Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21618

Spanje. Reise in ’n palimpses deur André Pretorius: ’n resensie

$
0
0

Spanje: Reise in ’n palimpses deur André Pretorius (Naledi, 2025)

Titel: Spanje. Reise in ’n palimpses
Skrywer: André Pretorius
Uitgewer:
Naledi, 2025
ISBN: 9781067234539

’n Boek vir kenners

Dink jy aan Spanje, kom prentjies van ’n lewendige kultuur, passievolle flamenkodanse en bloedige stiergevegte in jou gedagtes op. Kleurryk, sintuiglik, vurig en hartstogtelik. Die toeris se droom. (Toegegee, nie almal sal ’n stiergeveg wil bywoon nie.)

Pretorius is ’n deurwinterde reisiger en bekroonde skrywer wat gloeiende resensies vir sy werk kry, en met Spanje. Reise in ’n palimpses waarskynlik ook vir ’n niefiksieprys benoem sal word.

Sy omvattende en behoorlik nagevorste boek met ’n indrukwekkende bronnelys agterin en gebaseer op sy eie talle dekade lange reise na hierdie land, is nie ’n loslit reisverhaal met mensestories en humor (“human interest” noem koerante dit) soos dié van byvoorbeeld Johan Bakkes nie. Dis ook nie ’n boek wat noodwendig vinnig en maklik lees nie. Daarvoor is daar net eenvoudig te veel inligting om te verwerk.

........
Dis eerder ’n boek om jou kennis te verbreed. Soms herinner dit selfs aan diepgaande lesings en resensies oor die kultuur, argitektuur met die barokoordaad, die geskiedenis van die Rooms-Katolieke Kerk, bekende skrywers en die kunstenaars van die land se werk.
........

Dis eerder ’n boek om jou kennis te verbreed. Soms herinner dit selfs aan diepgaande lesings en resensies oor die kultuur, argitektuur met die barokoordaad, die geskiedenis van die Rooms-Katolieke Kerk, bekende skrywers en die kunstenaars van die land se werk.

Pretorius was vroeër as verslaggewer ’n buitelandse verteenwoordiger vir Suid-Afrikaanse koerante en radiostasies. Daarom is mens ietwat verbaas dat sy skryfstyl nie meer aan dié van ’n joernalis herinner nie. Joernaliste skryf merendeels informeel, maar ek vind sy skryfwerk baie meer akademies, waarvoor daar natuurlik ook ’n plek is.

Party van sy sinne lees moeilik, soos: ”Sy wieg vorentoe en agtertoe met ’n idiosinkratiese ritme wat haar enigsins hortende spel eggo, soos ’n versteurde metronoom.”

Hy begin die boek deur filosofies te skryf dat Barcelona na 30 jaar niks verander het nie. “Nie aan my nie en nie aan Barcelona nie. En dan weer: “Dertig jaar het alles verander – aan mý en Barcelona. Aan Spanje. Aan my in Spanje.”

Dit wil die leser verder laat lees.

Katolieke Kerk

Dit klink dalk teenstrydig, maar dit maak sin as hy oor die “ou” en “nuwe” Spanje skryf en die Katolieke Kerk beskryf wat selfs in ’n meer sekulêre wêreld steeds ’n houvas op die Spaanse samelewing het. Dit geld nie net vir kerke nie, maar ook vir museums, waarvan hy talle besoek het, en die alledaagse lewe.

Hy gebruik verskeie voorbeelde om sy standpunte te handhaaf.

........
Pretorius loop op agterpaadjies en onbekender weë waar die gewone toeris nie kom nie – selfs in die winter, en hy het dit selfs ook tydens Covid gedoen. Soms is hy betower deur wat hy raakloop, ander kere ontnugter deur verval en verwaarlosing. Hy skryf gepas oor “’n spieël van insig oor die nuwe Spanje wat beide deernisvol en genadeloos is”.
........

So verwys hy na van Hemingway, wat dekades gelede al geskryf het: “The people had grown away from the Church because the Church was in the government and the government had always been rotten.”

Die Spanje van Katolisisme is nie die enigste Spanje nie – die linkse Spanje is sosialisties, antikerklik, republikeins en “oop”, terwyl die ander Spanje “regs” is – fascisties, hoog-Katoliek, sentristies. Verdeeld. Deur die jare was daar dikwels ’n stryd van broer teen broer.

Maar die skouspel van godsdienstige feeste en optogte met eeue oue beelde en rituele duur voort. Die band tussen die Katolieke Kerk en Staat bly onlosmaaklik, want tot vandag toe nog word jaarliks oor die lengte en breedte van die land feeste van Moros y Cristianos (More en Christene) gehou.

Pretorius loop op agterpaadjies en onbekender weë waar die gewone toeris nie kom nie – selfs in die winter, en hy het dit selfs ook tydens Covid gedoen. Soms is hy betower deur wat hy raakloop, ander kere ontnugter deur verval en verwaarlosing. Hy skryf gepas oor “’n spieël van insig oor die nuwe Spanje wat beide deernisvol en genadeloos is”.

Maar hy beskryf ook aandoenlike oomblikke, soos dié van die bruid wat haar ruiker gewyd aan die voete van ’n beeld van Madonna neerlê. Of dit gewoonte of geloof is, weet hy nie. Net dat dit tekenend van Spanje is.

........
Spanje is nie altyd mooi en romanties nie. Hy noem Spanje ook “’n patina van smart, ongeluk en lyding; van Inkwisisie en die grubeelde van Goya en armoede en verval, maar veral van die epiese, ongeneesde verskeurdheid van die Burgeroorlog, ’n oorlog wat nog in menseheugenis afspeel”.
........

