, Orr, Baratta, Bartosch en Clark, maar veral na die lees van Wildthings onder redaksie van Dobrin en Kidd, dat ek besef het watter waarde in die ekokritiese teorieë vir omgewingsbewusmaking en -opvoeding lê en watter rol kinder- en jeugliteratuur in hierdie opvoedingsproses kan speel.
2. Watter jeugverhale het op jou ’n invloed gehad toe jy ’n tiener was?
Freda Linde se boeke. Sy is my pa se niggie en ek het haar kleintyd al bewonder. Sy was vir my so lekker misterieus en vreemd, ek wou heimlik soos sy wees. Ek het steeds al haar boeke. Ons het ook die reeks Kinders van die Wêreld gehad, en ek het die stories daarin verslind. Ek kan skaars onthou wat ek toe alles gelees het, maar daar was PH Nortje, Elsabe Steenberg, Ela Spence, Wille Martin, en ek onthou ek was rasend bang vir Brolloks en Bittergal, maar het dit oor en oor gelees. In ons huis was daar altyd boeke, want albei my ouers is lesers, maar daar was steeds nooit genoeg nie en die dorps- en skoolbiblioteek moes help. Later, moet ek erken, was die ou Kaapse liefdesverhale vir my as ouer tiener my kos, en toe ontdek ek Victoria Holt en die historiese, Gotiese roman. Vir lank daarna het ek nie Afrikaanse gelees nie.
3. Wat het jou laat besef jy kan ekokritiek met jeugliteratuur kombineer vir jou gevorderde navorsing?
Soos wat ek begin oplees het oor die uitbeelding van die natuurlike omgewing en omgewingskwessies in fiksie, het ek gou besef dat ekokritiese teorieë ewe suksesvol van toepassing op kinder- en jeugliteratuur kan wees. Die natuur is ‘n gegewe in talle Afrikaanse kinderboeke. Dit is niks nuuts nie en dit is ook dikwels nie net blote natuurskrywery nie. Daardie omgewingsboodskappe moet oorgedra word aan jong lesers. Dit is nodig dat baie meer navorsing oor Suid-Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur gedoen word ten einde die potensiaal tot omgewingsbewusmaking ten volle te ontgin.
4. Daar is reeds enkele verhale met ekologiese temas uit jou pen gepubliseer. Vertel asseblief daarvan.
Verhale uit my pen het nog net in versamelbundels en tydskrifte verskyn, en ek droom nog oor my eie boek, maar in my stories is die natuurlike omgewing feitlik altyd teenwoordig, ja. Ek was al onder andere in ‘n witdoodhaai se kop, het in ‘n monstermiernes rondgesluip, het saam met ‘n afoor-otter geswem en perlemoenstropers gejag.
5. Jy het al navorsing gedoen oor manlikheid in Afrikaanse prenteboeke, wat wys dat die studie van feminisme en prenteboeke deel van jou belangstelling is. Verduidelik asseblief wat die verband tussen feminisme en ekokritiek is.
Ekokritiek verken die mens-natuur-verhouding, terwyl feminisme die man/kultuur-vrou/natuur- verhouding ondersoek. “Deep ecology”, ‘n onderafdeling van die ekokritiek, identifiseer die antroposentriese dualisme van mens/natuur as dié bron van anti-ekologiese aannames en praktyke, terwyl feministe dit verder voer en ook die androsentriese dualisme van man/vrou blameer. Feministiese ondersoeke gaan oor kwessies soos diskriminasie, uitbuiting, mishandeling en onderdrukking van vroue, terwyl ekokritici hulle besig hou met kwessies oor die mens se verhouding met die aarde en die natuur. Die vrou word allerweë geassosieer met die natuur en die emosionele. Ons praat heel gemaklik van “Moeder Natuur”, onthou. Dus, soos wat dit die geval met die vroulike liggaam is, word ook die natuur misbruik en geskend binne ‘n patriargale bestel en dit is hier waar die verband tussen feminisme en ekokritiek lê. Die onderafdeling van ekokritiek wat hierdie raakpunte en oorvleuling ondersoek, is die ekofeminisme.
6. Jy is ’n bibliotekaresse ...
a) Watter ander beroep sou jy wou volg met al jou navorsing en publikasies?
Ek sou net wou lees en skryf. Navorsing doen ook. Om op te lees en te skryf oor dinge wat my interesseer, is heerlik. Op hierdie stadium sou ek bloot voltyds skrywer wou wees. Kreatief, sowel as navorsingsverwant.
b) Sou jy ook wou onderrig gee aangaande jeugliteratuur en/of ekokritiek?
Nie voltyds nie. Ek sal enige tyd my kennis en navorsing met studente deel, maar ek wil nie voltyds in ’n doseerpos betrokke wees nie. As geleentheidspreker of besoekende dosent, ja.
7. Jy praat van “die krag van fiksie”. Hoe kry jy dit reg om onderwysstudente te stimuleer en te inspireer om jeugverhale te lees?
