
Agter: André Terblanché, David Isaacs, Sophia van Taak, Erica Wessels, Lee-Ann van Rooi en Èmil Haarhoff. Voor: Albert Smit en Nienke Geldenhuys
Die gebou waar Die Damhuis-restaurant op Melkbosstrand vandag is, was nagenoeg 240 jaar gelede deel van die plaasopstal van ene kaptein Christiaan Brand. Toe die kaptein, sy vrou Gesina en twee slawe, Kassien April en ’n jong vrou genaamd Mali, in die laat 1700’s daar aangekom het, was daar nog niks. Net melkbosse. Hulle het jare lank aan ’n woonhuis en ook ’n visskuur gebou waarin die Brands soutvis gedroog het, net soos wat daar vandag nog aan die Weskus bokkoms gemaak word.
Die Damhuis-radiodrama blaas lewe in strak geskiedkundige feite. Dit speel af aan die Kaap, in die laat 1700’s en vroeë 1800’s en vertel die luisteraar van die pioniersgees van die Vryburgers wat uit niks vir hulle ’n bestaan moes opbou, hoe slawe wat van hul eie mense vervreem is en wie se lewe dan noodgedwonge saamsmelt met die wel en weë van hulle eienaar, en hoe die Slag van Blouberg geweldig dramatiese gevolge gehad het in die Europese magspel in daardie dae van handelsroetes, maar ook op grondvlak, in die gewone Kaapse burgers se lewens.
Die verhaal strek oor etlike dekades – van Christiaan en Gesina se troudag, tot ver verby hul albei se afsterwe. Dit speel af teen die agtergrond van ’n baie verwarrende era in die geskiedenis, toe die Kaap binne ’n kwessie van tien jaar eers onder Nederlandse, toe Britse, toe Bataafse en toe wéér Britse bewind was. Hierdie politieke skommelinge, onsekerhede oor grondbesit en die moontlike bedreiging van ’n oorlog waarna Christiaan as oud-offisier dalk weer opgeroep kan word, sorg vir ’n spannende storielyn. Dit vertel ook hoe die hegste familiebande soms niks met bloed te make het nie.
Die skrywer, wyle Reinet Nagtegaal, en haar man, Dirk, besit Damhuis-restaurant en saam het dié twee in 2018 ’n boek geskryf wat hierdie geskiedkundige opstal se verhaal vertel. Henriëtta Gryffenberg het dit toe baie vernuftig na ’n radiodrama verwerk.
In die twee vroulike hoofrolle sal jy vir Erica Wessels as Gesina en Lee-Ann van Rooi as Mali herken. André Terblanché vertolk die rol van Kaptein Brand en David Isaacs is Kassien April. Van die Brands se kinders is ook in die stuk: Èmil Haarhoff speel een die oudste broers, Johannes; Nienke Geldenhuys is een van die susters, Maria, en Albert Smit vertolk die rol van kleinboet Pietertjie.
Die regisseur is Sophia van Taak.
Die Damhuis speel Donderdagaand 26 Junie om 8 uur op RSG of rsg.co.za asook op potgooi na afloop van die uitsending en op Spotify.
The post Persverklaring: RSG Radioteater se Die Damhuis op Donderdagaand 26 Junie om 20:00 first appeared on LitNet.
The post Persverklaring: RSG Radioteater se <i>Die Damhuis</i> op Donderdagaand 26 Junie om 20:00 appeared first on LitNet.