Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21598

Kwiksilwers: ’n onderhoud oor die film

$
0
0

Een van die vollengtespeelfilms wat by die 12de Silwerskermfees die silwerdoek aan die brand gehad het, Die Kwiksilwers, begin op 1 Mei in rolprentteaters in Suid-Afrika en Namibië wys. Die film is in Afrikaans, met Engelse subtitels?

Die Kwiksilwers het toekennings as die gehoor se gunsteling, vir beste klankontwerp (Sound Surgeon Studios en Morné Marais) en vir beste grimering en haarstilering (Hanri Neethling) gewen. Dis ook benoem vir beste draaiboek, Jordy Sank as beste regisseur, Susanne Beyers as beste vroulike byspeler (wat die flambojante Mienkie speel), en Lida (die hardkoppige Elsabe wat nie glo dat sy ouer word nie) en June van Merch (Elsabe se inmengerige buurvrou), albei in die kategorie vir beste aktrise. Die fliek is ook as beste speelfilm benoem.

Theresa Sedras speel die teruggetrokke Katie en Jacques Bessenger speel Elsabe se oorbeskermende seun, Wikus.

Ek lees op Weet.co.za dat kwik “’n element is wat al vir meer as 4 000 jaar gebruik word. Die antieke mense het vir lank gedink dat kwik só belangrik is dat alle ander metale, soos goud, daaruit gemaak kon word.

“Kwik is ’n baie spesiale metaal, want dit is die enigste metaal wat teen kamertemperatuur vloeibaar is. Kwik is van die enkele vloeistowwe wat natuurlik op die aardoppervlak voorkom. Suiwer kwik vorm rondom vulkane, waar hitte dit van sy minerale, soos sinnaber, skei.

“Die antieke Romeine het sinnaber verhit om ’n vloeistof vry te stel wat hulle ‘silwer water’ genoem het. Dit was kwik. Dit is later kwiksilwer genoem omdat dit so vinnig soos ’n stroom gevloei het.

“As kwik laat val word, kan dit in kleiner druppels opbreek, wat gou deur klein openinge kan val en met sekere materiale verbind.”

Die ware “hoofkarakter” in hierdie film, Kwiksilwer, die vintage Ford Granada, is nie sommer enige kar nie. Vir Elsabe Marais (Lida Botha) is dit ’n tydkapsule vol herinneringe aan haar oorlede man, wat gereeld saam met haar avonture in dié motor aangepak het. Met sy afsterwe lyk haar toekoms ewe skielik bleek, veral omdat Wikus wil hê sy moet ouetehuis toe trek.

Maar die benaming kry ook verdere betekenis as sy saam met haar silwerkopmetgeselle op ’n reis van ’n leeftyd gaan.

Saam met drie – soms onwillige – reismaats onderneem die koppige Elsabe ’n reis deur die Karoo om ’n meteorietstorting in Sutherland te beleef. Hulle moet binne drie dae by Sutherland uitkom, terwyl Wikus kort op hul hakke bly en hul pret probeer bederf (hulle woorde), maar eintlik net wil toesien dat sy ma veilig van haar groot huis na ’n meer geskikte woonplek trek.

Die vroue se vriendskap en deursettingsvermoë word beslis al die bogenoemde eienskappe van kwiksilwer: Dis só belangrik soos die antieke mense geglo het; dis vloeibaar (buigbaar, aanpasbaar in hul geval); en hul reis na die Karoo het so vinnig soos ’n stroom gevloei, tot dit nie meer gevloei het nie!

Die Kwiksilwers is ’n sielvolle drama-komedie wat bitter min droë oë in die teater agtergelaat het.

Jordy Sank, Gabriella Blumberg en Marista van Eeden, wat vir ’n Silwerskermtoekenning  vir beste draaiboek benoem is, wys met dié rolprent dat die ouderdom g’n rede is om te gaan lê nie.

Lida was in haar laat tagtigs toe ons die fliek geskiet het, maar sy was die mees energieke persoon op stel! Al die vroue, ook June, Susanne en Theresa, het soveel bygedra tot die drama én die komedie,” sê Jordy. “Hulle het vir soveel van die fliek se persoonlikheid en vreugde gesorg en gewys mens is nooit te oud om iets nuuts te leer en nuwe ervarings te hê nie.”

