Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21784

Tom Dreyer (1972–)

$
0
0

Gebore en getoë

Rudolf Johannes (Tom) Dreyer is op 17 November 1972 in Bellville in Kaapstad gebore as die jongste van vier kinders. Hy was ’n gelukkige kleuter wat tussen die bamboese op Melkbosstrand rondbaljaar het.

Hy bring sy laerskooljare deur aan die Laerskool Louw Geldenhuys in Johannesburg en matrikuleer in 1990 aan die Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch.

Tom het nie sy skooljare voltooi as iemand wat nie veel bereik het nie. Hy slaag matriek met ’n A-simbool-gemiddeld; hy behaal die vierde plek landwyd in die Afrikaans Olimpiade, asook die eerste posisie in die Suid-Afrikaanse Taalbond se senior tweetaligheidseksamen; en hy verwerf akademiese erekleure op skool.

Verdere studie en werk

Tom gaan na die Universiteit Stellenbosch, waar hy hom in sy eerste jaar inskryf as student in ingenieurswese en daarna vir ’n jaar in die Regsfakulteit. As gevolg van depressie moes hy egter sy studie vir twee jaar onderbreek. Hy bring die grootste deel van dié tyd op sy pa se plaas in Namibië deur.

Hy keer terug na Stellenbosch en behaal sy BA-graad, met filosofie en Engels as hoofvakke, met lof. Daarna verwerf hy sy MA-graad in Engels, ook met lof. In 1998 word die M-Net-beurs vir skeppende skryfwerk aan Tom toegeken en voltooi hy sy meestersgraad in kreatiewe skryfwerk met lof onder leiding van Etienne van Heerden met sy roman Stinkafrikaners as deel van die vereistes. Hy vestig hom gedurende daardie tyd in Oranjezicht in Kaapstad.

 Hy gee daarna vir ’n jaar lank Engels aan die Universiteit Stellenbosch. Daarna werk hy as rekenaarprogrammeerder by ViSoft en later by Generation 5, waarna hy as IT-projekbestuurder by Magma Tec aansluit.

Van Augustus tot November 2007 gaan Tom na Amerika, waar hy die International Writing Program aan die Universiteit van Iowa bywoon. In Desember 2007 is hy vir ’n maand lank ’n inwonende skrywer by die Sitka Island Institute in Alaska en in 2008 by die Chateau de Lavigny in Switserland. (Wikipedia)

Daarna hou hy hom besig met rekenaarprogrammering en spits hy hom hoofsaaklik toe op werk vir Amerikaanse kliënte, vertel hy aan Elmari Rautenbach (Die Burger, 7 Desember 2016).

Hy het ook ’n Amerikaanse agent en vertel aan Rautenbach dat hy sy agent gedurende sy verblyf in New York ontmoet het. Hy was ‘n inwonende skrywer by baie universiteite en instansies. “Ek en my agent het deur die jare gekorrespondeer en aan my Engels gewerk. Hul agentskap verteenwoordig skrywers soos Audery Niffenegger (van The time traveller’s wife).”

Tom en sy vrou, Vasti, medeprofessor in filosofie en rubriekskrywer, woon reeds die afgelope ongeveer 14 jaar in Dalsig op Stellenbosch. Saam met hulle woon Vasti se dogter en hulle twee katte, Charlie en Bella. In 2023 hou hy hom besig met die ontwikkeling van simulasiesagteware vir maatskappye wat koeltorings bou.

Tom se eerste roman, Erdvarkfontein, wat in 1998 gepubliseer is, het nie as deel van die studieprogram van sy meestersgraad ontstaan nie – hy het reeds tydens sy honneursstudie op Stellenbosch daaraan begin skryf.

Antonia Steyn beskryf Erdvarkfontein as ’n comic strip action movie novel wat vol humoristiese geweld is en karakters wat “om die beurt sterf, verdwyn en weer verskyn”. Tom self sê vir Steyn: “Dis ’n waansinnige ding op ’n waansinnige manier geskryf.”

Tom benadruk ook dat Erdvarkfontein ’n roman is, al kan die meeste van die stories op hulle eie bene staan en die meeste van die karakters vroeër of later die “ewigheid” ingeblaas word: “Ek wil baie graag hê dat dit nie net as ’n seleksie kortverhale gesien moet word nie. Saam word hulle iets groter.

“En dit is nie dat die roman iets ‘groter’ as net die kortverhale op hulle eie is nie. Die roman het ’n groter reikwydte en laat jou toe om meer in te sit. Ek het probeer ’n blik gee van hierdie dorpie, en die soort lewe wat daar afspeel.” En vir Steyn is hierdie blik meestal gekleur met eksplisiete swart humor wat die samebindende faktor in die roman is.

Tom is destyds meer beïnvloed deur televisie en flieks as deur boeke, sê hy, en Erdvarkfontein is dan volgens hom ’n soort pulp fiction, en die idee van ’n menigte stories wat saam ’n roman vorm, is afkomstig van Robert Altman se fliek Short cuts, wat gebaseer is op Raymond Calvert se gelyknamige bundel kortverhale.

Tom verduidelik verder: “Erdvarkfontein is ’n poging om dieselfde in ’n Suid-Afrikaanse konteks te doen. Eers lank nadat ek die fliek gesien het, het ek uitgevind dit is gebaseer op ’n bundel kortverhale. Dit het my moerse beïndruk.”

Tom dink nie dat hy baie belese in Afrikaans is nie, dus lewer hy deur middel van sy skryfwerk nie kommentaar op ’n skrywer of letterkundige stroming nie. Oor sy eie werk sê hy: “Daar is ’n diskrepansie tussen die subject matter, die inhoud, en die styl waarin dit geskryf is. Dis nie die goed waaruit letterkunde gewoonlik gemaak word nie. Mens kan dus sê dat Erdvarkfontein die draak steek met die onderliggende idee dat ’n roman epiese menslike kwessies moet aanspreek om ‘goed’ te wees.” (OuLitNet, Die mond is nie geheim nie)

PC van der Westhuizen resenseer Erdvarkfontein vir Beeld (11 Januarie 1999) en hy is van mening dat ’n enigsins ervare leser sou moes erken dat Erdvarkfontein ’n betreklik ongewone leeservaring is, “dat dit sowel bekende as onbekende wêrelde op onverwagse wyses aan die [sic] bod stel. Erdvarkfontein, ’n Kalahari-dorp, dien eerstens as ’n soort referent, ’n versamelpunt, waar bykans alle soorte mense gegroepeer word. Sodoende verkry die verteller en karakters ’n afgewaterde dog intellektuele houvas op mekaar en, by uitstek, die moontlikheid om lewens meer noukeurig as gebruiklik te monitor.

“In Erdvarkfontein is dus allerlei betekenismoontlikhede opgesluit, waaronder die mite dat afsluiting moontlik is. Al word die meeste slegs kortstondig en fragmentaries aan die leser voorgestel, is dit altyd duidelik hoe dig elkeen by die groter Erdvarkfontein-werklikheid en sy uiteenlopende wêrelde betrokke is. Dat niemand mekaar se invloed hiér ontsnap nie, is trouens ’n basiese vereiste om hierdie ‘oop roman met filmiese aksie’, aldus die flapteks, in enige sinvolle perspektief te stel. […]

Erdvarkfontein is dalk minder filmies as wat die uitgewer beloof en meer aangewese op die leser se ervaring van eietydse nuusprogramme: behendig saamgeflans sonder dat die bydraes noodwendig lynreg by mekaar aansluit. En tog kan geen bydrae/gebeurtenis sonder die ander ervaar of gelees word nie.

