Goudduiwel
Duane Aslett
Queillerie
ISBN: 9780795801174
Skrywers oor hul nuwe boeke: Duane Aslett oor Goudduiwel
Duane, jy is ‘n forensiese rekenmeester. Wat is jou spesialiteitsgebiede – met ander woorde: wat ondersoek jy?
Eintlik is ek nie ʼn rekenmeester nie, maar het ʼn strafregagtergrond (voormalige polisiebeampte en later staatsaanklaer). Tans doseer ek die strafreggedeelte in die Program vir Forensiese Rekenmeesterskap, met spesifieke fokus op diefstal, bedrog, korrupsie, rampokkery en geldwassery.
Jou tweede spanningsroman, Goudduiwel, het pas verskyn. Jou werk help jou seker baie met jou navorsing, of hoe?
Beslis – baie van die agtergrond vir die romans kom uit die navorsing vir my LLD-proefskrif. Mens skryf mos maar oor wat jy weet.
Jou werk neem sekerlik ook baie tyd in beslag – waar kry jy tyd vir skryfwerk tussen jou werk deur (of tyd vir werk tussen die skryf deur)?
Vakansies – dit is wat ek doen vir ontspanning, so vakansietye werk die beste vir my, want dan kan ek ook sonder ander verpligtinge of afleiding aan ‘n manuskrip werk.
Waar het jy die idee vir Goudduiwel gekry? En, sonder om te veel te verklap van die storie: kan jy Goudduiwel se plot/intrige in ‘n sin of twee opsom?
Ek ʼn jare lange belangstelling in die legende van die Krugermiljoene – hoe die legende ontstaan het, waarom, die waarheid daarvan ens – en het gevoel dit sal as interessante agtergrond vir ʼn roman dien, veral in die lig van Dan Brown se romans. Die intrige handel oor Niel Campher wat in sy eie soeke na die Krugermiljoene met ʼn geheime organisasie, die Ysterhoutlaer, deurmekaar raak. Hy het egter sy eie agenda want “iemand moet boet”. Die titel is geïnspireer deur die gesegde “in die kloue van die Goudduiwel”, wat gierigheid beteken, en waar Skoppensboer oor die dood gehandel het, handel Goudduiwel oor gierigheid.
Maak sommige van Skoppensboer se karakters weer hul opwagting in Goudduiwel? En is dit verkieslik dat lesers ook Skoppensboer moes gelees het om die storie in Goudduiwel beter te volg?
Dieselfde karakters verskyn weer in Goudduiwel, maar omdat dit ʼn totaal ander storie is (aldus Thys Human tydens die Aardklop Boeke-oase gesprek), is dit nie nodig om eers Skoppensboer te gelees het nie.
Soos jy aangedui het, is die Krugermiljoene ‘n tema in jou boek – en dis ‘n legende wat steeds mense se verbeeldings aangryp. Watter interessanthede kon jy hieromtrent uitvind?
Ek was aanvanklik bekommerd oor die cliché van skatte wat in die grond begrawe is op ʼn plek gemerk “X”, en moes dus versigtig met die legende omgaan. Die kern van die saak is dat daar werklik goud per trein ooswaarts vervoer is toe die Boeremagte Pretoria ontruim het met lord Roberts se inval. Later was daar bewerings dat baie goudstawe “weg” was (nie verreken kon word nie), en so is die legende van die Krugermiljoene gebore. Of dit waar of vals is, sal ons seker nooit werklik weet nie.
Skryf jy sodat jou fiktiewe speurder ‘n saak namens die werklike jy, as skrywer, kan oplos? En is hierdie saak dan ‘n verbeelde saak, of ‘n werklike een?
Daar is plek-plek werklike gebeure van sake tussen die fiksie deur verweef, juis omdat ek lesers wil laat wonder waar feite stop en fiksie begin. Maar merendeels is die sake fiksie gebaseer op feite – om die skuldiges te beskerm. J
Hoe lank het jy aan hierdie boek geskryf? En het jy ‘n daaglikse skryfroetine?
Ongeveer twee jaar lank. Nee, ek het nie werklik ʼn vaste roetine nie, omdat ek ook nie op ʼn vaste plek skryf nie. Soms skryf ek in koffiewinkels, ander kere weer in iemand se sit- of eetkamer, so ek skryf waar en wanneer ek kan en hou my “roetine” dus buigbaar.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het nie aldag ‘n goeie naam nie. Jy is besig om jou doktorale studie te voltooi. Kry jy spesifiek in jóú alledaagse werk se doen en late te doen met kundige polisiebeamptes?
Ja, wel, en ek het baie respek vir die manne in blou wat gedrewe is om ʼn verskil te maak. In die Staat v Botha-uitspraak in 1995 reeds het die hof egter bevind dat ons samelewing só gespesialiseerd geraak het en daar soveel wetgewing en bedrywe is wat geadministreer en gereguleer word, dat geen polisiediens in 'n moderne samelewing sonder die hulp van private instansies alle misdaad kan ondersoek en voorkom nie. Die polisie het dus die samelewing se hulp met misdaadbekamping nodig. Toe ek in die polisie was in daardie selfde tyd (rondom 1995) het gemeenskapspolisiëring ʼn belangrike komponent van misdaadbekamping begin word, wat sekerlik vandag nog meer geld. Op daardie tydstip was gemeenskapspolisiëring reeds geruime tyd deur die Bobbies (Britse polisie) geïmplementeer – een van die beste polisiedienste ter wêreld, indien nie dié beste nie.
Wat lees jy op die oomblik?
Ek het onlangs Rudi van Rensburg se Pirana klaargemaak en is tans besig met Karin Brynard se Tuisland. Tussendeur verstout ek my met Staal Burger deur Fanus Rautenbach, wat ek tydens Aardklop ontdek het (ek onthou die radiodrama, maar was nooit bewus dat dit in boekvorm gepubliseer is nie). Ou Staal Burger wat in sy swart Panther-motor misdaad bekamp, herinner my aan Rex Reynecke en sy swart Audi S5.
The post Tien vrae: Duane Aslett oor Goudduiwel appeared first on LitNet.