Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21983

Vriendskap dikker as bloed

$
0
0

“Vriendskap dikker as bloed” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.

*

Vriendskap dikker as bloed

Rapport? Kan jy ooit ordentlike Afrikaans skryf?” Die ou man – in ’n kakie langbroek en ’n wit frokkie, bruin gevlek om die nek – loer vir Roshin February oor sy bril. Byt aan ’n velletjie op sy onderlip. ’n Straaltjie bloed loop teen sy neus af tot by sy bo-lip. Hy pluk ’n bloederige sakdoek uit en druk dit teen sy neus.

Die voordeur se veiligheidshek laat dit lyk of sy deur tralies met ’n gevaarlike misdadiger in die dodeselle praat. Ten spyte van die koelte wat agter hom vanuit sy huis kom, blink sy bles. Sweet blink op sy voorkop.

“Kaaps is ook Afrikaans, Meneer.”

“Gots.” Die kierie kreun onder sy gewig. “Als moet ook deesdae polities korrek wees, nes destyds. Kan niemand net homself wees nie?”

Die subredakteur het gewaarsku, maar sy wou – nee, móés – ’n storie oor Ivor Phosa se moordenaar doen. Ivor: skoolhoof, digter en apartheidsaktivis.

Het die ander varke wat by sy dood betrokke was, in pyn gesterf?

“Ma, ek skryf vir jou ’n gedig | sonder fênsie leestekens | sonder woorde wat rym | sonder bywoorde | net sommer | ’n kaalvoet gedig ... Net so, Meneer, moet ons kaalvoet praat, nie net oor God, politiek en seksualiteit nie, maar ook oor Afrikaans, ongeag in watter variant ons getiet is.”

Die sleutels bewe in sy hande. Die slot knars.

“Kom.” Hy staan opsy. “Dis koffie; ek drink nie tee nie.”

Hulle loop gangaf – hy voor en sy agterna – verby die sitkamer, kombuis toe.

Sy kyk doelbewus nie na die geraamde foto’s in die gang nie, want dan verander hierdie monster in ’n mens. ’n Man, pa en kind.

Die huis ruik na muf en hondepie.

Op elke tafeltjie, kas of rak lê ’n Bybel of digbundel. Nathan Trantraal se Oolog lê oopgespalk op die kombuistafel. ’n Potlood loer onder die boek uit, asook stukkies papier. Watter gedeeltes sou hy merk?

Die eettafel is in die hoek ingedruk. Groot genoeg vir ’n klein gesin. Stapels Afrikaanse koerante troon teen die muur. Ook op die tafel: houtlym, ’n tandestokkie wat in ’n Coke-proppie droog geword het en ’n swart plakboek, A3-grootte.

Twee stoele is diep onder die tafel ingedruk. Oor die een stoelreling hang ’n inkopiesak waaruit groenteskille en papiere blom.

Nadat hy water in die ketel getap het, sit hy dit op die gasstoof, steek laasgenoemde aan. Haal twee bekers uit ’n kas langs die yskas.

“Ek drink nie melk nie,” skree hy oor sy skouer, “en diabete drink nie suiker nie. So ek het nie.”

Haar notaboek lê op ’n skoon bladsy oop. Daarnaas ’n selfoon en bandopnemer. Al twee aan.

Sy spits haar ore. Klassieke musiek? Hoekom het sy gedink hy gaan na “Die Stem” óf boeremusiek luister?

“Wat was sy laaste woorde?” vra sy toe hy gaan sit, een boud op die tafel. Die wind wat by die kombuisvenster inkom, roer die gordyne, dra sy naskeermiddel tot by haar neus. Old Spice, nes Pa. Kon hy nie iets afskuweliks gebruik het sodat sy hom nog meer kan haat nie?

Hy staar van bo af na haar. Sy hande omskulp die beker. Stoom wasem sy bril toe.

“Die lewe is net ’n asem lank, maar selde kyk mense mekaar skaamteloos in die oë.”

