.........
Die eenvoudigste aanduider van Afrikaans se lewenskragtigheid is hoeveel Afrikaanssprekers daar steeds is. Hulle vorm ook, straks naas Engels, die mees diverse groep in die land: Meer as sewe miljoen moedertaalsprekers en daarnaas duisende mense wat die taal kan verstaan en praat is nie te versmaai nie.
.........
Ek het onlangs saam met my dogter se skoolgroep by die tafel in die Taalmuseum in die Paarl gestaan waar die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in 1875 gestig is en daar ook besluit is om ’n taal te maak. Dit is 150 jaar gelede, maar die diverse wortels en ontwikkeling van Afrikaans strek selfs verder terug. Dit is opsluit ’n Indo-Europese taal wat in Afrika ontstaan het.
Ek het onwillekeurig teruggedink aan al die struikelblokke wat nog gewag het en oorkom moes word. Nie net was Engels ’n bedreiging nie, maar ook Nederlands, en daarmee saam was ook die volwaardige ontwikkeling van Afrikaans nog ’n uitdaging. Dit was inderdaad ’n spreekwoordelike berg om te klim en mense oor ’n wye spektrum het sedertdien gewigtige bydraes gelewer. Daar was talle en gedugte agterhoedepogings om Nederlands ten gunste van “Afrikaans die patoistaal” onder te ploeg. ’n Taal moes immers nog gemaak word.
........
’n Taal – en veral in die geval van Afrikaans as een van vele minderheidstale in ’n multikulturele land – was en is onlosmaaklik met die politiek, ekonomie, sosiale weefstof en onderskeie tydsgeeste vervleg. Stryd, gebruikswaarde, politieke mag en teenstand, sosiale afkeuring en ’n hele boel faktore speel ’n rol in die lewe van ’n taal.
........
Ek het tewens gedink dat ofskoon verskeie mylpale in Afrikaans gevier kan word, dit selfs noodsaakliker is dat die lot en lewensvatbaarheid van ’n betreklik jong taal met talle hedendaagse uitdagings veel eerder in die hede en toekoms gereeld bedink moet word. Dit geld vir almal wat die taal in een of ander mate aanwend. ’n Taal – en veral in die geval van Afrikaans as een van vele minderheidstale in ’n multikulturele land – was en is onlosmaaklik met die politiek, ekonomie, sosiale weefstof en onderskeie tydsgeeste vervleg. Stryd, gebruikswaarde, politieke mag en teenstand, sosiale afkeuring en ’n hele boel faktore speel ’n rol in die lewe van ’n taal.
Dit is daarom nodig om bestek op te neem oor waar die taal hom bevind en waarheen dit tot langtermynoorlewing en voorspoed gestuur moet word. In besigheid gebruik ons die alombekende SWOT-ontleding vir organisasies en maatskappye. Hierdie ontleding behels besinning oor die sterk punte, swak plekke, geleenthede en bedreigings (strengths, weaknesses, opportunities and threats) wat enige entiteit of verskynsel in die gesig staar. Dit kan uiteraard ook op tale van toepassing gemaak word.
Die volgende SWOT-ontleding poog om, sover moontlik maar beslis nie heeltemal volledig nie, ’n blik op Afrikaans vandag te verskaf. Bowenal is dit daarop gemik om as ’n beginpunt vir verdere denke en gesprekke te dien – nie as die finale woord nie. Dit sal die wydverspreide fatalisme maar ook naïewe optimisme wat vaardig onder groot segmente van die Afrikaanssprekende bevolking vaardig is, temper. Maar vir ons wat die taal wil koester en bevorder, sal dit hopelik hoop, motivering sowel as nugtere realisme bied om die stryd om Afrikaans se vooruitgang met feite en doelgerigtheid voort te sit.
