Dink jouself gelukkig
Pieter van Jaarsveld
Lux Verbi
ISBN: 9780796323521
Hollywood on the veld
Ted Botha
Jonathan Ball Publishers
ISBN: 9781776194681
Khaki Fever
Lindsay Norman
Jonathan Ball Publishers
ISBN: 9781776194681
- Deborah Steinmair skryf ’n nuwe boekrubriek vir LitNet.
Vandeesweek het ek ’n Afrikaanse selfhelpboek en twee plaaslike Engelse boeke nadergehark: ’n niefiksieboek en ’n roman.
Dink jouself gelukkig deur Pieter van Jaarsveld ... My vriendin Marisa sê toe ander kinders begin uitgaan, het sy tuis gebly en Hou op kwel en begin lewe gelees. Selfhelpboeke laat my koud, maar die voorblad van hierdie boek is heeltemal onweerstaanbaar: ’n groot geel son teen ’n blou agtergrond. In die son staan die titel in rooi hoofletters. En die subtitel: Verander jou denke. Verander jou lewe. Uiters aanloklik – en makliker gesê as gedaan.
Pieter van Jaarsveld is ’n konsultant vir leierskapsontwikkeling in die sakewêreld, hier en oorsee. Met meestersgrade in sielkunde en teologie. Hy woon in die Strand en op die foto lyk hy blakend gesond en dolgelukkig.
Ek benader so ’n boek op armlengte, langs my neus af. Van Jaarsveld gebruik die Holocaust-oorlewer Edith Eger se geskiedenis en die Bybelse storie van Dawid en Goliat om sy lewenswaarhede te illustreer.
Het jy geweet: Om gelukkig te wees is ’n Bybelse opdrag. Het jy geweet daar is 100 miljard neurone in jou brein?
Na ’n kort voorwoord val hy weg met Edith se storie en dit lees soos ’n roman, in haar eie stem.
Daar is besinning oor wat geluk beteken en oefeninge om jou stresvlakke te toets. Daar is baie klem op die rol wat ons gedagtes speel in die bepaling van ons geluk. Daar is grappies tussenin, en praktiese wenke. Het jy al ooit nagedink oor aangeleerde hulpeloosheid? Dit lyk baie op depressie. Daar is vaardighede en tegnieke om aan te leer om positiewe verhoudings te bou. Onbelangrike verhoudings kan ook ’n groot impak op jou lewe hê. Natuurlik is daar leiding oor die huwelik en egskeiding. Hoe om empaties te luister.
Nou goed dan. Laat sak jou vooroordeel, lees dit en put uit die volle arsenaal van geluk.
...........
Laat sak jou vooroordeel, lees dit en put uit die volle arsenaal van geluk.
..............
Hollywood on the veld deur Ted Botha het die subtitel When movie mayhem gripped the City of Gold. Dis spektakelagtig soos ’n outydse sirkus, in die dae voordat almal jammer geword het vir die diere. Daar is soveel wat ek nie oor Johannesburg geweet het nie – hoe glorieryk die Goudstad was aan die begin van die vorige eeu, vol swier en spoggerigheid. Daar was indrukwekkende geboue soos The Empire, wat ’n hele straatblok beslaan het en nie ’n tree teruggestaan het vir teaters in Londen en New York nie.
Op die verhoog van die Empire het skouspele afgespeel:
Marie Lloyd singing favourites like “Wink the Other Eye” and “Twiggy-Vous”; the Spanish dancer La Tortajada clattering across the floorboards; Paul Cinquevalli, “the king of jugglers”; the opera singer Signor Foli from Ireland; the Flying Jordan acrobats; the French tightrope walker Blondin.
Sirkusgeselskappe het per skip en trein aangesuiker – Feely, Cooke, Wirth en die Duitse Pagel en sy vrou, en “vaudeville, music hall artistes, Shakespeare, magic lanterns, Gilbert & Sullivan, dance troupes, opera, tightrope walkers, magicians and prestidigitators like The Great Carter and Horace Goldin.”
............
Sirkusgeselskappe het per skip en trein aangesuiker – Feely, Cooke, Wirth en die Duitse Pagel en sy vrou, en “vaudeville, music hall artistes, Shakespeare, magic lanterns, Gilbert & Sullivan, dance troupes, opera, tightrope walkers, magicians and prestidigitators like The Great Carter and Horace Goldin.”
................
Vermaak was ’n doepa en teengif teen isolasie en gereelde beproewings. Maar teen 1912 het die uitspattige spandabelrigheid begin uitrafel. Elke groot teater in die land is deur bankrotskap in die gesig gestaar. In 1913 is die trotse Empire opgeveil.
