Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21874

Trump se warrelwind eerste 100 dae (30 April 2025)

$
0
0

Foto: Trump deur Daniel Torok, amptelike portret in 2025 vir die Withuis. Openbare domein, via WikiMedia

In tipiese verkiesingstyl het Donald Trump sy eerste 100 dae gevier met ’n politieke byeenkoms in Warren, Michigan op 29 April 2025. Die simboliese aard van ’n 100-dae-evaluasie van ’n president is bekend. Die afwagting vir hierdie evaluasie is deur Trump self geskep toe hy tydens sy inhuldiging op 20 Januarie 2025 gesê het dat hy in sy tweede termyn die mees buitengewone 100 dae gaan skep van enige Amerikaanse president in die geskiedenis. En dit het Donald Trump wel gedoen, want in hierdie kort periode is dit reeds duidelik dat ooreenkomste en alliansies sowel as sagte mag nie meer in die Withuis bestaan nie en dat die toepassing van brutale magspolitiek nou aan die orde van die dag is.

Trump het reeds meer as 140 uitvoerende bevele uitgereik, minstens agt noodtoestande afgekondig en vyf wette bekragtig. Daar is ook reeds 122 hofbevele teen sy uitvoerende bevele uitgereik, maar in die proses is reeds meer as 280 000 federale werkers hulle poste kwyt, onder andere met die sluiting van USAID.

Die tempo waarteen hierdie besluite geneem is, wat bestraffende tariewe op vriend en vyand ingesluit het, het die meeste waarnemers verstom. Dit het egter grootskaalse onsekerheid op makro-ekonomiese vlak ingelui en markte regoor die wêreld steier teen hierdie agtergrond; dit is egter die dreigende ekonomiese probleme in die VSA wat die meeste mense bekommer. Trump het selfs ’n gevestigde tradisie verbreek deur die voorsitter van die sentrale bank in die VSA, Jerome Powell, in die openbaar af te kraak en te kritiseer oor sy waarskuwende stem oor inflasie en moontlike resessie as die resultaat van baie hoë tariewe en heffings.

Opsommenderwys is die eerste 100 dae deur die volgende gekenmerk:

  • Trump se presidentskap bevat ’n element van weerwraak op politieke opponente en die media; ook word oudpresident Biden in feitlik elke toespraak in vernederende terme beskryf.
  • Trump dryf ekonomiese faktore beide plaaslik en internasionaal op ’n ongekende skaal; dit sluit buitelandsebeleidsveranderinge ook in.
  • Die tariefoorlog met veral China het chaos in die markte veroorsaak.
  • Trump het reeds aangedui dat hy die mag waaroor die presidentsamp beskik, tot op die maksimum gaan benut en het reeds met die howe hieroor begin vassit. Sy termyn gaan beslis gekenmerk word as ’n regering deur uitvoerende bevele.
  • Trump is besig om universiteite te boelie en vereis ideologiese verandering in terme van hoe aspekte van diversiteit, gelykwaardigheid en inklusiwiteit toegepas word. Federale toewysings vir navorsing word as die magshefboom teen navorsing van hoër onderwys gebruik.
  • Aansluitende hierby het Marco Rubio, Trump se minister van buitelandse sake, reeds 1 500 visums van studente by 250 universiteite gekanselleer met verwysing na pro-Palestynse kampusbedrywighede en kritiek wat uitgespreek word op Israel.
  • Trump het in sy eerste 100 dae reeds die toepassing van diversiteit gelykgestel aan onbevoegdheid, na aanleiding van ’n tragiese vliegongeluk in Washington, DC.
  • Met ’n inskiklike Republikeinsbeheerde Senaat en Huis van Verteenwoordigers het Trump ongekende vryheid om die federale regering te herstruktureer. Dit is in die konteks waar Elon Musk met sy DOGE (Department of Government Efficiency) ’n vrye hand het.
  • Grensbeskerming het ook in die drie maande geweldig baie aandag ontvang en meer as 20 000 onwettige immigrante is tans in aanhouding, benewens duisende wat reeds gerepatrieer is na verskeie Suid-Amerikaanse lande.
  • Trump wou twee vredesprosesse vinnig op dreef kry, maar na 100 dae het hy twee mislukte pogings in Oekraïne en in Gaza. Daar is steeds baie lewensverlies in die konflik en politieke akteurs maak dit moeilik om tot ’n vergelyk te kom.
  • In hierdie konteks is die direkte samesprekings met Iran rakende hulle kernambisies ’n belangrike ontwikkeling.
  • Trump het ook belowe dat hy pryse sal verlaag om lewenskoste meer bekostigbaar te maak. Hier is teenstrydighede. Brandstofprys is aan die daal en inflasie neig ook afwaarts, maar tariewe gaan skerp prysstygings veroorsaak.

Ten slotte: Trump het tot November 2026 om sy visie vir Amerika te implementeer, want dan is daar ’n middeltermynverkiesing, en histories vaar die dienende president se party swak. As dit in 2026 ook gaan gebeur, staan die Demokrate ’n goeie kans om beheer oor die Senaat en die Huis van Verteenwoordigers oor te neem, wat dit vir Trump moeilik sal maak om sy uitvoerende bevele gefinansier te kry. Die Amerikaanse samelewing is kompleks en pluraal met politieke en ekonomiese mag wat op vele punte gekonsentreer is, en daarom is ek nog nie bereid om Trump se optrede, hoe ontwrigtend ook al, as ’n permanente omwenteling of Trumpiaanse revolusie te beskou nie; eerder ’n warrelwind wat mag neig na ’n brutale tornado met baie pyn in politieke en ekonomiese terme.

The post Trump se warrelwind eerste 100 dae (30 April 2025) first appeared on LitNet.

The post Trump se warrelwind eerste 100 dae (30 April 2025) appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21874


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>