In ‘n tyd waarin ons konstant blootgestel word aan polisiegeweld – die polisiemag se reaksie op studenteproteste, Marikana wat nie uit ons geheue mag verdwyn nie, en aanhoudende gevalle van polisiebrutaliteit teenoor Afro-Amerikaanse burgers – voel ‘n produksie soos A steady rain na goed bedagte tydsberekening.
Die produksie deur Keith Huff het reeds op Broadway groot lof ontvang voordat ons dit plaaslik op die planke te siene kon kry. Dit vertel die verhaal van twee polisiebeamptes, Joey en Denny, wat nie net vennote is nie, maar ook lewenslange vriende. Die dialoog vervleg die perspektiewe van dié twee Chicago-polisiemanne as hul die gebeure van ‘n reeks gevalle in herinnering roep. As polisiebeamptes moet hul nie alleen die oortreders van die samelewing konfronteer nie, maar veg hulle ook teen hul eie en mekaar se duiwels. Joey is ‘n gerehabiliteerde alkoholis en is boonop in die geheim behep met Denny se vrou. Denny is fyngevoelig, aggressief, ‘n rassis en verneuk sy vrou. Die kern van wat hierdie vriende en vennote egter bymekaar hou, is hul innerlike behoefte om te dien en te beskerm, wat hulle egter ook deur die loop van die produksie toenemend verteer en verskeur. Bo en behalwe dit alles word albei die karakters telkens, met elke ronde promosies van offisiers na speurders oorgeslaan, wat hulle aan regstellende aksie toeskryf.
Soos reeds genoem, roep die verhaal ‘n hele reeks kontemporêre verwysings op. Daarteenoor kan ‘n mens egter ook nie anders as om aan literêre verwysings soos John Miles se Kroniek uit die doofpot (1991) te dink nie, wat ‘n soortgelyke verhaal volg, maar in dié geval vanuit die perspektief van ‘n swart polisiebeampte in die apartheidsjare. Die rol van polisiebeampte blyk op soveel wyses aangeval en ondermyn te word deur die “menslike element” en té dikwels ‘n voorbeeld te wees van absolute mag wat absoluut korrupteer. Voeg die bedreiging van ‘n mens se familie en naasbestaandes by hierdie mag in die samelewing, en jy sou kon aanvoer dat dit byna instinktief is om hierdie mag te misbruik. A steady rain ondersoek juis die intriges van hierdie tektoniese plaat waarop die polisiemag gevestig is.
By die gebruik van taal en aksent, soos in hierdie produksie, is dit baie belangrik vir ‘n regisseur om te besef dat sy/haar gehoor, veral aan die begin van ‘n produksie, ‘n tydjie sal neem om aan die vreemde klanke gewoond te raak. Dit is gevolglik sy/haar verantwoordelikheid om seker te maak dat die akteurs se aksente, veral inleidend, baie hoorbaar en verstaanbaar is vir ‘n nuwe gehoor. Ten spyte van die feit dat die produksie nie hierin geslaag het nie, is die aksente egter steeds grotendeels oortuigend en help dit beslis om die gehoor uit ‘n plaaslike konteks te vervoer, om vanaf ‘n genoegsame afstand krities die Suid-Afrikaanse konteks te beskou. A steady rain voel bedrieglik verwyderd, maar die wortels van die verhaal lê ewe diep in die plaaslike ingebed.
Die produksie is Adrian Collins se debuut as regisseur. Alhoewel ‘n mens by tye wens vir meer van ‘n variasie in ritme (‘n uitdaging wat terloops ook deur die aard van die teks gestel word), is die eenvoud van regie oor die algemeen ten gunste van die verhaal. Die minimalistiese blokkering wat gelei word deur strak beligtingskeuses, laat die teks toe om natuurlik, asof in ‘n gesprek, voort te vloei. Die span spog met hope plaaslike en internasionale ervaring, wat duidelik ook te sien is in die gehalte van die produksie. Dit is verfrissend om Pauling (Joey) ‘n meer kwesbare rol te sien vertolk, wat hy met groot sukses uitvoer. Palmer (Denny) is ook oortuigend as ‘n tradisionele “bad cop”.
A steady rain is tot 22 Oktober 2016 by die Fugard Teater te sien en moet liefs nie misgeloop word nie. Dis ‘n sterk stuk wat staatmaak op uitnemende spel, ‘n boeiende verhaal, en een wat vir genoegsame nabetragting sorg.
The post Teaterresensie: A steady rain appeared first on LitNet.