Erdvarkfontein is knap geskryf en is, ten spyte van enkele tekortkominge, ’n debuut waarop enige skrywer trots kan wees.”

In Rapport (7 Februarie 1999) skryf LS Venter dat Erdvarkfontein ’n “verraderlike” teks is: “Die een moment laat dit lag net om die volgende moment te gru. Hierdie verraderlikheid bring mee dat die leser gedwing word om met volle aandag te lees, want dis asof hy met elke omblaai die ergste vrees. Ook die veelheid van karakters en die los struktuur vereis [van] ’n ondernemende leser om die kloutjie by die oor te bring. Karakters kom en gaan, betree mekaar se ruimtes onverwags en verdwyn weer. […]

“As ’n mens mimeties redeneer, kan jy sê dat in die geweldgeteisterde Suid-Afrika ’n boek soos Erdvarkfontein onafwendbaar is. Die boek is ’n spieël van die werklikheid. Stilisties is dit vlymskerp. Dis egter nie ’n boek vir die weekhartiges nie.”

André le Roux (Sarie, 24 Februarie 1999) som Erdvarkfontein só op: “Dis die ene jollifikasie op Erdvarkfontein in die Kalahari, met goeie en slegte ouens en goeie en slegte meisies. Hier gebéúr dinge dat die koeëls klap en vuiste vlieg – bankrooftogte, tronkontsnappings, ’n gekullery met ’n honderesies, tot by die klimaks van ’n slagveld op ’n helske musiekfees, alles getemper met ’n groot veeg humor. Dis ’n debuut wat klaar laat blyk – dié skrywer weet van intrige en hoe om ’n verhaal op te bou. Hoogs leesbaar, sonder om leersaam te wil wees. Hy sou cowboyboeke ook kon skryf.”

In 1998 word die M-Net-beurs vir skeppende skryfwerk aan hom toegeken, en dit is toe dat hy onder Etienne van Heerden begin studeer het. Sy tweede roman, Stinkafrikaners (2000), is vir sy meestersgraad in skeppende skryfwerk geskryf, en word in 2001 met die Eugène Marais-prys bekroon.

Hy vertel aan Stephanie Nieuwoudt dat hy daarvan hou om met ‘”low art” te flankeer en dit is waarom Stinkafrikaners oor die minder verfynde kant van die lewe handel. Dit speel af in Parow en het Afrikaners as karakters. Daar is ook die baas wat jou aan die Mafia laat dink, en sy trawante, prostitute, ’n hondevanger en ’n bommaker – dus Stinkafrikaners.

“Ek het ’n probleem met die intellektuele aanslag in kuns,” sê Dreyer aan Nieuwoudt. “Met die persepsie dat ’n mens ’n meestersgraad of doktorsgraad moet kry voordat jy kan skryf. Met dié boek probeer ek om gesofistikeerde tegnieke in te span om te skryf oor dinge waaroor tradisioneel gefrons word.

“Maar,” beklemtoon hy, “die titel kan mense dalk onder die indruk bring dat ek Afrikaners wil afkraak. Ek hou nie van Afrikaner-bashing nie. Tog vind ek aanklank by die iets uitdagends en loslit in die titel. Dit moet egter nie op sy eie beoordeel word nie. Die teks bevat versagtende elemente wat die titel makliker maak.”

Net soos met Erdvarkfontein het hierdie tweede roman van Dreyer weer elemente wat die leser voor hom sien afspeel soos ’n film – daar is koeëls wat fluit, baie geweld en Die Baas wat sy vyande se vingers met ’n snoeiskêr afknip. Oor hierdie aspek van sy skryfwerk sê Tom: “Ek dink ons het almal ’n voyeuristiese streep. Dis daai ding wat jou laat kyk wanneer jy by ’n ongelukstoneel verby ry.”

Daar is resensente wat dink dat Tom ’n nuwe rigting met sy skryfwerk moet inslaan, en hoewel hy so ’n reaksie verwag het, sê hy: “Ek het al met Erdvarkfontein kwaai kritiek verwag. Mense het vooropgestelde idees oor wat kuns is. Wat letterkunde is. Nie almal hou van die skryfstyl nie. Ek dink nie jy hoef Karel Schoeman te wees om iets te sê nie. Die boek wil vermaak.”

Tom vergelyk sy verhale met fotoverhale: ‘Hoe dinge voel, hoe dinge lyk, hoe dinge klink as jy daar is, dit is vir my belangrik eerder as konsepte. My roman (Stinkafrikaners) is ’n versameling van beelde wat ek eers gesien het en later verbind het. Op kleuterskool was ek ’n bobaas toringbouer, en ek het altyd so ’n sense of achievement gekry as ek ’n stabiele dog onwaarskynlike toring uit ’n klomp los blokke kon staanmaak,” verduidelik Tom aan Herman Wasserman (Die Burger, 28 Augustus 2000).

Oor sy tweede boek se titel skryf Tom in Boekewêreld (Maart 2000): “In Stinkafrikaners is daar ’n bossiedokter en deel van sy muti is stinkafrikaners, die blom. Eintlik is daar ’n spanning tussen die titel en die inhoud. Ja, dit gaan oor low lives in Parow – daar’s die munisipale hondevanger – maar hulle word nie sonder deernis beskryf nie. Miskien is die titel ook so ’n bietjie van ’n tong-in-die-kies verwysing na Super-Afrikaners? Die mansfiguur (op die voorblad) kom uit ’n Russiese cartoonboek met die onderskrif: ‘Stylish Russian rock musician on the streets of Leningrad ….”

Francois Smith skryf in Insig dat Stinkafrikaners ’n mooi boek is as jy dit op sy “baadjie takseer”: “Die titel tref jou ook as ’n blink ingewing, miskien ’n bietjie te opvallend modieus, maar tog ’n simbool gepak met teenstrydighede. ’n Titel wat definitief verwagtings skep. Maar Stinkafrikaners is ’n kaartehuis waarvan die kleurryke fasade telkens intuimel. Flitskaarte, dus, en miskien doelbewus so: Die vertellersperspektief is veronderstel om ’n snelvurende skyfieprojektor te wees. Die beelde bly egter tweedimensioneel. Strak. En dit is nie doelbewus nie, want hier gaan dit oor hoe die taal wêreld word, en hierdie kaartewêreld laat hom nie maklik tot woning maak nie. 

“Die versperring is in die eerste instansie ’n basiese onbeholpenheid, naamlik taalgebruik wat selde nuut, geïnspireerd en lewenskragtig voorkom. […] Dreyer se skryfwerk getuig van visuele geletterdheid eerder as belesenheid. […] Die roman is ’n episodiese vervlegting van die verhaallyne van karakters – oënskynlik meestal Afrikaners – wie se kindertyd-geknoude psiges in ’n bordeel, The Tropical Flower Club, afspeel. […]

“Plek-plek is daar mooi momente en wys Dreyer dat hy wel met sobere woordgebruik en berekende strukturering atmosfeer kan skep. Die bymekaarbring van die onderskeie verhaallyne is ook vernuftig gedoen, maar lewenskragtige verhale vra karakters en situasies wat lewe – lewe in taal. Selfs al is die uitsluitlike doel van die roman om te vermaak.”