Spanje is nie altyd mooi en romanties nie. Hy noem Spanje ook “’n patina van smart, ongeluk en lyding; van Inkwisisie en die grubeelde van Goya en armoede en verval, maar veral van die epiese, ongeneesde verskeurdheid van die Burgeroorlog, ’n oorlog wat nog in menseheugenis afspeel”.

Kunstenaars

Om die Spaanse gees vas te vang, verwys hy na die werk van bekendes in die kuns- en rolprentwêreld, soos Picasso se Guernica en Pedro Almodóvar se donker rolprente. (Die Spaanse reekse op Netflix is ook besonder donker. Daar word nie van gewelddadige en omstrede temas weggeskram nie. Melodramaties maar boeiend.)

Pretorius kyk ook na buitelanders soos Uys Krige, Ernest Hemingway, Robert Graves en dan Georges Bizet, ’n Fransman wat die uiters Spaanse opera Carmen geskep het waar die dood ook tragies ’n rol vertolk, al het hy gedurende sy leeftyd nooit ’n voet in Spanje gesit nie.

Dit is dus die geval, soos Pretorius skryf, “dat Spanje as land gedefinieer word deur vreemde oë”.

Lighartigheid

Wat ek mis, is meer mensestories, ’n persoonliker aanslag, die terloopse ontmoeting met plaaslikes en meer dialoog. Hy skryf wel hoe dit is om met ’n jong kind op reis te gaan (’n soet kind, bygesê), maar slegs sy vrou se naam word as reisgenoot genoem en mens leer haar nie ken nie.

........
Interessant is egter die jongmanverliefdheid op die skone Piluca wat hy weer na dekades wou opsoek. Die vraag is of ou liefde roes of nie.
........

Interessant is egter die jongmanverliefdheid op die skone Piluca wat hy weer na dekades wou opsoek. Die vraag is of ou liefde roes of nie.

Die dood

Die Spanjaarde en die skrywer se gedagtes is nooit ver van die dood af nie, en dit figureer dwarsdeur die boek.

So skryf hy oor ’n pelgrimstog na die Kus van die Dood aan die einde van die wêreld.

Een restaurant is ondergronds in die eertydse lykshuis. Dalk hou dit vir sommiges ’n morbiede soort fassinering in. Ander sal doodgewoon gril en op ’n hongerstaking gaan, maar ’n makabere soort nuuskierigheid sal waarskynlik die oorhand kry.

........
Die dood skuil selfs op jou bord kos. Hy vertel dat die gesogte percebes van die dodelikste rotse aan die Kus van die Dood verkrygbaar is.
........

Die dood skuil selfs op jou bord kos. Hy vertel dat die gesogte percebes van die dodelikste rotse aan die Kus van die Dood verkrygbaar is. Die soeke na dié gereg op jou bord het egter oor die jare na ’n  kuslyn met lykbesaaide percebeiros gelei.

Hy sien selfs die dood in gazpacho, rooi en die kleur van bloed en passie.

Maar nou ja, wat is stiergevegte ook anders as om die dood te tart? Wreed, erken die skrywer, soos in Goya se kunswerk Tauromaquia (Die stiergeveg) uitgebeeld het, maar ook “ontroerend”, so asof daar ’n soort “band, respek en vennootskap” tussen bul en matador is.

Hy beskryf dit raak as hy noem dat bul en matador saam die vertolkers van ’n tydlose Spaanse drama is.

Hemingway skryf egter dat hy nie eers die stiergeveg gaan probeer verdedig nie. Jy moet dit beleef om te weet wat jou reaksie daarop gaan wees.

........
Pretorius verwys na die digter Lorca wat skryf: “In elke ander land is dood die einde. Dit daag op en hulle trek gordyne toe. Nie in Spanje nie. In Spanje word dit oopgetrek. ’n Dooie man in Spanje is lewendiger in sy dood as enige ander plek op aarde.”
........

Hoewel Spaanse mans glo graag as “macho” geag wil word , verwys Pretorius tong-in-die-kies daarna dat die matador ook maar soms beskou word as iemand wat die vroulike rol vertolk in sy noupassende blink kostuum waarin hy soos ’n ballerina ronddans. ’n Verleidster in ’n uitdagende dans met die dood.

Selfs Chopin, wat in Pole gebore is en in ’n “doodskissel” by die Valdemossa-klooster gewoon het, was volgens ’n tydgenoot “sy hele lewe lank aan die doodgaan”.

Nogal teatraal.

Hy het seker tuis gevoel in Spanje.

Pretorius verwys na die digter Lorca wat skryf: “In elke ander land is dood die einde. Dit daag op en hulle trek gordyne toe. Nie in Spanje nie. In Spanje word dit oopgetrek. ’n Dooie man in Spanje is lewendiger in sy dood as enige ander plek op aarde.”

Einste Lorca, lees ek aanlyn, is gedurende 1936 op 38-jarige ouderdom weens sy liberale sieninge deur die nasionale burgermag doodgeskiet.

En hy het sy eie dood voorspel.

Lees ook:

Geloof alleen. Reise deur die kerkhervormings: ’n onderhoud met André Pretorius

The post Spanje. Reise in ’n palimpses deur André Pretorius: ’n resensie first appeared on LitNet.

The post <em>Spanje. Reise in ’n palimpses</em> deur André Pretorius: ’n resensie appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21618

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>