Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21643

Goue lint my storie begint: Die unieke aard van kinder- en jeugboeke

$
0
0

  • Anke Theron skryf ’n gereelde kinderboekrubriek vir LitNet.

Waarom ’n rubriek, ’n gereelde inligtingstuk of artikel oor kinderliteratuur? ’n Goeie vraag na ongeveer ’n jaar waarinn “Goue lint, my storie begint” alreeds op LitNet verskyn.

In hierdie aflewering, alhoewel bietjie later en buite die gewone maandelikse patroon, sal daar geargumenteer word waarom ’n rubriek oor kinderboeke nodig en relevant is vir die ingeligte sowel as die gewone leser.

Daar sal gekyk word na die breë oorkoepelende definisie van kinderliteratuur wat beide die terme kinderboeke en jeugboeke insluit. Vir die doel van hierdie artikel sal die tema kinderboeke, kinderliteratuur, jeugliteratuur en boeke vir kinders tussen die ouderdomme van 0 tot ongeveer 18 jaar insluit. Boeke wat as jongvolwasseneliteratuur (18–25 jaar) geklassifiseer word, word in hierdie geval buite rekening gelaat. 

Marah Gubar se kritiek (2011) sowel as Sebastien Chapleau (2005) se argumente sal gebruik word om die problematiek rondom ’n vaste definisie van kinderliteratuur te bespreek.

Die aard en aanbieding van kinderliteratuur sal bespreek word ter ondersteuning van die sentiment dat kinderboeke buite definieerbare grense funksioneer, maar ook beduidend anders is as volwasseneliteratuur. Kinderliteratuur is veelsydiger en het ’n meer komplekse leserskap as wat aanvanklik veronderstel is.

Hoekom ’n gereelde rubriek oor kinderliteratuur?

Die verskeidenheid van gebiede waarop kinderliteratuur gebruik, aangewend of as hulpmiddel gebruik kan word, is wyd en veelvuldig. Dit is belangrik om daarvan kennis te neem dat kinderliteratuur nie alleenlik vir plesier, skool- of leerdoeleindes aangewend kan word nie. Inderwaarheid behoort dit, soos enige ander vorm van kuns of literatuur, in veelvoudige sfere van die alledaagse lewe aangewend en geniet te kan word.

........
Wat maak kinderboeke werklik anders en veelsydiger as volwasseneliteratuur? Waarom neem ons dit ernstig op? Waarom en hoe kan ons dit as waardevolle literatuur beskou? Al hierdie vrae se antwoorde begin by die konstruering van ’n definisie: Wat is kinderliteratuur?
........

Met hierdie kort motivering vir die belangrikheid van ’n kinderliteratuurrubriek moet daar gemeld word dat die hoofdoeleindes van lees en kinderliteratuur se nuttigheid om kinders te help leer lees, beslis van die belangrikste funksies van kinderliteratuur is. Dit is net so belangrik om ’n plek te skep waar tersaaklike en veranderende temas, kwessies en elemente van kinderliteratuur uitgelig, bespreek en beredeneer kan word, soos met enige ander gerekende literatuurgenres.

Dit is dan ook waarom hierdie aflewering van “Goue lint, my storie begint” op die unieke aard van kinderliteratuur sal fokus. 

Die vrae wat gevra moet word, is: Wat maak kinderboeke werklik anders en veelsydiger as volwasseneliteratuur? Waarom neem ons dit ernstig op? Waarom en hoe kan ons dit as waardevolle literatuur beskou? Al hierdie vrae se antwoorde begin by die konstruering van ’n definisie: Wat is kinderliteratuur?

Die definiëring van kinderliteratuur

Die praktyk om literatuur in spesifieke genres en subgenres te klassifiseer en kanoniseer is lankal reeds gevestigd om kinderliteratuur te definieer. Dit is die beginpunt van ’n bespreking van hoe kinderliteratuur merkwaardig verskil van volwasseneliteratuur, asook hoekom dit ’n literatuur is wat sy eie navorsingsveld en “lugtyd” waardig is. 