Vir Joan Hambidge (Die Burger, 6 September 2000) lees Stinkafrikaners lekker en dis goed geskryf: “Dis net: ná Erdvarkfontein en Stinkafrikaners is dit waarskynlik tyd om nou ’n nuwe rigting in te slaan. ’n Teks met meer diepte. Miskien is ek dan ’n sissie. ’n Sissie vir subteks en ingelegde interteks, vir iets meer as die gegewe van dwelmbase in die agterstrate van Parow. […]

“Miskien het ek net te veel Raymond Chandler gelees, en miskien het Jeanne Goosen met Ons is nie almal so nie die kultusboek oor Parow geskryf. ’n Roman moenie homself aanbied as hip nie; die tyd moet hom daar plaas.”

En in De Kat (Desember 2000) eindig Ampie Coetzee sy bespreking van Stinkafrikaners só: “Geskryf in hoofstukke wat so gestruktureer is dat elkeen byna ’n afgeronde kortverhaal is, met karakters soos Niklaas Slachter wat meer diepte verkry as die malles om hom, en prostitute wat meer as net liggaam is, met deernis, met kwellinge. Geskryf dus deur ’n outeur wat klaarblyklik literêre aanleg het, en ’n aanvoeling van die bose, en ’n vermoë om ’n storie te vertel, is Stinkafrikaners meer as net ontspanningsleesstof.”

Louise Viljoen beskryf Stinkafrikaners op LitNet só: “Stinkafrikaners is ’n elegant-uitgevoerde spel met verskillende genres waarin Dreyer weer eens sy vermoë bewys om die kodes van ’n wêreldwye, kontemporêre kultuur in ’n Afrikaanse wêreld in te bed.”

En dit is hoe Tom Dreyer self Stinkafrikaners sien (Rooi Rose, Februarie 2001): “Toe ek Stinkafrikaners geskryf het, het dit vir my oor die storie gegaan – om karakters en intriges te skep wat mense sal laat wil voortlees. ’n Verbeeldingsvlug, ’n saamreis van leser en teks.

Stinkafrikaners is bedoel om gelees en geniet te word en nie ontsyfer te word nie. Die verteller het, om ’n frase van Jaco Botha aan te haal, ‘geen groot stellings om te maak nie’.

“Die lewe van ’n versameling eiesoortige karakters in die agterstrate van Parow (hondevangers, prostitute) word uitgebeeld, nie met die doel om groot afleidings te maak of een of ander kosmiese waarheid te ontbloot nie. Die leser word ’n blik op hul interaksie en vervlegte leefwêreld gegee en genooi om sy of haar afleidings te maak. Geen oorkoepelende bewussyn skryf voor hoe daar oor die (dikwels gruwelike) gebeure gevoel behoort te word nie.

“Die teks poog om die karakters se belewenis van hul wêreld rou en ongefilter deur te gee. Soos die lens van ’n kamera, bly die verteller onbetrokke, en rus die onus op die leser om sin en betekenis aan die stroom beelde te gee.”

Van Tom se gedigte is opgeneem in Nuwe stemme 1 en in Gerrit Komrij se bloemlesing Die Afrikaanse poësie in 'n duisend en enkele gedigte. Sy kortverhale verskyn in bloemlesings soos Die mooiste liefde is verbyIn the rapidsDonker veld en Van spoke gepraat. Hy lewer ook ’n bydrae tot Briewe deur die lug (LitNet se skrywersberaad). ’n Fotoverhaal, Barracuda Verwey, verskyn op LitNet. Tom skryf rubrieke vir Die Burger, en het ook vir Insig oor vreemde mense en plekke geskryf.

Wat opvallend is van Tom se skryfwerk, is die sterk filmiese aard van sy romans, in so ’n mate dat hy al selfs as die Boere-Tarantino beskryf is. Sy sterkste invloed is nie Etienne Leroux soos wat baie mense gemeen het nie (hy ontdek Leroux eers taamlik laat in sy lewe), maar eerder Steinbeck, Roald Dahl en Quentin Tarantino se Pulp fiction en Reservoir dogs. “Ek vind nogal aansluiting by die taal wat die kamera praat,” sê hy in ’n onderhoud aan Stephanie Niewoudt.

Toe Tom in 2000 gevra is om ’n bydrae te lewer tot LitNet se Jong Skrywersberaad, het hy ’n kortverhaal geskryf waarin hy verskillende sienings weergee, vertel Nieuwoudt – ’n veilige manier om om te gaan met vraagstukke sonder om self ’n individuele standpunt in te neem: “Die Afrikaner-debat is nog in flux. Jy kry wysheid deur te wag en kyk.”

Tom se derde roman, Equatoria, verskyn in 2006 en was op die kortlys vir 2007 se M-Net-prys. Met hierdie roman begeef Tom hom (volgens Danie Marais in Rapport) op meer tradisionele terrein. Tom sê self dat hy met hierdie roman ’n nuwe rigting ingeslaan het. "Equatoria is meer gestroop en ernstiger. Die gestileerdheid van Erdvarkfontein en Stinkafrikaners het plek gemaak vir ’n natuurliker aanbieding, ’n blik wat ook op subtekste en onderstrominge fokus.” (Die Burger, 8 Julie 2006)

Tom vertel aan Gerrit Brand van Die Burger dat hy doelbewus met Equatoria in ’n nuwe rigting beweeg het: “Maar tog was die verskuiwing in ruimte, tyd en karakters nie in die eerste plek ’n poging om met my vorige werk te breek nie, maar eerder die gevolg van ’n interessante stukkie geskiedenis waarop ek afgekom het: die reis wat Herbert Lang en James Chapin aan die begin van die vorige eeu na die Kongo aangepak het.

“Veral hul poging om ’n okapi vas te trek, het iets in my geroer. Om hierdie episode na ’n hedendaagse Suid-Afrika te verplaas, sou ’n wankelrige onderneming gewees het, en boonop sou baie van die storie se grein en karakter in die slag gebly het. Die uitdaging aan my as skrywer was toe om ’n tyd en ruimte wat aan my relatief onbekend was, geloofwaardig uit te beeld. Dit was egter louter plesier. Foto’s, joernale, dagboeke en motgevrete reisbeskrywings het ’n nuwe wêreld voor my laat oopgaan.”

Oor die oorsprong van Equatoria se storie vertel Tom aan Danie Marais dat hy aanvanklik ’n roman oor ’n walvisjagter beplan het – ’n walvisjagter wat ‘n walvis met agterpote doodmaak. Hy bewaar volgens oorlewerings hierdie pote dan in ’n vaatjie brandewyn: “In my agtergrondleeswerk het ek ook na die selakant en die okapi gekyk, want hierdie ‘lewende fossiele’ is die ambassadeurs van dié soort teruggryp na die verlede. En dit is tóé wat ek op die reis van Lang en Chapin afgekom het.”

