Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21644

Persverklaring: Aankondiging van die Suid-Afrikaanse Akademiepryse vir 2025

$
0
0

https://www.akademie.co.za/

Die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns kondig met groot genoeë die gesogte Akademiepryse vir 2025 aan.

Die pryse sal by ’n bekroningsplegtigheid in September in Stellenbosch aan die wenners oorhandig word. Hierdie verklaring bevat die besonderhede van die bekronings vir 2025. Die bekroondes is, waar moontlik, reeds mondelings daaroor ingelig.

HERTZOGPRYS VIR PROSA

Die Hertzogprys is die vernaamste prestigeprys in die Afrikaanse letterkundige wêreld en word jaarliks om die beurt vir poësie, drama en verhalende prosa, in dié volgorde, toegeken. Die prys word toegeken op aanbeveling van die Akademie se Letterkundekommissie.

Die Hertzogprys vir Prosa is toegeken aan Eben Venter vir Decima.

Die kortlys vanjaar is soos volg:

  • Van vaders en vlugtelinge deur S.J. Naudé (Human & Rousseau)
  • Eugene deur Kirby van der Merwe (Human & Rousseau)
  • Gebeente deur Etienne van Heerden (Tafelberg)
  • Decima deur Eben Venter (Penguin Random House)
  • Onrus op Steynshoop deur Ingrid Winterbach (Human & Rousseau)
MT STEYNPRYS VIR NATUURWETENSKAPLIKE EN TEGNOLOGIESE PRESTASIE

Die prys word toegeken aan ’n persoon vir sy/haar skeppende bydraes tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van die natuurwetenskappe en/of die tegnologie (of ’n vertakking/s daarvan) én die suksesvolle toepassing daarvan in breër verband soos in landsbelang. Die prys word gesien as ’n kroon op ’n lewenstaak en kan daarom net een maal aan ’n persoon toegeken word.

Die prys word vanjaar toegeken aan Thomas William Drinkwater, afgetrede entomoloog en spesialis navorser by die Landbounavorsingsraad.

Dr. Drinkwater ontvang die prys vir die uitstaande bydrae wat hy deur sy navorsing gelewer het tot die landboubedryf in Suid-Afrika. Gedurende sy loopbaan lewer hy 30 referate by nasionale en internasionale kongresse, skryf 26 artikels in wetenskaplike vaktydskrifte, 21 in bladskrifte en bulletins, 54 in populêre landboutydskrifte en 15 kontrakverslae vir chemiese firmas. Hy het ook meer as 200 praatjies op verskillende radiosenders gegee. Hy was ’n gewilde spreker by verskeie studiegroepe en boeredae, regdeur die mielieproduksiegebied en was ’n genooide gas van verskeie institute in Australië en Duitsland.

HUBERTE RUPERTPRYS VIR KLASSIEKE MUSIEK

Die prys word driejaarliks toegeken aan enige persoon wat op die gebied van klassieke musiek presteer het: Sangers, komponiste, instrumentaliste wat klawerinstrumente, blaasinstrumente of strykinstrumente bespeel kom in aanmerking. Die prys is die kroon op ’n lewenswerk en kan daarom slegs een maal aan ’n persoon toegeken word.

Vanjaar word die prys toegeken aan Hendrik Hofmeyr, emeritus professor en hoof van komposisie en musiekteorie aan die Universiteit van Kaapstad.

Hendrik Hofmeyr word bestempel as Suid-Afrika se mees uitgevoerde komponis en word in 2023 in The Musical Times (Londen) beskryf as “perhaps the most prolific composer in South Africa”. Sy oeuvre beslaan ongeveer 240 operas, ballette, simfonieë, concerti, talle solo- en koorwerke en sowat 150 opdragwerke. Sy opdragwerke vir Suid-Afrikaanse en oorsese kore, dikwels vir deelname in internasionale kompetisies, waar kore soos die Stellenbosch Universiteitskoor, Universiteit Pretoria Camerata, Stellenberg Meisieskoor, Pro Cantu en Akustika die eersteprys verower het. Sy koorwerke word steeds meer deur toonaangewende kore in die buiteland uitgevoer. Hy is die enigste Suid-Afrikaner nog wat die gesogte Internasionale Koningin Elisabeth van België Musiekwestryd gewen het uit 204 deelnemers van 42 lande.

GOUE AKADEMIEMEDALJE

Die medalje word toegeken vir werk van skeppende aard op die gebied van tegnologie (wat rekenaarwetenskappe, farmakologie en geneeskunde insluit). Dit omvat hoogstaande werk van praktiese uitvinding (of toepassing) en vernuf gebaseer op wetenskaplike en/of proefondervindelike grondslag.