Dis nie die eerste maal dat Jordy en die span van Sanktuary Films – Gabriella Blumberg en Sam Pelteret as vervaardigers, Jordy as regisseur en skrywer – met Lida Botha saamwerk nie. Leemtes en leegheid, wat op Showmax beskikbaar is, is ’n kortfilm wat by die 2023 Silwerskermfees vertoon is en wat vertel van Magdaleen, ’n eensame weduwee wat vasgevang is in die branders van verlies. Sy skep ’n denkbeeldige weergawe van haar oorlede man om die verlies aan sy heengaan te verwerk. Dit weerhou haar egter daarvan om aan te beweeg.

Lida lewer ’n kragtoer as Magdaleen, en haar eggenoot van meer as 50 jaar, Johan Botha, vertolk die man van wie sy sukkel om afskeid te neem. Nog ’n veteraanakteur wat in Leemtes en leegheid verskyn, is Ivan Abrahams. Hy speel die rol van Magdaleen se nuwe buurman wat haar liefde vir Ingrid Jonker se digkuns deel en op sy eie manier ’n spieëlbeeld word van haar hunkering om afsluiting te vind.

Die film is geïnspireer deur Ingrid Jonker se gedig “Jy het vir my gesterf” en die diep droefheid wat ná die afsterwe van ’n persoon baie na aan hul hart beleef is. Die hoofkarakter se naam, Magdaleen, is ook nie toevallig nie. Die laaste deel van haar naam omskryf presies hoe ’n mens in só ’n hartseer tyd voel.

Jordy het die toekenning vir beste regisseur by beide die Jozi-filmfees en Afrika-menseregte-filmfees verower vir die dokumentêr I am here. Gabriella was ook die vervaardiger van dié film, wat in 2021 by die Durban Internasionale Filmfees as die gehoorgunsteling aangewys is en die gesogte toekenning vir beste dokumentêre film opgeraap het. Dit vertel die verhaal van die 98-jarige Holocaust-oorlewer Ella Blumenthal en hoe sy die lewe geniet en waardeer.

Vrae vir Jordy

Waar kom die idee van die Die Kwiksilwers vandaan?

Soos tereg hier bo genoem is, het ons só lekker met Lida saamgewerk vir Leemtes en leegheid, wat ook handel oor ’n vrou se verlange na haar man, dat ons begin het aan die volgende hoofstuk: om die volgende hoofstuk van jou lewe met albei hande aan te gryp. Die Kwiksilwers is wild en “wacky”, maar ontgin hoe die lewe gemaak is om gelééf te word!

Lida is in alle opsigte net fenomenaal. Ons was weggeblaas met haar humor en energie op stel, veral omdat ons bedag was daarop om met iemand van haar ouderdom te werk. Maar Lida was die mees entoesiastiese en “on the ball” persoon in daardie kort film. My vrou spot gereeld met my dat sy wens sy was 80, want dan kon sy my muse wees – daar is geen twyfel dat Lida Sanktuary Films se muse vir Die Kwiksilwers was nie.

Is die karakters op mense gegrond wat jy ken, of is hulle almal uit jul verbeeldingsvlugte?

Ons hou daarvan om ons werk in egtheid te anker en daarom het ons onderhoude gevoer met vriende en familie wat op padreise na Sutherland was om die sterre te sien. Ons het inspirasie uit hul stories geneem en dit gedramatiseer. Ons is deur Golden girls geïnspireer, en het ons verbeel hulle gaan op ’n road trip. Ons het die kar stampvol gepak met verskillende persoonlikhede wat bots en snaakse oomblikke laat ontstaan, ​​wat die humor en spanning verhoog. Ek dink dat Gabriella Blumberg (vervaardiger en medeskrywer) se ma die inspirasie vir Meinkie was, want sy is vrymoedig, maar ons het haar karakter beslis ’n kerf of twee opgeskuif! En Lida was beslis die inspirasie agter Elsabe se karakter en die hele film.

Hoe werk jou en Gabriella en Marista se proses van die skryf van ’n draaiboek? Is dit drie ewe groot dele, of is een meer klankbord, of hoe?

Ons het met skrywerskamers begin en lank geneem om die karakters te bou en aan die buitelyn van die storie te werk, sodat alles outentiek gevoel het. Toe het ons die teks in drie afdelings verdeel, wat ons elkeen geskryf het. Ons het alles in Engels geskryf en net tydens die herskrywings sou Marista die dialoog in Afrikaans vertaal. Jy sou dink dat dit moeilik sou wees om drie skrywers aan ’n projek te hê, maar ons het baie goed saamgewerk, en uiteindelik het ons almal ooreengekom om net te behou wat die beste vir die storie is en ons was nie bang “to kill our darlings” nie. Ons gaan voort om ander projekte saam te ontwikkel – so hou dié spasie dop!