Danie Marais is die resensent van Equatoria vir Rapport: “Dit is asof simbool en verhaal nie ’n natuurlike geheel vorm in dié roman nie. ’n Komplekse vertelling het ’n aantal lae wat mekaar aanvul en dikwels oor en weer bevraagteken om ryker en meer geskakeerde betekenismoontlikhede te ontsluit. Alle lae moet egter ook op die oppervlak van die storie werk om die roman, al is dit hoe fyn en serebraal gekonstrueer, die aanskyn van ’n enkele organiese geheel te gee. […]

“Dreyer se jongste slaag as liriese landskapskildery, as tematiese lynskets en onderhoudende avontuurverhaal, maar nie as literêre portret, oftewel karaktergedrewe quest-roman, nie. Hierdie resensent het meer van die snaakse, aweregse en uitbundige gestaltes in die eerste romans gehou.”

Op LitNet skryf Desmond Painter só oor Equatoria: “Equatoria is op die oppervlak ’n eenvoudige verhaal. Willis Reed, ‘n Britse dierkundige, en sy entomoloog-vriend, Guy Nichols, onderneem in opdrag van die Antwerpen-dieretuin ’n ekspedisie in sentraal-Afrika. Die doel van die ekspedisie is om vir die eerste keer ‘n lewende okapi na Europa te neem. Hulle gids is Obieka, wat benewens sy rol as geografiese gids ook as ’n soort kulturele ‘vertaler’ optree tussen die Westerlinge en die inheemse groepe. Saam deurkruis hulle die Kongo vir maande, op soek na die immer ontwykende okapi.

“Die verhaal speel af in 1912, skaars tien jaar nadat die skugter okapi vir die eerste keer deur ’n Europeër, sir Harry Johnston, waargeneem is. Sedert hierdie ontdekking het Reed sy wetenskaplike loopbaan aan die okapi gewy, en die opspoor en besitname van een word op hierdie ekspedisie by hom ‘n verterende obsessie. Stelselmatig begin hy sy soektog in Afrika beskou as ’n soort eksistensiële afspraak met die sin van sy lewe. ‘Ek is nie vertroud met menslike verlange nie,’ (p 56) sê hy op ’n keer. En juis dáárom is hy op soek na die okapi: om meer lyf te gee aan die dun metafisika van sy bestaan” (p 66). Reed se wens, sy begéérte, is ‘dat my lewe ... voller moet wees’ (p 106). Dit is hierdie verinnerliking van die soektog, en die deurlopende meditasie op menslike verlange en begeerte wat hierdeur ingegee word, wat eerder as die uiterlike avontuur die ruggraat van die roman is. […]

“Dreyer speel ’n komplekse spel met naamgewing, kategorisering en klassifikasie, en eienaarskap, soos dit figureer in die (mislukte) identifikasies tussen mens en natuur en tussen mens en medemens. Hoe jy dit ook al lees, identifikasie loop in hierdie boek hand aan hand met simboliese en fisieke geweld: die verhoudings tussen mens en dier, tussen die koloniale besetter en die inheemse mense, en tussen man en vrou staan almal onder die teken van geweld en mislukte herkenning. Die begeerte na ’n vol, voltooide en koherente lewe en wêreld bly bloot dit: ’n begeerte.

“Reed se gewaarwording van sy begeerte, en die verskuiwing wat in hom plaasvind van ’n wetenskaplike na ‘n eksistensiële soektog, word ontsluit deur sy ontmoeting met Alice de Quincy. Sy is ’n jong, beeldskone en verleidelike vrou, getroud met die veel ouer en hardvogtige kolonialis generaal De Quincy, en Reed raak ongeveer met die eerste oogopslag halsoorkop op haar verlief. […]

“Daar is natuurlik baie ander temas wat in hierdie teks gesuggereer word en wat met vrug ontgin sal kan word, onder andere Afrika in die Europese verbeelding; wetenskap en bygeloof; en die reeds genoemde kwessies van kolonialisme en kollektiewe skuld. Dit is ’n besonder ryk teks, en ek het hier maar enkele aanvanklike opmerkings gemaak, en aan groot dele van die roman nie eens geraak nie.

Equatoria lees deurgaans lekker en Dreyer skryf ’n treffende, beeldende prosa. […]

“Op ’n kritiese noot: Ek het tog gevoel die karakterisering is soms ’n bietjie yl. Al die belangrikste karakters leef in die skadu van een of ander uitgesproke of onuitgesproke verlange; en tog is geeneen van hierdie karakters, behalwe Reed, regtig bevredigend ontwikkel nie. Dit is veral jammer dat die karakter van Obieka nie verder ontgin is nie, omdat hy ’n interessante sleutel sou wees vir ’n meer betekenisvolle lees van veral die koloniale gegewe. Verder het die roman vir my ietwat teleurstellend tot slot gekom: Dreyer het te veel begin verklaar en opklaar, te seker probeer maak die leser mis nie iets van die onderstrominge wat hierdie rivierboot van ’n boek in verskillende rigtings laat dryf nie, eerder as om net die storie klaar te vertel.

“Terwyl die boek dus enersyds ’n redelik afgeronde kort roman is, mis ’n mens juis ’n meer komplekse, veelkantige en digbevolkte roman. Wat oorbly, is dan maar om geduldig te wag vir ’n omvangryker en langer werk van hierdie ongetwyfeld talentvolle skrywer. Hopelik is die wag, anders as vir Willis Reed, die moeite werd!”

In Die Burger (24 Julie 2006) sluit Willem de Vries sy bespreking van Equatoria só af: “Veral in die huidige tydvak, waarin die mening gehuldig word dat daar oormatige klem op die individuele is, kry die verhaal interessante dwalings, soos mense verwag van die kronkelinge wat die oerwoud fisiek en geestelik op jou oriëntering uitoefen. Wat is nodig vir die behoud van die self?

“Lae van betekenis (Equatoria is ’n verwikkelde metafoor), gegewens wat aansluit by ander en by nog ander verbyskuur, raakpunte en bewuste gesprek met die werk van ander skrywers, kortom, ’n roman wat soms ’n fyn spel met verhaalelemente is – dit is die boustene van dié hoogs oorspronklike werk van Dreyer.

“’n Reis op vele vlakke vir die eenmalige leser, en ’n roman wat telkens iets nuuts bied aan diegene wat die sin daarvan insien om dit meer as een keer te lees.”

In 2007 verskyn Tom Dreyer se eerste kortverhaalbundel onder die titel Polaroid. ’n Charismatiese verkoopsman, ’n kampvegter vir verkleurmannetjies, ’n mislukte hotelier/waaghals, ’n desperate kunshistorikus is van die karakters in hierdie “weemoedige verhale in Tom Dreyer se eerste kortverhaalbundel,” skryf Eckard Cloete in Insig. “Polaroid staan tussen die twee pole van sy eerste twee romans en Equatoria, met ’n vertelperspektief wat empaties is, maar tog deurgaans met ’n sweempie ironiese afstand gepaard gaan.

“Wat die 12 verhale gemeen het, is dat die protagoniste (meestal) middeljarige mans is wat deur een of ander ontnugtering, mislukking of teleurstelling geteister word. Ten spyte hiervan het hulle egter ook (dikwels bitter obskure) visies van iets net onder die oppervlak, of net buite die saai wêrelde van hul bestaan, as hulle maar net weet deur watter lense om te kyk. In hierdie opsig is die karakters se onderskeie stories natuurlik ook kommentaar op wat die skrywer juis met stories probeer doen.

“Daar is ’n resepmatigheid in die vertelling wat na die tweede of derde keer steurend word. […] Verder is dit of die meeste protagoniste met min of meer dieselfde stem praat, asof die skrywer net effens té opsigtelik die toutjies agter die skerm trek.