Sterk punte
Die eenvoudigste aanduider van Afrikaans se lewenskragtigheid is hoeveel Afrikaanssprekers daar steeds is. Hulle vorm ook, straks naas Engels, die mees diverse groep in die land: Meer as sewe miljoen moedertaalsprekers en daarnaas duisende mense wat die taal kan verstaan en praat is nie te versmaai nie. En dit is net in Suid-Afrika. Namibië se sprekers sowel as diegene in ander lande kan hierby ingesluit word. Uiteraard besig almal nie dieselfde variëteite nie – dis normaal en selfs verreikend – maar dit bly in wese Afrikaans wat gepraat word. Dit is veel groter as ’n menigte Europese, Asiese en Afrika-tale, soos Sloweens, Fins, Deens, Letties, Sotho en al die Tibettaanse tale saam. Trouens, verreweg die meeste tale in Afrika is kleiner as Afrikaans, en die taal is amper so groot soos Sweeds, Sjona en Hongaars. Tale met veel minder sprekers bly oorleef, veelal onder erge verdrukking en diskriminasie.
Hoewel Afrikaanssprekers ook verspreid in Suid-Afrika woon, is hulle boonop redelik gekonsentreerd in sekere gebiede. Dit is die vernaamste taal in Namibië en die westelike helfte van Suid-Afrika. Hierbenewens het Afrikaanssprekendes in provinsies soos Gauteng (veral Pretoria en die Oos- en Wes-Rand) en die Vrystaat ’n sterk teenwoordigheid.
Dit versterk weer die institusionele en gebruikswaarde van Afrikaans. Die Afrikaanse gemeenskap is op verskeie maniere beter georganiseerd rondom en ten behoewe van die taal. Verskeie burgerlike organisasies en hul lede is ywerig besig om die taal te bevorder, van die Voortrekkers tot die ATKV, Akademie vir Wetenskap en Kuns, die Afrikaanse kerke en DAK-netwerk. Engels het nie hierdie pogings nodig nie en dit bestaan helaas nie by die res van Suid-Afrika se tale nie. Altans nie tot ’n betekenisvolle mate nie.
Ondanks die getal enkelmedium en selfs dubbelmedium Afrikaanse skole wat oor die afgelope dekades afgeneem en dus volledig verengels het, is daar steeds baie Afrikaanse openbare en private skole in Suid-Afrika – hetsy enkel- of dubbelmedium. Hulle is uiteraard geleë in gebiede met hoë konsentrasies Afrikaanssprekendes, en ’n groot aantal van hulle is volhoubaar Afrikaans. Dit is ook ’n voldonge feit dat Afrikaanssprekendes toenemend na sulke gebiede migreer en dus die konsentrasieproses spontaan aandryf.
........
Voorts is die Afrikaanse kunste ongekend robuus. Kyk maar op Showmax en ook ander stromingsdienste hoeveel Afrikaanse rolprente (kort of vollengte) die lig sien. Voeg hierby die wye verskeidenheid sepies, natuurprogramme, verhoog- en musiekoptredes en feeste, en Afrikaans se kulturele en ekonomiese waarde is onteenseglik.
........
Publikasie in Afrikaans staan ook steeds sterk. Afrikaanse akademiese joernale (soos LitNet Akademies en die Akademie s’n) is volop, en naas Engels is Afrikaans die enigste ander Suid-Afrikaanse taal met sy eie afdeling in boekwinkels, of ten minste ’n aansienlike aanbod. Afrikaanse skrywers skryf mildelik in elke moontlike genre en in die akademiese sfeer. Voorts is die Afrikaanse kunste ongekend robuus. Kyk maar op Showmax en ook ander stromingsdienste hoeveel Afrikaanse rolprente (kort of vollengte) die lig sien. Voeg hierby die wye verskeidenheid sepies, natuurprogramme, verhoog- en musiekoptredes en feeste, en Afrikaans se kulturele en ekonomiese waarde is onteenseglik.
Die Afrikaanse media is desgelyks indrukwekkend, nieteenstaande heelwat terugslae en verliese oor die jare asook die swak gehalte van sommiges. Hulle moes desnoods aanpas terwyl sekeres gesterf het. Die toemaak van Afrikaanse koerante is egter nie ’n nuwe verskynsel nie en vind reeds vanaf die begin van die 20ste eeu plaas toe Die Afrikaanse Patriot (wat in 1876 gestig is) in 1904 gesluit en die jaar daarna weer as die tweetalige Paarl Post (wat vandag steeds so uitgegee word) verskyn het. Die Transvaler en Landstem is net twee voorbeelde van afgestorwe koerante. Aanpassing, sluitings en nuwe produkte en tegnologie kenmerk die Afrikaanse landskap al vir ’n geruime tyd. Vandag is daar geen nasionale Afrikaanse koerant beskikbaar nie en Die Burger is die enigste streekskoerant, maar daar is steeds talle Afrikaanse gemeenskapskoerante in gedrukte vorm beskikbaar. Inmiddels is daar nog heelparty gedrukte Afrikaanse tydskrifte op winkelrakke. Almal het wel aanlyn ekwivalente.