Hier tree die held van die boek na vore: ’n kort, onberispelik geklede Amerikaanse Jood, Isidore William Schlesinger, wat sonder ’n sent hier aangeland en skatryk geword het uit versekering en eiendom. Nou wou hy sy hand waag aan showbiz. Hy het die Empire en min of meer elke ander teater in die lang opgekoop en besluit hy gaan rolprente maak om daarin te vertoon. Hy het die beste talent uit Amerika en Engeland laat kom en miljoene ponde in die bedryf belê.
Hy het groot name aangestel, soos Rider Haggard, Lorimer Johnson en Harold Shaw en fantasmagoriese projekte aangepak. En geld gemaak. Hy het ’n ateljee by Killarney begin, wat toe nog nie ’n woonbuurt was nie, en fasiliteite wat met die beste in Hollywood kon meeding. Hy het woonbuurte soos Parkhurst en Orange Grove gevestig. Hy het African Mirror begin, beeldmateriaal oor nuusgebeure wat in bioskope vertoon is voordat die rolprent begin. Sy kameramense was legendaries. Hy het groot treffers soos Blue Lagoon, De Voortrekkers en Winning a continent, met honderde byspelers en grootse kostuums, in die veld geskiet eerder as in ateljees.
Hy was hartstogtelik lief vir die Suid-Afrikaanse veld, en het verwys na die “wand of witchery” wat die landskap uitoefen. Hy was tuis by Afrikaners en bevriend met generaals soos Beyers, De Wet, Hertzog en Smuts. Hy het die Carlton-hotel gekoop en op die boonste verdieping gewoon. Hy was ’n uiters private mens wat die kollig vermy en stil-stil uitspattig geleef het.
Dis die dokument van ’n era, maar ook ’n verslag van die lewe van een uitsonderlike man. Hoe het sy ateljee tot ’n val gekom? Hollywood, wat hy hier wou dupliseer, het African Films op sy knieë gedwing. Steeds was Schlesinger egter een van die rykste mense in die wêreld, met 90 maatskappye en 20 000 werknemers regoor die wêreld. Hy was ongeveer $140 miljoen werd, ($1,4 miljard vandag). Dis ’n fassinerende boek wat soos fiksie lees.
Oor Khaki fever deur Lindsay Norman is ek in vervoering. Margaret Magwood, gewese boekeredakteur van Sunday Times, verwys op die voorblad na Norman se "brio". Ek het dit opgesoek: “Vigour or vivacity of style or performance”. Ek stem volmondig saam.
Die eerstepersoonverteller is my soort karakter: êrens op die spektrum, koddig, sosiaal wanaangepas, beginselvas en sonder ’n wag voor haar mond. Met ’n groot skeut mensweersin. Alexandra Carnell-Ellis is met ’n goue lepel in die mond gebore. Haar familie is welgesteld en vernaam. Sy is ’n veldwagter, of eerder gids, by ’n reservaat in die Karoo, maar haar mensvaardighede laat haar lelik in die steek en sy word summier afgedank. Sy is idiootweerstandig.
Sy besluit om oor te begin, onder ’n skuilnaam, sonder die hulp van haar familie. Sy ruil haar nuwe Jeep in vir ’n ou bakkie en begin op ’n uiters gesogte reservaat in Mpumalanga werk. Die eienaar is die eksentrieke Legend, ’n lang, geharde man met dreadlocks en ’n ensiklopediese kennis van die veld. Boonop is hy ’n kuiergat en uitstekend met mense. Sy regterhand is ook legendaries – die aantreklike, terughoudende Kwanele Chamane, ’n olifantfluisteraar. Alex is eksentriek genoeg om in hierdie opset in te pas, en sy het die veld en diere hartstogtelik lief. Natuurlik beproef orige, dronk gaste haar senuwees en so ook die nuut aangestelde bestuurder, ’n bombastiese hoofseuntipe, vol ambisie en grootheidswaan. Gaan sy ooit inpas?
...........
Dis snaaks en roerend. Ek was in trane. In die uitgewersbedryf het ek geleer: As ’n manuskrip my laat huil, gaan dit werk. Ek huil nie wanneer dit van my verwag word nie, ek moet onverwags oorrompel word deur skoonheid.
..........
Dis snaaks en roerend. Ek was in trane. In die uitgewersbedryf het ek geleer: As ’n manuskrip my laat huil, gaan dit werk. Ek huil nie wanneer dit van my verwag word nie, ek moet onverwags oorrompel word deur skoonheid.
Ek is verruk dat daar op eie bodem so ’n onvergeetlike boek opgespring het. Soveel brio, inderdaad! Ek kan dit nie hoog genoeg aanbeveel nie.
Lees ook:
Boekevat met Deborah: Mevrou Smit se reëls vir goeie gedrag, An act of murder en Outopsietafel
The post Boekevat met Deborah: Dink jouself gelukkig, Hollywood on the veld en Khaki fever first appeared on LitNet.
The post Boekevat met Deborah: <em>Dink jouself gelukkig</em>, <em>Hollywood on the veld</em> en <em>Khaki fever</em> appeared first on LitNet.