“Die sterkste verhale is ongewoon, boeiend en lekker om te lees, en slaag ook daar in om die verbeeldingswêrelde van die karakters egalig in die verhaallyn in te stik. Van die swakker verhale is egter ietwat sentimenteel en rigtingloos en kon moontlik uitgelaat geword het.”

Op haar Woorde wat weeg verskyn Joan Hambidge se resensie van Polaroid wat sy vir Fine Music Radio in Kaapstad geskryf het: “In die titelverhaal word die kode gegee dat die Polaroid-lens ’n filter is (pp 162/163). En dit is presies hoe hierdie verhale ten beste benader moet word. As ’n spesifieke blik of gefilterde blik op die werklikheid. Ons vind dan deurgaans ’n fokalisator wat waarneem en interpreteer aan ervaring wat op die oppervlakte as ’n uitdaging gesien kan word, ’n reis na ’n afgeleë plek, maar onder draai die duiwels rond.

”’n Handvol verhale het reeds elders verskyn maar in bundelverband wen hul aan implikasie, ofskoon daar dalk herhaling mag wees oor die uitsigloosheid of ’n karakter wat in ‘n donker diepte verdwyn. Daar is ’n onthutsende blik op die hoofkarakter(s) se siening van die werklikheid. Die implisiete outeur ervaar dikwels uitsigloosheid, onsekerheid – daar is paranoia, ’n gejaagdheid in sowel die vertelling as in die karakters. […]                 

“Die skrywer het ’n besondere talent om gedétailleerd skryf: ’n man in ’n afgesakte oorpak laat hom dink aan ’n half-geëte piesang; die dialoog van gewone mense word besonder goed en beeldend vasgevang. Handelsname word vermeld – waarskynlik om ’n karakter binne ‘n spesifieke konteks te situeer. Karakters praat nie in ‘n boekerige of studeerkamer-Afrikaans nie en ek is van mening dat hierdie verhale by veral jong lesers sal aanklank vind.

“Dit gee ’n blik op ’n bepaalde soort mens, situasie – nie die hele speelveld van die werklikheid word gedek nie, soos die titel van die boek dan waarsku.”

En op LitNet sluit Louise Viljoen haar resensie van Polaroid so af: “Soos altyd skryf Dreyer helder en toeganklik; in die slottonele van die beste verhale selfs met ’n klare soort lirisme. Dit gebeur veral wanneer hy die anderkant van die werklikheid waarna soveel van die sukkelaars en verlooptes in sy verhale soek, beskryf. Dit is ’n wêreld wat tegelykertyd lug en water kan wees, ’n medium waarin visse swem of vlieg na gelang van die omstandighede en ’n omgewing waarin transformasies kan plaasvind, maar dinge ook kan skeefloop. Dit is dus jammer dat sekere verskrywings nie uit die teks geweer is nie: ‘n perd waarop geld verwed is, ‘ontkom’ byvoorbeeld drie lengtes voor die wenpaal aan ’n hartaanval terwyl dit eintlik duidelik is dat hy ‘omkom’, en die klerehandelsmerk Romens word aangedui as Romans.

“Daar is al in verband met hierdie bundel gesê dat dit te min blyke gee van die breë Suid-Afrikaanse konteks, wat bevolk word deur swart, wit en bruin, en die morele dilemmas wat dit oproep. Vir my lê ’n moontlike verklaring vir hierdie ‘geslotenheid’ van die verhale binne ’n wit werkersklas-wêreld in die byna outistiese gefokusdheid van die sukkelende hoofkarakters op hulle eie klein wêrelde sowel as hulle inherente beperkinge.

“In die geheel gesien het Dreyer in die beste verhale in hierdie bundel ’n stewige greep op die medium van die kortverhaal. Hy gebruik die beperkte ruimte wat dit bied, besonder effektief en beloon die leser meermale met ’n verrassende en dikwels ook poëtiese slot. Polaroid is ’n boeiende ontginning van die raakvlakke tussen die werklikheid en dit wat daaragter lê.”

Nege jaar verloop voordat Tom se vierde roman, Dorado, in 2016 die boekwinkels bereik. Elmari Rautenbach stel dit aan Tom dat die idee vir Dorado, van ’n man wat skole vlieënde visse ná die dood van sy pa sien, reeds die eerste keer in een van die kortverhale in Polaroid sy oorsprong gehad het. Oor hoe dit ’n roman geword het, vertel Tom: “Reeds gedurende die skryf van dié oorspronklike kortverhaal het ek vermoed dat ek iets beet het wat ’n meer breedvoerige behandeling vra. Maar dit was op die ou end ’n veel groter uitdaging as wat ek in my aanvanklike naïwiteit verwag het.

“’n Kortverhaal (selfs ’n lang een) dra sy gewig op ander maniere as ’n roman en jy kan nie bloot die tonele uitbrei en hoop dat jy ’n werkbare roman gaan kry nie. Eers toe ’n gans ander storie-idee (geïnspireer deur ’n kleintydse besoek aan die sementdinosourusse by die Sudwala-grotte) vlam vat, het ek besef die twee kan een word en het die projek lewe gekry.”

Die roman verskyn in beide Engels en Afrikaans – die Engelse titel is The long wave. Tom verduidelik aan Rautenbach dat die Afrikaanse en Engelse weergawes van die teks grotendeels parallel tot stand gekom het en “ek voel nie dat die een die oorspronklike en die ander die vertaling is nie. Dikwels het my eerste pogings geklink asof dit via Mandaryns van brontaal by doeltaal uitgekom het.

“Ek moes leer Afrikaans en Engels het ander modaliteite en dat dieselfde teks anders vloei in die twee tale – en eers tóé kon ek behoorlik op dreef kom. Dit voel amper asof ek ’n Engelse blik op skryf het, en ’n Afrikaanse blik, en die twee is nie dieselfde nie.”

Oor die twee verskillende titels brei Tom uit: “Sekere stelle beelde (die vis- en soekmotief, die strewe na dit wat deurgaans net anderkant die horison lê), word deur die Afrikaanse titel, Dorado, saamgevat. Maar die roman werk ook met ander beeldstrominge: golwe van allerlei aard en die suggestie dat individuele lewens soos pulse deur die tyd beweeg. Vandaar die Engelse titel. Dié titel het ook betrekking op ’n trauma wat Gilbert (die hoofkarakter) as kind beleef (waarin water ’n sleutelrol speel) en die nagevolge soos ’n golf deur sy lewe spoel.”

Die impetus agter die skryf van Dorado / The long wave was ‘n voorval toe ’n huismaat van Tom op ’n rivierboot op die Teems ’n hallusinasie van vlieënde visse ervaar het: “Nes die uitspansel in daardie oomblik voor hom oopgemaak het, het ek by aanhoor van sy belewenis die roman op wit papier (en dalk eendag op die silwerdoek) sien vlieg.”

Die roman vertel die storie van Gilbert du Toit van Kirkwood, skryf Laetitia Pople, wat met sy blou Ford Capri en ’n woonwa op reis is deur die land ná sy pa se dood. Hy het nie ’n eindbestemming nie, maar daar verskyn gereeld ’n skool dorado’s in die lug bo hom, wat moontlik die rigting aandui – of dalk nie. Onderweg ontmoet hy verskeie karakters, onder meer op Pacaltsdorp ’n groep musikante, bekend as die Howlers. Hulle is eertydse tronkvoëls wat hom oorreed om vir ’n rukkie saam met hulle te reis.

