
Boekomslag: Ons wag vir Godot deur Samuel Beckett, in Afrikaans vertaal deur Naòmi Morgan (foto: verskaf). Uitgewer: Naledi (2024)
Naòmi Morgan is vanjaar met ‘n Fiësta-toekenning vereer – vir beste vertaling van Samuel Beckett se En attendant Godot, wat hy in Engels vertaal het as Waiting for Godot. Morgan het dit in Afrikaans vertaal as Ons wag vir Godot en dis in 2024 by die Vrystaat Kunstefees opgevoer. Sy praat met Naomi Meyer oor haar vertaling van hierdie bekende toneelstukteks – en oor die werk en belang van die menslike vertaler.
Naòmi, ek praat uiteindelik met jou oor jou vertaling van Ons wag vir Godot, wat vanjaar ’n Fiësta gewen het. Baie geluk met daardie toekenning! In die voorwoord van die teks praat jy oor die bekendheid van die teks en die feit dat selfs die titel ’n uitdaging was. Wat was die ander vertalingsmoontlikhede vir die titel – Wagtend op Godot byvoorbeeld? En waarom uiteindelik: Ons wag op Godot?
Ons wag vir Godot1 was die eerste Afrikaanse vertaling van Samuel Beckett se Franse weergawe, wat sy selfvertaalde, Engelse weergawe voorafgegaan het. Daar was egter ook ’n ander Afrikaanse vertaling van die Engelse weergawe (dus van die Engelse vertaling van die oorspronklike Franse teks), wat nooit gepubliseer is nie, maar wel in 1970 as “besprekingsteateraanbieding” by die Departement Spraakleer en Drama van die destydse PU vir CHO opgevoer is. Bywoning was slegs op uitnodiging. Die vertaler was Suseth Brits, en haar titel was Afspraak met Godot. Ek het ’n baie praktiese benadering tot dramavertaling: Dit moet in die eerste plek op die verhoog werk, as dialoog. In die Franse en Engelse tekste (ek gebruik albei) word die titel dikwels deur die karakters herhaal, dus moes ek my titel daaraan toets – of dit as ’n antwoord sou werk. Hier is ’n tipiese voorbeeld:
VLADIMIR | Ons kan nie. |
ESTRAGON | Hoekom nie? |
VLADIMIR | Ons wag vir Godot. |
........
Woorde is vir my soos bladmusiek – dit moet reg en outentiek klink. My oor het gesê “Ons wag vir Godot”.
........
Dit het nie vir my natuurlik gevoel om te sê “Ons wag op Godot” nie (ons het te make met twee boemelaars, Vladimir en Estragon) of “Ons het ’n afspraak met Godot” nie (dis te lank – die uitdaging is juis om iets bondig te vind). “Wagtend op Godot” is die grammatikale ekwivalent van die twee brontekste, maar dit klink lomp in Afrikaans. Ek lees my vertalings hardop oor en oor. Woorde is vir my soos bladmusiek – dit moet reg en outentiek klink. My oor het gesê “Ons wag vir Godot”.
Jy sê die teks is so bekend, maar ek wonder of mens die omvang van die bekendheid kan snap. Almal ken die titel van die toneelstuk, en dit word gereeld in verskillende gedaantes op die planke gebring of verfilm, of aangepas of herskryf. Wanneer het jy die stuk die heel eerste keer gesien, of in watter gedaante het jy dit beleef en het dit ’n indruk gemaak – onlangs?
Ek het in die 1970’s studeer aan wat toe nog die Universiteit van die Oranje-Vrystaat was. Taaldepartemente het die literêre kanon doseer, literatuurgeskiedenis. In my derde jaar het ons En attendant Godot2 gelees by madame Claire Massardo, ons Belgiese (Waalse) literatuurdosent. Ek het die drama toevallig ook as my finalejaar-mondelingonderwerp gekry. My ander taalhoofvak was Engels (ek het BA Tale gedoen), en ons het Waiting for Godot3 behandel met prof Roy Muller. Ek het dus albei brontekste goed geken en was toe reeds onder die indruk van wat ’n fenomenale selfvertaler Samuel Beckett was. Byna 50 jaar later het ek die Afrikaanse vertaling gedoen. Diegene wat die pragtige Naledi-publikasie gekoop het, sal sien die vertaling is ook opgedra aan die twee genoemde dosente. In 1980 was ek vir ’n jaar ’n au pair, en ek het my geld gespaar om na ’n produksie van die drama in die Théâtre de l’Odéon in Parys te gaan kyk. In Frankryk verkoop hulle die teks van die stuk wat opgevoer word in die foyer; die teks wat ek daardie aand gekoop het, is die een wat ek gebruik het vir die vertaling. Ek het die drama daarna nie weer gesien nie, maar een van die lekker dinge terwyl ek vertaal het, was dat ek op YouTube na verskeie produksies kon kyk. Ek het ook na baie interpretasies van die beroemde en berugte Lucky-monoloog gekyk op dieselfde platform, en ek moet sê die Lucky-interpretasie wat uitstaan, is dié van Roman Polanski (in ’n Frans produksie; hy is ’n uitstekende akteur). Hier is die skakel, as iemand sou belangstel: https://youtu.be/vt6qVfSRkGY.
Dis merkwaardig dat ’n stuk wat in die 1950's geskryf is, steeds aandag trek en bekend genoeg is dat ’n paar mense vir wie letterkunde en die teater saak maak, nog daarvan weet. Want nie alle tekste is tydloos nie. Voor ons oor die woorde en vertaling praat, kom ons praat oor wat agter die woorde lê. Wat is vir jou die aspekte van die toneelstuk wat die meeste uitstaan en wat jou aanhou tref? Politieke kommentaar, godsdienstige kommentaar, die interaksie tussen die twee mans, die newekarakters, die vrae oor die karakter wat net nooit opdaag nie?
