Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21697

Die grafiese roman en edusemiotiek in taalverwerwing: ’n onderhoud met Cornelia van der Berg

$
0
0

Illustrasie: CDD20 op Pixabay; foto van Cornelia van der Berg: verskaf

Cornelia van der Berg is die departementshoof vir Afrikaans Eerste Addisionele Taal (EAT) by ’n privaat skool in Centurion en is tans besig met haar proefskrif oor die waarde van die grafiese roman in die EAT-klas.

Jannike Bergh gesels met Cornelia van der Berg oor haar LitNet Akademies-artikel, ’n Konseptuele lens op die gebruik van die grafiese roman in die Eerste Addisionele Taal-klas”, wat onlangs verskyn het.

Hallo Cornelia. Wat is edusemiotiek en hoe verskil dit van meer algemene/gevestigde geletterdheidsbenaderings? Word dit alreeds wyd in Suid-Afrikaanse klaskamers geïntegreer?

Edusemiotiek is ’n benadering tot onderwys wat opvoedkunde, leerteorie en semiotiek (die studie van tekens en simbole) kombineer. Dit fokus daarop om leerders te help verstaan hoe betekenis deur tekens – soos woorde, beelde, simbole en gebare – geskep en oorgedra word. In plaas daarvan dat onderwysers net feite of waardes aan leerders oordra, help edusemiotiek leerders om krities te dink oor wat hulle sien, hoor en lees, en om die dieper betekenisse daaragter te verstaan. Dit maak leerders bewus van die rol wat kulturele en sosiale invloede speel in dit wat as “reg” of “verkeerd” beskou word. Edusemiotiek leer jou nie net wat om te dink nie, maar hoe om oor betekenis te dink.

........
Edusemiotiek leer jou nie net wat om te dink nie, maar hoe om oor betekenis te dink.
........

Semiotiek is in elke skoolvak verweef, maar edusemiotiek en die rol van tekens in ons alledaagse lewens word nie formeel in die Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (KABV) uiteengesit nie. Die kurrikulum fokus eerder op vakinhoud, vaardighede, assessering en kurrikulêre doelwitte per graad en vak. Elemente van edusemiotiek word wel indirek ingesluit in taalonderrig (bv poësie, visuele tekste) en ander skoolvakke waar daar op kritiese denke, die vertolking van simbole, tekste en beelde, morele en etiese denke en kultuurbewustheid gefokus word. Edusemiotiek kan dus beter benut word om dieper insig en betekenisvolle leer in alle skoolvakke te bevorder.

Die artikel kyk spesifiek na taalverwerwing. Kan jy ons meer vertel oor waarom grafiese romans ’n waardevolle hulpbron is vir die integrering van edusemiotiek in die klaskamer, en spesifiek vir die aanleer van addisionele tale?

 ’n Edusemiotiese benadering tot die onderrig van die grafiese roman kan ’n belangrike rol in taalverwerwing vir vreemdetaalsprekers speel. In grafiese romans word prente met teks gekombineer, wat dit vir leerders makliker maak om nuwe woorde en sinstrukture te verstaan. Die visuele elemente help om betekenis vas te lê en vereis ’n sekere mate van betrokkenheid van die leser. Edusemiotiek ontwikkel leerders se vermoë om simbole, ikone en indekse te vertolk, wat nodig is vir kommunikasie in ’n spesifieke omgewing. Deur hierdie benadering ontwikkel leerders ’n dieper begrip van hoe betekenis in ’n nuwe taal geskep en oorgedra word. Dit verbeter leerders se lees- en luistervaardighede, en bevorder kulturele insig terwyl dit meer betekenisvolle, prettige en effektiewe leer bevorder.

.........
In grafiese romans word prente met teks gekombineer, wat dit vir leerders makliker maak om nuwe woorde en sinstrukture te verstaan. ...  Dit verbeter leerders se lees- en luistervaardighede, en bevorder kulturele insig terwyl dit meer betekenisvolle, prettige en effektiewe leer bevorder.
.........

Hoe kan ander vakke ook by so ’n multigeletterdheidsbenadering baat?

