Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 22003

Monsterhare deur Jaco Jacobs: ’n lesersindruk

$
0
0

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Titel: Monsterhare
Skrywer: Jaco Jacobs
Uitgewer: Pan Macmillan
ISBN: 9781779990457

Monsterhare deur Jaco Jacobs (2024) gaan oor Theo en sy ouers wat in sy oupa Adam se huis intrek na sy afsterwe. In hul nuwe buurt leer hulle hoe om ’n nuwe lewe te skep, terwyl hul die verlies van Theo se geliefde oupa moet aanvaar. Die nuwe buurt bied interessante en eiesoortige karakters wat Theo en sy gesin die geleentheid gun om hul nuwe omstandighede en ander te aanvaar.

........
In Monsterhare kan twee hooftemas uitgesonder word: aanvaarding van die ander en aanvaarding van verlies. Deur die verhaal word verskeie geleenthede geskep vir lesers om te besef dat almal nie dieselfde is nie en dat mens ander moet aanvaar vir wat hulle is, sonder oordeel of onregverdige stereotipering.
........

Jacobs se subtiele insluiting van belangrike temas is een van die vele redes waarom sy boeke so suksesvol en relevant is. In Monsterhare kan twee hooftemas uitgesonder word: aanvaarding van die ander en aanvaarding van verlies. Deur die verhaal word verskeie geleenthede geskep vir lesers om te besef dat almal nie dieselfde is nie en dat mens ander moet aanvaar vir wat hulle is, sonder oordeel of onregverdige stereotipering. Theo en sy gesin moet eerstens deur die karakters in hul nuwe buurt aanvaar word en andersom. Theo is ook nie die stereotipiese seunskarakter wat hou van dit waarvan manlike karakters gewoonlik hou nie. In die verhaal word dit byvoorbeeld duidelik dat hy sy oupa se beroep as haarkapper wil nastreef. Dit het dan interessante gevolge, aangesien die buurt unieke kliënte voortbring. Die aanvaarding van verlies word verder ook op effektiewe en subtiele maniere ingesluit. Theo en sy gesin moet byvoorbeeld sy oupa se afsterwe aanvaar en so ook die verlies aan ’n vorige lewe, aangesien sy ma haar werk by die koerant verloor het. Die aanvaarding van verlies word ook voortgesit deur die karakters in die nuwe buurt wat hul medelye vir oupa Adam se afsterwe uitspreek.

Hierdie temas word op ’n positiewe manier aangepak terwyl dit steeds realisties aangebied word. Humor vorm ’n groot deel van hierdie verhaal en lesers sal beslis op verskeie plekke hardop lag vir die gebeure, illustrasies en karakters. Die karakters word veral sinvol en uitstekend gekarakteriseer, soos die “monsters” wat op legendes en mites gebaseer is. ’n Vars en kreatiewe blik word op hierdie legendariese karakters gegee. Gaan kyk self na die kreatiewe name wat Jacobs vir hulle geskep het.

........
Hierdie boek is ook ’n goeie slaaptydstorie, omdat mens dit voorwaar ’n honderd keer kan lees.
........

Hierdie boek is ook ’n goeie slaaptydstorie, omdat mens dit voorwaar ’n honderd keer kan lees. Ek het eers na die tweede of derde lees daarvan agtergekom dat oupa Adam se portrette aangepas word, wat nie noodwendig die foto’s reflekteer waarvoor hy sou of meer kan poseer nie. Dit is ’n uiters aanloklike manier om by te dra tot die leesgenot van die verhaal. Dit is wel nie die enigste visuele elemente wat effektief tot die verhaal bydra nie. Die dele waar die verhaal in die nag plaasvind word byvoorbeeld deur die gebruik van grys bladsye versterk. So ook word verskeie humoristiese elemente deur die illustrasies ingesluit. Kyk byvoorbeeld na Mop, die hond, wat die proefkonyn is vir verskeie haarstyle.

Monsterhare lees voorwaar soos een van die beste animasiefilms wat ek al gesien het. Dit is kreatief vir ’n Suid-Afrikaanse gehoor aangebied, maar kan steeds universeel verstaan word. Oud en jonk kan met die karakters identifiseer en dit bevat humor uit die boonste rakke. Moet nie dat hierdie verhaal verder vir jou “’n [m]onster van ’n geheim” bly nie en skaf dit aan.

Lees ook:

Flaffie en Stink sokkies deur Jaco Jacobs: ’n gesamentlike resensie

Die meisie met vlerke deur Jaco Jacobs: ’n lesersindruk

Draakasem deur Jaco Jacobs: ’n lesersindruk

Lesersindruk: Betsie, Meneer Tier en die bloumaan deur Sally Gardner

Jaco Jacobs (1980–)

 

The post Monsterhare deur Jaco Jacobs: ’n lesersindruk first appeared on LitNet.

The post <em>Monsterhare</em> deur Jaco Jacobs: ’n lesersindruk appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 22003


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>