Waiting for Godot is aangewys as die belangrikste Engelse toneelstuk van die 20ste eeu. Die interpretasies daarvan, op alle vlakke, is dus legio. Ek is seker daar is lesers, toneelgangers, navorsers, kritici en resensente wat politieke kommentaar daarin sal lees: Pozzo sou die inkarnasie wees van die hardvogtige werkgewer, Lucky van ’n geëksploiteerde werksmag. Die ongelykheid tussen hulle is opvallend: Pozzo drink wyn by sy kos; Lucky is net geregtig op die hoenderbene. Godot sou die landheer kon wees wat skuiling verskaf, al is dit op sy solder (Estragon en Vladimir droom nie groot, van beddens en lakens nie, maar van strooi). Daar sou ook afleidings oor godsdiens gemaak kon word, soos ’n bevraagtekening van die geloofwaardigheid van die Evangelies. In een van die bekendste tonele probeer Vladimir bevestiging van Estragon kry oor die redding (al dan nie) van die twee mans wat saam met Christus gekruisig is:
VLADIMIR | Waar was ek nou weer ... O ja, die storie van die rowers. Onthou jy? |
ESTRAGON | Nee. |
VLADIMIR | Dit sal die tyd laat verbygaan. (Pouse) Daar was twee rowers, wat op dieselfde dag as die Verlosser gekruisig is. Hulle ... |
ESTRAGON | Die wat? |
VLADIMIR | Die Verlosser. Twee rowers. Hulle sê die een is gered en die ander een is ... (hy soek na die teenoorgestelde van “gered”) ... verdoem. |
ESTRAGON | Gered ... waarvan? |
VLADIMIR | Van die hel. |
ESTRAGON | Ek gaan nou loop. (Hy roer nie) |
VLADIMIR | En tog ... (Pouse) Hoe het dit gebeur dat ... Ek hoop nie ek verveel jou nie? |
ESTRAGON | Ek luister nie. |
VLADIMIR | Hoe het dit gebeur dat, van die vier evangeliste, net één hierdie weergawe van die feite gee? Hulle was tog al vier daar – of nie ver nie, in elk geval. En net een praat van ’n rower wat gered is. (Pouse) Ag kom nou, Gogo, jy moet darem nou en dan vir my die bal terugslaan. |
ESTRAGON | Ek luister. |
VLADIMIR | Een uit vier. Van die drie wat oorbly, praat twee glad nie daaroor nie en die derde een sê albei rowers het hom uitgeskel. |
ESTRAGON | Die Verlosser. |
VLADIMIR | Hoekom? |
ESTRAGON | Omdat hy hulle nie wou red nie. |
VLADIMIR | Van die hel? |
ESTRAGON | Natuurlik nie, man! Van die dood. |
VLADIMIR | So? |
ESTRAGON | Waar was ek nou weer ... O ja, die storie van die rowers. Onthou jy? |
VLADIMIR | So al twee moes verdoem geword het. |
ESTRAGON | Wat daarvan? |
VLADIMIR | Maar die ander een sê een is gered. |
ESTRAGON | So? Hulle stem nie saam nie, dis al. |
VLADIMIR | Al vier van hulle was daar. En net een praat van die rower wat gered is. Hoekom word hy geglo, en nie die ander nie? |
ESTRAGON | Wie glo hom? |
VLADIMIR | Almal. Dis die enigste storie wat die mense ken. |
ESTRAGON | Mense is idiote. |
Die interaksie tussen Vladimir en Estragon is ook ’n interessante besprekingspunt: Hulle is soos ’n ou paartjie wat voortdurend dreig om mekaar te verlaat, maar dit nooit doen nie. Sekere passasies skep die indruk dat hulle ’n paartjie is of was in die emosionele sin van die woord, wat selfs oorweeg het om saam selfmoord te pleeg:
VLADIMIR | Ons sou hand aan hand van die Van Stadensbrug afgespring het; ons sou van die eerstes gewees het. Ons was toe nog iets vir die oog. Nou is dit te laat. Hulle het ’n draadheining opgesit. |
Die indruk wat die teks en die produksies op my maak, is egter dat die karakters amper geslagloos is, miskien omdat hul lewens tot die mees basiese vorm van bestaan gereduseer is. (Hulle lewe van verlepte wortels en rape, reis sonder bestemming, of voer soos Lucky bevele uit soos ’n outomaat. Miskien is dit waarom Beckett en die Beckett-boedel so streng is wat die rolverdeling betref: ’n Produksie met vroue in die vyf rolle word tot dusver verbied. Hier is ’n artikel vir diegene wat hierin belangstel: https://www.theguardian.com/stage/2020/oct/18/not-waiting-for-godot-new-show-tackles-becketts-ban-on-women.
Die karakter wat nooit opdaag nie, is nie vir my die interessantste aspek nie (al dink ek Beckett terg ’n bietjie sy gehoor in die gesprek tussen Vladimir en die Seun oor hoe om Godot te herken: Vroeër in die stuk het Estragon reeds gewonder of Pozzo miskien Godot is):
VLADIMIR | Het meneer Godot ’n baard? |
SEUN | Ja, meneer. |
VLADIMIR | Blond of (hy huiwer) … swart? |
SEUN | (Huiwer) Ek dink dis ’n wit baard, meneer. Stilte. |
VLADIMIR | Wees my genadig. |
........
Dit is wat my tref wanneer ek die teks in drie tale lees: dat met klein kulturele aanpassings hierdie ’n universele teks is, wat ook al die taal.
........
Wat vir my uitstaan en my aanhou tref, as vertaler, is eerder iets wat Clifford Landers noem in sy praktiese gids vir literêre vertalers: dat die vertaler nie net volkome tweetalig moet wees nie, maar volkome bikultureel. Landers (2001:73–4) sê:
It is tempting to assume that a profound acquaintance with the grammar, syntax, and vocabulary of a foreign language suffices to qualify one as literary translator. Equally essential, perhaps more essential, is a comprehensive appreciation of the culture that produced the work. Language has a locus [...] ...
Die kulturele verwysings, gewoonlik die moeilikste elemente van ’n teks om te vertaal, is dit wat uitstaan vir my. Van al die vertalings wat ek al gedoen het, was hierdie die eerste teikenteks wat twee brontekste gehad het. Ek kon net die Franse teks gebruik het, maar ek het die Engelse selfvertaling nodig gehad om te evalueer hoe ver Beckett self gegaan het in sy domestikering van die Franse teks. Diegene wat die pragtige 2024-produksie gesien het (waarvoor regisseur Dion van Niekerk ’n Fiësta gekry het), of wat die gepubliseerde vertaling gelees het, sal sien dat dit nie net die taal is wat Afrikaans is nie; die kulturele verwysings is ook. Dit kan nie anders nie. ’n Direkte vertaling van óf die Franse óf die Engelse teks sal nie sin maak vir die gehoor nie (die beste voorbeeld hiervan is Lucky se monoloog). Beckett het ook besef dat taal vas is aan plek (“language has a locus”) – hy het homself nie kultureel direk vertaal nie; hy het die teks aangepas. Dit is wat my tref wanneer ek die teks in drie tale lees: dat met klein kulturele aanpassings hierdie ’n universele teks is, wat ook al die taal. En dan maak Beckett se streng benadering tot toneelaanwysings en die geslag van die spelers ook sin: Op die verskillende verhoë van die wêreld lyk Godot min of meer dieselfde. Dis net die klank van die taal wat verander.