“Skaam jy jou nie oor wat jy – julle – gedoen het nie?”

Hy haal ’n sakdoek uit sy sak, vryf sy lense skoon, staar na die plafon, na die web in een hoek.

Sy lippe vorm ’n reguit lyn. Hy skud sy kop. “Hulle is in ’n hof skuldig bevind en ter dood veroordeel – ek was net die laksman wat die vonnis volstrek het.”

Sy kyk op haar selfoon, skryf die opnametyd neer, maak ’n aantekening. Miertjie-skrif.

“Ive was anders.” Sy stem is sag. Teer. “Hy’t saans vir die ander bandiete leer lees, sommer so deur die tralies.”

“Is dit waar jou liefde vir dig ontstaan het?”

Hy knik. “En politiek. Hy was intelligent. Sjarmant. Maar ’n kommunis. Ons het baie oor God gepraat terwyl ons skaak gespeel het.” Sy hande praat saam. “Die skaakbord was in sy sel; hy’t al die skuiwe gemaak.” Stilte. Dan: “Hy’t altyd gewen.” Te hard.

“Hoe lank het jy hom opgepas voordat jy hom gehang het?”

“Ek het ’89 die diens verlaat.”

Sy kyk op. “Is dit nie ook die jaar waarin jou debuutroman verskyn het nie? Ek het dit gelees ...” Sy slurp aan haar koffie. “Ek kan nie glo dat iemand wat ANC-helde gehang het, so diep kon skryf nie. Asof jy een van ons is.” Sy kyk hom waterpas in die oë.

“Het Ivor boeke in die tronk geskryf voordat hy gehang het? Julle aanslag was anders, maar julle skryfstyle eenders – het jy sy werke gesteel?”

Hy loer oor sy beker, sê niks. Volgens die resensies wat sy op LitNet en Die Tydskrif vir Letterkunde gelees het, het letterkundiges gereeld die aanname gemaak.

“Jy’t daarna bedank – hoekom?” Sy blaai in haar notaboekie. “Sam Kane, wat destyds sewe meisies verkrag en doodgemartel het, is dieselfde dag ontslaan. Weet jy wat van hom geword het? Hy’t spoorloos verdwyn. Na bewering moes jy hom Nelspruit toe neem.” Sy voeg by, voordat hy vra. “Dalk het hy meer inligting oor Ivor se laaste paar dae; ek hoor hulle enkelselle was langs mekaar.”

“Ses boeke en ek het nog nooit ’n onderhoud toegestaan nie, geen boekbekendstelling bygewoon nie – hoekom dink jy het ek vir hierdie onderhoud gevra?” Hy sit die beker op die tafel neer, mors koffie, doen egter geen moeite om die kol droog te vee nie; trek eerder ’n stuk papier onder die koerant uit. Dit is dubbel gevou.

Sy neem dit uit sy hande, versigtig dat hulle vingerpunte nie raak nie.

Dankie dat jy my las gedra het. Mag die waarheid jou nou vryspreek.

Die handskrif stem ooreen met dié wat sy op Phosa se tronkbriewe gesien het.

Sy kyk vraend op. Hoekom is gister se datum daarop?

“Ek’t nooit die boeke geskryf nie – ons het dit net onder my naam uitgegee. Ive het gevoel meer wittes gaan dit lees as dit onder ’n wit naam verskyn. Hulle was uiteraard sy gehoor. Wie hy wou uitdaag en tot inkeer bring.”

“Maar ... hy’t gehang.” Haar pen wys soos ’n geweerloop na hom. “Jý het hom gehang.”

“Ek was nog nat agter die ore, skaars uit matriek, toe die Veiligheidspolisie my gewerf het om hom te bevriend en daarna op hom te spioeneer. Dit was lank voordat hy tronk toe is.”

Sy eerste roman, Die verkeerde spioen.