Die prys word vanjaar toegeken aan James Alwyn Roelofse, professor en Hoof van Anestesie en Sedasie aan die Universiteit van die Wes-Kaap.

Roelofse se loopbaan reik oor wêreldgrense heen en veral sy werk in Afrika is lofwaardig – dit is hier waar landelike kinders veral gebuk gaan onder tandheelkundige vrese tydens prosedures. Nie alleen word sy ontdekkingsreis na sedasiemetodes internasionaal erken nie, maar gebruik hy ook sy kennis om opleiding aan te bied en sodoende ’n nuwe groep praktiserende kenners in sedasie op te lei vir die toekoms. Sy kundigheid word wêreldwyd erken en bekroon, maar die toepassing op eie bodem en die nuutskeppings rondom sedasiebestuur word ook plaaslik gedeel. Sy diep kennis het gelei tot die ontwikkeling van nagraadse diplomas, meesterscurricula en kapasiteitsbou op vele vlakke en het ’n goeie fondasie gelê vir die toepassing van sedasie in tandheelkundige praktyk.

DELEEN BEKKERPRYS VIR DIE BESTE DRAAIBOEK IN AFRIKAANS VIR ’N TV-DRAMA 

Die prys kan jaarliks om die beurt toegeken word aan die beste draaiboek in Afrikaans wat in die voorafgaande twee jaar gebeeldsend is (TV-drama) of vertoon is (rolprent). In 2025 word die beste draaiboek in Afrikaans vir ’n TV-drama bekroon.

Die wenners van vanjaar se draaiboek in Afrikaans vir ’n TV-drama word toegeken aan Nico Scheepers en Chanél Muller vir Nêrens, Noord-Kaap, deel 2, episode 13.

Nico Scheepers en Chanél Muller se waarnemings, beskrywings, dialoog, metafore en subteks kry gestalte op papier. Sy beskrywings is vol onopgesmukte emosie, maar sonder melodrama en word met verbluffende natuurlikheid oorgedra. Die hartseer van ’n begrafnis word byvoorbeeld raakvat beskryf.

STALSPRYS VIR OPVOEDKUNDE

Die Stalsprys is ’n jaarlikse prestigeprys wat toegeken word vir oorspronklike navorsing op die gebied van die geesteswetenskappe en kan net een maal aan ’n bepaalde persoon toegeken word vir ’n hoogstaande publikasie of ’n reeks sodanige publikasies wat wetenskaplike werk van die hoogste gehalte verteenwoordig.

Die prys word vanjaar toegeken aan Alta Vos, emeritus professor van die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit van Pretoria.

Alta Vos word vereer vir haar toewyding aan die ontwikkeling van toeganklike handboeke vir Afrikaans op skool en tersiêre vlak. Sy het via hierdie reeks publikasies brûe gebou tussen die nuutste taalwetenskaplike empiriese werk en didaktiese taalwêrelde in Afrikaans. Alta Vos het oor ’n tydperk van meer as 25 jaar twintig handboeke en werkboeke, primêr gefokus op Afrikaans, gepubliseer. Sy is onder andere die medeskrywer van handboekreekse soos Afrikaans ons taal en Platinum Afrikaans (Huistaal); ’n Afrikaanse navorsingshandboek vir nagraadse studente; twee metodiekhandboeke vir studente en onderwysers, getiteld Afrikaansmetodiek deur ’n nuwe bril (Oxford) en Vuvuzela-Afrikaans: taalonderrig wat nie geïgnoreer kan word nie (Mediakor) sowel as die Alles-in-een Afrikaans Eerste Addisionele Taal lees- en taalreeks vir graad 4–7.

PROTEA BOEKHUISTOEKENNING

Die prys kan jaarliks toegeken word en roteer tussen ’n gepubliseerde werk, die beste magisterverhandeling, en die beste doktorale proefskrif in geskiedenis of kultuur-geskiedenis in Afrikaans. Die beste gepubliseerde werk wat die afgelope drie jaar (2022, 2023, 2024) verskyn het, word vanjaar bekroon.

Eunice Visser ontvang die prys vir haar werk Die Kaapse slawe, 1652–1838: ’n Kultuurhistoriese perspektief.

Visser se Die Kaapse slawe, 1652–1838: ’n Kultuurhistoriese perspektief het bo die ander voorleggings uitgestaan wat oorspronklikheid, akademiese onderbou (argivale navorsing) en leesbaarheid betref. Alhoewel ’n lywige boek, is dit ’n maklike lees om te verteer. Tesame met die pragtige illustrasies is hierdie boek pure leesplesier. Nog belangriker is die oorsponklike bydrae wat Die Kaapse slawe, 1652–1838: ’n Kultuurhistoriese perspektief tot Suid-Afrikanse geskiedskrywing lewer.

