Kortpad-Afrikaans / Shortcut Afrikaans en Kortpad-praatjies 1 / Shortcut chats 1: nuttige hulpmiddels vir die aanleer van Afrikaans
- Rina Loader, Tobie van Dyk en Charlene Human. 2024. Kortpad-Afrikaans / Shortcut Afrikaans. Johannesburg: UJ Press.
- Rina Loader en Charlene Human. 2023. Kortpad-praatjies 1 / Shortcut chats 1. Johannesburg: UJ Press.
As iemand wat al jare lank betrokke is by die onderrig van Afrikaans as tweede en vreemde taal, is dit altyd verblydend om nuwe bronne te sien wat in die klaskamer of lesinglokaal gebruik kan word. Daar is ’n leemte vir onderrigmateriaal wat in hoër onderwys gebruik kan word – veral op die gebied van tweede-/vreemdetaalverwerwing. Daarom my opgewondenheid oor die verskyning van dié twee boeke.
In ’n binneblad van Kortpad-Afrikaans / Shortcut Afrikaans word geskryf dat die boek se fokus “Basic Afrikaans grammar with summaries in English for everyone interested in learning or teahing Afrikaans” is, terwyl Kortpad-praatjies 1 / Shortcut chats 1 omskryf word as “An interactive workbook in cultural context for beginners A1 (Pre-primary) and A2 (Primary) students”.
Ek resenseer die twee boeke vanuit ’n Suid-Afrikaanse konteks as eerstens iemand wat baie ervaring het in die onderrig van tweedetaal- en vreemdetaalverwerwing op universiteitsvlak en tweedens iemand wat die Europese konteks van veral Kortpad-praatjies 1 / Shortcut chats 1 verstaan – ek maak byvoorbeeld ook gebruik van die “Common Europen Framework of References (CEFR)” in my modules as vaardigheidsaanduiders. Alhoewel veral die interaktiewe werkboek gemik is op Europese studente wat Afrikaans as vreemde taal aanleer, is dit ewe bruikbaar vir vreemdetaalstudente in die Suid-Afrikaanse konteks – met aanpassings wat deur taalverwerwingsdosente in Suid-Afrika in die onderrigsituasie gemaak kan word.
Ek begin die resensie met my kritiek teen die boeke – wat gesien moet word teen my oorhoofse positiewe oordeel daaroor.
Die titels van beide beoeke bevat die woord “kortpad”, wat voorspel wat die fokus van die boeke is, naamlik “kortpad-inligting en -praatjies” oor en in Afrikaans. Maar ironies genoeg is dit nie so nie – dit is twee baie deeglike en omvattende boeke van oor die 200 bladsye. Uit my ervaring as vreemdetaaldosent het ek agtergekom (en navorsing bewys dit ook) dat studente nie oorlaai moet word met te veel inligting nie – veral nie oor taalreëls en ander grammatikale items wat nog nie op hulle vlak as A1- of A2-taalaanleerders nodig is nie. Waarvan ek baie hou, is Addendum IV in Kortpad-praatjies 1 / Shortcut chats 1 waar dit vir dosente duidelik aangetoon word hoe die werkboek vir die verskillende CEFR-vlakke gebruik kan word. In Kortpad-praatjies 1 / Shortcut chats 1 word by die onderafdelings aangedui op watter CEFR-vlak dit is – ’n baie bruikbare riglyn vir beide die student en die dosent.
Terug na die omvangrykheid: Dit kan moontlik demotiverend wees as studente aan te veel inligting blootgestel word, en kan tot onder meer kognitiewe oorlading lei as die insette te hoog is. Een van die uitdagings vir vreemdetaaldosente is om die balans te vind tussen die genoegsame insette wat verskaf moet word sodat studente kan aanbeweeg na die volgende insette en om hulle ook nie te verveel nie. Ek sien ook dat die skrywers van Kortpad-praatjies 1 / Shortcut chats 1 daarna verwys en vir studente aanbeveel om van Kortpad-Afrikaans / Shortcut Afrikaans gebruik te maak en die twee boeke saam te bestudeer en gebruik. Tog is my oordeel dat dit nie regtig nodig is nie, en dat veral Kortpad-Afrikaans weens sy digtheid en ingewikkeldheid eerder gemik is op gevorderde tweedetaalstudente en selfs eerstetaalsprekers van Afrikaans. Kortpad-praatjies 1 / Shortcut chats 1 bevat genoeg inligting om Kortpad Afrikaans / Shortcut Afrikaans nie nodig te maak nie.
My oordeel oor die inhoud van die boek is oorwegend positief. Dit is ’n heel omvattende boek en ’n bruikbare werkboek/gids wat enige student wat Afrikaans wil aanleer, sal help. Daar is ook genoeg materiaal vir die taaldosent om Afrikaans sinvol te kan onderrig.
Voorts resenseer ek die twee boeke apart.