“Ek’t reeds voor ek met hom te doen gekry het van hom gehoor: digter, kommunis en terroris ... Terwyl hy aangehou is, het ek sy briewe in- en uitgesmokkel.” Sy hande beduie. “My hanteerder in die Veiligheidspolisie het natuurlik eers alles fotostateer, maar Ive het dit geweet. Sommige briewe het niemand egter ooit gesien nie.” Hy staar weer na die plafon, die web. “Die Veiligheidspolisie was onbewus daarvan dat ons boesemvriende geword het. Ek’t hom, Ive, alles vertel.” Hy kyk af. “Hy was nie kwaad nie. My eerder beveel om voort te gaan sodat hulle niks agterkom nie.”

Dit staan nie in die roman nie! Sy skryf die opnametyd neer, maak aantekeninge. Maak drie uitroeptekens langsaan. Maak seker beide die selfoon en bandopnemer neem op.

“Dae voordat hy kon ontsnap, is sy vonnis bekragtig.” Sy stem kraak. “Ons het baklei – hy was reg om te sterf en ek wou hê hy moes ontsnap. Of iets. Gots, hy was my vriend.”

Dieselfde emosie wat sy in sy opvolgroman, Vriendskap in die galg, aangevoel het.

Sy strek, raak sy been aan. “Oom?”

Hy kyk haar vierkantig in die oë. “Ek’t Sam Kane doodgemaak.”

’n Kewer loop op die mat. Hy vra verskoning voordat hy die diertjie optel en tussen die plante buite die oop kombuisdeur neersit.

“Ek’t hom in sy sel opgehang, die oggend vroeg, voor meester. Dit is nou wanneer ons die tronk oopsluit. Daarna het ek hom in Ive se sel gaan hang en die sel aan die brand gesteek.”

Is dit hoekom die owerhede niemand tydens die teregstelling toegelaat het nie? Want daar was nie een nie! Radio Bandiet, soos gevangenes na hulle geskinder verwys, het beweer dat Phosa enkele minute voordat hy moes hang selfmoord gepleeg het. Dit was natuurlik ook die derde roman, Selfdood in die galg, se tema. G’n wonder die boek is verban nie.

Hy staar voor hom uit met dieselfde kyk in sy oë as ter dood veroordeelde gevangenes op pad na die galg. Hy het vrede gemaak dat hy gaan sterf. Vandag. Nou.

“My kind, ek dink ons moet op die bank gaan sit.”

Hondehare lê wit oor die bruin bekleedsel.

Waar is die hond?

“Ek’t hom netnou begrawe,” sê hy asof hy haar gedagtes kan lees.

Hoekom?

Sy frons: Twee leë bekers staan weerskante van ’n skaakbord, wit is in skaakmat. Sy het eenkeer gelees dat Phosa nooit met wit gespeel het nie.

Sy gaan sit op die punt van die bank. Moedig hom aan. “Asseblief. Die wêreld móét weet.”

“Ive het Sam Kane geword, by my ingetrek.” Hy knik na agter. “Dit was die kamer waarin hy al ses manuskripte getik het. Hy was mal oor klassieke musiek, jy weet.” Stilte. “Na ’94 kon ons steeds nie praat nie, want ek sou lewenslank sit. Weet jy wat doen bandiete met bewaarders in die tronk?”

Hy haal swaar asem. Asof hy uitasem is. Wys na die koffietafel langs haar. ’n Pak tikpapiere is met ʼn rooi lint verbind.

Sy skreef haar oë: Vriendskap dikker as bloed.

“Dit is my memoir, self geskryf. Ek hoop as jy dit lees sal jy verstaan hoekom ek ...” Hy gryp na sy hart. “Moenie die ambulans bel nie, laat ek sterf, en jirretjie tog, kind, begrawe ons langs mekaar. Ive het nooit vanoggend opgestaan nie, toe drink ek maar die rottegif.”

Lees die ander verhale hier:

Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie

The post Vriendskap dikker as bloed first appeared on LitNet.

The post Vriendskap dikker as bloed appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21983


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>