
Foto’s en illustrasies: verskaf
Nathan Trantraal, André Trantraal en Ashley Marais stal vanjaar by die Suidoosterfees uit onder die tema, Stormkaap: Kom drome andersom uit?. Dis die trio se eerste groot openbare uitstalling saam.
Stormkaap is ’n oorsig van die grafiese werk van die Trantraal-broers en hul langtermynmedewerker Ashley. Hierdie uitstalling is ’n tapisserie van meer as 20 jaar se werk, van hul eerste grafiese roman, Stormkaap: Drome kom altyd andersom uit (2008), tot hul strokiesprente in koerante, geïllustreerde poësie en Coloureds (2010).
Nathan Trantraal is in 1983 in Kaapstad gebore. Sy debuutdigbundel, Chokers en survivors, is bekroon met die Ingrid Jonker-prys (2015) en ’n ATKV-Woordveertjie vir digkuns (2014). Hy is getroud met Ronelda S Kamfer. Alles het niet kom wôd is sy tweede digbundel. Hy is tans ’n dosent in die MA in Kreatiewe Skryfkuns-program by Rhodes-universiteit.

Nathan Trantraal (foto: verskaf)
André Trantraal, in 1980 gebore, is ’n skrywer, illustreerder en vertaler. Hy is die wenner van ’n ATKV-Woordveertjie vir sy kinderboek Keegan en Samier: die sokker-fiasko en ’n tweemalige wenner van die SALA-prys vir kinderliteratuur. Hy woon in Claremont.

André Trantraal (foto: verskaf)
Ashley Marais, in 1981 gebore, werk sedert 2008 met die Trantraal-broers saam. Hy is die hooftekenaar van die strokiesprentboek Drome kom altyd andersom uit en mede-illustreerder van onder meer A tale of two sisters, Coloureds en Crossroads. Hy woon in Matroosfontein.

Ashley Marais (foto: verskaf)
In 2011 begin André om die historikus Koni Benson se doktorale proefskrif oor die onderbeligte geskiedenis van Crossroads in Kaapstad tot ’n episodiese strokiesprentboek te verwerk. Oor ’n tydperk van vyf jaar voltooi die kreatiewe kwartet dié sesdelige reeks, eenvoudig getitel Crossroads. Die ses stories word later saamgevat in ’n boek getitel Crossroads: I live where I like. Die strokies is gebaseer op die ervaringe van die dapper vroue wat Crossroads gebou en dit verbete teen apartheidstootskrapers verdedig het.
André en Nathan is saam met Ashley en Koni Beson die skrywers van Crossroads: I live where I like.
Met meer as 60 lewensverhale is dié grafiese niefiksie die geskiedenis van vroue wat Crossroads oor die afgelope 50 jaar gebou en verdedig het. Dis die enigste informele nedersetting wat die apartheidstootskrapers in Kaapstad suksesvol vrygespring het. In ’n beskrywing van die boek word na die Trantraals en Ashley verwys as politieke spotprenttekenaars en word gemeld: “Hierdie samewerking het 'n pragtige, boeiende, toeganklike, vergete – en in baie opsigte ongemaklike – geskiedenis van Kaapstad opgelewer wat nog nie erken is nie.”

Nathan en André (foto: verskaf)

