Foto van Danie Marais: verskaf; illustrasie in die agtergrond: verskaf (https://www.dstv.com/kyknet/af-za/program/die-stories-van-afrikaans)
Danie Marais praat – terwyl hy nog saamwerk aan die redigering van die reeks – met Naomi Meyer oor Die stories van Afrikaans.
Danie, jy was (jy is!) betrokke by die kykNET-reeks Die stories van Afrikaans. Wat was jou rol ten opsigte van die program?
Ek was by die program betrokke as navorser en as konseptualiseerder saam met Erns Grundling. Ons het die storie in oorleg met Frankie Opperman, die regisseur, en PJ Kotzé, die fotografieregisseur, verdeel in 40 hoofstukke. Die hele projek is aangepak in konsultasie met Wannie Carstens, wat die boek Die storie van Afrikaans geskryf het, en die letterkundige en taalkenner Hein Willemse. Ons het dit doelbewus Die stories van Afrikaans genoem, omdat daar soveel narratiewe is en geen mens kan beweer of sê dat jy die hele, en enigste ware storie vertel nie. Ons het in Februarie 2024 met werk aan die reeks begin. Ek was betrokke by die opstel van die vrae en het saam met Erns, Frankie en PJ besluit met wie ons praat. Kabous Meiring en Kirby van der Merwe het ook waardevolle insette gelewer.
Ek en Erns het beurte gemaak met die voer van onderhoude. Een van ons het die vrae gestel, en die ander een het getranskribeer. Daardie onderhoude is dan na die redigeerders toe, Christiaan Scheepers en Wilmari van Biljon. Daarna was ons betrokke by hoe om die episodes aanmekaar te sit en wat om te sny of by te voeg. Ek en Erns het saam die bindingsteks vir die vertellers geskryf nadat die redigering van ’n episode min of meer afgehandel is. Ons het ook die teks vir die Engelse onderskrifte vertaal.

Prent: verskaf (https://www.dstv.com/kyknet/af-za/program/die-stories-van-afrikaans)
Vertel my asseblief ook jou persoonlike storie. Het jy Afrikaans grootgeword? Het jy ooit in die verlede oor Afrikaans nagedink terwyl jy grootgeword het?
Ek het volkome Afrikaans grootgeword. Ek is gebore in Kimberley, skoolgegaan in Pretoria. My ma was ’n Afrikaans-onderwyser. Later ’n bibliotekaresse by Unisa. Ek het my liefde vir tale by haar gekry. Ek het in een opsig van kleins af oor Afrikaans nagedink, omdat my ma se pa, eerwaarde dominee Dirk Jordaan, vir die N.G. Sendingkerk gewerk het. Sy gemeente in die vyftigs het, onder andere, bestaan uit mense van Distrik Ses, en hy het in die middestad van Kaapstad gewerk toe die gedwonge verskuiwings plaasgevind het. Ek het altyd grootgeword met die gevoel van iets is nie reg in ons taalgemeenskap nie. My ma het ook ’n ander perspektief gehad, omdat sy Sondae saam met bruin mense kerk toe gegaan het. Haar pa was as jong man ’n stoere Nat van die platteland en later het hy van oortuiging verander omdat hy gesien het wat apartheid aan sy gemeentelede doen wat, volgens hom, geen ander kultuur, taal of godsdiens as wit Afrikaanssprekendes gehad het nie. Hy het besluit hy gaan ophou stem, omdat sy gemeentelede nie kon stem nie. Bruin kiesers, wat voorheen stemreg in die Kaap gehad het, is in 1956 ná ’n gekonkel van die Nasionale Party van die kieserslyste afgehaal. Hy het ook glo gereeld gebrom oor die Transvalers wat niks van die bruin mense weet of verstaan nie en daarom sulke dwase dinge doen.
.............
Ek het dus altyd nagedink oor die taal en was lief vir die taal en tog was ek diep onder die indruk daarvan dat sekere dinge binne die Afrikaanse taalgemeenskap skreiend onregverdig is. Ek was in matriek toe die Voëlvry-toer in 1989 plaasgevind het en het entoesiasties die Vrye Weekblad begin lees. Daarna het ek myself met die sogenaamde “alternatiewe Afrikaners” begin vereenselwig. Ek wou tegelyk ook wegvlug van Afrikaans en die erfskuld wat mens met jou saamdra.
..............
Ek het dus altyd nagedink oor die taal en was lief vir die taal en tog was ek diep onder die indruk daarvan dat sekere dinge binne die Afrikaanse taalgemeenskap skreiend onregverdig is. Ek was in matriek toe die Voëlvry-toer in 1989 plaasgevind het en het entoesiasties die Vrye Weekblad begin lees. Daarna het ek myself met die sogenaamde “alternatiewe Afrikaners” begin vereenselwig. Ek wou tegelyk ook wegvlug van Afrikaans en die erfskuld wat mens met jou saamdra.

Prent: verskaf (https://www.dstv.com/kyknet/af-za/program/die-stories-van-afrikaans)
Dink jy mens het regtig nodig om so baie oor Afrikaans na te dink, of kan mens nie maar net aanhou om die taal te praat en aan te gaan met ander goed wat meer belangrik is nie? Hoekom by die taal stilstaan en kyk na identiteit en al die plekke waar dit vandaan kom?
Ek dink nie enigiemand is verplig om baie oor Afrikaans na te dink as jy die program kyk nie, maar ek hoop dat dit kykers lus sal maak om dit te doen. Dit sal wonderlik wees as die reeks kan help om die persepsies van Afrikaans en die gesindheid teenoor die taal positief te verander. Afrikaans is op baie maniere interessant en die geskiedenis daarvan kompleks. ’n Mens kan die spanning rondom die taal en die interessante, ryke diversiteite daarvan eers begin verstaan wanneer jy ook die geskiedenis van Afrikaans ken.
............