Wie is Godot?
Ek weet nie, maar dit is nie God nie. Daarom is dit belangrik om te weet watter een van die twee brontekste eerste was. Frans was eerste, en God in Frans is Dieu. Die vraag is natuurlik baie aan Beckett gestel, dus sal ek hom as skepper van die naam en teks aanhaal: “As my karakter, Godot, God was, sou ek hom God genoem het en nie Godot nie.”
Jy is die vertaler. Jy hoef nie vir my die teks uit te pluis nie. Tog: Dis immers wat jy deurlopend moes doen, of hoe? Elke woord weeg, besluit wat is ligvoets of korrek uit die spreker van die Afrikaanse akteur se mond, of die doel van die woorde wat Beckett in gedagte gehad het. Terloops, hoekom het hy dit eerste in Frans geskryf? Hy was immers ’n Ier. Is dit soos ’n Afrikaanssprekende wat iets in Engels skryf omdat hy meen dis ’n groter wêreldtaal? Of was dit net so eenvoudig soos dat hy in Frankryk gewoon het en daarom het hy in die taal van die omgewing geskryf, dink jy?
Ek moet die teks vir myself uitpluis voordat ek begin vertaal – dit bepaal die woordkeuse en register. Na dekades as ’n literator en ’n dosent het ek tot die gevolgtrekking gekom dat literêre vertalers die beste teksanaliste is. Jy moet presies verstaan wat die outeur bedoel het, en dit dan transponeer na ’n ander taal en kultuur. Baie skrywers vertaal ook, en word beïnvloed in hul eie werk deur wat hulle vertaal wat betref tema, styl ens. (Uys Krige is ’n goeie voorbeeld, maar daar is talle ander: Bartho Smit, André Brink, Charl-Pierre Naudé, Johann Rossouw, digters soos Louise Cilliers, Hennie van Coller en Rina Cascione). Beckett se verhouding met sy geboorteland was baie kompleks. Die eerste Beckett-biografie, deur Deirdre Bair, is die moeite werd om te lees. Hy het die Ierland van 1931, die jaar waarin hy sy geboorteland verlaat het, as benouend en benepe ervaar; Katolieke sensuur was streng. (Beckett was ’n Ier, maar ’n lid van die Protestantse minderheid.) Maar ironies genoeg is Ierland die inspirasie vir sy oeuvre.
Toe Beckett Godot geskryf het, was hy al omtrent 17 jaar woonagtig in Parys. Beide Frans en Engels is wêreldtale, so dit sou hom nie ’n groter publiek gegee het om van taal te verwissel nie. Hy was ’n baie privaat persoon, en het geen antwoord gegee toe hy gevra is waarom hy die toneelstuk in Frans geskryf het nie. Hy het volgehou dat die skryf van Godot net ontspanning was, en om weg te kom van die (Engelse) prosa wat hy besig was om te skryf (Beckett het geleidelik in ’n dramaturg ontwikkel; hy het aanvanklik net romans geskryf). Hy was baie verbaas oor die sukses van Godot – en dit is veelseggend dat daardie eerste Franse manuskrip die enigste een is wat hy nie verkoop of weggegee het nie.
Jou spesie is bedreig. Jy is ’n vertaler. Waarom vra mens nie net sommer gou vir ChatGPT of ’n ander taalmodel om iets te vertaal nie? Dis so lekker vinnig – vinniger as wat enige van ons sterflinge dit kan doen. Kom ek formuleer dit anders: Het jy al vir KI gevra om iets te vertaal en wat het jy gedink van wat jy sien? Is dit ’n onregverdige vraag?
Dit is nie ’n onregverdige vraag nie; in baie vertaalkringe is dit nou die enigste vraag. Vertalers kry baie minder opdragte as vroeër, en dan is dit dikwels om die taalversorging te doen van ’n teks wat deur ’n outomatiese-vertaling-platform gedoen is. Goeie literêre vertaling (die enigste vorm van vertaling wat waarskynlik langer sal oorleef, maar vir hoe lank weet ek nie) is ongelooflik tydrowend (die teks waaraan ek nou werk, het ek al vyf maal heeltemal oorgeskryf – die register voel net nog nie reg nie) en die doel van tegnologiese ontwikkeling is om dinge vinniger gedoen te kry. Tot onlangs toe nog was daar interessante artikels in die New Yorker oor onvoltooide vertalings van Marcel Proust (wat die langste roman in wêreldletterkunde geskryf het), te wyte aan die heengaan van die vertaler, wat toe reeds sy hele lewe aan A la recherche du temps perdu gewy het. Ons kan seker binnekort die eerste KI-vertaling daarvan verwag.
Die opleiding wat die meeste vertalers kry, veral in Suid-Afrika, is egter nie om eendag as literêre vertalers te praktiseer nie. ’n Mens kan verstaan hoekom: Literêre vertaling is méér as vertaling; dit is stiplees van ’n literêre teks, dit is hermeneutiek, dit is in baie opsigte kreatiewe skrywe, al bly jy lojaal aan die bronteks. En dit is nie eintlik ’n beroep waarvan ’n mens kan lewe nie. So dit is ernstig wat hier gebeur: Vertalers van nieliterêre tekste word geleidelik deur masjiene vervang, en goeie literêre vertaling is nie iets wat jy kan aanleer nie.
........
Literêre tekste het ’n melodie, ’n styl, ’n register – en KI kan dit nie hoor nie. Die robotvertaling is dus miskien grammatikaal korrek, maar dit sing nie.
........
Ek het al vir ’n outomatiese-vertaling-webwerf gevra om literêre uittreksels te vertaal om vir my honneursstudente te illustreer wat gebeur wanneer ’n mens kortpaaie kies. (Ek het weliswaar nogal ’n uitdagende teks gekies, selfs vir ’n robot: Lucky se monoloog.) KI sukkel met woordspeling, idiomatiese uitdrukkings, intertekstuele verwysings. Meer as enigiets anders: Literêre tekste het ’n melodie, ’n styl, ’n register – en KI kan dit nie hoor nie. Die robotvertaling is dus miskien grammatikaal korrek, maar dit sing nie.