Sou ons na ’n oorkoepelende omskrywing vir kinderliteratuur gaan soek, vind ons die volgende definisie in Literêre terme en teorieë:

Kinderliteratuur is ’n aparte, selfstandige tak van die literatuur. Die ooreenkoms met volwasseneliteratuur is dat die skrywer daarvan ook uiting gee aan die drang om die menslike bestaan en elke faset van die mens se lewe te verken en deur die woord daaraan vorm en sin te gee. Die verskil is dat die skrywer dit in kinderliteratuur op kindgerigte wyse doen sodat die kind dit met sy bepaalde geestelike, verstandelike en emosionele toerusting kan begryp en dit tot hom spreek op ’n wyse wat aansluit by sy unieke eienskappe as kind. (Steenberg, s j)

In hierdie omskrywing kan ons reeds sien dat kinderliteratuur met gesag beskou word omdat dit met volwasseneliteratuurstudie vergelyk word. Let op na die verskille waarop gewys word. Dit is gerig op die inhoud, asook op hoe die verhaal oorgedra word: “... sodat die kind dit met sy bepaalde geestelike, verstandelike en emosionele toerusting kan begryp en dit tot hom spreek ...”

Tradisioneel word kinderliteratuur beskou as literatuur vir kinders, op die eenvoudigste manier gestel. Hoofsaaklik word dit in die onderwys gebruik om leesvaardigheid te ontwikkel en kinders te leer lees. Tradisioneel, en voor die 1960’s, was daar ’n lewensles of morele les in te vinde. Na die 1980’s in Suid-Afrika het hierdie morele lesse merendeels oorgeskakel na morele vrae wat die leser aan die dink so kry en nie die netjies uiteengesette lesse voorhou nie.  

Alle aanduidings in die soeke na ’n definisie is dat kinderliteratuur beslis belangrik en gevestig is as ’n literêre onderwerp en navorsingsveld. Tog is daar ’n aantal faktore wat uit meer onlangse navorsing na vore tree wat die definiëring daarvan destabiliseer.

Hoe behoort ons kinderliteratuur te definieer?

Marah Gubar wys in haar artikel “On not defining children’s literature” (2011) daarop dat om kinderliteratuur te definieer as “literatuur wat deur kinders gelees word”, te wyd is, omdat dit enige soort teks kan insluit, selfs tekste wat nie tematies geskik is vir kinders nie. Dit is ook nie voldoende om dit te definieer as “literatuur wat deur uitgewers bemark word vir kinders” nie, want dít is weer te eng. As ons werklik eerlik is, is dit ook te kapitalisties, en daarmee saam kom ’n verskeidenheid ander kompleksiteite. Laastens meld sy dat om kinderliteratuur te definieer as “literatuur wat vir kinders geskryf word”, net so beperkend is, want selfs skrywers van kinderliteratuur meld gereeld dat hulle nie noodwendig “vir” kinders skryf nie (Gubar 2011:209). Self wanneer daar na die groot kanon van kinderliteratuur gekyk word, is die meeste boeke wat as kenmerkend binne die kanon staan, nie werklik vir kinders geskep nie. Dink hier byvoorbeeld aan van Charles Dickens se verhale, soos Oliver Twist en A Christmas carol

Gubar verkies om te kyk na die definieerders, dié wat ’n definisie probeer saamstel deur gemeenskaplike eienskappe te identifiseer, teenoor antidefineerders, wat glad nie ’n definisie wil konstrueer nie (Gubar 2001:210), en kom uit by die onortodokse benadering dat daar ’n middeweg tussen die twee kante is. Daar is nie ’n klinkklare definisie nie, maar sy kyk wel na die moontlikhede wat deur Jacqueline Rose en Ludwig Wittgenstein voorgehou word.

Sy verwys spesifiek na Rose se uitspraak oor die beeld van ’n ideale kindfiguur:

Rose famously depicted children’s fiction as an adult-run activity that attempts to impose a static ideal of childhood purity on young people, and other antidefiners quickly followed suit. (Gubar, 2011:211)

Sy gebruik die veronderstelling soos Rose dit omskryf as die veridealisering, onskuld en amper heiligmaking van kinders in ’n enkele genre, naamlik kinderliteratuur. Dit is volgens Gubar en Rose nie ’n substantiewe manier om ’n gemene deler vir ’n genre te skep nie, aangesien hierdie onskuldige en teer idealisering van die kind lankal nie meer steek hou in ’n moderne wêreld nie.  