In hierdie jaar waartydens die honderdjarige, amptelike herdenking van die totstandkoming van Afrikaans gedenk word, is dit baie belangrik om te gaan kyk wat ’n honderd jaar gelede gebeur het.
Om sinvol binne die groter taalgemeenskap te kan funksioneer moet ’n mens weet hoe en hoekom die niewit sprekers van Afrikaans vervreem is van die taal, en ook op hoeveel maniere hulle aan die taal help bou het. In die hoop op ’n meer gedeelde toekoms, moet jy deeglik bewus wees van die geskiedenis en bagasie van die taal. Lynthia Julius sê in een van haar insette dat Afrikaans nie kan losstaan van sy geskiedenis nie, soos geen taal dit kan doen nie, maar as jy ’n groot taal soos Engels of Spaans is, is dit so ’n globale noodsaaklikheid dat daar nie meer veel oor die bloedige geskiedenisse van daardie tale nagedink word nie. Op die ou end gebruik die meeste mense dit net om te kommunikeer en handel te dryf. Mense leer die tale aan wat hulle nodig het om te oorleef. Maar hoe ook al jy Afrikaans sien of wil gebruik, dit het beslis ’n veel interessanter en ryker geskiedenis as die een wat ek op skool geleer het. Ek dink as jy bewus is van hoe jy as wit spreker van die taal deur ander mense gesien en beleef word, kan jy kan nie anders as om na te dink oor die taal wat jy praat en die magstrukture en geskiedenis wat daarmee vervleg is nie.

Prent: verskaf (https://www.dstv.com/kyknet/af-za/program/die-stories-van-afrikaans)
Het jy enigiets nuuts geleer van Afrikaans terwyl jy by die program betrokke was? Wat het jou geráák, of ontstel, of tot jou gespreek?
Ek het geweldig baie met die werk aan die reeks geleer. Ek het, byvoorbeeld, geweet dat Afrikaans die eerste keer in Arabiese skrif geskryf is, maar ek het nie geweet hoe nie en ook nie watter interessante geskiedenis dit voorafgegaan het nie. Ek was ook nie bewus van die hoogs geskoolde, invloedryke politieke bannelinge wat Kaap toe gestuur is nie – mense soos Sheikh Yusuf van Maccassar en Tuan Guru, wat baie krities teenoor die kolonialistiese praktyke van die VOC gestaan het. Wat presies alles by Genadendal gebeur het, het ek ook nie geweet nie, en die geskiedenis van dié plek is vir my fassinerend. En dan het ek nie geweet dat Afrikaans in Namibië aangekom het as ’n bendetaal saam met Jager Afrikaner, wie se seun Jonker Afrikaner, Windhoek gestig het nie.
’n Ander wanindruk waaronder ek lank verkeer het, was dat min of meer alle wit Afrikaanssprekendes destyds die Genootskap van Regte Afrikaners en hul koerant, Die Afrikaanse Patriot, verwelkom het en dat almal reikhalsend na ’n Afrikaanse Bybel uitgesien het. Ek het nie besef baie mense het gedink dis heiligskennis om die Bybel in Afrikaans te vertaal nie. Toe Beyers Naudé se pa, Francois Naudé, wat ’n stigterslid van die Broederbond was, Afrikaans in die vroeë 1900’s van die kansel af begin preek het in die NG. Kerk in Graaff-Reinet, het die gemeente, sowel as die tennisklub en die dorp, as gevolg daarvan in twee geskeur. Daar was baie mense wat minderwaardig gevoel het oor Afrikaans. Nie net teenoor die Engels nie, maar ook teenoor Hollands, omdat daar gesê is dis ’n kombuistaal wat deur die Khoi en voormalige slawe gepraat word. Dis ook hierdie aspekte van Afrikaans wat graag in die neerbuigende Engelse pers gebruik is om Afrikaans af te maak as ’n grap en ’n onbeskaafde taaltjie sonder enige meriete of toekoms.
.............
En toe begin wit mense op wie daar neergesien word, neersien op mense van kleur wat, nes hulle, Afrikaans praat. Dis vir my een van die grootste dramatiese ironieë in ons taalgeskiedenis – ’n bitter tragedie van verspeelde kanse.
Maar dan is daar ook soveel verhale van merkwaardige mense en gemeenskappe wat gehelp het om die taal te knie en te vorm, en baie van hulle het nog nie die nodige erkenning gekry nie. Dit was vir my geweldig stimulerend om meer uit te vind oor daardie stories en ’n groot voorreg om deel te wees van ’n reeks wat voorheen onderbeligte dele van ons taalgeskiedenis vertel.
...............

Lees ook:
Die stories van Afrikaans op kykNET: ’n onderhoud met die kunstenaar Jotam Schoeman
The post Die stories van Afrikaans op kykNET: ’n onderhoud met Danie Marais first appeared on LitNet.
The post <em>Die stories van Afrikaans</em> op kykNET: ’n onderhoud met Danie Marais appeared first on LitNet.