In die Nuwe Testament word vertel dat Jesus deur die Romeine gekruisig is. Dit is sommer ʼn groot gebeurtenis, en ʼn mens sou verwag het dat hulle rekord sou hou van so iets, veral aangesien die Romeine bekend was daarvoor dat hulle noukeurig verslag gedoen het. Tot heden toe het nog geen historikus of enig iemand anders dokumente ontdek wat melding maak daarvan dat hy deur Pontius Pilatus verhoor is, en dat hy tereggestel is nie.
Die tyd waarin Jesus veronderstel is om te gelewe het, het heelwat geskiedskrywers opgelewer. Daar was Petronius, Senaca, Dion Pruseus, Plinius, Appius, Theon van Smyrna, Plutarchus, Apollonius, Florus Lucius, Lucanus, Damis, Statius Columella, Ptolomeus, Lysias, Valerrius Maximus, om maar net ʼn paar te noem.
ʼn Mens sou sowaar ʼn hele biblioteek net met hulle skrywes kon vul, maar nie een van hulle verwys na Jesus nie. Die enigste Romeinse skrywers wat iets van Jesus meld, is Plinius, en Tacitus.
Plinius, ʼn goewerneur in Klein Asië, skryf om raad te vra hoe om op te tree teen die moeilikheidmakers wat hulle Christene noem. Tacitus skryf hoe die Christene sondebokke gemaak is deur Keiser Nero, toe daar ʼn brand in Rome ontstaan het. Hy skryf ook van Jesus se kruisiging, en dit sou kon bewys dat Jesus wel bestaan het, alhoewel dit nie kontemporêre bewyse is nie, indien die rekord van die verhoor en die veroordeling gevind kon word. Dit is duidelik dat hy sommer maar op hoorsê skryf.
Daar kan slegs twee moontlikhede bestaan waarom Jesus skitter in sy afwesigheid in die Romeinse skrifte: όf het glad nie bestaan nie, όf hy was van min belang sodat hulle nie dit die moeite werd geag het om oor hom te skryf nie.
Die Joodse historikus wat in hierdie tyd gelewe het, is Philo. ʼn Groot deel van sy werk het behoue gebly. Hy skryf veral oor die geskiedenis van die Joodse volk, filosofie en religie. Hy het heelwat te vertel oor Pontius Pilatus, maar maak geen melding van Christus nie. Justus van Tiberië, wat naby Kapernaüm gewoon het, maak ook geen melding van Jesus in sy geskiedenis van die Joodse volk nie.
Die skrywer, Josephus, maak melding van Jesus in sy monumentale werk oor die Joodse geskiedenis. Vir honderde jare het die Christen historici naarstiglik geklou hieraan as bewys van Jesus se bestaan, totdat hierdie werke meer krities bestudeer is. Daar is onder meer gevind dat dit wat oor Christus geskryf is, nie die werk van Josephus is nie, maar latere toevoegings.
Die vroeë Christene, net soos die hedendaagse Christen, is uiters gesteld daarop dat Jesus bestaan het. Biskop Eusebius, die voorsitter van die Konsilie van Nicea, het juis Josephus se werke voorgehou as klinkklare bewys van sy bestaan.
Angus
The post Vermis – Jesus Christus appeared first on LitNet.