Maar ek wonder oor iets anders: Wat moet ’n literêre vertaler maak met ’n roman wat passasies bevat wat deur KI geskryf is? (Daar is sulke romans, wat al in aanmerking gekom het vir die Booker-prys, en die “kunsmatige” passasies was duidelik aangedui.) Moet dit deur ’n vertaler of deur KI vertaal word? Moet daardie “kunsmatige passasies” deur ’n vertaler of ook deur KI vertaal word? En indien laasgenoemde, doen dit nie afbreuk aan ’n gesaghebbende prys nie?
Kom ek beantwoord ’n stukkie van die vraag van waarom KI nie sommer net ’n teks kan vertaal nie. Een van die karakters in jou teks praat van Tobie Wiese se “Wreed én mooi is die dood.” Ek dink KI sou nie daardie nuanse verstaan het om dit te kon invoeg nie. Wat was die Franse teks daar en hoe en onder watter omstandighede het jy besluit om van die bestaande woorde af te wyk? Daar is ook verwysings na Eugène Marais, na Karel Schoeman, AG Visser.
Nee, KI sou nie kreatief kon vertaal nie (want dit is kreatiewe voorbeelde waarna jy verwys, nie letterlike vertalings nie). Daarom beskou ek literêre vertaling as die laaste loopgraaf. Sommige van die intertekstuele verwysings na Afrikaanse tekste was baie na aan die twee brontekste – ek is verlei deur die idee dat as ek die sin net ’n bietjie draai, ek twee vlieë met een klap sou kon slaan: Ek sou hier en daar kreatief kon vertaal (in vertaalterme word dit “aanpassing” genoem, of “adaptation” in Engels), en ek sou ’n paar Afrikaanse aanhalings in een van die bekendste dramas in wêreldliteratuur kon inweef en steeds lojaal bly aan die bronteks. Ek het dit nie besluit of beplan nie, dit is spontaan gesuggereer deur my geheue; dit is hoekom ek dink dat literêre vertaling nie eintlik gedoseer kan word nie. Ons het almal verskillende boeke gelees, ons intertekstuele verwysingsraamwerk is iets baie persoonlik. Myne is die raamwerk van my era; dit weerspieël byvoorbeeld die spontane herinnering aan gedigte wat ons in klaskamers en vir kunswedstryde gememoriseer het. Hier is ’n paar voorbeelde: Eerstens, ’n verwysing na Eugène Marais se “Mabalêl”. In bedryf 1 troos Estragon die verskrikte Vladimir, wat dink Godot is op pad:
ESTRAGON | Jy’t my bang gemaak. |
VLADIMIR | Ek het gedink dis hy. |
ESTRAGON | Wie? |
VLADIMIR | Godot. |
ESTRAGON | Ag! Dis net die wind in die rietpensele. |
Die Franse reël lees:
ESTRAGON | Pah! Le vent dans les roseaux (letterlik, “die wind in die riete”). |
Dieselfde geld vir die intertekstuele verwysing na “Vet” van AG Visser:
Pozzo probeer om so natuurlik as moontlik op sy opvoustoel te gaan sit:
Net ’n oomblik! (Hy trek aan die tou.) Opvoustoel! (Hy wys met die sweep. LUCKY skuif die opvoustoel.) Nog! Daar! (Hy gaan sit. LUCKY tree terug, tel weer die tas en mandjie op.) So ja, en toe sit ek al.
Die Franse bronteks lees:
Me voilà réinstallé! (Letterlik, “Daar sit ek weer!”)
Soos bostaande twee voorbeelde, is die Schoeman-verwysing so naby aan die Franse bronteks dat lesers wat nie van my generasie is nie of ’n ander literêre verwysingsraamwerk het, dit miskien nie sal herken nie (“’n Ander plek” is ‘n variasie op “’n Ander land”, soos aangedui in eindnota 19 in die gepubliseerde teks), wat natuurlik ook ten doel het om die bronne van my verwysings te erken. Die Afrikaanse vertaling lees:
VLADIMIR | En waar was ons gisteraand, volgens jou? |
ESTRAGON | Hoe moet ek weet? ’n Ander Plek. ’n Ander kompartement. Leemtes is daar oral. |
Die Franse bronteks lees:
VLADIMIR | En waar was ons gisteraand, volgens jou? |
ESTRAGON | Hoe moet ek weet? ’n Ander Plek. ’n Ander kompartement. Leemtes is daar oral. |
In die geval van Tobie Wiese was die keuse meer kreatief. Hier is die Afrikaanse weergawe:
ESTRAGON | Wat wil jy hê moet ek sê? Jy wag altyd tot op die laaste. |
VLADIMIR | (Droomverlore) Tot op die laaste … (Hy peins.) Wreed én mooi is die dood. Wie het dit gesê? |
Die Franse bronteks lees:
ESTRAGON | Qu’est-ce que tu veux que je te dise, tu attends toujours le dernier moment. |
VLADIMIR | (rêveusement) Le dernier moment ... (Il médite.) C’est long, mais ce sera bon. Qui disait ça? |
Hier sou ’n letterlike vertaling nie sin maak nie: “Dis lank, maar dit sal goed wees.” Dit is een van daardie gevalle waar vertaling teksanalise vereis. Estragon bedoel dat Vladimir nie op sy blaas let nie – hy wag altyd “tot op die laaste”, maar vir Vladimir beteken “die laaste oomblik” iets meer filosofies, iets waaroor hy droom en mediteer. Weer eens is die beskikbaarheid van twee brontekste van onskatbare waarde – die selfvertaalde Engelse weergawe lees as volg:
VLADIMIR | (musingly) The last moment ... (He meditates.) Hope deferred maketh the something sick, who said that? |
Vladimir verdraai ’n aanhaling uit Spreuke 13:12: “Hope deferred makes the heart sick, but a longing fulfilled is a tree of life.” Jou vyfde vraag het hier betrekking: Beckett is ’n Ier, maar ’n Protestantse Ier, en dus iemand wat sy Bybel ken, maar in Engels. Die Franse sin is byna ’n Freudiaanse lapsus: Beckett ken die Bybel beter in Engels as in Frans. Die Franse sin kan beskou word as ’n vae verwysing na die Spreuke-aanhaling wat ons net danksy die latere Engelse vertaling herken. Ek wou die Afrikaanse vertaling so na as moontlik aan die eerste, Franse teks hou, en het dus net enkele woorde gehad om mee te werk: dernier moment / laaste oomblik, long/lank en bon/goed. Toe kom Tobie Wiese se titel by my op, ’n werklike publikasie, wat dus sou pas by “wie het dit gesê?”.