Gubar verduidelik dat kinderliteratuur juis nie streng gedefinieer moet word nie, maar dat dit as buigbaar en vloeibaar beskou moet word:

[I]t seems evident that we should not waste our energy trying to generate a set definition of children’s literature as a whole. The point is not that it is impossible to do but rather that any definition attentive to the glorious messiness and multiplicity of children’s literature would be so long, complicated, and qualified that it would be of no value to us. (Gubar 2011:214).

Sy baseer haar beskouing vir ’n meer buigsame en inklusiewe omskrywing van kinderliteratuur op die Ludwig Wittgenstein se “Family resemblance”-model.

Hierdie model van Wittgenstein veronderstel dat kinderliteratuur eerder soos familielede geïdentifiseer behoort te word, op die ooreenkomste tussen en verhoudings met mekaar. Gubar verduidelik hierdie konsep aan die hand van kinderteater, dus dramatekste, en leestekste soos boeke. Sy verwys spesifiek na die geval van Peter Pan, omdat dit aanvanklik as verhoogstuk deur JM Barrie geskryf is en eers daarna in boekvorm verwerk is.

Wittgenstein’s family-resemblance approach enables us to stake out a middle ground between the antidefiners and the definers: we have neither to throw out the concept of children’s literature nor to unearth a common trait exhibited by all (and only) children’s texts. The fact that something is very difficult to define – even "impossible to define exactly" – does not mean that it does not exist or cannot be talked about. (Gubar 2011: 212)

Gubar is daarom ’n voorstander van ’n groeiende en ontwikkelende begrip van kinderliteratuur as ’n samehangende maar diverse definisie wat gebaseer is op gemene ooreenkomste. Dit lei tot ’n meer inklusiewe omskrywing waarby alle tekste, van dramatekste, stories en gedigte tot tekste wat deur kinders self geskep is, ingesluit kan word.

........
Kinders, of om kind te wees as ’n konsep, impliseer dat daar nooit ’n definieerbare tydstip bestaan nie, omdat almal eens ’n kind was, maar niemand vir altyd ’n kind kan bly nie. Daarom is Peter Pan ’n uiters interessante voorbeeld om hierdie literêr-teoretiese en definiëringspogings mee te bespreek.
........

Hierdie sentiment sluit aan by die teikengehoor wat die genre kinderliteratuur vir homself proklameer: kinders. Kinders, of om kind te wees as ’n konsep, impliseer dat daar nooit ’n definieerbare tydstip bestaan nie, omdat almal eens ’n kind was, maar niemand vir altyd ’n kind kan bly nie. Daarom is Peter Pan ’n uiters interessante voorbeeld om hierdie literêr-teoretiese en definiëringspogings mee te bespreek.

’n Strukturalistiese definisie

Nog ’n moontlikheid is om kinderliteratuur op ’n strukturalistiese wyse te probeer definieer. Sebastien Chapleau (2005) benader die kwessie van die definiëring van kinderliteratuur op grond van die vooropgestelde idees van vorm en inhoud sowel as ideologiese kwessies verwant aan kritoliterêre kanonisering van kinderliteratuur (2005:10).

Hy oorweeg verskeie benaderings tot die definiëring van kinderliteratuur asook hoe dit breedvoerig in die akademie asook deur die gewone publiek beskou word.

Heel eerste wys Chapleau daarop dat kinderboeke as ’n produk beskou word, ’n genre wat verwys na ’n teks wat struktureel as ’n produk bemark word (Chapleau 2005:10). 

Dit is belangrik om op te let dat daar reeds in 2005 gewys is op watter rol die uitgewerswese, boekemark en bemarking van boeke speel in die rol van die definiëring van ’n teks. In 2025, 20 jaar later, word sosiale media ook ingespan om die boekebedryf se kop bo water te hou, want e-boeke en al die ander onmiddellike opsies van vermaak is met die druk van ’n knoppie beskikbaar.