Daar bestaan reeds heelwat navorsing oor die waarde van die grafiese roman in verskillende vakgebiede. ’n Edusemiotiese benadering verseker dat leerders nie slegs vakinhoud memoriseer nie, maar werklik verstaan hoe betekenis deur woorde, beelde, simbole en selfs gebare oorgedra word. Hierdie benadering maak leer meer omvattend, interaktief en betekenisvol. In taalvakke en drama leer leerders om nie net geskrewe teks te ontleed nie, maar ook visuele tekste, simboliek, metafore en toon, en om te verstaan hoe taal en beelde saamwerk om emosie en betekenis oor te dra. In wiskunde word simbole en diagramme as ’n vorm van taal beskou, en probleemoplossing vereis die vermoë om patrone en tekens raak te sien en te interpreteer. In die wetenskappe, waar grafieke, chemiese formules, diagramme en modelle as semiotiese tekens dien, help edusemiotiek leerders om hierdie visuele en simboliese elemente sinvol te ontsyfer. In aardrykskunde speel die begrip van simbole en skale ’n sleutelrol in kaartlees, terwyl leerders in geskiedenis leer om visuele bronne, artefakte en beelde te ontleed en te verstaan. Die kunste vereis dat simbole, kleur, komposisie en styl vertolk en insig ontwikkel word in hoe kunswerke kommunikeer en betekenis (sonder woorde) oordra. In die vak lewensoriëntering bevorder hierdie benadering die ontwikkeling van kritiese denke oor temas soos identiteit, kultuur en waardes, wat belangrik is vir die vorming van ingeligte en verantwoordelike besluitneming.

Kan grafiese romans in die multikulturele konteks van Suid-Afrika ’n bydrae lewer om kulturele verskille te oorbrug en begrip daarvoor te bevorder?

Grafiese romans is ’n kragtige hulpmiddel om kulturele verskille en ooreenkomste aan te spreek, omdat die kombinasie van teks en beeld betekenis op verskeie vlakke oordra. Deur visuele konteks, karakteruitbeelding en simboliek help hierdie romans leerders om empatie te ontwikkel en ander kulture beter te verstaan. Dit bevorder ook gesprekke oor identiteit, onderdrukte stemme en gemeenskaplike ervarings, wat veral nuttig is in klaskamers waar kulturele diversiteit voorkom.

Hoe kan grafiese romans en edusemiotiek leerders bemagtig om fopnuus van feite te onderskei?

Grafiese romans stel die leser in staat om ’n “gewillige medewerker” te word, aangesien die leser die ruimte tussen die panele self moet invul en sodoende die verhaal saam met die skrywer help skep. Die leser moet ook klanke en ander effekte wat nie visueel weergegee kan word nie, “verbeel” om betekenis uit die roman te haal. Hierdie samewerkende verhouding tussen skepper en leser bevorder kritiese denke en kreatiwiteit, aangesien die leser sy of haar eie intelligensie, verbeelding en emosie tydens die leesproses inspan.

........
Hierdie samewerkende verhouding tussen skepper en leser bevorder kritiese denke en kreatiwiteit, aangesien die leser sy of haar eie intelligensie, verbeelding en emosie tydens die leesproses inspan. Dit hou dus direk verband met die vaardighede wat deur mediageletterdheid ondersteun word.
........

Dit hou dus direk verband met die vaardighede wat deur mediageletterdheid ondersteun word. Die lees van grafiese romans bevorder ook ’n deelnemingskultuur, waarin die leser met probleemoplossing, die kombinasie van media-inhoud, die evaluering van bronne, die sintese van inligting, en die volg van transmediaverhale eksperimenteer. Hierdie prosesse stem ooreen met kernvaardighede soos sintesevorming, ontsyfering, interpretasie en transmedianavigasie, wat aktief ontwikkel word deur die lees of skep van strokiesverhale en grafiese romans.

Lees ook:

’n Konseptuele lens op die gebruik van die grafiese roman in die Eerste Addisionele Taal-klas

 

 

The post Die grafiese roman en edusemiotiek in taalverwerwing: ’n onderhoud met Cornelia van der Berg first appeared on LitNet.

The post Die grafiese roman en edusemiotiek in taalverwerwing: ’n onderhoud met Cornelia van der Berg appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21697

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!