Kortpad-Afrikaans / Shortcut Afrikaans deur Rina Loader, Tobie van Dyk en Charlene Human (UJ Press, 2024).
Kortpad-Afrikaans / Shortcut Afrikaans is in sewe hoofstukke verdeel: Hoofstuk 1 is getitel “Oor Afrikaans”; hoofstuk 2 handel oor “Afrikaanse klanke”, hoofstuk 3 oor “Om reg te skryf”, hoofstuk 4 oor “Om woorde te skep en uitspraakwenke”, hoofstuk 5 oor “Woordsoorte”, hoofstuk 6 oor “Verskillende soorte sinne” en hoofstuk 7 oor “Taal en betekenis”. Die boek is oorwegend in Afrikaans geskryf, met slegs die opsomming aan die begin van elke hoofstuk en die nodige toeligting in die hoofstukke in Engels, asook die eerste hoofstuk wat in Engels geskryf is. Voorts word nuttige wenke in die hoofstukke gegee in aparte blou blokkies onder die hofie “Kortpad-info”. Ek dink ook dat die voorbeelde wat gebruik word, relevant en eenvoudig genoeg is vir vreemdetaalstudente om dit te verstaan. Die boek is netjies uiteengesit en daar is genoeg voorbeelde om die reëls te illustreer.

Kortpad-praatjies 1 / Shortcut chats 1 deur Rina Loader en Charlene Human. (UJ Press, 2023)
Kortpad-praatjies 1 / Shortcut chats 1 begin met die afdeling “Afrikaans in konteks” en bied eerstens ’n oorsig oor Suid-Afrika aan. Die doel daarvan is om die Europese student aan Suid-Afrika bekend te stel en Afrikaans as taal te kontekstualiseer. Verdere hoofstukke bespreek belangrike aspekte van die aanleer en onderrig van Afrikaans: die kenmerke van vokale, groetvorme, meervoude, voornaamwoorde, tydsvorme, werkwoord, en so meer. Waarvan ek veral hou, is die “Eksieperfeksie-Afrikaans” met elektroniese klankmateriaal wat professioneel versorg is. Die klankmateriaal is regtig ’n pluspunt en verseker dat die werkboek uitstyg ten opsigte van die bruikbaarheid daarvan en dit van ander werkboeke onderskei. Die outeurs verskaf ekstra of bykomende inligting oor taalreëls wat tussendeur aangebied word. Dit slaag vir my om dit so aan te bied. Daar is hersieningsvrae of esktra oefeninfe in Addendum 11, en ek hou van die kultuurfokus, maar is nie seker of dit altyd geslaagd is nie – Is “tydsones” en “geld” deel van die Afrikaanse kultuur? Is “Hompie Kedompie” die “beste” volksrympie om te gebruik – gesien dat dit ’n vertaling is?
Ten opsigte van die struktuur van beide Kortpad-Afrikaans / Shortcut Afrikaans en Kortpad-praatjies 1 / Shortcut chats 1, oordeel ek dat dit geslaagd is. Beide boeke is in kleiner en korter eenhede verdeel en daar word gepoog om dit kreatief en interessant vir die eietydse vreemdetaalstudent te maak. Aan die begin van beide boeke word deeglike inligting gegee oor hoe die boeke gebruik moet word en beide sluit met ’n uitgebreide bibliografie af.
Enige boek en werkboek wat verskyn wat die Afrikaanstaalverwerwingdosent kan help om Afrikaans te onderrig, is welkom. Kortpad-Afrikaans / Shortcut Afrikaans en veral Kortpad-praatjies 1 / Shortcut chats 1 is saamgestel met die spesifieke doel om die Afrikaansvreemdetaalstudent binne die Europese (maar ook in ander wêrelddele en in die Suid-Afrikaanse konteks) te help om die uitdagings van die Afrikaanstaalverwerwingsklaskamer die hoof te bied. Dit is uiters gebruiksvriendelik en die prettige voorblaaie trek beslis die aandag. Dit is bruikbaar en nuttig vir Afrikaansvreemdetaalstudente én die Afrikaansvreemdetaaldosent.
Lees ook:
Wenke vir die ATKV-redenaars 2025 se semifinale rondte: 'n onderhoud met Elbie Adendorff
Pedagogiese tolking as ’n interaktiewe taak vir Afrikaanstweedetaalverwerwing (deel 2)
Pedagogiese tolking as ’n onderrigtegniek vir Afrikaanstweedetaalverwerwing (deel 1)
The post Kortpad-praatjies: Afrikaans vir beginners / Shortcut chats: An interactive workbook deur Rina Loader en Charlene Human – ’n resensie first appeared on LitNet.
The post <em>Kortpad-praatjies: Afrikaans vir beginners / Shortcut chats: An interactive workbook</em> deur Rina Loader en Charlene Human – ’n resensie appeared first on LitNet.