Klaagliedere se moses! Ek het lanklaas so’n klomp onlogiese tjol en galbrakery gesien. Jaco moet nog so baie leer, byvoorbeeld dat die stel van persoonlike menings GLAD nie as redevoering tel nie.
Byvoorbeeld, Jaco sê hierdie gekkegrensgroepie het nog nie ‘verby’ 1994, selfs 1969, beweeg nie. Mag wel waar wees maar dan moet hy die stelling kwalifiseer. ‘n Teenstelling hier kan wees dat Jaco nog vashaak by 1797, net so simpel soos Jaco se stelling omdat dit ongekwalifiseerd is maar in daardie sin net so geldig. Selfde geld vir die res van sy 10 ‘eienskappe’; alles bloot persoonlike menings.
Jaco praat ooglopend van die meer konserwatiewe en behoudende Afrikaner of, anders gestel, nie die hoofstroom-SJW’s wat alles wat die hoofstroompers skryf vir soetkoek opvreet nie. Hoekom sal die konserwatiewe Afrikaner nou anti-Joods of anti-Engels wees? Hulle ken die Jode as ‘n volk waarvan in die Bybel gepraat word en hulle ken die Engelssprekendes as medeburgers; baie van hulle is met Engelse getroud. So van die os op die jas, van die anti-Joodse mense waarvan ek weet is Engelssprekende besigheidsmanne, heelwaarskynlik omdat hulle besigheidsvermoë in vergelyking kortskiet.
Jaco praat van die ‘ongesonde haat’ wat hierdie gekkegrensgroepie vir die Engelse het. Wat laat hom so dink? Ek vermoed sterk dat hy my as een van sy ‘gekkegrensers’ beskou maar dan is dit vanweë die kêrel se onvermoë om verder te dink as wat sy neus lank is. Ek is hewig gekant teen die agteruitgang van Afrikaans wat teweeggebring word deur kruipende Afrikaners se omhelsing van Engels maar het niks teen die Engelse nie (my ma is 'n direkte afstammeling van die 1820-setlaars). Ek het al telkemale gesê die agteruitgang van Afrikaans het niks met die Engelse te doen nie; dit is vanweë ons eie slapgatgeit. Engels het ‘n groot taal geword deur die toedoen van die Engelsman en net so is Afrikaans besig om te kwyn agv die NIE-toedoen deur die Afrikaanssprekendes. Ons het net onsself te blameer.
Wat my opval is die snedigheid en venyn waarmee Jaco (en die ander kompromiste) die mense wat volgens hulle ‘gekkegrensers’ is, aanval. Daar is mense wat selfs so ver gaan as om te vra dat Dan Roodt byvoorbeeld in die tronk gegooi moet word. Die rede vir hierdie houding is voor-die-hand-liggend; die ‘gekkegrensers’ ontbloot die valsheid van die kompromiste se gejubel oor die kaal keiser se wonderlike klere; hulle is dus uitgevang en dit maak hulle briesend. Aangesien hulle geen geldige teenargumente het nie is al wat oorbly aanval en beledig.
Ter afsluiting, net vir Jaco se ‘edifikasie’ soos my ouma sou gesê het; ek het twee terriers. Een is ‘n bullterrier, ‘n knewel van ‘n brak en wees verseker, sy byt is erger as sy blaf. Die ander een is ‘n Jack Russell en die is nou die dag amper doodgebyt deur twee Huskies. Vol bloed en mank het hy hulle steeds aangeval voordat ek hom kon red. Hy is beslis nie net ‘n keffertjie nie. En terloops, “mis uit” is ‘n lelike anglisisme.
Jan Rap
The post Jaco Fourie se gekkegrensbrief van 22 September 2016 appeared first on LitNet.