Wat was vir jou die belangrikste toe jy die teks vertaal het? Is dit soos iemand wat lirieke vir ’n lied skryf en dink hoe ’n koor die woorde sal sing en waar die woorde saam met die musiek sal hoort, as jy iets vir ’n akteur vertaal? Hoe die woorde in die Afrikaanssprekende se mond sal lê, hoe dit sal werk saam met die tonele wat oorgedra moet word, die alles wat hande vat as dit by die teater kom: die natuurlikheid van hoe die woorde moet vloei, maar ’n bewustheid dat die teks van ’n ander land af kom, en van ’n ander sfeer af, boonop, dat dit moet voel of dit hierso plaasvind, maar ook elders?
Ja, vir my is vertaling altyd ’n transponering; dit gaan oor klank. Soveel te meer wanneer ’n drama vertaal word. Die vertaalde woorde is nie stom nie, hulle gaan hardop uitgespreek word. Ek sal hulle egter nie natuurlik laat vloei as dit nie met die bronteks ooreenstem nie. Lesers sê dikwels van ’n vertaling, as ’n kompliment bedoel: “Dit vloei so mooi, dis asof dit in die teikentaal geskryf is.” Dit is egter nie ’n kompliment as die styl van die teikenteks nie ooreenstem met dié van die bronteks nie. Daar is ’n onuitgesproke pakt tussen skrywer en vertaler, een van lojaliteit, van getrouheid aan die skrywer wat jy vertaal.
........
Domestikeer jy (bring jy die skrywer na die leser toe) of vervreem jy (neem jy die leser na die skrywer toe, na sy kultuur en sy land)?
........
Die laaste deel van jou vraag handel oor ’n belangrike keuse, ’n vertaalstrategie waaroor die vertaler aan die begin van die vertaling moet besluit: Domestikeer jy (bring jy die skrywer na die leser toe) of vervreem jy (neem jy die leser na die skrywer toe, na sy kultuur en sy land)? Die een strategie is nie beter as die ander nie; daar is dikwels praktiese redes. As jy vervreem, en jou karakters het byname in die vreemde taal, hoe moet die akteurs dit uitspreek, en wie in die gehoor sal die bynaam verstaan? Hier dink ek aan ’n teks en ’n opvoering soos Oskar en die Pienk Tannie (Eric-Emmanuel Schmitt) – die kinders in die hospitaal het almal byname – wie in die Afrikaanssprekende gehoor sou dit in Frans verstaan? En wie sal seker maak die akteur spreek dit reg uit?
In alle tale klink dit dieselfde: “Ek het alleen gevoel. Ek het gedroom ek was gelukkig. Ek het verveeld gevoel. Ek het tyd verkwis. Komaan, die werk wag. Ek het gedroom ...” Mens voel verruk deur die eenvoudige woorde van die teks, en tog is mens kwaad. Vir die karakters wat aanhou wag, vir hulle onmag, vir Godot wat nie kom nie. Wat het jy gevoel terwyl jy dit vertaal het?
Ek vermoed jy is ’n baie positiewe mens. Ek, daarenteen, is melankolies – ek verwag altyd die ergste, en sien dit as positief dat ek voorbereid is daarop. Flaubert het van sy beroemdste romanskepping gesê: “Madame Bovary, c’est moi.” Ek sou kon sê: “Vladimir et Estragon, c’est moi.” Ek identifiseer met onmag, met ’n onbepaalde, sinlose gewag, met die hoop op iemand wat ’n verskil sal maak aan die uitsigloosheid van ons bestaan. Wat ek tydens die vertaalproses gevoel het, is ’n eindelose teerheid en begrip vir hierdie twee gebroke mans, hierdie “vriende sonder hoop” (Bernard Odendaal se mooi omdigting van Jacques Brel se “Les désespérés / Die wanhopiges”4).
Watter proses het jy gevolg toe jy dit vertaal het? Het jy elke dag ’n stukkie vertaal en aangegaan met ander werk? Of het jy nie daardie luukse gehad nie – moes jy onder druk vertaal? Vertel my van jou werkswyse en of hierdie vir jou soms net ’n alledaagse sleurtaak was, en of die reis tot by die voltooide teks die moeite werd was, tree vir tree?
Uitstekende vraag. Ideaal het die vertaler tyd en stilte nodig om die ekwivalent in sy of haar moedertaal te hoor. Ons wag vir Godot was ’n opdragwerk. Walter Strydom van Ahumba-produksies het my in Oktober 2023 gekontak en vertel van sy en Dion van Niekerk (albei dosente by die Dramadepartement van die Universiteit van die Vrystaat) se plan om die drama in Afrikaans te doen en gevra of ek kans sien om dit te vertaal. Ons het toe reeds saamgewerk aan ’n vorige produksie vir die Vrystaat Kunstefees, Tom gaan plaas toe, deur die Frans-Kanadese dramaturg Michel Marc Bouchard. Ons ken en vertrou mekaar. Dit was een van die grootste oomblikke in my lewe, asof Walter en Dion my gedagtes gelees het en geweet het dit is my gunstelingdrama en dat dit ’n gepaste manier sou wees om my verbintenis met die universiteit af te sluit. Daar was nie ’n kwessie dat ek dit nie sou aanvaar nie, al moes ek deur die nag werk. Opdragwerk vir kunstefeeste leer jou dissipline: Die regisseur moet die vertaalde teks op ’n sekere datum kry; die eerste lesing moet op ’n sekere datum gebeur (sodat daar nog tyd is om veranderinge aan te bring indien die akteurs of regisseurs ’n woordkeuse wil verander, wat hulle absoluut die reg het om te doen – dit is die produksie wat tel). Die akteurs moet genoeg tyd hê om hul woorde te memoriseer en die stuk te repeteer.
Ek het die Desembervakansie van 2023–4 gehad om ’n eerste weergawe te vertaal (dit troos my altyd as ek weet daar is al woorde op papier of op ’n skerm, want soms oorval ’n gevoel van paniek jou en dink jy die vertaling gaan nie werk in Afrikaans nie, en dat jy ’n hele produksie gaan laat verongeluk).