Chapleau gebruik ook argumente uit die werk van Jack Zipes, David Rudd, Peter Hunt en Jacqueline Rose, ’n gerekende literêre teoretikus wat in haar boek The case of Peter Pan, or, the impossibility of children’s fiction (1992) skryf oor wat sy die onmoontlikheid van kinderliteratuur noem.

Rose se vernaamste uitgangspunt is dat Peter Pan, as voorbeeld, ’n karakter is wat spreek tot die kind maar nie die kind is nie (1992:1), dus kind is maar ook nie kind is nie. “Rose, approaching the case of Peter Pan both as a fictional character and as (a) literary event(s), argues that the production of books for children is a ‘fraud’” (Chapleau 2005:12).

In Rose se eie woorde, meer spesifiek:

Peter Pan offers us the child – for ever. It gives us the child, but it does not speak to the child. In fact so rarely has it spoken to the child throughout its history, that it led me to ask whether there might not be some relation between this all-too-perfect presence of the child and a set of problems, or evasions, in the very concept of children’s fiction itself.  (Rose, 1992:1)

Chapleau (2005) wys hier op ’n verskuiwing van ’n gekonstrueerde leser (vooropgestelde of ideale kind), waar die kind as onskuldig, leesgierig en toegewyd aan die taak van lees beskou word, na ’n konstruktiewe leser. ’n Kind wat nie noodwendig hou van lees nie, nie die onskuld van self is nie en waarskynlik ’n hele moderne wêreld van afleibare aktiwiteit het om van te kies (soos rekenaarspeletjies, sosiale media).

Hy kyk ook na die eng, tradisionele wortels van wat as kinderliteratuur beskou word, naamlik sprokies, volksverhale en mondelinge tradisies van verhale vir kinders.

Jack Zipes, ’n kenner op die gebied van die ontleding van en verhoudings tussen volksverhale en sprokies en kinderboeke, se argumente belig die ideologie dat kinderboeke ten doel het om kinders te help sosialiseer en iets te leer en die boodskappe of lesse verberg (Chapleau 2005:17).

........
Hierdie is ’n ideologie wat sterk deur die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse kinderliteratuur voor 1980 vloei: die motivering dat ’n kinderboek ’n morele of ideologiese les aan die kind moes oordra. In ons moderne beskouing van vryheid en demokrasie mag dit as negatief beskou word.
........

Hierdie is ’n ideologie wat sterk deur die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse kinderliteratuur voor 1980 vloei: die motivering dat ’n kinderboek ’n morele of ideologiese les aan die kind moes oordra. In ons moderne beskouing van vryheid en demokrasie mag dit as negatief beskou word. Alhoewel dit nie noodwendig ’n slegte ding is nie, is dit wel ’n element wat na vore tree wanneer kinderliteratuur histories en struktureel beskou word.

Chapleau oorweeg ook Jack Zipes en David Rudd se benadering vanuit ’n meer akademiese oogpunt en betrek dit: “… who, reflecting on the genealogy of children’s literature have argued that through its institutionalisation it has acquired a specific and ideologically-restricted (or ideologically-restricting) definition (Chapleau, 2005:10).

Laastens gaan klop Chapleau aan by Peter Hunt, nog ’n kenner op die gebied van kinderliteratuur. Hunt stel ’n benadering tot die definiëring van kinderliteratuur voor wat die hele definisie op sy kop draai deur die bedoelde leser as die belangrikste element te beskou. “Peter Hunt who approaches children’s literature the most radically by introducing the idea of a childist criticism of children’s literature” (Chapleau 2005:10).