Deur hulle daarvan te vertel. “Word of mouth”. As ‘n jeugboek opslae maak, soos Fanie Viljoen se Breinbliksem destyds, en onlangs weer sy Val en Pleisters vir die dooies, kom studente daardie boek soek om te lees. Maar nee, ek dink nie dit is ‘n maklike taak nie. Die kompetisie van tegnologie en sosiale media is fel. Onderwysstudente is buitendien oorlaai met werk. Dit is egter nie ‘n onbegonne taak nie en is broodnodig. Wat die intermediêre en die seniorfases betref, sal dit makliker wees, want daardie studente kies hulle vakrigtings. Hulle sal dus Afrikaans kies en dan kan daar in die klas en in opdragte aandag hieraan gegee word. Wat die grondslagfase betref, is dit ‘n ander saak. Daardie studente het heelwat meer vakke om te hanteer. Tog kan die waarde van lees, die liefde vir lees, aangemoedig word deur klasbesprekings, aktiwiteite, opdragte en projekte wat studente sal laat besef hoe belangrik dit vir hulle self, maar ook vir die kinders wat hulle uiteindelik moet opvoed, sal wees. Die éintlike oplossing vir hierdie kwessie, en die ideaal, sou wees om die belangrikheid van lees reeds by die huis, en later in die skool, by kinders in te skerp. ‘n Liefde vir lees moet gekwéék word.
8. Julle huisves die Iskemus-versameling van jeugverhale in julle Mediasentrum by die Fakulteit Opvoedkunde van die Universiteit Stellenbosch.
a) Vertel iets van die agtergrond hiervan.
Iskemus (Inligtingsentrum vir Kinder- en Jeugliteratuur en -media van die Universiteit Stellenbosch) is destyds gestig om as navorsingsversameling te dien. Dit is deur die destydse Departement van Biblioteek- en Inligtingkunde van die universiteit bedryf. Die doelstelling van Iskemus was om “‘n deskundige diens op sy vakgebied aan studente en die gemeenskap te lewer”. ‘n Kopie van elke liewe kinder- en jeugboek wat by ‘n Suid-Afrikaanse uitgewer verskyn het, het by Iskemus beland. Die versameling het ook ‘n bewaringsdoel gedien. Dit is vir jare deur Marina le Roux op datum gehou en aan studente in die destydse skoolbiblioteekkunde bekendgestel. Later, met haar aftrede en nadat biblioteekkunde as vak verval het, het Elaine Ridge die versameling onder haar vlerk geneem. Uiteindelik, soos wat geldsake moeiliker geraak het en uitgewers nie meer gratis kopieë verskaf het nie, het die versameling gestagneer. Met die aftrede van dr Ridge het die versameling deel van die Opvoedkundebiblioteek geword.
b) Word dit steeds aangevul?
Tot onlangs is dit nog aangevul met nuwe publikasies wat uit eie fondse aangekoop is. Dit moes egter om finansiële redes gestaak word. Ons vul nou die biblioteekversameling aan, wat duplikasie uitskakel, maar wat ons in staat stel om steeds die nuutste boeke op ons rakke te hê.
9. Hoe het jy op Rainbow (2012; 2014)1 afgekom en hoe het jy besluit om dit te gebruik as teoretiese konteks vir jou huidige navorsing?
Dit was tydens een van my leeservarings dat ek ‘n artikel van Rainbow oor ekogeletterdheid ontdek het, maar dit was veral ‘n hoofstuk deur hom in die boek Teaching Environments: Ecocritical encounter wat my geboei het.Die publikasie bevat talle hoofstukke en debatte oor omgewingsopvoeding, en Rainbow se artikel gaan spesifiek oor die opvoedkundige waarde van ekoliterêre tekste. Dit was dus reg in die kol.
10. Is dit so dat ekoletterkunde ’n morele onderbou het? Verduidelik asseblief?
Ja. Deur die uitbeelding van omgewingskwessies in fiksie word die leser se gewete aangespreek. Dit is die mens se taak en verantwoordelikheid om die natuurlike omgewing te bewaar en te beskerm teen plundering en misbruik. Ons is dit aan toekomstige geslagte verskuldig. Letterkunde, en dus ook ekoletterkunde, spreek tot die onderbewuste van die leser en dit lei tot wat Freire “conscientization” noem. Ekoliterêre tekste beskik oor die potensiaal om hierdie soort kritiese bewuswees by lesers te ontwikkel en uiteindelik daardie lesers tot optrede te inspireer.
11. Is jy bewus van gevalle waar ekoletterkunde mense se ingesteldhede en optrede prakties verander het?
Ja. In Rainbow se navorsing verwys hy spesifiek na die werk van Upton Sinclair, The Jungle, wat ‘n aandeel gehad het in die verandering van wetgewing oor die vleisbedryf in Chicago. Deur fiksie is die wrede werklikhede van hierdie bedryf ontmasker en het dit gelei tot die aanvaarding van die Pure Food and Meat Inspection Act. Ek vermoed daar is nog sulke gevalle.
12. Jy is besig met ’n PhD oor ekoletterkunde. Wat is daar nog hieroor in jou navorsing? Vertel vir ons sonder om jou geheime te verklap.
Ek het die nuwe materialisme ontdek. Dis iets wat my fassineer. Die “material turn”, soos wat Iovino en Oppermann dit noem, maak my opgewonde. Die feit dat daar ‘n keerpunt gekom het. Dat daar ‘n besef is dat ons moet terugkeer na die aarde, na die natuur. Materiële ekokritiek bied ‘n nuwe manier om oor die mens en sy verhouding met die niemenslike te dink. “The conceptual argument of Material Ecocriticism is simple in its outlines: The world’s material phenomena are knots in a vast network of agencies, which can be ‘read’ and interpreted as forming narratives, stories” (Iovino en Oppermann 2014:ix).
1 Rainbow, A. 2012. Ecoliteracy, enchantment, and consilience. University of Bucharest Review, XIV(1):92–100.
—. 2014. Pedagogy and the power of the ecolitarary text. In Bartosch en Grimm (reds) 2014.
Bartosch, R en S Grimm (reds). 2014. Teaching environments: Ecocritical encounters. Frankfurt: Peter Lang.
The post Met bome soos met boeke appeared first on LitNet.