
Andrew Whitfield (geneem deur ’n fotograaf in diens van die DA, CC BY-SA 3.0)
Die skokkende afdanking van adjunkminister Andrew Whitfield het die soveelste krisis in die RNE veroorsaak kwalik ’n jaar na die instelling daarvan. Whitfield is afgedank nadat hy op 12 Februarie 2025 saam met ’n DA-afvaardiging na Washington, DC is om die swak verhouding tussen Suid-Afrika en die VSA te ondersoek. Alle lede van die uitvoerende gesag moet die president se toestemming kry om op oorsese besoek te gaan en volgens Whitfield het hy vir toestemming aansoek gedoen, maar geen reaksie uit die presidensie gekry nie, waarna hy in sy privaat hoedanigheid as DA-lid na die VSA is.
Vyf maande na sy besoek aan die VSA is Whitfield op 26 Junie deur president Ramaphosa as adjunkminister afgedank, kwalik drie ure nadat John Steenhuisen as leier van die DA daaroor ingelig is. Hierdie skokoptrede is deur die DA opgevolg met ’n ultimatum aan die President dat minstens drie ander lede van die uitvoerende gesag ook afgedank moet word, naamlik minister Simelane van Menslike Nedersettings, minister Nkabane van Hoër Onderwys en adjunkminister Mahlobo van Waterwese. Die DA het president Ramaphosa 48 uur gegee om aan die eise te voldoen. Die spertyd was Saterdag 28 Junie om 15:00. Ramaphosa het, soos verwag, nie op die ultimatum gereageer nie, maar tog sy besoek aan Spanje uitgestel in afwagting van ’n wesentlike moontlikheid dat die DA uit die RNE sou tree.
In reaksie op die afdanking van Whitfield en Ramaphosa se ignorering van die ultimatum het die DA vier besluite geneem. Hulle het besluit om binne die RNE te bly, maar die beplande Nasionale Dialoog te boikot. Hulle het verder besluit om nie hulle steun aan die departementele begrotings van Menslike Nedersettings en Hoër Onderwys in die parlement te gee nie. Laastens het hulle besluit om die instelling van ’n mosie van wantroue in die president te oorweeg as ’n moontlike toekomstige stap. Soos te verwagte het die ANC op die optrede gereageer deur ook te dreig om hulle steun te onttrek aan die ministeries waar die DA ministers dien.
’n Paar sake staan uit in die nuutste krisis van die RNE, waar die DA en ANC mekaar nie kan vind nie, ten spyte van ’n ooreenkoms na die verkiesing van 2024. Ek is van mening dat die volgende aangestip moet word:
- Andrew Whitfield was in alle opsigte ’n baie effektiewe adjunkminister in die Departement van Handel en Nywerheid, maar ’n tegniese oortreding wat maklik hanteer kon word, het hom die slagoffer gemaak van interne ANC-woelinge om leierskap.
- Die DA moet nou ’n alternatiewe kandidaat in die plek van Whitfield vir aanstelling aan die President voorlê.
- Deur ’n ultimatum te stel het die DA eintlik die President verplig om nie daarop te reageer nie. Dit was ’n swak woordkeuse wat by verstek nie uitvoerbaar was nie.
- ’n Mosie van wantroue in die President sou, indien dit sou slaag, beteken dat die President en die totale uitvoerende gesag moet bedank. ’n Nuwe president moet dan binne 30 dae uit die geledere van die parlement gekies word. Dit sal die einde van Ramaphosa beteken, want hy is nie meer lid van die parlement nie. Die moontlikheid hiervan is uiters skraal.
- Die Nasionale Dialoog is nie ’n grondwetlike vereiste nie, bloot ’n swak ontwerpte gespreksforum wat deur die Presidensie gelei gaan word. Die DA mag dalk nie formeel aan die forum deelneem nie, maar sal op baie ander maniere insette daartoe kan lewer. Die besluit klink dramaties, maar in die praktyk sal dit min invloed hê.
- Om nie die begrotingsposte van ministers Simelane en Nkabane te steun in komitees en in die parlement nie, is ’n meer betekenisvolle besluit, maar kan ’n negatiewe reaksie op DA-geleide ministeries tot gevolg hê.
Ten slotte is ek van mening dat ’n gespreksgeleentheid tussen die ANC en die DA op hierdie stadium van meer waarde sal wees as die beplande Nasionale Dialoog om weer die basiese raamwerk van die memorandum van verstandhouding wat na die 2024-verkiesing gesluit is en die RNE tot stand gebring het, te gaan bekyk. Ten tweede is die presidensiële prerogatief konstitusioneel ’n gegewe, maar dit is ontwikkel vir ’n stelsel met een party wat regeer. In ’n stelsel met ’n koalisieregering kan so ’n prerogatief nie dogmaties toegepas word nie en vereis dit baie meer buigsaamheid. Derdens is die afwesigheid van ’n struktuur om kwessies tussen partye oor beleid en aanverwante sake te besleg ’n groot leemte. Die huidige geskilbeslegtingsmeganisme, wat in die adjunkpresident se kantoor setel, funksioneer nie. Ongelukkig sal ons meer van hierdie teenstrydige besluite kry soos ons nader aan die ANC se leierskapstryd in 2027 kom as gevolg van faksies in die ANC en sterk weerstand teen die DA se rol in die RNE. Tans het die ANC egter die DA nodig, soos die begrotingsproses gewys het, en het die DA die ANC nodig vir sy beperkte rol in die RNE. Die les wat die DA uit die Whitfield-gebeure leer, is dat die party se rol in die wetgewer baie meer betekenisvol is as die party se onderverteenwoordigende rol in die uitvoerende gesag.
The post ’n Regering van Nasionale Eenheid op soek na rigting (30 Junie 2025) first appeared on LitNet.
The post ’n Regering van Nasionale Eenheid op soek na rigting (30 Junie 2025) appeared first on LitNet.