Dorado was op die kortlys van die kykNET-Rapport-rolprentprys, asook op die kortlys vir die UJ-prys. Willem Anker skryf op die buiteblad van Dorado: “Die boek lees asof David Lynch en Wim Wenders saam in die agterpaaie van die Karoo en die agterstrate van Kuilsrivier ’n road movie kom skiet het.”

In 2000 vertel skrywersvriende van Tom hom van die internasionale Screencraft-kompetisie en besluit hy om The long wave in die “filmiese” kategorie van die kompetisie in te skryf en haal hy die finale rondes.

Willie Burger begin sy resensie van Dorado (Vrouekeur, 31 Maart 2017) met ’n aanhaling uit dié roman: “Skoon is die wêreld te taai op die oë. ’n Man het ’n filter nodig. Of daai filter vertikaal, horisontaal of skeef is, maak nie soveel saak nie, solank jy één kies en daarby hou.”

“Hierdie woorde van een van die karakters uit Dorado, Rory (vioolspeler, stoffeerder, visverkoper, polaroid-sonbrilbemarker), hou kennelik meer betekenis in as om bloot ’n opmerking oor sonbrillense te wees. Die leser besef dadelik dat hierdie woorde, uit die middel van die roman, betekenisvol moet wees. Wanneer ons lees, is ons immers op ons hoede vir opmerkings wat die betekenis van ’n verhaal méér laat word as om bloot ’n storie te wees.

Dorado is onder meer ’n reisverhaal, en die vreemde wêreld van Gilbert se eienaardige reis deur die Karoo laat ’n mens raai. Uiteraard besef die leser dat hierdie fiksiewêreld van Gilbert wat die ‘lyne’ van die visse in die lug probeer volg, nie dieselfde is as ‘ons leefwêreld’ nie. Daarvoor is dit té vreemd. Maar ’n mens weet ook dadelik dat hierdie vreemde wêreld tóg met ons wêreld verband hou, en dat dit iets oor ons wêreld sê. Daarom soek ’n mens betekenis in stellings soos bostaande aanhaling. Die fiksiewêreld word soos ’n lens waarmee ons na ons eie wêreld kyk – voortdurend op soek na betekenis. […]

“Ten spyte daarvan dat sy werk telkens positiewe resensies kry, is dit nie asof Dreyer se werk die Afrikaanse literatuurlandskap telkens in beroering bring nie. Ek dink dit is dalk omdat lesers te haastig lees. Dreyer se roman moenie oorhaastig gelees word nie. Dit neem tyd om ’n geskikte filter te kry om daarna te kyk.

“Gilbert se verhouding met sy ouers, sy ma wat hy in traumatiese omstandighede verloor het en sy pa met wie hy ’n stormagtige verhouding gehad het, soos Katie se soeke na haar kind, en die pa-en-seun-dinosourusbouers, asook Rory en sy pa met hul stoffeerbesigheid, dui daarop dat elke karakter onlosmaaklik deel uitmaak van ’n familiegeskiedenis, van ’n plek in die wêreldgeskiedenis (soos die dinosouruspark ook suggereer), en dat geeneen sy lewe kan bepaal nie. Ontsnapping uit ’n erfenis van vlees en bloed en van sosiale omstandighede, is onmoontlik. Die probleem is om sin te maak hieruit, om ’n lens te kies.”

In Volksblad sluit Dewald Koen sy resensie van Dorado so af: “Dreyer beskik oor die vermoë om die landskap op poëtiese wyse te beskryf. Die leser kry die indruk dat daar geen haas is met die ontknoping van gebeure nie.

“Elke gebeurtenis word in die fynste besonderhede beskryf en die magies realistiese elemente in die roman word op geslaagde wyse met die realiteit geïnkorporeer.

Dorado is een van daardie tekste wat jy nie in een dag kan klaar lees nie. Die leser moet geduldig met die teks omgaan om Gilbert se verhaal te kan waardeer, want daar skuil ’n Gilbert in elkeen van ons. […]

“Die feit dat Penguin Dorado ook as The long wave vertaal en uitgegee het, dui daarop dat die uitgewer groot vertroue het in die geslaagdheid van die roman. In hierdie opsig stem ek heelhartig saam – Dorado is ’n welkom toevoeging tot Dreyer se oeuvre. Hierdie roman getuig van Dreyer se besonderse talent en fyn aanvoeling vir die woordkuns.”

Frederick J Botha (Rapport, 20 November 2016) is eweneens beïndruk met Dorado: “Al is van die karakters se dialoog by tye onoortuigend en te prosa-agtig, is Dorado ’n meesleurende en uiters bevredigende leeservaring, en selfs lesers wat vertroud is met die kortverhaal sal toegee dat die roman nie afbreuk doen daaraan nie.

Dorado is ’n bewys dat Dreyer ’n ware storieverteller is wat eerstens die storie eer, en hom nie aan bande laat lê deur die beperkings wat sekere (sub)genres mag stel nie.”

Met sy volgende boek wend Dreyer hom weer na die genre van kortverhale. In 2022 verskyn sy kortverhaalbundel onder die titel Kodachrome: 90 flitse. Hy word in 2023 vir die UJ-prys vir die bundel benoem.

Oor die titel vertel Tom op LitNet aan Naomi Meyer: “Die bundel is aanvanklik voorgelê met die titel Randverskynsels (die titel van my oorspronklike rubriekreeks in Die Burger). Ek spandeer nie my dae in die rooi lig van donkerkamers nie, maar ek het nog altyd ’n sagte plek vir kameras gehad, en mikroskope en teleskope, eintlik enige optiese apparaat. My vorige bundel se titel was Polaroid, en die teoretiese komponent van my MA-verhandeling het gehandel oor die grammatika van film, met verwysing na my roman Stinkafrikaners. Die skrywer is, soos die fotograaf of regisseur, deurgaans gemoeid met komposisie, met die spanning tussen voorgrond en agtergrond en – veral – met dit wat binne en buite die raam lê.

“Die skrywer kan sy of haar lens vinnig of stadig oor die wêreld laat gly, die lens ooptrek vir ’n bestekopname of inbeweeg vir ’n nabyskoot. Glo my vry: die beeld van twee mossies op ’n stopteken is altyd meer as net twee mossies op ’n stopteken.”

Kerneels Breytenbach (Netwerk24, 1 Augustus 2022) is baie beïndruk met die bundel. “Ek is mal oor Kodachrome. Hou van die manier waarop sy kop werk. Meneer, jy moet daai skedel aan die Smithsonian skenk eendag, dit gaan hulle dekades lank besig hou.

“So, hy gebruik swart letters op ’n wit bladsy. Dis ons vertrekpunt na sy Kodachrome-herinneringe, sodat ons in die flitse beter kan sien wat vandag aangaan, my kind. Dreyer smag na verrukking, na die meevoerende oomblik. Dit verg baie om sulke oomblikke te belewe, en Dreyer teken hulle aan – die hoop, die wanhoop, die smartlikheid wat naas die verbystering van vervulde hoop bly bestaan.