Hunt betrek dus die leser, die kind, ook as skepper van die definisie. Hy maak ’n tweede geldige punt dat wanneer die kanonisering van kinderliteratuur histories beskou word, dit opvallend is dat skrywers wat as groot of waardig in die kanon beskou word, nie werklik vir kinders geskryf het nie (Chapleau 2005:18). Hunt merk self op dat “if 'literary merit' is in the eye of the literary establishment, then no textual evidence is admissible” (Chapleau 2005:18). Dit beteken dat Hunt se argument dat die kind self as leser betrek moet word by die kritiek en konstruering van ’n definisie, spruit uit die ondersoek na waar die mag lê wanneer ’n definisie geskep word. Wie mag kies wat kinderliteratuur is en is nie?

Chapleau voer hierdie gedagte verder. Hy merk aanvanklik op dat die tradisionele beskouing van kinderliteratuur ’n karakter soos Peter Pan, “since his first appearance on stage in the early twentieth century, … clearly demonstrate how adulthood wishes to shape childhood and thus exert control over it. Within children’s literature criticism, this is a critical stance that is usually adopted” (Chapleau 2005:13).

Chapleau maak ons bewus van ’n dieper vraag as bloot die definisie en waarna ons moet kyk of nie in ag moet neem nie. Hy wys op die magstryd wat agter die definisie skuil.

Dit lei tot die afleiding dat hierdie definisies van kinderliteratuur nie standhoudend is nie. Met Hunt, Rudd en Zipes se argumente probeer Chapleau bevestig dat “definitions of children’s literature have evolved and are still evolving quite considerably. Children’s own productions are entering the stage: yes, it is happening” (2005:18).

Dus moet daar ’n veelvuldige, meer buigbare benadering tot die definiëring van kinderliteratuur bedink word wat die tekste wat kinders self skep, asook hul indrukke van tekste wat vir hulle geskryf word, in ag geneem word. LitNet se lesersindrukke deur jong lesers staan reeds hier kop bo skouers uit. Dit lei ook daartoe dat kanonisering en die proses daarvan ’n verskuiwing ondergaan waar die waardeoordele nie net by die tradisionele akademici en literatore en letterkundiges lê nie, maar by die werklike lesers – kinders en tieners.

Aard en aanbieding van kinderboeke

Kinderboeke is anders, want dit gaan nie net oor die inhoud van die boek nie, maar ook oor die manier waarop dit aangebied word.

Die unieke eienskap van kinderboeke, of dalk die eienskap wat uitstaan, lê in die manier waarop dit spesifiek vir kinders geskryf en ontwerp is, veral die gebruik van illustrasies, die uitleg en die woordeskat.

Kinderboeke benodig gewoonlik meer visuele ondersteuning as ander boeke. Dit bevat illustrasies tot ’n mindere of meerdere mate, afhangend van watter ouderdom dit beoog om as leser te trek. Die illustrasies help die leser om die storie beter te verstaan en te beleef. Illustrasies dra dikwels by tot die betekenis van die teks, of brei selfs daarop uit.

As illustrasies en die rol wat dit in kinderboeke speel jou interesseer, lees gerus hier meer daaroor: “Goue lint, my storie begint: die waarde van illustrasies in kinderboeke”.

Illustrasies is uiters belangrik, omdat die sukses van ’n kinderboek dikwels ook afhang van die kwaliteit van die illustrasies. Kyk maar net na die gekolonialiseerde kinderboeke se illustrasies: The Gruffalo deur Julia Donaldson, Where the wild things are deur Maurice Sendak, The very hungry catepillar deur Eric Carle, The tale of Peter Rabbit deur Beatrix Potter, en in Afrikaans Die babalela deur Martie Preller en Piet Grobler se illustrasies van Liewe Heksie. Hierdie boeke sou nie die blywende indrukke gelaat het op lesers en kinders, as dit nie vir die illustrasies was nie. En watter invloed KI hierop sal hê, is ’n onderwerp vir ’n ander dag.

Dit is nie te sê dat boeke vir volwassenes geen illustrasies bevat nie. Daar is voorbeelde van boeke vir volwassenes wat kaarte en sketse bevat, maar dit word meestal as verwysingsmateriaal gebruik, en nie as deel van die vertelling self benut nie.

Dit bring ons tereg by die vraag: Waarom en hoe is kinderliteratuur dan só anders?