Hoekom elke film wat rondom oudword en verlies draai?

Ek dink die rede waarom beide verlies en hartseer in ons film en in ons vorige werk ondersoek word, is dat ons dit sien as iets wat onvermydelik en herkenbaar is vir elke mens. En ons hou daarvan om stories van veerkragtigheid en hoop te vertel, wat gepaard gaan met verlies en sukkel om hartseer te oorkom.

Wie het jy al verloor, dat jy dié verlies so goed kan verwoord én uitbeeld?

Ek het my ouma verloor, wat die matriarg van ons familie was en ’n rigtingwyser vir ons almal. En Gabriella het haar pa nege jaar gelede verloor. Verlies en rou in die Joodse tradisie is ’n uiters gemeenskaplike proses, so ek dink om daar te wees vir die mense vir wie ons lief is, wat die verlies van ’n geliefde ervaar het, het ons ’n fyn sensitiwiteit daarvoor gegee. Hierdie persoonlike ervarings het ons insig gegee in ons protagoniste se reis – hartseer is nie lineêr nie, dit kom in golwe en kan op ’n verskeidenheid maniere manifesteer.

Wat het jy by Lida en die ander aktrises wat almal heelwat ouer as jy is, geleer van menswees en oudword?

Die aktrises in die film het vir ons almal gewys dat ouderdom werklik net ’n nommer is, want hulle het soveel energie, opwinding en lewenslus na die projek gebring, wat ons almal geïnspireer het en soveel lewe na die karakters en storie gebring het. Alhoewel ons ouderdom in die film verken, was ons toe ons die verfilming beplan het, onbewustelik bevooroordeeld jeens ouderdom, want ons het dikwels gedink dit kan hierdie ouer aktrises langer neem om sekere dinge gedoen te kry. Maar hulle het ons heeltemal verkeerd bewys! Lida in die een toneel moes agterop ’n bakkie vol bokke spring en sy het dit met soveel gemak gedoen en ’n huppel in haar stap, laggend langs die pad. Ons het almal hierdie vroue dag ná  dag dopgehou en gedink: Ek hoop dat ek soos hulle kan wees, wanneer ek hul ouderdom is.

Hoe hou mens die leisels met gesoute aktrises wat hul eie improvisasie na die stel bring?

As regisseur sien ek die draaiboek as die bybel en die uitvoering as die preek. Die akteurs kan van die teks afwyk, solank dit getrou bly aan karakter en storie. So ek was mal daaroor om te kyk hoe hierdie veterane hierdie karakters neem en hulle ’n lewe van hul eie gee, ver bo wat enigeen van ons ooit gedink het. Daar was spesifieke oomblikke wat ons in die draaiboek uitgelig het, wat ’n perfekte geleentheid was vir ’n paar improvisasies van die aktrises, en hulle het ons sulke ongelooflike opsies gegee dat dit moeilik geword het in die redigering, want daar was net te veel wonderlike oomblikke om van te kies.

Wat was die grootste uitdaging met hierdie fliek vir julle?

Ek dink die grootste uitdaging vir ons almal was om in die Karoo op ’n uiters afgeleë plek te verfilm. Dit het beteken dat ons almal op ’n padreis van ons eie moes gaan, met baie stampe langs die pad, maar uiteindelik met ons uitstekende span saam kon ons oor al die elemente en struikelblokke seëvier. En ek voel die film is gevolglik beter, want ons moes almal saam groei om te volhard, en hoe kon ons nie in die Karoo, so ’n deurslaggewende karakter in die storie, skiet nie?

Hoe het die projek jou as mens verander? Kyk jy anders na ouer mense en oudword?

Die Kwiksilwers bekyk talle temas. Ons het geweet toe ons die film geskryf het, dat dit op ouderdom en die idee sou fokus dat hierdie vroue ’n vol lewe lei. In die proses van skryf is ons egter met ons eie vooroordele gekonfronteer. Toe ons navorsing gedoen het en tyd saam met mense in daardie ouderdomsgroep deurgebring het, het ons geleer dat ons karakters kan skep wat spontaan en vol energie is, die lewe omarm en elke dag groei – selfs meer as wat ons eers gedink het. Die film ondersoek ook hoe verskillende mense treur, en die skryf van die seun se karakter het ons regtig hierin laat delf. Ons het almal ouers wat ouer word, so ons moes diep delf en ons verhoudings, vrese en vooroordele teenoor hulle ondersoek. Die towerkrag van film is dat alhoewel ons die draaiboek geskryf het, ons toe kon sien hoe dit deur die akteurs tot lewe gebring word.