Ek het probeer om elke dag te vertaal, om nie die draad te verloor nie, maar daar was baie ander werk wat ook nie kon wag nie; 2024 was my laaste jaar van klasgee. Die voor- en nagraadse lesings moes voorberei word; my MA-studente moes die aandag kry wat hulle verdien. Ek vertaal altyd onder druk, selfs noudat ek afgetree is, want daar is steeds nagraadse studente, en artikels wat ek graag as navorsingsgenoot wil skryf. In Europa het die owerhede Vertalershuise ingerig waarvoor ’n mens kan aansoek doen. Ek kan my voorstel hoe wonderlik dit moet wees om jou van alles te kan afsluit en soggens op te staan net met die idee om verder te vertaal. Dit sou wonderlik wees om dit eendag te ervaar.
........
Vertaling is vir my soos legkaart bou (met baie, baie blou lug!): Dit neem lank om die stukkie te vind wat perfek pas. En wanneer dit gebeur, is dit ’n heuglike oomblik.
........
Ek het probeer om elke dag selfs net ’n paar sinne te vertaal. My leuse (dis ook ’n oudtydse ding, om ’n leuse te hê – ek hoort eerder in die 19de eeu!) is Plinius die Ouere se “Nulla dies sine linea” – “nie ’n dag sonder ’n sin nie”. Dit was ook Beethoven, Émile Zola en Stijn Streuvels se leuse. Jy moet voortdurend aan jou vakmanskap werk, bewus bly van die vertaaluitdagings; ek glo ook vas dat jou brein aanhou soek vir die regte woord, wat soms dae later na die oppervlak van jou bewussyn kom. Vertaling is vir my soos legkaart bou (met baie, baie blou lug!): Dit neem lank om die stukkie te vind wat perfek pas. En wanneer dit gebeur, is dit ’n heuglike oomblik. Ek hou al jare dagboek, so ek het vir myself boek gehou van die proses. Ek sal nie die baie oomblikke van twyfel en moedeloosheid hier aanhaal nie (dagboeke is ook die arm man of vrou se sielkundige!), eerder een van die goeies, toe ek uiteindelik die ekwivalent gevind het vir die pyptoneel in bedryf 1, en dankbaar was vir “my taal wat al hierdie wonderlike woorde het”. Dit was die oomblik wat ek gedink het Godot in Afrikaans mag dalk net werk.
Literêre vertaling is vir my die heel lekkerste aktiwiteit op die hele aarde. Ek het nog nooit ’n teks vertaal wat nie ’n absolute gunsteling was nie, en dit is ook ’n geluk, ’n luukse. Dit was nog nooit sleurwerk nie – inteendeel: Dit is waarna ek my gewend het gedurende my akademiese loopbaan wanneer die oorweldigende administrasie my ondergekry het. Om literêr te vertaal is om in kontak te wees met woordmeesters (en -meesteresse!), om hulle as mentor te hê. Jy weet die teks is goed, dit het pryse verower, bekendheid verwerf; jou werk is nou om dit ook in ’n ander taal en kultuur te laat werk.
Die eerste rollesing van Godot het op 12 Maart 2024 plaasgevind. In die teenwoordigheid van Dion en Walter het die vier wonderlike akteurs (Gerben Kamper, Chris Vorster, Peter Taljaard en Charl Henning) verskillende karakters geïnterpreteer; ek het ingestaan vir die seun wat Godot se boodskappe bring, ’n rol wat later deur Sibabalwe Jokani gespeel sou word. Gerben het ’n paar waardevolle voorstelle vir sy monoloog gemaak, wat deel geword het van die gepubliseerde teks. Na die rollesing het die vertaler teruggestaan en het die regisseur oorgeneem. Soos dit moet wees.
Soos die skrywer ’n skrywe skryf en die teks noodgedwonge moet vrylaat, moet die vertaler dit ook doen. Wat was jou gedagtes toe jy die interpretasie daarvan op die verhoog sien? Het jy, wat intiem met die woorde gewerk het, iets nuuts gehoor toe jy dit op die planke beleef het?
Uitstekende vraag. Om dit te beantwoord moet ek eers my persoonlike siening van literêre vertaling verduidelik. Ek het grootgeword in ’n tweetalige huis (my pa was van Skotse oorsprong en het, veral buite die huis, meer Engels as Afrikaans gepraat; my ma was Afrikaans). Ek hou van aksente en van die klank van verskillende tale. Voor haar troue het my ma gedroom van ’n loopbaan as pianis. Sy het elke dag klavier gespeel; sy kon ook improviseer en ligte musiek in verskillende toonaarde speel. Ek het nie die pianis geword wat sy gehoop het ek sou word nie (ander sussies en nefies het wel), maar my siening van vertaling is direk beïnvloed deur my veeltalige ouerhuis en die klank van ’n partituur in ’n nuwe toonaard. Literêre vertalings is vir my transponerings in ’n ander toonaard. Noem dit styl, register of enige ander term – maar dit moet in die eerste plek musiek wees in ’n ander taal en kultuur. Ek lees die hele tyd alles hardop; ek speel die drama self, hardop. Dan kom daar nog twee ander belangrike aspekte by: Ideaal vertaal jy in jou moedertaal in, na jou eerste taal. Ek vind dat hoe goed my beheersing van ander tale ook al is (ek het ’n groter woordeskat in Frans, want ek het letterkunde gedoseer tot ek afgetree het, en ek het ook ’n vadertaal, Engels), ek anders reageer op ’n vertaling wat ek na Afrikaans gedoen het. Dis asof ek die teks vir die eerste keer verstaan in die woorde wat ek by my ma geleer het; die klank van Afrikaans het ’n emosionele uitwerking op my, ek “herken” dit op ’n byna sintuiglike manier. Dit is my eerste taal, ook wat kronologie betref. My oudste taal.
Net ’n laaste opmerking oor die vertaalkuns: Vertalers ervaar, veral wanneer hulle begin vertaal, ’n vreemde nostalgie na die oorspronklike teks. ’n Onbekende persoon het die frase “traduttore, traditore”5 geformuleer wat ons daaraan herinner dat jy, met die beste wil ter wêreld, nie sonder verlies die bronteks na ’n totaal ander taal en kultuur kan verplaas nie. Daar was soveel dialoog in Waiting for Godot wat ons as studente gememoriseer het en wat ons nie kon wag om in die regte situasie te gebruik nie. In ’n plattelandse dorp soos Bloemfontein was een van ons gunstelingopmerkings Estragon se repliek, kort voor Lucky se monoloog:
Rien ne se passe, personne ne vient, personne ne s’en va, c’est terrible.
Nothing happens, nobody comes, nobody goes, it’s awful!
Niks gebeur nie, niemand kom nie, niemand gaan weg nie, dis verskriklik.