“Die 90 stukke word ’n lewendige volkleur legkaart van Dreyer se lewe en uiteindelik vat hy veel meer as net die lewe vas. In glorieuse Eastman Kodak branded chroom-gebaseerde kleur sien ons sy gedagtes beweeg, spring en stilte vind. Die legkaart is nie tasbaar nie, dis vlietend en gebonde aan die beusel en blerts van die geheue. […]

“Die 90 flitse in Kodachrome het meestal aanvanklik in koerante verskyn. Sekerlik het Dreyer dit nie as ’n formele projek beskou nie, maar dank die vader hy het ingesien dat hulle saamhoort – ’n leweverheerlikende outobiografie wat nie werklik met datums en plekke en ’n lysbare name-indeks bodder nie. Hy reis baie, en hy is geseënd met ’n geheue wat nog konneksies kan maak tussen die afgehandelde dinge van ’n mens se lewe en die eindelose wetenswaardige feitefees wat die internet inmoffel in jou kop.

“Dreyer se forté is die vervlegting van herinnering en hede. Stilisties is hy nog onderweg, soekend na ’n goeie redigeerder, die lesse van Ampie van Straten se Die potlooddief en die engel nog nie geïnternaliseer nie.

“Maar Kodachrome is vir my ’n vonds. Kiekies word reusagtige kyk-extravaganzas vir mense wat kans sien vir die reis saam met Tom Dreyer. Jy sal gou snap wat hy doen.

“Hy toor jou met flertse stories, hy leer jou om self jou eie gedagtegang te karteer. Die meeste van die verhale keer in na homself, maar daar is ook heelwat kere wat ’n suggestie van ’n storie skielik kosmiese gewig begin draai, selfs met ’n element van humor. Soos dié oor die grafgrawer by Stikland. Daar is baie meer as 90 stories in Kodachrome. Kan jy hulle oorvertel? Eintlik nie, net Tom Dreyer kan.”

Vir Louise Viljoen (Rapport, 24 Julie 2022) lê die sjarme van Kodachrome veral in “die ontwapenende manier waarop die verteller ’n mens insae gee in sy vrese en onsekerhede, sy behoeftes en drome, sy berou en nimmereindigende hoop op ’n verrukking wat hom – al is dit net vir ’n oomblik – sal laat ontglip aan die realiteit. Die gevoelige vertelstyl en melankoliese toon straal boonop ’n soort begrip en empatie vir die menslike toestand uit wat die leser laat voel: Iemand verstaan my.”

In 2023 verskyn Nou in infrarooi by Kwela Uitgewers en begewe Tom Dreyer hom op die terrein van die poësie.

En met sy debuutbundel palm hy die ATKV-prys vir poësie vir 2024 in. Die beoordelaars vir die prys was Diana Ferrus, Melt Myburgh en Christo van der Westhuizen. Hulle beskryf Nou in infrarooi só: “Dit is vernuwend, avant-garde en eksperimenteel. Wat die verse anders maak, is hoe die kunsgrepe soos metafoor en rym ingespan word. Wat opval, is Dreyer se vermoë om ’n onthoubare oomblik as sulks in te sien, dit wil sê die ongewone in gewone dinge, mense en gebeurtenisse. Hiervoor het hy ’n infrarooi oog, en dis stellig wat sy werk onderskei. Nou in infrarooi boei met uitsonderlike digvernuf.”

Die bundel is opgedra aan sy vrou, Vasti, “my eerste en baie onverbiddelike leser wat in die algemeen van meer kriptiese poësie hou en vir wie ek baie van die liefdesgedigte geskryf het”.

Tom vertel aan Johan van Zyl (Netwerk24, 7 Mei 2023) dat Nou in infrarooi nie ’n samestelling is van al die gedigte wat hy die vorige 20 jaar geskryf het nie: “Die oudste gedig kom uit 2017 rond. Die bundel was ’n totaal organiese proses waarin ek nooit doelbewus aan ’n groter geheel gedink het tot ek die titel gehad het nie.”

Hy kan ook nie aan Van Zyl (of aan homself) verduidelik hoekom dit hom so lank geneem het om ’n digbundel uit te gee nie – veral nadat poësie van hom al in 1997 in Nuwe stemme 1 opgeneem is: “Miskien moet ek eerste sê dat ek half per ongeluk in Nuwe stemme beland het. Ek het baie rondgeloop op universiteit, goeters neergeskryf en party van dit ingeskryf vir ’n poësiekompetisie wat deur Joan Hambidge beoordeel is … Toe hoor ek van ’n poësiekursus wat die wonderlik woordvaardige Johann de Lange by die Universiteit van Kaapstad aanbied, een aand per week, vir so vyf of ses weke, en ek besluit om te gaan. Die kreefgedig wat in Nuwe stemme opgeneem is, kom uit daardie klasse. Nadat Nuwe stemme verskyn het, het NB gevra ek moet ’n keur van my poësie voorlê met die oog op ’n solobundel, maar ek moes die ongelooflike Charles Fryer teleurstel en sê daai paar Nuwe stemme-gediggies was ongelukkig die somtotaal!” (Sy gedig “slaap jy solank, dan hou ek die fort” was in 2019 die wenner in die Afrikaanse kategorie van die Avbob-digkunskompetisie.)

Tom vertel vir Charles Fryer van die stories wat hy in Engels skryf vir die vermaak van ’n vriend van hom. Charles het van die stories gehou en gevra dat Tom dit in Afrikaans aan hom moet stuur, en dit is hoe Erdvarkfontein ontstaan het – “And there I just stumbled into prose ...”

Tom loop weer per toeval vir Joan Hambidge raak toe hy besig is met sy MA in kreatiewe skryfwerk aan die UK, en dié wou weet: “Waarom sit jy in die prosaklas en nie in die poësieklas waar jy hoort nie?”

Tom vertel verder aan Johan van Zyl: “Ek begin wonder of Joan dalk al die tyd reg was, want tans is dit vir my moeilik voorstelbaar dat ek ooit weer ’n roman sal skryf. Indien dit ooit weer gebeur, is daar ’n beduidende kans dat dit in Engels sal wees.”

Op Netwerk24 (12 Junie 2023) begin Fanie Olivier sy bespreking van Nou in infrarooi met: “Net soms slaan die lees van ’n debuutbundel ’n mens se voete onder jou uit en jou asem skoon weg. Nou in infrarooi is een van hulle en miskien die indrukwekkendste debuut van die afgelope dekade of twee. […]

“Hierdie debuut bestaan uit 56 gedigte, waarvan drie opgebou is uit selfstandige onderdele. Die gedigte bestryk ’n paar geografiese wêrelde (benewens Suid-Afrika, veral die VSA en Europa) en strek oor baie eeue; die musiekverwysings tipeer Dreyer weer duidelik as ’n produk van ’n era waarin poësie ook in treffers saamgeklink het en ernstige temas deur musici ontgin is. Die gedigte sluit dikwels aan by en verwys subtiel na ’n ruimer Afrikaanse poësietradisie as wat deesdae by jonger digters aangetref word.

“Terwyl die gedigte dikwels ‘maklik’ lees en klink, beïndruk die bundel juis as verslag van die kompleksiteit waarmee die moderne mens, die ‘ek’ of ‘ons’, gekonfronteer word. Oor dié kompleksiteit waarsku die titel: Die nou, die hede, die sigbare word deur ’n lens bekyk en uitgebeeld, waarin die versteekte, die vergete, die onsigbare deel word van die ‘prentjie’. […]

“Dit is nie moontlik om in ’n koerantresensie aan Nou in infrarooi reg te laat geskied nie. Dit is ’n hegte bundel wat ’n paar keer gelees moet word (ook hardop, om aan die poëtiese kwaliteit daarvan reg te laat geskied) en waaroor daar om afsonderlike gedigte en hul betekenis en samehang, nagedink en gepraat moet word.

