
Vlnr: Gavin Mathys, Johny Klein, Allan Dyssel, Shemane Harris, Luke Pillay, Lelia Etsebeth, Solomon Cupido, Eloise Cupido, Wiseman Manqele, Marintha Labuschagne en Claudia Jones
...
Die opname van Ken jy vir Fytjie Eland? vier Afrikaans in haar verskeie vorme en die kleurryke mense regoor ons land en ons geskiedenis wat hierdie pragtige taal praat.
...
Eben Cruywagen se Ken jy vir Fytjie Eland? is geskryf ter viering van Afrikaans Amptelik 100.
Dit is die jaar 1913. Iewers tussen Griekwastad en Campbell boer Johannes Eland en sy broerse met skaap en bees. Sy vrou is Katrina, ’n nasaat van die groot Adam Kok I. Hulle sestienjarige dogter, Fytjie, is verlief op Tariq (Riekie) Mentoor, ’n man van minstens tien jaar haar senior, wat vir ’n diamantdelwer aan die oewer van die Garieprivier in die omgewing van Douglas werk. Wanneer Johannes haar verbied om enige kontak met die man te hê, verdwyn sy skielik een nag.
Sonder geld, maar met die vaste geloof dat hulle Fytjie sal opspoor, lei hulle soektog te voet na Douglas en vandaar na Kimberley met die hulp van ’n transportryer, Poen Kriek, ’n boorling van Oudtshoorn. Vandaar ry hulle (onwettig) per goederetrein na Kaapstad, waar Jamila Allie hulle in die Bo-Kaap werk en huisvesting bied. Na tien jaar en ’n vrugtelose soek na Fytjie, sterf Jamila in Desember 1923 aan maagkanker en word Johannes en Katrina op grond van Jamila se getuigskrif onderskeidelik as tuinier en kok aangestel in diens van senator Christiaan Brand en sy vrou, Francina, ’n maatskaplike werkster.
Sestien maande later – Vrydag, 8 Mei 1925 – kan Christiaan Brand die oorwinning vir Afrikaans as amptelike taal met dankbaarheid en trots deel met Johannes Eland, met wie hy ’n noue band oor die verloop van daardie tydperk ontwikkel het.
Maar wanneer sou Johannes en Katrina dan kon ophou om die Kaapse strate te deurkruis en feitlik elke mens, vol hoop en geloof die vraag te vra: Ken jy vir Fytjie Eland?
Eben Cruywagen, die skrywer, vertel:
Ek glo dit is ’n geweldige eer en ’n voorreg om opdrag te ontvang om ’n drama vir RSG te skryf. Veral wanneer dit ter viering van ’n emosionele, geskiedkundige gebeurtenis is soos Afrikaans 100.
DF Malherbe het in die voorwoord van sy Afrikaanse spreekwoorde en verwante vorme van 1924 onder meer geskryf: “Wie op die terrein van ’n volk se spreekwoordeskat werksaam is, moet by alle waters drink,” en verwys dan na die hoofstroom, die riviere, fonteine en ook die syfer- en sypelplekke waar taal geskep en verryk word, ’n waarheid wat met die verpolitisering van ons eie kosbare taal ongelukkig in die vergetelheid beland het. Dit is juis hierdie opmerking van Malherbe wat my grootste inspirasie was om ’n teks te skep waarin ek soveel prakties moontlike variëteite van ons taal kon weergee: Griekwa-Afrikaans, Klein-Karoo-Afrikaans, Kaapse Afrikaans en die sogenaamde Standaardafrikaans.
Lelia Etsebeth, die regisseur, vertel:
Ken jy vir Fytjie Eland? het die storievertellers van die stuk opnuut kom vra: Ken jy Afrikaans en weet jy waar dit vandaan kom? In die verhaal gaan Johannes en Katrina op ’n reis op soek na hul dogter, Fytjie. Net so het die skrywer van die stuk, Eben Cruywagen, my en die akteurs op ’n reis van verkenning gestuur ten einde lewe aan die teks te gee. Die verskillende karakters in die stuk span vier verskillende dialekte van Afrikaans in – elkeen ewe kosbaar en waardevol tot die ontstaan van Afrikaans as amptelike taal. Dit was vir my baie belangrik dat die dialekte korrek uitgespreek moet word tydens die opname. Om reg te laat geskied aan die teks en aan die geskiedenis van Afrikaans het ek ’n aksentafrigter, Gavin Mathys, betrek. Die akteurs het saam met Gavin gerepeteer en spanwerk het gesorg vir ’n fyn afgeronde produk. Die opname van Ken jy vir Fytjie Eland? vier Afrikaans in haar verskeie vorme en die kleurryke mense regoor ons land en ons geskiedenis wat hierdie pragtige taal praat.
***
Die regisseur is Lelia Etsebeth. Die rolverdeling sluit in Johny Klein, Eloise Cupido, Claudia Jones, Solomon Cupido, Shemane Harris, Allan Dyssel en Marintha Labuschagne. Gavin Mathys het die aksentafrigting behartig.
Eben Cruywagen se drama Ken jy vir Fytjie Eland? word uitgesaai Donderdagaand 8 Mei om 8uur ter viering van Afrikaans Amptelik 100 op RSG of rsg.co.za, ook beskikbaar as potgooi en op Spotify.
The post Persverklaring: RSG Radioteater se Ken jy vir Fytjie Eland? op Donderdagaand 8 Mei om 20:00 first appeared on LitNet.
The post Persverklaring: RSG Radioteater se <i>Ken jy vir Fytjie Eland?</i> op Donderdagaand 8 Mei om 20:00 appeared first on LitNet.