Daar is waarskynlik baie interessanter voorbeelde, maar ek het hierdie Afrikaanse sin as “nuut” ervaar omdat ek 50 jaar lank die Franse en Engelse sinne gehoor en gebruik het. Soms is dinge “nuut” in ’n baie persoonlike sin: Ek het nou die Afrikaanse ekwivalent van die mantra, maar met die mense wat saam met my in die Franse en Engelse klasse gesit het, het ek lankal kontak verloor. Dit was dus ook ’n reis terug in tyd vir my toe ek die produksie sien.
Wat ek ook ervaar het, was iets soos ’n verplasing na ’n tyd in die mensdom se geskiedenis voor die Toring van Babel – dit was asof ek die Franse, Engelse en Afrikaanse tekste gelyk kon hoor. Geen hardop lees in die stil ruimte waarin jy vertaal, kom by die polifonie van ’n verhoogproduksie nie – die intonasie wat die verskillende akteurs aan die woorde gee, die klank van hul stemme, hul gesigsuitdrukkings, hul lyftaal, hoe die dialoog soms ’n solo is, dan ’n duo, ’n trio in die teenwoordigheid van ’n swygende Lucky, ’n kortstondige kwartet aan die einde van Lucky se enigste monoloog ... dit was magies. Dank vader Wagner het besluit dat die ligte in die ouditorium uitgedoof moet word – ek was baie emosioneel. En ek was so trots op Afrikaans, op die taal se buigbaarheid en kreatiewe moontlikhede.
Ek dink ’n vertaler is nie so besitlik oor sy teks as ’n skrywer nie, want dit was iemand anders se skepping. My gunsteling-genre om te vertaal, is drama (ek hou daarvan om dialoog te vertaal), so ek is so dankbaar wanneer daar ’n produksie is (dis baie duur: vertaalregte, opvoerregte, produksiekostes, ens) dat ek glad nie omgee om die teks vry te laat nie. Ek wil weer die beeld van die partituur gebruik: Ek is seker Beethoven kon selfs as ’n dowe komponis hoor wat hy komponeer, maar niks kom by die klankontploffing van ’n dramaproduksie nie.
Wat dink jy is die belang daarvan om ’n dramateks uit ’n ander land vir ’n Afrikaanse gehoor te vertaal en nuwe lewe daarin te blaas?
Ek dink enige letterkunde moet ook ’n vertaalkanon hê. Daar is genoeg voorbeelde van hoe skrywers in ’n sekere taal beïnvloed word deur wat hulle in vertaling lees – dit is ’n nodige en gesonde kruisbestuiwing. Dit is ook nuttig uit ’n opvoedkundige oogpunt: Vertaalde dramas kan deel word van die lys voorgeskrewe titels vir skole en universiteite. Dramaleerlinge en -studente kry dus die geleentheid om wêreldletterkunde op ’n plaaslike verhoog te interpreteer. Maar wat Godot betref, gaan ek baie spesifiek wees: Ek glo absoluut dat ’n mens ’n drama anders ervaar in jou moedertaal. Die nuwe lewe wat ek daarin geblaas het, is die aanpassings wat ek gemaak het vir ’n Afrikaanssprekende gehoor, veral in Lucky se monoloog. En sodoende word die lewe van die oorspronklike teks ook deur elke nuwe vertaling verleng.
Wat was vir jou die grootste uitdagings van die teks toe jy dit vertaal – en wat het jou die grootste vreugde verskaf?
Ek het hier bo genoem dat ons generasie nog aanhalings uit ons kop geleer het. Soms word ’n teks “gereduseer” tot hierdie aanhalings, terwyl die res vervaag. Wanneer jy dan die res van die dialoog wat vertaal moet word, 50 jaar later herontdek, is dit nogal ’n skok! Sommige van die monoloë, veral Lucky s’n, was ontsettend uitdagend. Nie net om ’n ekwivalent in Afrikaans te vind nie, maar omdat ek die akteur op ’n manier tegemoet wou kom deur ’n sekere ritme aan die teks te gee wat sou help met die memorisering van die moeilike teks. (Sommige teatergangers het my gevra of Gerben sommer net brabbel, maar nee, elke woord is in die teks en het betekenis!) Ek is besig om ’n artikel oor daardie monoloog te skryf – elke woord was ’n uitdaging. (My dagboek bevat talle verwysings na “daardie verskriklike monoloog” waaraan ek seker die meeste tyd spandeer het van alle passasies in die drama; maar toe dit klaar is, en Gerben dit sy eie gemaak het, het hy daarmee die Fiësta vir beste ondersteunende akteur gewen).
Die grootste vreugde was die vertaling van nuwe gunsteling aanhalings wat nou, 50 jaar later, tot my spreek, soos wanneer Estragon in die tweede bedryf, terwyl hy die “boomoefening” doen, vra: “Dink jy God kan my sien?” Dit gaan oor baie meer as sy boomnabootsing – Estragon stry teen die nietigheid van sy bestaan, ons bestaan; daar is iets byna desperaat aan daardie kort, eenvoudige vraag. Ons wil miskien almal, soos Tiemie in Siener in die suburbs, van geweet wees.
’n Ander nuwe gunstelingaanhaling wat my vreugde verskaf (omdat dit so goed pas by wat nou in die wêreld gebeur) is wanneer Pozzo sê:
Laat ons dus nie kwaadpraat van die tye waarin ons lewe nie, dis nie erger as vorige tye nie.
(Stilte) | Laat ons dit ook nie goedpraat nie. |
(Stilte) | Laat ons eerder glad nie daaroor praat nie. (Stilte) |
Dit maak my ook bly wanneer Beckett se voortdurende wisseling tussen melodrama, klug en werklike, diepsinnige tragedie ook in die Afrikaanse vertaling werk. Beckett is nooit sentimenteel nie, soos in die volgende repliek gesien kan word (Estragon het pas ’n pynlike skop op die been van Lucky gekry; hy vermoed hy sal nooit weer kan loop nie):
VLADIMIR (Teer) | Ek sal jou dra. (Pouse) As dit nie anders kan nie. |
Watter ander toneelstukke het onlangs tot jou gespreek? Ek weet jy was opgewonde oor sekere items by die KKNK.
