Double Bill: uThando - a Kasi love story & But, The Land
5–15 Oktober, Kunstekaap Arena
“Hoekom is teater belangrik?” Só vra iemand my nou die dag, en voeg as ’n nagedagte by: “Veral as daar so baie kak en ellende om ons is en dit so moeilik is om te mens.” Ek het op my tande gekners en na woorde gesoek en toe maar eerder my skouers opgetrek en die onderwerp verander. Ná gisteraand se New Voices-ervaring in die Kunstekaap het ek egter nou ’n antwoord wat ek graag met ’n megafoon in hierdie kunspessimis se oor wil fluister.
Ja, dis moeilik om hier in ons land te mens. Elders ook, maar meestal in ons land. Maak nie saak aan watter kant van watter draad jy sit nie, jy is onlosmaaklik deel van ons geskiedenis, ons kulturele kompleksiteit en ons eie vooroor- en voorheen- en voor- en nadele. En dis moeilik.
Om te kan mens in Suid-Afrika moet jy jou eie konteks konstant met 'n medeburger of twee s'n skommel. Jy moet altyd in gedagte hou dat die persoon wat voor jou staan of langs jou lê of agter die toonbank sit waarskynlik, eintlik beslis, met 'n koffer vol dinge by jou aankom en dat dié persoon waarskynlik blind is vir joune.
Daar is drade wat ons bind - party deur ons self gespan, ander op ons afgeforseer en sommiges so styf gespan ons weet nie meer waar om te sit of staan nie. Ons koes gedurig, ons trippel om sake wat ons nie verstaan nie en ons redeneer met mense wat nóg ons woorde hoor nóg verstaan.
Ja, dis moeilik om hier in ons land te mens. Maar teaterproduksies soos uThando - a Kasi love story en But, The Land – deel van die Double Bill-program by die jaarlikse mini-kunstefees – maak dit vir ’n paar uur moontlik om te sien jy is nie alleen in hierdie stryd teen ons samelewing nie. Die twee onderskeie komplotte speel albei teen agtergronde af wat welbekend, maar dikwels onverteld is.
uThando, geskryf deur Thando Baliso, vertel van ’n taxidrywer met sterre in sy oë. Die toneelstuk word briljant vertolk deur vier jong akteurs: Aphiwe Menziwa, Awethu Hleli, Sizwe Lubengu en Nthabeleng Jafta. Hierdie stuk word bykans geheel en al in Xhosa opgevoer, ’n feit wat nie vooraf met die gehoor gedeel word nie. Dit pla egter nie. Die akteurs is so goed diegene wat nie die taal magtig is nie, vergeet mettertyd dat hul eintlik nie in ’n gemaksone verkeer nie.
Dit is natuurlik moeilik om die fyner nuanses op te tel, maar die tydelike verplasing na Thando se skoene neem kykers op ’n wilde rit van mislukte drome, agterbakse leuens en voetstampmusiek (Thando se groot droom is om ’n groot platekontrak los te slaan). Die stuk is nie foutloos nie, maar bied ’n nodige uur van inskakeling by ’n eg Suid-Afrikaanse konteks.
But, The Land, gesamentlik geskep deur die Papercut Collective (Callum Tilbury, Jason Jacobs, Koleka Putuma en Kathleen Stephens) is op sy beurt meer toeganklik as dit by taal kom en selfs meer treffend wat die tema betref. Kragtige spel deur Zikhona Jacobs, Jolyn Phillips, Maggie Gericke en Kay Smith bring die boodskap tuis dat ons in Suid-Afrika nie sonder ons kultuuridentiteit met die land kan omgaan nie.
Dit beeld verhoudings uit as rou veranderlikes wat deur ons land se komplekse konteks bepaal en beheer word. Bowenal wys dié stuk dat ons land nog ver van genees is, dat ons nog nie klaar gestruggle is nie. Daar is eintlik maar net een woord om dit op te som: haunting.
Ja, dis moeilik om hier in ons land te mens. Een van die (min? vele?) goed wat dit egter die moeite werd en selfs soms draaglik maak is teaterkuns soos dit in die Kunstekaap se New Voices-projek gestalte vind. Hierdie klas kuns vee die stof van die harde alledaagsheid van ons voete af. Dit laat ons toe om tydelik stil te staan en te rus terwyl ons ons voete in ander se skoene plaas – iets wat broodnodig is in ons geliefde land.
Gaan kyk gerus.
Besoek die Facebookblad hier.
The post Kunstekaap-resensie: New Voices 2016 appeared first on LitNet.