By die skrywe van hierdie rubriek was die Nobelprys-komitee nog op soek na Bob Dylan.
Dit is nog onbekend hoe hy sal reageer op die geweldige eer wat aan hom bewys is. Gaan hy opdaag vir die seremonie? Gaan hy die prys van die hand wys? Of gaan hy eenvoudig voortgaan om die hele affêre te ignoreer?
Bob Dylan is nou al vir byna drie dekades lank op ‘n musiektoer. The Never-Ending Tour, so staan dit bekend. My leadkitaarspeler, Albert Frost, was backstage saam met Dylan by een van sy konserte in Australië. Hulle kon egter nie handskud nie. Die Rolling Stones, so vertel Albert, was heel toeganklik toe hy hulle ontmoet het tydens ‘n konsert in Spanje. Keith Richards was vol grappies.
Nie Dylan nie. Toe hy opdaag, moes die ganse backstage-area ontruim word. Hy wou heeltemal alleen wees.
Dylan is nou al bekend daarvoor dat hy nie eintlik verbaal kommunikeer nie. Hy gesels nooit met die gehoor tussen liedjies nie. Hy doen nie eintlik meer onderhoude nie. Die tweede en derde aflewerings van sy outobiografie, Chronicles Volume One, wat reeds in 2005 verskyn het, is blykbaar nou nog nie voltooi nie, hoewel die uitgewers al jare lank belowe dit is amper klaar.
Bob Dylan handhaaf ‘n dawerende stilte. In literêre terme is hy meer privaat as JD Salinger. Mens kan amper sê hy’s Amerika se Karel Schoeman.
Verdien Bob Dylan die Nobelprys vir letterkunde?
Daar is meningsverskille hieroor. Sy totale oeuvre is geweldig groot. Sy beste werk – en daar is baie goeie werke – kan tel onder die skerpste en interessantste poësie wat nog ooit in die Engelse taal gelewer is. Maar sy werk het ook talle vaal kolle van rymdwang en flou humor en – vergelyk hierdie snaakse dog ietwat rommelrige strofe uit “Tangled up in blue” (van Blood on the Tracks, 1975):
She was married when we first met
Soon to be divorced
I helped her out of a jam, I guess,
But I used a little too much force.
Wat sy stem en musikaliteit betref: Bob Dylan is geen Heinz Winckler nie. Sy stem is onsuiwer en rasperend. En sy akkoorde is voorspelbaar (al moet ek dit self sê). Behalwe ‘n kort ekskursie in eksperimentele jazz met “If dogs run free” (New morning”, 1970), ‘n liedjie wat later omskep is in ‘n geïllustreerde kinderverhaal deur Scott Campbell), is hy geneig om soortgelyke musikale strukture oor en oor te herhaal met slegs minimale afwykings.
Hy is natuurlik darem ook meer as net ‘n sanger/liedjieskrywer. Amptelik het hy, soos ons gesien het, ook een kinderboek agter sy naam. Dan was daar die crazy en baie entertaining 1971-publikasie Tarantula, wat destyds, toe “stream of consciousness” hoog in die mode was, vergelykbaar was met die prosa van John Lennon (“In his own write” en “A Spaniard in the works”) en ons eie Breyten se meer funky tekste soos “katastrofes” en “Om te vlieg”.
Die eerste aflewering van sy outobiografie, Chronicles Volume One, was boeiend om te lees, maar dit ignoreer alle reëls van chronologie en logika. Mens kan dit sien as ‘n positiewe of negatiewe eienskap.
Ek het daardie boek geniet, en ek geniet al Dylan se werk, want – laat ek dit nou maar erken – ek is ‘n fên. Ja, want hy het my lewe op ‘n tamaai wyse beïnvloed. Ja, en hy is actually ‘n profeet. Dit moes ek aan myself erken selfs in die oomblikke toe ek die meeste aan hom getwyfel het, soos hierdie rubriek van 2006 getuig.