Dit is ’n soort outomatisme by my om veral by die lees of bywoon van ’n drama te wonder of dit as ’n vertaling sou werk, hetsy van Afrikaans na Frans of andersom. Daar is talle toneelstukke wat oor die algemeen tot my spreek, maar wat nie noodwendig vertaal kan word nie (te veel kulturele verwysings) of wat handel oor figure wat vir my interessant is (soos Sarah Bernhardt, die Hertog van Reichstadt, Napoleon se seun, of die Chevalier de Saint-George, die hofkomponis van Marie Antoinette), maar nie noodwendig vir ’n plaaslike gehoor nie. Hoe minder kulturele verwysings daar is, hoe meer “universeel” is ’n drama dikwels. (Yasmina Reza, die dramaturg van ‘Kuns’ wat onlangs by die KKNK opgevoer is, se dramas werk in enige taal.) Wat kontemporêre dramas betref, hou ek baie van Reza en van Florian Zeller (sy toneelstuk Le fils of Die seun is onlangs verfilm, met hom as regisseur; Suid-Afrikaanse gehore het al twee van sy ander dramas in Afrikaans gesien: Pa en Die moeder). Wat klassieke stukke betref, is twee van my gunstelinge Cyrano de Bergerac en Molière se Die misantroop, maar dit is groot produksies waarvoor daar nie meer geld is nie, en miskien is daar in ’n land met soveel sosiale uitdagings soos Suid-Afrika nie op die oomblik ruimte vir periodedramas nie. (Dit bevat wel van die mooiste monoloë wat ooit in Frans geskryf is.)
Ek het jare gelede daarvan gedroom om ’n paar van my gunsteling- Suid-Afrikaanse dramas in Frans te vertaal (soos Kanna hy kô hystoe en Siener in die suburbs). Dramas wat in ’n sosiolek geskryf is, is egter buitengewoon moeilik en soms selfs onmoontlik om te vertaal, want een sosiolek kan nie met ’n ander vervang word nie. Die ironie is dus dat sommige van die mees outentieke Suid-Afrikaanse dramas nie in Frankryk en ander Europese lande bekend is nie. Ek sal dus eerder daarop konsentreer om Franse dramas en frankofone dramas in Afrikaans te vertaal.
Ek het spesiaal KKNK toe gegaan om Marthinus Basson se produksie van ‘Kuns’ te sien, en dit was absoluut die moeite werd. Drie fenomenale akteurs, en ’n gesoute regisseur wat die stuk voorheen in Engels opgevoer het. (Ek het baie respek vir die vertaler, Christopher Hampton, wat beide Yasmina Reza en Florian Zeller in Engels vertaal.) Twee van die akteurs (Wessel Pretorius en Wilhelm van der Walt) het in die vorige Engelse produksies gespeel, en het dus in ’n sin die werk van ’n tolk gedoen, al was dit onbewustelik. Ek het ongelukkig nie baie ander produksies gesien nie, maar Die een wat bly en Speelgoed van glas was onvergeetlik.
Noudat jy afgetree het: Waarmee is jy besig?
........
Daar is soveel wat ek nog wil doen om ’n argief agter te laat oor dit wat in meer as 100 jaar in die taalpaar Frans-Afrikaans bereik is; ek hoop daar sal genoeg tyd, krag en helderheid wees vir die taak.
........
Ek voel nog nie afgetree nie – ek sien uit na daardie gevoel! Ek het nog ’n paar nagraadse studente en ek is ’n navorsingsgenoot by die Universiteit van die Vrystaat. Maar op 1 Januarie 2025 wou ek begin met ’n projek om die eerste dag van my aftrede te vier, en daar was geen twyfel oor watter tipe aktiwiteit dit sou wees nie: ’n vertaling. Dit is ’n prosateks deur ’n vroulike Franse Nobelpryswenner wat later vanjaar by Naledi sal verskyn, en dit sal altyd vir my besondere persoonlike betekenis hê, want dit was die vertaling wat die volgende fase van my lewe ingelui het. Dit is daarom ook ’n teks wat ek met sorg gekies het, ook om persoonlike redes: Die ander dogter deur Annie Ernaux. Waarmee ek dus besig is, is in orde van belangrikheid: vertalings, my groot liefde; navorsing (daar was min tyd vir uitgebreide navorsingsprojekte die laaste paar jaar; in ’n poging om ons stamlandtale op tersiêre vlak te behou, is die dosentekorps landswyd baie verklein); die lees van boeke wat ek oor die jare aangekoop het en wat ’n klein biblioteek kan vul (ek hou van papierboeke); laastens, die beplanning van ’n reis na Frankryk om my loopbaan te vier in die land, kultuur en taal waarvan ek waarskynlik meer weet as van my eie. Sonder dat ek spesifiek daaraan dink, is ek ook intens daarvan bewus dat die tyd vlieg. Daar is soveel wat ek nog wil doen om ’n argief agter te laat oor dit wat in meer as 100 jaar in die taalpaar Frans-Afrikaans bereik is; ek hoop daar sal genoeg tyd, krag en helderheid wees vir die taak.
Eindnotas
1 Alle aanhalings uit die Afrikaanse vertalings is afkomstig uit die Naledi-uitgawe van 2024: https://naledi.co.za/product/ons-wag-vir-godot.
2 Alle aanhalings uit die oorspronklike Franse uitgawe is afkomstig uit die Éditions de Minuit-uitgawe van 1952.
3 Alle aanhalings uit die oorspronklike Engelse uitgawe is afkomstig uit die Faber and Faber-uitgawe van 1956.
4 Piaf & Brel: Luisterryk! Chanson-omdigtings deur Naòmi Morgan en Bernard Odendaal. Imprimatur, Pretoria, 2023.
5 “Vertaler, verraaier.”
Lees ook:
Tien vrae: Naòmi Morgan oor die vertaling van Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran
Die Johann Rossouw-gespreksreeks: "Die hede en die toekoms volgens Michel Houellebecq"
’n Onderhoud met Catherine du Toit oor Afrique mon désir en die Rabearivelo-poësievertaalprojek
Pater Meus deur Mario Relandini, uit Italiaans vertaal deur Rina Cascione: ’n resensie
Heil die Leser!: Vertaalkuns as tweespraak – Mario Relandini en Rina Cascione
’n Ondersoek na die gebruik van vertaalmetodes deur Afrikaanstaalverwerwingstudente
Die vertaling van diverse Coloured vrouestemme in die Afrikaanse poësie: ’n feministiese benadering
The post Ons wag vir Godot: ’n onderhoud met die vertaler Naòmi Morgan first appeared on LitNet.
The post <em>Ons wag vir Godot</em>: ’n onderhoud met die vertaler Naòmi Morgan appeared first on LitNet.