EUGÈNE MARAISPRYS VIR PROSA

Die prys word toegeken vir ’n skrywer se eerste of tweede bellettristiese werk in Afrikaans. Sedert 2023 word die prys jaarliks om die beurt toegeken vir prosa die een jaar en vir poësie of drama die volgende jaar.

Die Eugène Maraisprys vir Prosa word toegeken aan Gaireyah Fredericks vir Een voet innie kabr.

Die kortlys is soos volg:

  • Amma deur Charmaine Africa (Tafelberg)
  • Die gawe van groen deur Elmarie Dercksen (LAPA)
  • Een voet innie kabr deur Gaireyah Fredericks (Kwela Boeke)
  • Die onsigbare deur PJO Jonker (Tafelberg)
EREPENNING VAN DIE SA AKADEMIE SE FAKULTEIT NATUURWETENSKAP EN TEGNOLOGIE

Die Erepenning word toegeken vir ’n persoon se skeppende bydrae tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van die natuurwetenskappe en/of die tegnologie (of ’n vertakking of vertakkings) en die suksesvolle toepassing daarvan in breër verband, soos in landsbelang.

Hierdie Erepenning word vanjaar toegeken aan Paul Anton Steenkamp, besoekende professor aan die Universiteit van Johannesburg.

Steenkamp is ’n analitiese chemikus wat spesialiseer in gevorderde massaspektrometriese analise van klein molekule van biologiese oorsprong. Sy analitiese kundigheid en samewerking met ’n groot aantal navorsers aan Suid Afrikaanse universiteite en ander hoër opvoedkundige instellings het wyd daartoe bygedra tot die ontginning van die kennis in verband met Suid Afrikaanse plante en hul biomediese en industriële toepassings. Sy analitiese kennis en vaardigheid was ’n groot bydraende faktor tot die suksesvolle voltooiing van die projekte van ’n groot aantal nagraadse studente landswyd en sy kundigheid dra betekenisvol by tot toenemende kennis en oplossings in dié veld.

EREPENNING VIR GEESTESWETENSKAPPE

Die Erepenning vir Geesteswetenskappe word toegeken vir ’n persoon se skeppende bydrae tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van die geesteswetenskappe en die suksesvolle toepassing daarvan in breër verband, soos in landsbelang.

Die prys word vanjaar toegeken aan Floris van der Merwe, emeritus professor aan die Departement Sportwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch.

Floris van der Merwe het ’n beduidende rol gespeel in die uitbou van Suid-Afrikaanse sportgeskiedenis. Dit sluit in 63 geakkrediteerde tydskrifartikels, 26 populêre tydskrifartikels, 11 navorsingsverslae, 18 boekhoofstukke, 32 boekpublikasies, asook 14 nasionale en 38 internasionale referate wat handel oor Suid-Afrikaanse sport. Sy skeppende bydrae tot die volgehoue uitbouing van die sosiale en geesteswetenskappe in Suid-Afrika is van groot waarde tot die kulturele erfenis van ons land. Floris van der Merwe se naam word onlosmaaklik gekoppel aan Suid-Afrikaanse sportgeskiedenis binne en buite koloniale konteks.

EREPENNING VIR UITVOERENDE KUNSTE

Die Erepenning word toegeken vir ’n persoon se skeppende bydrae tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van die kunste en die suksesvolle toepassing daarvan in breër verband.

Vanjaar word die prys toegeken aan die akteurspaar, Lida Botha en Johan Botha.

Die akteurspaar, Lida Botha en Johan Botha, het in hulle loopbane, sedert die laat 1970’s ’n besondere en noemenswaardige bydrae tot Afrikaanse teater, televisie, film en radio gelewer. Inderwaarheid het hulle hul hele lewens aan hulle kuns gewy en oor dekades huishoudelike name vir die Suid-Afrikaanse publiek geword. Dat hulle uitsonderlike talente, op hulle gevorderde ouderdom, steeds gesog is onder veral ’n nuwe geslag opkomende teaterkunstenaars, film- en televisievervaardigers en regisseurs, spreek van bewese talent wat verering verdien.

SCHEEPERSPRYS VIR JEUGLITERATUUR

Die prys word driejaarliks toegeken vir ’n werk in Afrikaans in enige genre gemik op tieners en jong volwassenes.

Die prys word vanjaar toegeken aan Louis Pretorius vir Kompleks.