Ahsley en André (foto: verskaf)
Vrae vir Nathan, André en Ashley
Hoe voel dit om by die SOF uit te stal vanjaar?
Nathan: Comics is ’n modest artform. Jy hoef net na die condition van ôs se original art-die drawings wat ôs gekieset virrie fees en die drawings wat ôs byrie hys gelosset te kyk en jy sal sien dat ôs nie rêrag expect ’et dat ôs se wêk eendag in gallery spaces sal hangie. Om deel te kan wies vannie fees en om ôs se artwork in ’n classy joint soesie Artscape Theatre te kan display voel dus ampe soes ’n soot van double recognition: van ôs se comics maa oek van comics as ’n medium. Met anne woorde, ’it voel goed.
.......
Om deel te kan wies vannie fees en om ôs se artwork in ’n classy joint soesie Artscape Theatre te kan display voel dus ampe soes ’n soot van double recognition: van ôs se comics maa oek van comics as ’n medium. Met anne woorde, ’it voel goed.
.......
Hoe besluit jy wat vertoon word en wat eerder moet bly?
André: Omdat ek die unofficial custodian van ôs se artwork is – wat maa net mean dat ek die majority van ôs se pen en paper drawings in ’n kas in my workspace stoor – het ôs beslyt dat ek mettie curator, Carin Bester, moet wêk. Baie van ôs se original artwork is damaged of permanently velore. Ôs hettie altyd goed agte ôs se drawings gekykie, want ôs hettie altyd ’n proper laaikas of iets gehad om drawings in te hou nie. Maa die ouens het my ’n free hand allow om vannie beste van die surviving artwork te kies en available te maak om te display en te vekoep.
Hoekom is jul werk nou nog belangriker om gesien te word as byvoorbeeld 15 jaar gelede?
André: Die eeste boek in Kaapse Afrikaans wat die taal in ’n honest en fiercely unapologetic way gerepresent ’et wassie ’n digbundel of even ’n novel ’ie; niks soe elevated of respectable ’ie. ‘It was ’n comic book, Drome kom altyd andersom uit. Toe ek in Kaaps begin skryf ’et, toe was coloured mense se culture en taal nog very much gesien as subjects vi amusement en scorn dee baie mense. Dai tyd toe voelit lonely om in Kaaps te skryf, en even lonelier om comic books in Kaaps te skryf. Maa om invisible mense in hulle supposedly inferior taal in ’n stigmatised medium te depict het oek gevoel soes ’n soot van symmetry. Vandag is dinge natuulik baie anneste. Ek contend dat comics in Kaaps soes Drome en Coloureds ’n nuwe tipe Afrikaans ingelui ’et en dai feit allien maak dat hulle important en relevant is selfs 15 jaa later.

Uit Crossroads (grafika: verskaf)
Watter werk van jou lê jou die naaste aan die hart?
André: Coloureds.
Nathan: Coloureds.
Ashley: Stormkaap.
Watter werk van jou het al die meeste reaksie uitgelok en hoekom dink jy het dit soveel trefkrag gehad?
André: Coloureds, without a doubt. Ôs wassie heeltemal ready vi hoe popular ‘it sou wôd ie. Ôs hettit vi baie cheap vekoep, vi R3 ’n boekie, omdat ôs ‘it affordable vi mense innie Lavis en innie Plain en innie Hanover Park wou maak. Oppie ou einde wassit meestal wit mense wat die boekie byrie independent bookstores innie Kaap vi R50 ’n pop gekoep ’et. Die handjievol coloured mense wat wel die boek gekoep ’et en gelies ’et het hulle klaa gelag. Ek het baie e-mails van wit mense gekry wat gesêret while hulle nie in abject poverty grootgewôd ’et soesie kinnes innie comic ie, kon hulle nevertheless nog altyd 100 persent identify met die violent alcoholic parent part. ’It was amazing om te sien hoe iets wat ôs gemaaket soe baie mense from all walks of life in soeveel different meaningful ways affect ’et.
Nathan: Vi my oek, Coloureds. Hands down.
Ashley: Vi my issit Crossroads. Baie vannie actual vrouens wie innie boek appear het gesê dat hulle baie impressed was met hoe accurately baie vannie events en ve’al die mense geportray was. Jy kannie vi higher praise as dai vra nie.

