Jannie Earle (65), sekretaris van die Afrikaanse Taalraad, het op 12 Oktober 2016 in ‘n noodlottige skietvoorval omgekom. Hy het waarskynlik die middag van sy lessenaar, waar hy met Taalraadsake besig was, opgestaan om te gaan kyk wat die oorsaak van die rumoer in sy omgewing was. Hy het nooit weer na sy lessenaar teruggekeer nie. ‘n Koeël het hom noodlottig getref toe hy buite kom. Die media was vol van die verhaal hoe hy en drie ander in die veiligheidsoord in Pretoria waar hy gewoon het, ‘n sinlose dood gesterf het.
Jannie Earle was ‘n vreedsame en blymoedige mens, ‘n voormalige predikant in die Gereformeerde Kerk en voorheen ‘n boer in die Vrystaat, afkomstig van Theunissen. Toe die Afrikaanse Taalraad my ‘n paar jaar gelede die geleentheid gegee het om ‘n assistent te betrek om my by te staan met die administrasie van die uitbreidende belange van die Taalraad, het ek by die vermelding van die vakature gedink aan ‘n jong persoon wat ek sou moes oplei.
Die vakature het Jannie ter ore gekom en groot was my verbasing toe hy hom op ‘n dag kom aanmeld en belangstelling toon om teen ‘n karige vergoeding by die Taalraad aan te sluit. Die vergoeding was nie vir hom ‘n oorweging nie. Hy het die Taalraad se passie vir Afrikaans en wat daarmee saamhang geesdriftig ondersteun en wou graag ‘n bydrae lewer. Dit was ‘n pos met ‘n beperkte tydstoedeling van minder as ‘n halfdag. Gou het ek bemerk dat Jannie meer as sy gewig ingewerp het by die werksaamhede van die Afrikaanse Taalraad.
Niks was vir hom te veel om hom ook te verdiep in die wetlike vereistes wat aan ‘n jong organisasie sonder winsbejag soos die Taalraad gestel is nie. Die sleurwerk rondom noodsaaklike oudits, verslae en notules is ligweg deur hom oorgeneem en sy toegewese halfdagpos het dikwels meer as ‘n voldagpos geword. Hy moes origens ook rekening hou met die wense en “bestellings” van ATR-direksielede met uiteenlopende agtergronde en behoeftes. Hy was bereid om in sommige konflikomstandighede die minste te wees al was dit duidelik dat hy onregverdig bejeën is.
Sy toetrede tot die administrasie van die Taalraad was ‘n uitkoms. Dit was te danke aan sy kalme en beheerste hantering van sake. Laasgenoemde het waarskynlik daarmee te doen gehad dat hy homself ook bekwaam het as berader, in die besonder as traumaberader. Hy het indringende mensekennis gehad en kon mense se motiewe in moeilike situasies raak opsom. Hy was trouens ook van plan om hom ná sy aftrede by die Taalraad opnuut toe te wy aan traumaberading, wat vir hom ‘n eerste liefde was. Medemenslikheid, gebaseer op ‘n onwrikbare en blymoedige Christelike lewensoortuiging, was vir hom ‘n rigsnoer in die lewe.
Jannie Earle het as gelowige mens ‘n reguit pad geloop. Hy nie gehuiwer nie om soms man-alleen – as hy geweet het dat hy reg was - sy standpunt te verdedig nie. In Jannie Earle verloor die Afrikaanse Taalraad ‘n groot krag. Ons eer sy nagedagtenis.
Jacques van der Elst
Voormalige uitvoerende hoof: Afrikaanse Taalraad.
The post In memoriam: Jannie Earle appeared first on LitNet.