Hoe belangrik is ’n geleentheid soos die Silwerskermfees vir Suid-Afrikaanse stories?

Dit is een van die belangrikste filmfeeste in Suid-Afrika, omdat dit vir jong filmmakers die geleentheid gee om hul stem te laat hoor, meer as enige ander bemarkingsplatform op die kontinent. Dit gee my die geleentheid om flieks te skep wat nie andersins gemaak sou kon word nie. Ek is baie dankbaar vir die platform om al hierdie interessante verhale te kan vertel.

Jy is Engelssprekend, maar tog maak jy die afgelope paar jaar twee Afrikaanse trefferfilms (Leemtes en leegheid in 2023 en Die Kwiksilwers in 2024) vir die Silwerskermfees. Vertel hoekom die liefde vir Afrikaans en hoekom dit lekker is om daarin te werk?

Ons eerste ondervinding in Afrikaans was vir Silwerskermfees en dit was ’n wonderlike geleentheid om ondersteuning te kry vir een van ons draaiboeke en om mentorskap en befondsing te kry. Ons het ons tyd by Silwerskermfees en saam met kykNET só geniet dat ons baie medewerkers sowel op as van die skerm af gevind het.

Die Afrikaanse taal is uiters ekspressief en laat ons as skrywers toe om subteks en gelaagde betekenis aan die dialoog toe te voeg. My oorlede oupa was ’n Boerejood van Vredenburg en hy was diep ingebed in die Afrikaanse kultuur. Ek wens dat hy nog geleef het om hierdie Afrikaanse rolprente te sien, want ek weet hy sou net daarvan gehou het. Ek sien dit as ietwat van ’n terugkeer na, en verkenning van sommige van my wortels. Ek en Gabriella vind dikwels die universaliteit binne ’n projek en ons bring altyd kreatiewe uit die betrokke gemeenskap aan boord wat kan bydra tot die egtheid en kulturele spesifisiteit van die projek.

Hoe voel jy oor oudword en oppak en ouetehuis toe gaan of om met ’n versorger leef?

Die konsep van oudword was nogal skrikwekkend, maar nadat ons met hierdie veteraan-aktrises gewerk het, het hulle vir ons gewys dat daar soveel is om na uit te sien en dat ons ons eie wanopvattings daaroor moet oorkom. Hierdie proses het ons laat leer om werklik teenwoordig te wees in elke oomblik en die meeste daarvan te maak.

Hoe sal jy eendag wil onthou word?

By Sanktuary Films werk ons ​​oor genre en formaat heen – ons het ’n ernstige dokumentêr, ’n road trip-komedie en ’n verskeidenheid dramatiese kortfilms gemaak. Hulle het egter altyd “hart” en werk as katalisator vir belangrike gesprekke. Ons hoop dat ons onthou word vir die inspuiting van vreugde in die wêreld en die skep van belangrike rolprente wat stigmas verbreek oor onderwerpe wat dalk te moeilik is om oor te praat, maar wat ’n mens deur ’n karakter in ’n film kan ervaar. Ons films beïnvloed harte en gedagtes en skep ’n broodnodige toevlugsoord vir gehore.

Waaraan werk julle volgende waarna kykers kan uitsien?

Ons het ’n kortfilm, Amazeze (Vlooie), wat xenofobie in Suid-Afrika ondersoek en wat in Julie sy Afrika-première by die Durbanse Internasionale Rolprentfees het. Ons is tans besig om ’n reeks films, TV-reekse en dokumentêre programme oor genres heen te ontwikkel. Volg ons asseblief by @sanktuaryfilms om op hoogte te bly.

  • Die Kwiksilwers begin op 1 Mei en sal vir minstens vier weke vertoon word. Hou kykNET se platforms dop vir meer inligting. Lyk die lokprent hier: https://www.youtube.com/watch?v=12nuLRxmgzY.
  • Die goeie nuus is dat jy dit kan sien of daar nou ’n Ster-Kinekor, Nu Metro of onafhanklike fliekteater in jou dorp is – van Swakopmund tot Nelspruit; van Worcester tot Windhoek; al die pad verby Ballito en George – niemand word hier uitgesluit nie, net soos die ouderdom niemand uitsluit nie. Die film word deur Filmfinity versprei.

The post Kwiksilwers: ’n onderhoud oor die film first appeared on LitNet.

The post <i>Kwiksilwers</i>: ’n onderhoud oor die film appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21598

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>