My man
met hande soos huise
waarin ek kan vlug,
die wêreld uitsluit,
die sleutels weggooi,
my oorgee
om hul honger,
eensaam koepels met liefde te vul;
rond, fisiek.
My man
met die bruin speseryneut kneukels
langs die vleisbraaivuur,
met die hart soos 'n present hondjie
wat soms, per ongeluk, seer byt,
soms onverwagte plassies maak.
My man
met die asem wat
na varsgeploegde aarde ruik,
die stem wat water
in 'n leivoor namaak,
of koperklanke van 'n veraf klok
waar duiwe woon.
En na 'n dag se vasvat,
regvat, raakvat,
geur sy oksels soos tambotie
vir 'n voetstuk haaks gesaag
waarop ek, sy troumadonnatjie sal staan
vir die wêreld om te sien;
as 'n trofee vir liefde van 'n man:
my man.
Hy het gesê.
Ek hou meer van jou
- jy is meer vrou -
in jou kruietuin gehurk.
En as jy inkom,
jou sonhoed afskuif agtertoe
soos 'n oureool om jou donkerbruin loof;
is jy nooiensboom, kiepersol;
die son dalk uit jou hare maar
steeds in jou oë, jou siel;
en op dié binneson
het my hart gestol, is ek versot,
soos op jou asemdeining
waar daar tiemie huiwer,
aandblom bot, op sagte wind.
Jou lag is eggos bokmakierie,
jou boesem, geur van roosmaryn
waar fyn tjeriktikkies in skuil,
tinktinkies, borrelvinkies,
'n klopkloppie wat loodreg styg
en vlerkeklappend weer neerstort
om lente te bekoor, bietjie te tart.
Iewers is daar kruisement of salie,
is jou voete dalk daarmee gesalf?
Ek sou hul soen, soos ook jou oorskulp
waar amandel blom, ek sou
die halm van jou nek sag streel,
my hand 'n liewenheer se besie
wat teen 'n soetemaling klim.
Ek hou oortreffend veel van jou
as jy inkom uit die reën,
die geure van jou buite wees
saambring.
Jou oë - vol geheime vreugde -
amber soos soetdoring gom.
En as jou fyn hande op myne lê,
'n skraapsel goeie aarde nog
onder jou naels;
en jou stem, sag
soos swiesysies se geluidjies saans
se vraag: “wil jy dalk koffie hê,
of net vir my”?
Dan verloor ek kop, en wil ek in die aarde
áán, en ín jou groei,
begrawe word, vereen.
Dis dan dat ek jou laphoed
met die skeurtjie in sy keelband,
sag losknoop,
dit afhaal, jou in my arms optel,
weereens oor die drumpel dra,
in jou amandeloor fluister dat ek
jou ver bo drinke, ete, asem, wind,
son, kruie, water, reën verkies;
bo bye in die blomme,
heuning in die krans,
'n bos soet, blank madonnalelies;
bo vlinders se ballet
in filetkelke, kosmoskrone,
in jou kruietuin.
Want in jou is die volheid van
die skepping verteenwoordig,
in jou hou God ook iewers skuil
en laat my, met 'n glimlag
in Sy allerheiligste soms toe as ek,
soos in Sy tempelvoorhowe
met skoongespoelde voete tree;
my hande opgehef in lof.
The post Sy het gesê / Hy het gesê appeared first on LitNet.