........
Afrikaanssprekendes se vindingrykheid is die taal se grootste bate, want daar word kwistig in Afrikaans gedig, gedebatteer, gesing, toneel gespeel en geskryf.
........
Die internet is ’n lewendige ruimte vir Afrikaanse koerante, tydskrifte en ander meningsruimtes. Wat die uitsaaimedia betref, is daar ook steeds ’n wye verskeidenheid in liniêre ruimtes en in die eter (op YouTube en ander podsendings) beskikbaar. Die inhoud is uiteenlopend wat inhoud en ideologie betref. Hieroor kan veel verder uitgebrei word, maar die feit dat ek hierdie meningstuk via die internet laat publiseer en u dit hier lees, lewer reeds afdoende bewys hiervan. Waar die staat, en die SAUK in besonder, ruimtes vernou en uitgeskakel het, is ander geleenthede aangegryp. Afrikaanssprekendes se vindingrykheid is die taal se grootste bate, want daar word kwistig in Afrikaans gedig, gedebatteer, gesing, toneel gespeel en geskryf.
Laastens kan bygevoeg word dat Afrikaans in baie gevalle steeds die de facto-taal, hoewel nie die amptelike nie, in ’n menigte werkplekke is. Dit is veral die geval in omgewings met hoë konsentrasies Afrikaanssprekendes. Die amptelike dokumentasie van ’n bepaalde besigheid sal Engels wees om hul diverse klante- of kliëntebasis te dien, maar die omgangstaal tussen kollegas en ook met heelwat klante en kliënte geskied in Afrikaans.
Swak plekke
Afrikaans se tekortkominge of swak plekke kom intern voor. Net soos maatskappye en lande dikwels deur interne swakhede gekniehalter word, so ook word tale knaend van binne gerysmier. Dit is nie altyd doelbewus of kwaadwillig nie, maar dit gebeur.
........
Nes die gemiddelde Afrikaanssprekende is ek self geen puris nie, en ek erken dat dit die karakter van sommige variëteite van Afrikaans is, maar Afrikaans moet tog Afrikaans bly om as taal te oorleef. Dit beteken dat die taal se woordeskat ryk ingespan moet word, want anders is dit net ’n glybaan na Engels.
........
Wat my betref, is Afrikaans se eerste swak plek in hoe dit gebruik word. Ek rig byvoorbeeld Afrikaanse debat by die Hoër Jongenskool in die Paarl af en woon gereeld skooldebatte by en beoordeel hulle. Hierdie debatte is meestal intelligent en vurig, en groot moeite word klaarblyklik daarmee gedoen, maar die taalgebruik van Afrikaanse leerlinge is nie op peil nie. Taalgebruik is een van die hoofkriteria wat gebruik word om hierdie debatte te beoordeel en maklike punte word hiermee weggegooi. Engelse woorde word byvoorbeeld as plaasvervangers vir eenvoudige Afrikaanse woorde gebruik. Dit het baie met sosiale media en gebrekkige leesgewoontes te doen, maar daar word eenvoudig net nie moeite gedoen om aan ’n beter woordeskat te werk nie. Dit kom nie net by kinders voor nie, maar ook onder volwassenes. Nes die gemiddelde Afrikaanssprekende is ek self geen puris nie, en ek erken dat dit die karakter van sommige variëteite van Afrikaans is, maar Afrikaans moet tog Afrikaans bly om as taal te oorleef. Dit beteken dat die taal se woordeskat ryk ingespan moet word, want anders is dit net ’n glybaan na Engels.
Verengelsing is immers nog ’n voorkombare maar wesenlike gevaar vir Afrikaans. In weerwil van al die bewyse dat moedertaalonderrig die beste vir kinders is en dat slegs gangbare Engels nodig is om op enige ekonomiese terrein te floreer, dink te veel Afrikaanse ouers nogtans dat dit nodig is om hulself en veral hul kinders te verengels.
