Skryn
Emma Bekker
Protea Boekhuis, 2015
ISBN 9781485304777
Die teksskrywer en regisseur Emma Bekker debuteer met Skryn, ’n bundel gedigte waarin die betekenisse van die begrip "skryn" veelvlakkig ontsluit word as noodsaaklike skaafprosse, of ruimtes waarin kosbaarhede bewaar word.
Só roep die bundel se afdelingstitels ook meerduidigheid voor die oog: "huisraad" kan enersyds gesien word as persoonlike huislike verbruikersitems, maar óók as wyshede en herinnerings binne persoonlike en gesinsverband; "soenoffers" dui op vredesoffers, maar impliseer ook erotika en opoffering; en sleutelsange resoneer met die liedagtigheid van die gedigte waarin die musieksleutel as gestileerde komposisieteken staan, maar ook aansluit by die deurlopende tematiek van slotte wat met hout(skryn-)werk geassosieer word.
Die programgedig, "Oggendrit deur Linden" open die bundel as tong-in-die-kies hutspot van suburbian bliss, en waarin die digters NP van Wyk Louw en Sheila Cussons deel word van ’n alledaagse werklikheid. Hierdie literêre "bestekopname" of argelose intertekstuele spel word deurlopend geestig en met speelse flair hanteer, wat aan die bundel ’n kabaretagtige voorkoms verleen.
"een nag op ’n trein na pretoria" (10) roep die gelyknamige lied van die Briels voor die oog, maar word geparodieer tot jeugherinnering wat deel word van die verse wat binne ’n biografiese register geberg word as "huisraad". Die satiriese "Die vryskut-groentetuin" (14) bekoor, terwyl "Die innerlike mevrou" (15) steurend in eksplisiete woordspel aandoen. Gelukkig maak "jozi-blues" (18) hiervoor op, en laat Bekker ook haar duimafdruk as een van die "Johannesburg-digters" wat, soos René Bohnen en Carina van der Walt, gedigte oor dié stad publiseer in dagblaaie en ook tydens poësie-aande voorlees.
Die sjamanistiese tematiek in Skryn word onder meer verken in "Die man met die afgebrande woud" (19), waarin die prosesse van biologiese verval geïnternaliseer word as verwordingsprosesse in die natuur. In "terwyl 'n mens wegkyk)" (20) en "Miershooptier" (21) word die magie van katte besing, gevolg deur die minder geslaagde "Wilde Kanis" (23). ’n Hoogtepunt in dié eerste deel is "Die geheim van beddens" (25):
Huisraad berg geheime op maniere wat verras.
’n Bed met stoere houtraam en uitgediende matras
hou net lank genoeg sy lag oor die pret waaraan hy aandadig was.
Aan klapperhaar en ysterveer klou die boustof van ’n bloedlyn vas.
"Winterwittebrood" (29) word ’n aangrypende vers wat handel oor swangerskap, gevolg deur "Daar doer in Darfoer" (30), 'n sterk gedig wat ook die liriek “Photographs from Darfur” van die sanger Mel Botes voor die gees roep.
"Maak my jou liefling" (38) tref in sy ambivalensie tussen robuustheid en teerheid:
Maak my jou liefling:
Was my gesig met trane uit jou seerste bron,
Olie my lyf met jou teerste woorde.
Vleg odes deur my hare en steek ’n ster agter my oor.
Poeier my nek met oor en oor gemaalde beloftes.
Hang ’n snoer geslypte strofes om my hals.
En met jou skerpste lemmas, kerf jou naam op my hart.
Want ek wil nie jou baby wees nie.
Ook in "Lyftaal" (42) word die geïmpliseerde "lyfrede" (na analogie van die afdelingstitel) by wyse van erotiek ondersoek, ’n vers wat opgaan in ’n Ars poetikale siening. Die opeenvolgende " Boeretantra" (43) flankeer met die Yin-Yang as erotiese binêre opposisies, en die paarrym word funksioneel benut. Soos in die geval van sy voorganger, blyk lyflikheid as motief vir die Ars poetikale. Met die erotiese verse in Skryn sluit Bekker aan by die tradisie van kabaret met sy voorliefde vir die seksuele. "By die deel van ’n vrug" (48) word die idilliese voorstedelike bestaan en intieme fasette van ’n huwelikslewe belig, maar die gedig bly in voorspelbaarheid en verslete segging vassteek, terwyl "Witkoppen, naby Memel" (49) weer vir ’n opwaartse leeskurwe sorg.