Bob Dylan het die verwysingsveld van ‘n hele geslag – eintlik meer as ‘n geslag – jongmense verander. Soos Elvis Presley ingeseil het onder die rokpante van die vyftigs se Bill Haley om rock ‘n roll te vestig as ‘n mainstream kunsvorm, so het Dylan die gaping gevat wat geskep is deur die Beatles, Donovan en ander jeugkultuur-ikone van die vroeë sestigs om sy Guthrieagtige lirieke op die rockverhoë van die wêreld te vestig.
Oor sy vroeë jare wil ek nie hier veel uitbrei nie, want dit is oorbekend en baie goed gedokumenteer. Liedjies soos “Like a Rolling Stone” en “The times they are a-changing” sal altyd uitstaan as ikoniese mylpale in die geskiedenis van populêre musiek.
Hy het deur verskeie fases gegaan: die vroeë folkmusiek-fase, gevolg deur die elektriese rock-fase, gevolg deur ‘n fase wat gekenmerk is deur reisbeskrywings en romance (minder polities gelaai), gevolg deur ‘n kortstondige bekeringfase waartydens hy drie Christelike albums uitgereik het, totdat hy eindelik die fase binnegegaan het waarin hy nou nog is, wat ek, by gebrek aan ‘n beter woord, sy postmodernistiese fase noem.
Dit is hierdie fase wat my die meeste boei, want, anders as baie ander rock-ikone van sy era wie se kreatiwiteit lankal opgedroog het, hou Dylan aan om nuwe werke te lewer, nuwe filosofiese baadjies aan te pas, en elemente en metafore van al die ander fases met behulp van nuwe poëtiese tegnieke te integreer en te vervleg.
‘n Liedjie uit hierdie laaste fase wat Dylan vestig as een van die grootste digters van ons eeu is ongetwyfeld die onweerstaanbare rock-tune “Jokerman” vanaf die 1983-album Infidels, vervaardig deur die Dire Straits-kitaarspeler Mark Knopfler, waarin hy beelde uit sy Christelike fase op meesterlike en speelse manier versnit met sy eie Joodse agtergrond en daaruit ‘n versoening probeer sintetiseer tussen die lig en donker van die antieke gelowe tot by die skep van ‘n enigmatiese nuwe Messiasfiguur, die “joker” wat op byna Boeddhistiese wyse verhewe is bo goed en kwaad:
Well, the Book of Leviticus and Deuteronomy,
The law of the jungle and the sea are your only teachers
In the smoke of the twilight on a milk-white steed,
Michelangelo indeed could've carved out your features
Resting in the fields, far from the turbulent space,
Half asleep near the stars with a small dog licking your face.
Maar ten spyte van die woordrykheid van sy lirieke, handhaaf Dylan steeds sy doodse stilte as publieke figuur.
Waarom?
Sal hy dit ooit aan ons verduidelik, hierdie swygsaamheid?
Of het hy dit dalk reeds gedoen?
Ek vermoed Bob Dylan het by daardie punt in sy eie geestelike ontwikkeling gevorder waarin hy sy persoonlike waarhede slegs deur middel van gelykenisse en simbole kan uiteensit, die punt waar persverklarings, apologieë en tesisse onnodig en sinloos is. In kort, hy het sy eie bergtop tot bo geklim, die bergtop soos beskryf in die 52ste heksagram van Confucius se I Ching, van waar hy, sonder om homself of sy eie loopbaan enigsins aan die groot klok te probeer hang, neerkyk op ons gebroke moderne wêreld:
Ain't talkin', just walkin'
Through the world mysterious and vague
Heart burnin', still yearnin'
Walkin' through the cities of the plague.
(“Ain’t Talkin’”, van die album Modern times, 2006)
Dalk is dit die rede vir Robert Zimmerman se stilswye. Hy is uiteindelik groter as homself. Hy is groter as sy eie skaduwee. Hy is groter as die idee wat mense van hom het.
En hy is groter as die Nobelprys.
The post Die stilswye van Robert Zimmerman appeared first on LitNet.