Die kortlys is soos volg:

  • Vuur: Is dit die einde? deur Hannes Barnard (LAPA)
  • Toe als groen was deur An-Mari do Carmo (Luca - LAPA, Penguin Random House)
  • Kompleks deur Louis Pretorius (LAPA)
  • Waar jakkalse huil deur Elrien Scheepers (Tafelberg)
  • Chakalaka uit ’n blikkie deur Sandy Schoeman (Tafelberg)
  • Die lewe se vuil houe deur Fanie Viljoen (LAPA)
ALBA BOUWERPRYS VIR KINDERLITERATUUR

Die toekenning van hierdie prys word driejaarliks oorweeg vir ’n Afrikaanse kinderboek in enige genre. Die kategorie kinderliteratuur sluit boeke in vir kinders van 8 tot 12 jaar.

Die prys word toegeken aan Marissa Badenhorst vir Watermeisie: Akwa se reis.

Die kortlys is soos volg:

  • Watermeisie: Akwa se reis deur Marissa Badenhorst (Tafelberg)
  • Geldwolfie deur Jaco Jacobs (Protea Boekhuis)
  • Die spinnebotte slaan toe deur Marga Jonker (Tafelberg)
  • Felina Kat geheime agent deur Louise Smit (Human & Rousseau)
  • Die dodelikste donuts in die heelal deur Cecilia Steyn (Human & Rousseau)
  • Kinders van die gode: die profesie van die bloedpêrel deur Antoinette Venter (Protea Boekhuis)
  • Springboekie deur Fanie Viljoen (LAPA)
DOUW GREEFFPRYS

Die prys word toegeken vir ’n navorsing- of oorsigartikel van hoogstaande wetenskaplike gehalte wat gedurende die jaar wat die prys voorafgaan, in die SA Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie (SATNT) gepubliseer is.

Die prys word toegeken aan dr. B.A. Senekal vir sy artikel ’n Visuele verkenning van Suid-Afrika se posisie in die globale bestanddeel-resep-netwerk wat verskyn het in die SATNT, 43(1), 2024.

JACQUES VAN DER ELSTPRYS

Die prys word jaarliks toegeken vir die beste artikel wat in ’n bepaalde jaar in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe (TGW) verskyn het.

Die prys is vanjaar toegeken aan Petria Winter, Monique Rabé, Juan Bornman, Febe de Wet, Marien A. Graham en Jeannie van der Linde vir hulle artikel Kodewisselingspatrone by natuurlike, gesproke taal in ’n groep jong Afrikaanse kinders: ’n Verkennende studie wat verskyn het in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 63(1), 2023.

JUNIOR KAPTEIN SCOTT-GEDENKMEDALJE (PLANTKUNDIGE WETENSKAPPE)

Die medalje kan jaarliks toegeken word vir die beste verhandeling wat by ’n Suid-Afrikaanse universiteit vir die M.Sc.-graad ingedien is (om die beurt in die dierkundige en plantkundige wetenskappe).

Die prys word vanjaar toegeken aan Mia Olga Schutte van die Universiteit Stellenbosch vir haar verhandeling Effect of forced convection roasting on non-enzymatic browning and antioxidant properties of wheat using spectrophotometric assays and near-infrared spectroscopy.

Schutte se tesis lewer ’n beduidende bydrae tot die veld van graanwetenskap deur die impak van roostering op koring noukeurig te ondersoek. Haar studie lewer insigte oor die chemiese veranderinge wat tydens die roostering plaasvind, spesifiek nie-ensiematiese verbruining, verhoogde antioksidantinhoud en -kapasiteit, en die verband tussen hierdie faktore.

POORTPRYS

Die Poortpryse word jaarliks toegeken vir die twee beste skeppende bydraes (poësie, prosa, drama) deur leerders in grade 10, 11 en 12 wat aan die Poort-kompetisie deelgeneem het.

Die pryse word vanjaar toegeken aan:

Poësie: Juan Loubser van die Afrikaanse Hoër Seunskool, Pretoria vir sy gedig Reën.

Drama: Tomas du Preez van Home Life Academy (tuisskool) vir sy drama Val.

Lees ook:

LitNet Akademies-resensie-essay: Decima deur Eben Venter

Gaireyah Fredericks vertel oor die bekendstelling van haar boek Een voet innie kabr

Kompleks: ’n onderhoud met Louis Pretorius

Persverklaring: SA Akademiepryswenners vir 2024

Persverklaring: Kortlyste van die SA Akademie se letterkundige pryse van 2025 bekend

The post Persverklaring: Aankondiging van die Suid-Afrikaanse Akademiepryse vir 2025 first appeared on LitNet.

The post Persverklaring: Aankondiging van die Suid-Afrikaanse Akademiepryse vir 2025 appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21644

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>