Ek het aan die begin van die jaar ‘n belofte aan myself gemaak wat ek nooit kon dink ek sal by bly nie. Ek het besluit om nie een enkele nuwe klere-item te koop nie. Vir ‘n 25-jarige onderwyser was dit nogal ‘n moeilike besluit om te maak, want ek was nog altyd een wat hou van mooi aantrek.
As jy dalk wonder hoekom ek hierdie besluit gemaak het, lees verder.
Dis geen geheim dat ons in ‘n baie fashion-conscious tyd lewe nie. Om die nuutste fashion trends te volg is vir sommiges ‘n hobby. En hoe mooier jy aantrek, hoe groter jou kanse om gewild te wees, veral onder jongelinge. Daar is seker niks verkeerd daarmee nie, maar ek voel dis onnodig om konstant trends te volg en om boonop soos almal te wil lyk.
As ‘n jong kind was dit altyd my begeerte om mooi klere te hê. My ma is ‘n skoonmaker nog vandat ek kan onthou en sy kon nie altyd bekostig om vir my die klere en skoene te koop wat ek begeer het nie. En in my buurt was dit nogal ‘n big deal as jy die nuutste fashion items gehad het. Ek het net een keer ‘n jaar ‘n klomp Pep-klere gekry wat my ma moes laybye en afbetaal deur die jaar. Omdat sy dit aan die begin van die jaar moes laybye, het sy dit gewoonlik ‘n size of twee groter gekoop met die hoop dat dit aan die einde van die jaar sou pas. Dit het nie. Dit het nooit gepas nie, want ek het nooit regtig veel gegroei nie. Ek het dit gehaat om met oorgroot klere te loop. En my ma was een van daai hardcore ma’s wat nie vir haar laat vertel van ‘n kind nie. So ek moes maar net aantrek en klaar. Ek het ook nooit duur tekkies gekry soos baie van die ander kinders in die buurt nie, maar dit het nie veel saak gemaak by my nie. As ek my wit rokkie en sandals vir die kerk gehad het, was ek baie chuffed. Ek het van kleins af daarvan gehou om soos ‘n dametjie te lyk.
Toe ek op varsity kom en my eie geldjies maak met die werk wat ek op kampus gedoen het, was ek in staat om vir myself klere te koop. En dit was baie liberating om uiteindelik volgens my eie smaak te kan aantrek. Ek het in hierdie tyd die meeste klere gekoop, en baie hiervan het ek steeds. Ek vertel ook dikwels vir mense die storie agter my eerste en enigste paar Nikes wat mos nou as “namelekkers” beskou word op die Kaapse Vlakte. As ‘n student ‘n A-simbool kry by UWK, kry hy/sy ‘n geldjie daarvoor aan die einde van die jaar. Ek het elke jaar daardie geldjies gespaar vir my rylesse en my voetstoots motortjie en eers in my derde jaar het ek besluit om van die geld te gebruik vir ‘n nuwe paar tekkies. As student het ek nie veel gehad om oor te worry nie, so klere koop was lekker. Daar was niks anders behalwe die bietjies petrol vir my Kollatjie en ‘n jaarlikse laybye vir my broer waaroor ek gestres het nie.
Maar nou, as volwasse werkende vrou het my fokus heeltemal geshift. Ek het baie meer belangrike dinge waarop ek my geld en energie moet spandeer, en klere koop is nie meer ‘n prioriteit nie. Die eintlike rede hoekom ek vanjaar besluit het om nie klere te koop nie, is omdat ek genoeg klere in my kas het en omdat ek al hoe meer die idee van conscious consumerism begin fancy. Nie net koop ek nie nuwe klere nie, maar ek probeer ook om van my ou klere te skenk aan organisasies en tweedehandse winkels.
Op die oog af lyk die term “conscious consumerism” asof dit maar slegs beteken dat ons meer groen moet lewe en dat ons moet dink aan die impak wat ons gekopery op die omgewing het. Vir my gaan dit egter oor meer as dit.
Ek is mal oor klassieke vintage klere. En vir die afgelope 5–6 jaar is ek alewig opsoek na winkels wat tweedehandse klere verkoop. Maar voor ek vintage items by ‘n winkel koop, kyk ek eers behoorlik die kat uit die boom. Daar is baie vintage winkels wat tweedehandse klere verkoop oor dit gesogte items onder sekere jongmense is. Dis om hierdie rede dat die klere superduur is en ryksmanskinders het geen probleem om te koop nie. Ek het eenkeer by so ‘n winkel in Simonstown ingegaan waar die verkoopsassistent vir my ‘n hele storie gespin het oor hoe die rok waarna ek kyk aan ‘n baie ryk sjeik se vrou behoort het. Die rok was glo haar tea-time dress en omdat daar nou die “interesante” storie agter die rok is, het dit R1 200 gekos. Ek het baie mooi netjies die winkel verlaat.