In teenstelling met boeke vir volwassenes – wat waarskynlik slegs deur volwassenes gelees word – word kinderboeke deur beide kinders en volwassenes gelees. Dit beteken dat kinderliteratuur eintlik baie veelsydiger is as die sogenaamde volwasseneliteratuur.

Wat kinderboeke egter besonders maak, is dat dit dikwels binne die verbeeldingswêreld van die kind geplaas word – ’n wêreld waarin kinders hulle kan inleef. Die beste kinderboeke werk goed in hierdie simboliese en verbeelde wêreld waarin kinders gemaklik en vry kan beweeg. Dit is hoe kinders die wêreld leer ken. Kinderboeke is dus ’n belangrike deel van opvoedkundige groei, want dit help kinders om kennis van die wêreld op te bou en te verstaan hoe dinge werk.

........
Die wonderlikste ding wat ons nie altyd besef nie, is dat volwassenes net soveel uit kinderliteratuur kan kry as wat ’n kind sou. ’n Kinderboek, ’n goeie kinderboek, is van so ’n aard dat dit op ’n kind se vlak, ’n volwassene se vlak, sowel as enige vlak daartussen kan beweeg, afhangend van die leser.
........

Die wonderlikste ding wat ons nie altyd besef nie, is dat volwassenes net soveel uit kinderliteratuur kan kry as wat ’n kind sou. ’n Kinderboek, ’n goeie kinderboek, is van so ’n aard dat dit op ’n kind se vlak, ’n volwassene se vlak, sowel as enige vlak daartussen kan beweeg, afhangend van die leser.

Dit is iets wat selde, indien ooit, met ’n volwasseneroman moontlik is. Dalk omdat ons dit van jong lesers af weg hou of omdat kinders eenvoudig nie aan sekere onderwerpe blootgestel moet word voordat hulle emosioneel daarvoor gereed is nie.

Daarom is die aard van kinderliteratuur uniek omdat nie net kinders genot uit ’n kinderboek of teks kan kry nie, maar ook volwassenes. Dit beteken werklik dat kinderboeke vir ons almal is – ongeag of jy ’n volwassene of ’n kind is.

Bibliografie

Chapleau, S. 2005. Children’s literature, issues of definition: The “Why?” and “Why not?” of criticism. L’Esprit créateur, 45(4):10–19. https://www-jstor-org.ezproxy.uct.ac.za/stable/pdf/26289071 (24 April 2025 geraadpleeg).

Gubar, M. 2011. On not defining children’s literature. PMLA : Publications of the Modern Language Association of America, 126(1):209–16. https://www-jstor-org.ezproxy.uct.ac.za/stable/pdf/41414094 (24 April 2025 geraadpleeg).

Hunt, P. 1991. Criticism, theory, and children’s literature. Oxford: Blackwell.

Rose, J. 1992. The case of Peter Pan, or, the impossibility of children’s fiction. Hersiene uitgawe. Basingstoke: Macmillan.

Steenberg, E. S j. Kinderliteratuur. LTT (Literêre terme en teorieë). Aanlyn uitgawe. https://www.litterm.co.za/2010/09/28/kinderliteratuur (29 April 2025 geraadpleeg).

Lees ook:

Goue lint, my storie begint: Die mag van volwassenes se boekkeuses vir kinders

Goue lint, my storie begint: Die impak van tegnologie op kinders en boeke

Goue lint, my storie begint: Kunsmatige Intelligensie (KI) en kinderboeke

Goue lint, my storie begint: Kinder- en jeugboeke – film of boek?

Goue lint, my storie begint: Die effek van lees op kinders se breine

Goue lint, my storie begint: Watter boeke koop ek vir my gretige of sukkelende kinderlesers?

Leesbegrip? ’n Kinderboek kan jou kind se wêreld oopbreek

Volwassenes moet lees sodat kinders stories kan vind

Goue lint, my storie begint-rubriek: die waarde van illustrasies in kinderboeke

The post Goue lint my storie begint: Die unieke aard van kinder- en jeugboeke first appeared on LitNet.

The post Goue lint my storie begint: Die unieke aard van kinder- en jeugboeke appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21643

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!