Dit gaan gepaard met ’n algehele gebrek aan selfgelding wanneer dit by taal kom – selfs wanneer dit maklik is. Ons aanvaar Engels gelate as dit onnodig aan ons opgedwing word. Afrikaans se kreeftegang by universiteite kan juis daaraan toegeskryf word dat Afrikaanssprekende studente bloot Engelse eerder as Afrikaanse lesings bygewoon het. Ek het dit self by die eertydse Randse Afrikaanse Universiteit (RAU), nou die Universiteit van Johannesburg (UJ), as student beleef.
........
Daar is baie faktore wat ons verdeel – soos ras, klas, die verlede en hoe Afrikaans gebruik moet word – maar ons moet Afrikaans immers as rede vir groter eenheid eerder as verdeling beskou.
........
Die interne verdeeldheid onder Afrikaanssprekendes is ’n onnodige werklikheid wat hok geslaan moet word. Te veel individue en organisasies met gevestigde belange en eng benaderings fokus slegs op wat gerieflik is en verloor die groter Afrikaanse prentjie uit die oog. Daar is baie faktore wat ons verdeel – soos ras, klas, die verlede en hoe Afrikaans gebruik moet word – maar ons moet Afrikaans immers as rede vir groter eenheid eerder as verdeling beskou.
Geleenthede
Die geleenthede vir Afrikaans is legio en kan op die bestaande sterk punte voortbou of nuut geskep word. Daar is nog ruim plek in die Afrikaanse uitsaaiwese, boekewêreld en ander media vir nuwe produkte wat in Afrikaans geskep word en op Afrikaans gerig is. Daar is nisruimtes wat nog nie naastenby volledig of selfs deels ontgin is nie. Dit beteken ook nie dat eenheid-in-verskeidenheid en wederkerige respek altyd na totale inklusiwiteit hoef te lei nie. Dis hoekom daar nismarkte met ’n bepaalde inslag en produk is wat kommersieel lewensvatbaar is.
Lees en skryf in Afrikaans is ewe belangrik en stellig ’n noodsaaklikheid vir die taal om behoue te bly. Daarom moet meer mense Afrikaanse boeke en materiaal lees en hulle skriftelik in Afrikaans uitdruk. Ouers moet self lees, vir hul kleiner kinders lees en hul groter kinders aanmoedig om te lees. Boeke kan aan minderbevoorregte kinders en gesinne geskenk word. Dis iets wat hulle dalk net lojaal jeens die taal sal hou en hulle later uit die spiraal van armoede kan bevry.
........
Daar is ongelooflike en mildelike beroepsgeleenthede in Afrikaans en baie keer is Afrikaans juis die sleutel tot ’n werksgeleentheid.
........
Anders as in 1875 en by soveel ander buigpunte in die geskiedenis het ons reeds ’n taal wat gemaak is. Soos by die sterk punte genoem, is daar bestaande linguistiese infrastruktuur waarop voortgebou en verbeter kan word. Wye deelname moet aangemoedig word om in Afrikaans te skryf, te praat, te debatteer en te leef. Die wanbegrip dat “die wêreld (én Suid-Afrika) Engels is” moet beter reggestel word. Daar is ongelooflike en mildelike beroepsgeleenthede in Afrikaans en baie keer is Afrikaans juis die sleutel tot ’n werksgeleentheid. Dit hoef nie ’n keuse tussen tale te wees nie, want meer is in hierdie geval beslis beter. Leer sommer ’n Afrika- en Europese taal by!
Hoewel daar weliswaar onder Afrikaanssprekendes onenigheid oor verskeie sake bestaan, skep Afrikaans wel groter eenheid en lojaliteit onder sy sprekers. ’n Familielid van Pretoria wat onlangs by ons in die Boland kom kuier en saam skolesport hier bygewoon het, merk daarna op dat wit en bruin Afrikaanssprekendes hier “een is” danksy die taal en sy instellings. Dis dalk ’n oppervlakkige waarneming wat nuanse kort, maar dit beteken nie dat dit grootliks onwaar is nie. Dit beteken ook nie dat verengelste Afrikaanse ouers en kinders nie weer na die taal teruggelok kan word nie. Ditto met die bevordering van die taal onder mense wat dit gebrekkig kan besig of dit wil aanleer.