Die winkels waar ek koop, moet egter nie gaan oor geld maak nie. Dit moet regtig mense wees wat die geld makeer. Behalwe die eerste soort winkels is daar baie mense wat tweedehandse klere verkoop bloot om aan die lewe te bly. En dis hier waar die begrip “conscious consumerism” vir my gewig dra. As ek klere by gewilde klerewinkels koop, waarnatoe gaan my geld? Ja, elke winkel het werkers, maar wie is die persoon of persone na wie die meeste van die profyt gaan? Waar woon hierdie persone? Hoeveel huise het hierdie persone? Watter motors bestuur hulle? Gaan my bietjie geld wat ek by hulle winkels spandeer, ooit ‘n verskil maak aan hul inkomste? Ek twyfel sterk. As ek by ‘n tweedehandse winkel koop, weet ek dat my geld gaan om iemand se ligte aan te hou of om ‘n kind deur die skool te sit. En dis om hierdie rede dat ek by tweedehandse winkels koop. Ook weet ek dat ek heel moontlik die enigste een sal wees wat ‘n sekere styl item sal hê, om nie eens te praat van die kwaliteit van die klere nie. Die kwaliteit van deesdae se materiaal het baie verswak. Net twee wassies en dis klaar. Die klere wat wel dalk goeie stof het, kos weer ‘n plaas se geld. Met die items wat ek tot dus ver toe gekoop het, kry ek regtig waarde vir my geld en ek help ook moontlik ‘n gesin om aan die lewe te bly.
Dalk wonder iemand nou oor hoe hygienic dit is om tweedehandse klere te koop? Na ‘n goeie handwas met staysoft voel die tweedehandse klere wat ek koop, eie aan my lyf. En of course koop ek nie onderklere of skoene tweedehands nie.
Twee weke gelede het ek ‘n skirt en ‘n toppie by ‘n vrou in Parys gekoop. Vir R30. Haar naam is Melanie Oelofse. Sy werk nie en dis haar manier om ‘n ekstra geldjie te maak. Dit klink dalk belaglik, maar toe ek woorde wissel met haar oor hoekom ek juis by haar koop het haar trane gerol van dankbaarheid. Sy sê dat baie mense vir haar lag oor sy dit doen en dit maak haar baie seer, maar sy kan nie bly sit en niks doen wetende dat haar kinders moet eet nie. Sy het voor Shoprite gestaan en die klere het op die draad aan hangers gehang. Hoeveel van iemand se trots moet dit nie vat om dit te doen nie? Ek het vir haar gesê dat sy niks het om oor skaam te wees nie en dat ek haar admire vir haar karakter. By Wynbergstasie is daar ook baie mense wat tweedehandse klere verkoop wat hulle sommer op die grond op swartsakke sit. En alhoewel dit gek lyk om daar op die grond klere te gaan koop, weet ek ten minste dat my geld vir iets goed gaan. Daar is ook winkels soos die U-turn stores waar die geld na hawelose mense gaan. Jy kan selfs meal vouchers by die winkels koop en dit aan haweloses gee (in plaas van geld) om hulle kos te gaan kry by die naaste U-turn-kombuis. Ook is daar die Help the rural child tweedehandse klere- en boekwinkels. Die geld van die meeste tweedehandse winkels gaan aan liefdadigheid en daarom ondersteun ek dit met graagte.
Alhoewel tweedehandse kopery besig is om my first love te word, is ek ook baie gewillig om up and coming clothing lines te ondersteun. Daar is so baie goeie local designers wat ons kan ondersteun. My beste vriendin het onlangs haar styling superpowers gebruik en Kelz Klozet op die been gebring. Sy team op met local designers en gaan die 9de Desember haar eerste fashion show hou. Hierdie is die tipe ventures wat ek heelhartig sal ondersteun. En dis die enigste nuwe klere wat ek sal koop. Ons moet leer om in ons eie mense se drome te invest. Sodoende kan ons ook vermy om Kersfees soos 100 ander mense te lyk. Ek sal liewer nie winkels se name noem nie.
Hiermee probeer ek niemand convince dat hulle dieselfde hoef te doen nie. En ek wil ook nie hê mense moet skuldig voel oor hulle konstant die mooiste en nuutste wil hê nie. Maar wat ek wel weet, is dat baie mense eerder onbewustelik die rykes ryker sal maak en vir die armes sal lag. En dit is iets wat moet verander. Ek gaan voort om eerder my geld bewustelik te gebruik waar dit ‘n verskil sal maak. Dit laat my toe om my eie unieke self te wees. Iemand het eenkeer vir my gesê hoe duurder die klere hoe beter die kwaliteit. Ek het al R10 betaal vir hoëgehalte-klere-items. As my geld nie ‘n verskil kan maak aan die leefwyse van mense wie dit regtig makeer nie, beteken daai kwaliteit niks nie.
Shirmoney Rhode
The post Consumerism appeared first on LitNet.