
Rolanda Marais en Albert Pretorius in Hedda Gabler (foto: Jeremeo Le Cordeur)
........
Die stuk is meer as 135 jaar gelede geskryf, maar ongeag die tydvak waarin jy dit sou sien of eerder beleef, die verveelde, wilde vrou is nie tydsgebonde nie; ook laat ’n verlore liefde en verraad van die hart hom nie in ’n boksie sit nie, maak nie saak waar vroueregte op die wêreldranglys is nie.
........
Ná 90 minute is die gehoor net so verslae as die karakters.
Hedda Gabler is ’n toneelstuk deur die Noorweegse dramaturg, Henrik Ibsen. Die wêreldpremière was op 31 Januarie 1891 by die Residenztheater in München. Hedda Gabler is beskryf as ’n vroulike variasie van Hamlet en word deur vele voorgehou as ’n meesterstuk binne die genres van literêre realisme, 19de-eeuse teater en wêrelddrama. Dis tans by die Baxter in Engels, nadat dit die afgelope week ’n Afrikaanse speelvlak gehad het.
Oor die algemeen word die titelkarakter vir Hedda Gabler as een van die groot dramatiese rolle in teater beskou. Die jaar ná die toneelstuk geopen het, het dit negatiewe terugvoer en resensies ontvang.
Draai die horlosie aan na 2024: Die verwerkte stuk debuteer by die Toyota Stellenbosch Woordfees en stap weg by die Woordtrofees met die eerste Martie Retief Meiring-toekenning “vir nuwe werk wat gehore uitdaag, opgewonde maak en aan die praat sit”. Vroeër vanjaar skitter dit ook by die kykNET Fiëstas met vier pryse. Dit sluit in beste aktrise vir Rolanda Marais se skitterspel, beste prestasie in ontwerp, beste ensemble en beste feesproduksie.
Hedda Gabler het nie nog ’n resensie nodig nie, sou jy dus kon reken. Elke webwerf of sosiale media-platform wat iets met kuns te make het, besing die stuk se lof. Hedda se karakter is onder meer as volg beskryf: “[S]y begogel en verskroei so skouspelagtig en vervlietend soos ’n komeet deur die hemelruim almal wat oor haar pad kom of in haar pad staan” en “[s]y is aaklig, en sy weet dit” en “Olwagen se interpretasie en hantering van hierdie teks blaas nuwe asem in die wilde mens-troop”.

Rolanda Marais en Albert Pretorius in Hedda Gabler (foto: Jeremeo Le Cordeur)
Maar kom ek vertel eers die storie waaroor dit nou eintlik gaan.
Op die oog af is die verhaal eenvoudig: Die sensuele en pragtige Hedda Gabler (Marais) is pas terug van haar wittebrood met haar man, Jurg Tesman (Albert Pretorius). Hulle het foto-albums van pragtige tonele aan die Amalfi-kus in Italië en hul nuwe huis (wat Jurg byna tot bankrotskap gelei het) is oortrek met blomme.
Die krakies van ’n huwelik wat nooit moes gebeur nie, wys gou. Hedda het oënskynlik ’n redelike reputasie met ander mans en selfs Jurg se vriend, die prokureur Brack (Stian Bam), verduur vir Jurg om naby Hedda te wees. Jurg is ’n akademikus; Hedda is ’n moeilike een om te tem en sy is alreeds verveeld met hom, terwyl hy steeds nie kan glo sy het hóm gekies nie.
Wanneer haar ou liefde, Lovborg (Ludwig Binge), skielik opdaag, gooi sy haar hele lewe aan flarde. Hoekom? Want sy kan. En bloot omdat sy Hedda is, glo sy ook dat sy daarmee kan wegkom.
Nie net vernietig sy vir Lovborg nie, maar verpletter ook die nuwe liefde in sy lewe, ’n saai, voorspelbare Thea (Ashley de Lange), en sy maak beslis nie ’n bondgenoot van Jurg se geliefde tannie Julie (Martelize Kolver) nie.