Bedreigings
Daar is helaas ’n string risiko’s vir die taal wat ek graag in meer diepte sou wou bespreek. Demografie is een van die vernaamstes. Emigrasie en ’n laer aanwaskoers is slegs twee voorbeelde. Semigrasie is ’n gemengde seën, en nie heeltemal skadelik nie. Verstedeliking raak die taal en sy skole op die platteland in veral in die noorde en sentrale dele van die land. Die emigrasie van gegoede Afrikaanssprekendes laat die vraag na Afrikaanse produkte daal. Ouer wordende inwoners en boere op die platteland alleen is nie genoeg om die taal op die duur daar te laat oorleef nie. Beeld en Rapport se gedrukte koerante het toegemaak juis omdat hul verspreiding na ’n toenemend yl bevolking oor ’n groot geografiese gebied nie meer haalbaar was nie.
Derhalwe is daar ook die druk wat Engels sowel as die politiek skep. Die Bela-wetgewing en gereelde (en soms geregverdigde) druk deur die owerhede om skole te verengels is wesenlike gevare vir Afrikaans. Beperkte opsies vir betekenisvolle naskoolse Afrikaanse opleiding laat tewens vrae ontstaan oor of enige opleiding in Afrikaans hoegenaamd nodig is aangesien die meeste van ons buitendien tweetalig is. Die prestige, praktiese nut en alomteenwoordigheid van Engels skep bykomende druk.
.........
Om die hoër funksies van Afrikaans te verloor is tragies, maar ’n minderheid Afrikaanssprekendes het werklik daarmee te doen. Die praktiese wegkalwing van die taal is waarskynlik dodeliker. ’n Taal moet eerstens in sy handel en wandel gebruik kan word.
.........
Om die hoër funksies van Afrikaans te verloor is tragies, maar ’n minderheid Afrikaanssprekendes het werklik daarmee te doen. Die praktiese wegkalwing van die taal is waarskynlik dodeliker. ’n Taal moet eerstens in sy handel en wandel gebruik kan word. Dit is hoekom ek van mening is dat Afrikaans ’n sterk en groeiende werkersklas benodig – al is dit nie noodwendig moedertaalsprekers nie. Die meeste van ons het gereelde kontak met kassiere, veiligheidswagte, skoonmakers, winkelassistente, dienssentrumagente en petroljoggies. Instellings in oorwegend Afrikaanse gebiede moet verkieslik Afrikaanse werkers aanstel, maar ek weet dis nie altyd moontlik nie. Werkers moet ten minste aangemoedig en selfs opgelei word om eenvoudige Afrikaans te kan praat en begryp as hulle nie aanvanklik kan nie. Pedi-sprekers het die voordeel om by winkels en vulstasies in Limpopo in hulp taal gehelp te word. Ditto Tswanasprekendes in Noordwes. Afrikaans as ’n groter taal moet in verskeie gebiede in Suid-Afrika darem dieselfde guns geniet.
Ten slotte
Dit is nie nodig om heeltemal in sak en as oor die taal te wees nie, want Afrikaans se bates is steeds aansienlik en sy laste nie onoorkomelik nie. Afrikaans is in ’n baie beter posisie as in 1875 of 1925 en bly ’n amptelike taal en ’n groot en nuttige een daarby. Ons moet ons egter nie blind hou vir die gevare vir ’n taal wat boonop ons identiteit ook bepaal nie. Sommige van die gevare het ons self geskep, maar ander is weer weens moedswillige eksterne druk daar. Of dit weerstand, voorkoming of bevordering is, die taal se lot en toekoms is alleenlik in die Afrikaanse gemeenskap se hande.
Lees ook:
Die stories van Afrikaans op kykNET: ’n onderhoud met die kunstenaar Jotam Schoeman
Die stories van Afrikaans op kykNET: ’n onderhoud met Danie Marais
LitNet Akademies Weerdink: Die munisipale afgrond en 2026-scenario’s
The post Afrikaans: ’n SWOT-ontleding first appeared on LitNet.
The post Afrikaans: ’n SWOT-ontleding appeared first on LitNet.