Uit Coloureds (grafika: verskaf)
Wat is jou gevoel van Suid-Afrika in 2025? Wat maak jou kwaad? Wat is jou top drie bugbears?
André: Cape Town motorists, overpriced bier en die prys van electricity is my pet gripes.
Ashley: Wat vi my kwaad maak is dat jongmense vandag nie wêk kan kry nie. Dai een simple problem is responsible vi ampe allie anne problems in ôs se communities: crime, drug addiction, armoede, homelessness.
........
Nathan: Die laaste kee wat ek proud gevoel ’et om ’n South African te wies was laas jaa, met die ICJ case. Ek voel soms South Africans het net twie settings: greatness en horribleness, en niks in between.
........
Wat geniet jy aan Suid-Afrika vandag?
Nathan: Die laaste kee wat ek proud gevoel ’et om ’n South African te wies was laas jaa, met die ICJ case. Ek voel soms South Africans het net twie settings: greatness en horribleness, en niks in between.
Waar vind jy vrede?
Ashley: ’n Goeie bôd van hulle ma se kos!
André: Oppie sofa in my hys met ’n biertjie in my hand en Hasan Piker of Sam Seder as background noise.
Stem jy saam dat julle politieke spotprenttekenaars is of is daar ’n ander benaming waarmee jy gemakliker voel?
Nathan: Vi my is ’n political caricaturist iemand soes Zapiro. Ôs maak comics wat educational is en comics wat entertain, en soms maak ôs comics wat al twie doen. Maa al ôs se comics gan oo arm mense. En poverty is inherently political.

Uit Coloureds (Grafika: verskaf)
Hoe belangrik is kritiese politieke kommentaar soos jul werke in die wêreld waarin ons leef?
André: Orals wat jy lies worry mense oo die damaging effects van deepening inequality. Ôs is die most unequal society innie wêreld. Wat mean dat die res vannie wêreld worry dat hulle eendag soes ôs gan lyk. Die status quo, hie en internationally, ensure dat ôs se commentary bly saak maak.
........
Ashley: Ek dink dat die benefit van traditional media soes pen potlood en papier is dat jou struggles en mistakes visible is oppie page. Ek dink om dai struggle mettie drawing in ’n gallery space showcase kan encouraging wies vi jongmense wat self wil comics maak, miskien selfs vi fellow professionals.
........
Wat is jou hoop vir hierdie uitstalling en die boodskap wat jy hoop dit by mense sal tuisbring?
Ashley: Die maak van comics wôd increasingly iets wat mense op computer screens doen. AI art en drawing tablets is obviously die future. Ek dink dat die benefit van traditional media soes pen potlood en papier is dat jou struggles en mistakes visible is oppie page. Ek dink om dai struggle mettie drawing in ’n gallery space te showcase kan encouraging wies vi jongmense wat self wil comics maak, miskien selfs vi fellow professionals.
Nie een van julle maak baie gebruik van Instagram of Facebook nie – waar kan mense jul werk te siene kry?
Ashley: Dee ôs se comics te koep!
Waaraan werk julle na die SOF?
André: ’n Exhibition by ’n museum in Frankfurt latere die jaa is ôs se next shared project.
- Die uitstalling is gedurende die fees in die Kandelaar-portaal op die tweede vloer te sien.

Uit Coloureds (grafika: verskaf)
Lees ook:
Carlo Daniels in eenmanstuk van Kafka, Die uitweg, by die Suidoosterfees te sien
Suidoosterfees 2025: Hortjies dig – ’n onderhoud met Francois Toerien
Joe Barber 25 by die Suidoosterfees 2025: ’n kwarteeu van jou gunstelingbarbier
Suidoosterfees 2025: Verwelkingslied – ’n onderhoud met Antoinette Kellermann
Persverklaring: Komedie by Suidoosterfees bring lekkerlag-terapie teen die lewe se sorge
Die man wattie kinnes vang: ’n onderhoud met Nathan Trantraal
The post Suidoosterfees 2025: Stormkaap: Kom drome andersom uit?: ’n onderhoud met Nathan Trantraal, André Trantraal en Ashley Marais first appeared on LitNet.
The post Suidoosterfees 2025: <em>Stormkaap: Kom drome andersom uit?</em>: ’n onderhoud met Nathan Trantraal, André Trantraal en Ashley Marais appeared first on LitNet.