Die prikkelende "Herdenkingsgeskenk" (53) verras as aweregse liefdesgedig, en herinner aan die hardgebakte weerloosheid in "Maak my jou liefling". Ook in hierdie vierde deel, naamlik "biegbeelde", word ’n voorstedelike bestaan geëkstrapoleer binne sjamanistiese verband. Bekker se voorliefde vir kabaret blyk verder uit die bytende humor en rym waarmee doelbewus wegbeweeg word van "swaarwigtige" poësie. "jonker is nie dood nie" (55) lees self-ironiserend en werp ’n wrang blik op Ingrid Jonker by wyse van demistifkasie. In "landmyn-hoender" bevestig Bekker haar fyn aanvoeling vir die absurde. Die voorbereiding en gaarmaak van ’n hoender ontaard in ’n makabere ervaring en die digter skep poësie wat wegbreek uit die korset van die voorspelbare. "Argeologie" (64) dra swaar aan willekeurige beeldoordaad, terwyl "’n Lang sin oor ’n winter-Woensdag" (66) vergoed en "biegbeelde" op ’n hoogtepunt afsluit.
In die voorlaaste gedeelte, "skrynwerk", onthuts "Ontwyde moeder" (72) in sy galgehumor as die Maagd Maria onder die loep geneem word. Heelwat sterker as in die geval van sy voorganger verras "Las Ruinas de San Ignacio, Misiones" (73) as ’n nugter en fyn deurgekomponeerde gedig.
"Medisyneryme" (77), ’n reeks van vyf kwatryne, betrek tong-in-die-kies paganistiese seën-, genesings- en verwensingrituele en herinner aan antieke towerformules. Wéér flankeer Bekker met die leser en wil dié "toorliteratuur" nie ernstig opgeneem word nie.
In "Gedagtes rondom ’n stormsee" (88) word die stadige verrottingsproses versus die vinnige en reinigende katarsis van ’n vuurdood netjies gejukstaponeer. Ook "Teen verganklikheid" (89) oortuig in sy eerlikheid as vers waarin ’n hedonistiese rebelsheid as antidoot teen die naderende dood verkies word. In "teen onaardigheid" (90) word daar, soos in talle verse, teruggegryp na ’n konkrete en natuurlike paljas as alternatief vir genesing téén die logika van die "koue wetenskappe".
"Om en omkom" (91) slaag as pretensielose vers waarin ’n orgasme en sterfproses paradoksaal een word. Die elemente water, vuur, lug en grond dien as boustof in "Tjakrarangskikking" (92), waarin sewe verse oor verskillende blomsoorte tot natuurmistieke eenheid bedig word. Die bundel sluit af met ’n geslaagde kwatryn, "Die skoonheid van slotte" (96), wat ooreenkomste met die wysheidspreuk toon.
Skryn is 'n bevredigende debuut wat enkele hoogtepunte registreer. Die verse speel binne die leefwêreld van kabaret, en of dit realisties, romanties, sardonies, of ernstig getint is – die gees van Verfremdung bly deurlopend teenwoordig. Die bundel lewer verse wat ten doel het om te vermaak, en Bekker se improvisatoriese spel met kabaret in al sy gedaantes sorg vir verfrissende hibriede verse waarmee die digter kan aanspraak maak op ’n eie stem.
Die uitgesproke humor is nie altyd ewe geslaagd nie en van die verse bly vassteek in die fasiele (of kon in die snippermandjie gebly het, soos die puntlose "selle lag soos sonbesies" (39)). Tog getuig Bekker se debuut van ’n heerlike verbeelding en aanvoeling vir die donkerder nuanses van kabaret, wat vir ’n unieke leeservaring sorg.
The post Boekresensie: Skryn deur Emma Bekker appeared first on LitNet.