Goed, dis die storie.

Rolanda Marais en Ludwig Binge in Hedda Gabler (foto: Jeremeo Le Cordeur)
Dan sê ek Christiaan Olwagen is die regisseur. Jou verbeelding hardloop wye draaie. Want niks wat hy aanraak, sal ooit as “gewoon” of “vervelig” of “eenvoudig” geklassifiseer word nie. Sy reputasie loop hom ook vooruit. Jy weet jy is in vir 90 minute van pure teatergenot as die ligte doof.
En dit bring ons by die kostuums en musiek en vele meer – almal met ons land se voorstes se name daarnaas. Die stel – deur een resensent as ’n “argitektoniese wonderwerk” beskryf – herinner aan ’n glashuis. Daar waar niks weggesteek kan word nie; tog is die meesteres van die huis die koningin van verborge geheime en versugting.
Daar heers ’n waansin soos wat ek laas in Boklied of Die huis van Bernarda Alba gesien het. ’n Koorsagtigheid van liefde op ’n vlak wat min mense verstaan – veral nie die twee slagoffers wat soos iets wat gif ingekry het, ruk en wroeg nie.
Die openingstoneel met ’n trouseremonie met ’n swart sluier en niemand wat die bruid se ruiker vang nie, dalk die eerste aanduiding dat niks hier is soos wat dit voorkom nie.
Of dalk is die plastiek-hanekam- en -bek-mombakkies van die bruidegom ’n duideliker wyser na die donkerte wat kom.
Die gevoel van onheil wat dreig, wat jou nooit toelaat om terug te sit in jou stoel en teater te beleef nie – eerder te laat meeleef en selfs aandadig maak. Hedda en Lovborg se verterende liefde is doodgebore; hulle sal nooit in ’n normale verhouding kan funksioneer nie. Maar die diepte van hul vóél is onmeetbaar. Mens voel amper jammer vir hulle – meer nog as vir die onskuldige, goedhartige Jurg.
Die stuk is meer as 135 jaar gelede geskryf, maar ongeag die tydvak waarin jy dit sou sien of eerder beleef, die verveelde, wilde vrou is nie tydsgebonde nie; ook laat ’n verlore liefde en verraad van die hart hom nie in ’n boksie sit nie, maak nie saak waar vroueregte op die wêreldranglys is nie.
Die verwoesting wat Hedda saai, is nie net geestelik en emosioneel van aard nie. Die stel word verwoes – dis amper ’n ontploffing wat jou aan die einde die kans gee om jou opgehoue asem uit te blaas.
Hedda Gabler
Met: Rolanda Marais, Albert Pretorius, Martelize Kolver, Ashley de Lange, Ludwig Binge en Stian Bam
Deur: Henrik Ibsen
Regisseur en vertaler: Christiaan Olwagen
Choreografie: Natalie Fisher
Stelontwerp: Rocco Poole
Musiek: Charl-Johan Lingenfelder
Kostuums: Mariechen Vosloo
Beligting: Wolf Britz
Hedda Gabler se Engelse speelvak is van 12 tot 24 Mei 2025 by die Baxter Flipside-teater.
Kaartjies beskikbaar by Webtickets aanlyn of by Pick ’n Pay-winkels te koop. Geen o/16’s. Daar is grafiese verwysings na selfdood.
Lees ook:
Suidoosterfees 2025: Verwelkingslied – ’n onderhoud met Antoinette Kellermann
Carlo Daniels in eenmanstuk van Kafka, Die uitweg, by die Suidoosterfees te sien
Skermgreep: kykNET Silwerskermfees 2024 – ’n blik op die pas afgelope fees
The post Hedda Gabler: ’n teaterresensie first appeared on LitNet.
The post <em>Hedda Gabler</em>: ’n teaterresensie appeared first on LitNet.