“As jy van poësie hou, as jy van Afrikaans hou en as jy van mens-wees hou, is dit ’n bundel wat jy behoort te koop.”

Op Netwerk24 (28 Mei 2023) skryf Nini Bennett: “Dreyer skryf met die krag en vaart van ’n gesoute verteller. Die versaanbod is amorf, met stylkenmerke van ee cummings. Die bundel in die geheel word gekenmerk deur momentum wat die gedaante van langpadritte, ruimtereise en ekspedisies aanneem. Hierdie beweging, wat afgewissel word deur stolling, word gesimuleer met taal wat bruut in voortstuwende enjambemente voortrol. […]

“Die vervlietendheid van dinge, mymeringe en dít wat transendentaal beweeg: Dreyer beïndruk as digter wat invloede uit die rolprentkuns en narratologie in sy digkuns inkorporeer. Uiteindelik raak alle reise die verlooptheid van herinnering en die (on)vermoë om dié memorie ter taal te stel.

[…] sterf brutaal
soos die son langs die see se groot international
departures hier in die nick cave-gedenklaer
waar ’n ander tyd se vinke vermeng met fietsspeke
en halfvergete feesterreine tot ’n mond vol woorde
wat ons seker nooit weer vir mekaar sal sê nie.”

Oor die verskil tussen prosa en poësie laat Tom hom as volg teenoor Johan van Zyl uit: “Die ding met prosa is: Jy fabriseer … [S]elfs al is jy nie rég vir skryf nie, of jy is glad nie lus daarvoor nie, kan jy met prosa net gaan sit en … you somehow just slip into the vibe. Maar met ’n gedig …. ’n Gedig is ’n kompakte uiting van wie jy is en waar jy in die wêreld staan, so as die gedig nie werk nie, voel dit outomaties baie ver van jou af. Dis soos wanneer ek ’n Engelse poem skryf, klink dit altyd soos iemand wat te hard probeer om ’n ‘mooi’ gedig te skryf.

“Ek dink alle gedigte begin onbewustelik op vlakke van die brein waartoe ’n mens nie toegang het nie; gevolglik voel poësie die meeste van die tyd vir my meer soos ’n proses van selektering – om die regte ding raak te sien as dit verbykom, eerder as om die perfekte ding te probeer fabriseer. […]

“Ek weet wel ’n gedig is meer soos ’n skildery … Op skool het ek beeldhou en skilder gedoen, ek wou in ’n stadium ’n beeldhouer word, en het met elke roman altyd skilders beny vir daardie onmiddellike onvermydelike konfrontasie van hulle werk. ’n Boek, ’n novel, is ’n moerse commitment wat jy tussendeur die microwave dinners moet negotiate, terwyl ’n gedig jou onmiddellik gryp of wegstoot, soos ’n kunswerk.”

Publikasies:

Publikasie

Erdvarkfontein

Publikasiedatum

1998

ISBN

0624036707 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Boekaankondigings. Nuusbrief van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, Maart 1999
  • Brink, André P: Gee dié nuwe stem ’n kans. Insig, Desember 1998
  • De Vries, Antonia: Oë wawyd oop – die filmiese aksie van Erdvarkfontein word ’n deernis met die Stinke Afrikaner. OuLitNet, Die mond is nie geheim nie
  • EG: Op die boekrak. Rooi Rose, 23 Junie 1999
  • Ester, Hans: Explosieve roman van Tom Dreyer. Zuid-Afrika, April 1999
  • ’n Fees van fiksie. Rapport, 20 Desember 1998
  • Le Roux, André: Erdvarkfontein. Sarie, 24 Februarie 1999
  • Lessing, Carel: Sy debuut soos ’n fliek, het “net gebeur”. Beeld, 17 Desember 1998
  • Müller, Petra: Geweld om ernstig op te neem. Die Burger, 17 Desember 1998
  • Oom Schalk Lourens op amfetamien. De Kat, Januarie 1999
  • Steyn, Antonia: Die verraad van geweld. OuLitNet, Seminaarkamer
  • Van der Westhuizen, PC: ’n Betreklik ongewone leeservaring. Beeld, 11 Januarie 1999
  • Venter, LS: Bloed vloei in gru-spieël van werklikheid. Rapport, 7 Februarie 1999
  • Viljoen, Louise: Erdvardkfontein. Tydskrif vir Letterkunde, Augustus/November 1999
  • Wolvaardt, Manie: Bloedig snaaks en onvoorspelbaar: Baie word verwag uit dié fontein van talent. Volksblad, 18 Januarie 1999

 

Publikasie

Stinkafrikaners

Publikasiedatum

2000

ISBN

0624038556 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

  • 2001 Eugène Marais-prys

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Boekrak. Landbouweekblad, 12 Januarie 2001
  • Burger, Willie: Stinkafrikaners se gemaaktheid voorop. Beeld, 18 September 2000
  • Cilliers, Cecile: Karakters laat leser koud. Volksblad, 2 Oktober 2000
  • Coetzee, Ampie: Stinkafrikaners. De Kat, Desember 2000
  • Coetzee, Terésa: Só skryf ek. Rooi Rose, Februarie 2001
  • De Roubaix, Elizabeth: Stinkafrikaners. Kaapse Bibliotekaris, November/Desember 2000
  • Hambidge, Joan: Sissies soek dalk eintlik subteks. Die Burger, 6 September 2000
  • Smith, Francois: Hier wys visuele geletterdheid. Insig, [Geen maand] 2000
  • Stinkafrikaners. Egoli, 2000–2001
  • Viljoen, Louise: ’n Uitmuntende beheersing van Afrikaans. OuLitNet, Seminaarkamer, Desember 2001
  • Wasserman, Herman: Dreyer maak stories soos blokke staan. Die Burger, 28 Augustus 2000

 

Publikasie

Equatoria

Publikasiedatum

2006

ISBN

0624040444 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

  • 2007 Kortlys M-Net-prys

Vertalings

  • Engels vertaal deur Michiel Heyns

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Polaroid

Publikasiedatum

2007

ISBN

ISBN-10: 0624045714; ISBN-13: 9780624045717

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

  • Geen

Vertalings

  • Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Dorado

Publikasiedatum

2016

ISBN

9781415208960 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Penguin

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

  • 2017 Kortlys kykNET-Rapport-rolprentprys
  • 2017 Kortlys UJ-prys

Vertalings

  • 2021 gesamentlik in Engels uitgegee; The long wave

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Kodachrome: 90 flitse

Publikasiedatum

2022

ISBN

9781485313373 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

2023 Kortlys UJ-prys

Vertalings

  • Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Nou in infrarooi

Publikasiedatum

2023

ISBN

9780795710728 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

2024 wenner van ATKV-prys vir Poësie

Vertalings

  • Geen

Resensies en besprekings

 

’n Keur van artikels deur en oor Tom Dreyer

Artikels deur Tom Dreyer

Tom Dreyer se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is op 2007-10-02 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)

 

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Tom Dreyer (1972–) first appeared on LitNet.

The post Tom Dreyer (1972–) appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21784


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>