Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21697

Die Satyrica van Petronius, vertaal deur WJ Henderson: ’n lesersindruk

$
0
0

Die Satyrica van Petronius, vertaal uit Latyn in Afrikaans vertaal deur WJ Henderson (Uitgewer: Naledi)

Titel: Die Satyrica van Petronius, vertaal uit Latyn in Afrikaans
Vertaler:
WJ Henderson
Uitgewer:
Naledi (2025)
ISBN:
9781067234263

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Vertaling stel hoë eise aan die vertaler. Veral as dit oor Hebreeuse, Griekse, Latynse en Italiaanse tekste gaan. WJ (Bill) Henderson voldoen aan al die eise om Griekse en Latynse tekste te vertaal. Hy is ’n Emeritus Professor in die Departement Griekse en Latynse Studies aan die Universiteit van Johannesburg. ’n Voorbeeld van sy voortreflike vertaling van ’n Griekse teks is Vir Griekse fluite (2009). Hierdie manjifieke vertaling bevat elegiese verse van 13 oud-Griekse digters.

........
Die Satyrica van Petronius (2024) is ’n skitterende vertaling uit Latyn. Hierdie werk gee aan die leser ’n seldsame kyk op die Romeinse alledaagse lewe van die 1ste eeu nC. In die Satyrica stel die vertaler die leser voor aan gewone aardlinge.
........

Die Satyrica van Petronius (2024) is ’n skitterende vertaling uit Latyn. Hierdie werk gee aan die leser ’n seldsame kyk op die Romeinse alledaagse lewe van die 1ste eeu nC. In die Satyrica stel die vertaler die leser voor aan gewone aardlinge. Hulle is nie net met oorlogvoering besig nie; hulle is ook besig om besondere geboue en paaie te skep. Hulle is doodgewone mense met eie gewoontes wat uit verskillende klasse bestaan. Ons lees ook van morele en immorele gedrag, gesegdes en die doen en late van die breë samelewing. Soos die leser van mense deur die eeue verwag, kom daar ook liefde en erotiek in dié besondere werk voor.

Miskien is die leser bevoorreg om Latyn op skool en ook by ’n universiteit te leer. Wie sal ooit vir HL Gonin wat Latyn meesterlik aan die Universiteit van Pretoria gedoseer het, vergeet? Koos Kritzinger is ook ’n knap Latinis aan die Universiteit van Pretoria.

.........
Die skrywer van die werk is Titus Petronius. Hy was konsul in 62 nC en vervolgens prokonsul (goewerneur) van Bitinië. Keiser Nero het hom in diens geneem om toesig oor sy “vermaak” te hou. Hy moes Nero se wellus en seksuele afwykings en ook die algemene wangedrag aan die paleis reël.
........

Inligting oor die skrywer van die Satyrica dra daartoe by dat die leser die boek beter begryp. Die skrywer van die werk is Titus Petronius. Hy was konsul in 62 nC en vervolgens prokonsul (goewerneur) van Bitinië. Keiser Nero het hom in diens geneem om toesig oor sy “vermaak” te hou. Hy moes Nero se wellus en seksuele afwykings en ook die algemene wangedrag aan die paleis reël. Sy bevoorregte posisie met Nero het jaloesie en onmin gestook. Listige planne in die paleis het tot sy ondergang gelei. Hy het besluit dat selfdood die enigste uitweg is. Voor dié daad het hy eers sy testament opgestel. Daarin het hy al Nero se wandade aan die lig gebring. Hy het ook die jong skandemakers gelys. Daarna het hy die dokument verseël en sy seëlring gebreek. Hiermee wou hy verhoed dat ander ná sy dood nie op ’n lewensbedreigende pad beland nie. Hy het kort voor sy dood in 66 nC die dokument aan Nero gestuur.

........
In hierdie merkwaardige boek word die Romeine nie voorgestel as stoere en dapper persone nie. Die treffende kenmerk is die vernuftige karakterskeppings, veral van die laer klasse. Hulle word met humor, realisme en ’n mate van deernis voorgestel.
........

Die Satyricôn (libiri) (Boeke van satires) is, soos die titel aandui, satiries van aard. Daar was egter ook die afwisseling van morele lesse en epiese verse. In hierdie merkwaardige boek word die Romeine nie voorgestel as stoere en dapper persone nie. Die treffende kenmerk is die vernuftige karakterskeppings, veral van die laer klasse. Hulle word met humor, realisme en ’n mate van deernis voorgestel. Die Romeine was trots op seksuele aangeleenthede. Dit was doodnormaal. Die merkwaardige boek wat briljant deur Henderson vertaal is, gee ’n insig in die Romeine se sosiale lewe, die mag wat deur oorloë en politiek geskep word. Dit is merkwaardig hoeveel raakpunte dié werk met mense van die een-en-twintigste eeu het. Mense bly maar mense, ongeag die tyd waarin hulle leef.

Die eetmaal van Trimalchio stel die leser voor aan sy aanstellerigheid en onkunde. Sy gaste en hulle stories en gedrag, die verspotte vertonings en die ongewone disse sal by menige leser ’n lagbui opwek. Die ete is egter slegs een boek uit ’n vermoede 24 van die hele Satyrica. Die hoofkarakters Encolpius, Giton en Ascyltus, almal vrygelate slawe, se wedervaringe voor en ná die eetmaal bevat een van die seldsaamste indrukke op alledaagse mense in die Romeinse tyd. Dit is aan al die mense se leefwyse en ervaringe wat die leser op ’n indrukwekkende wyse blootgestel word. Dit is asof die karakters van die Satyrica mense van ons tyd is.

.........
’n Omdigting (vertaling) in die eie taal is soos soetvye op die tong. Die Satyrica kry in Afrikaans ’n eie lewe, ritme en stukrag. Elke taal bied ’n ander opvatting van kennis en dus van die wêreld. Daarom verwelkom nuwe metafore die Latynse vertaling by die Afrikaanse hawe.
.........

Vertaling bring mee dat keuses gemaak moet word met die oog op ’n sinvolle vertaling. Dit is ’n oorbekende waarheid dat daar in enige vertaling altyd ’n mate van verraad skuil. Die ou slagreël lui soos ’n klok: traduttore, traditore (vertaler, verraaier). Sodra een element van die struktuur, soos woordorde, ritme, sintaksis, metaforiek, vergelykings, sinstipe, poëtiese strategieë, tekstuur, strofiese samestelling, narratiewe funksies, linguistiese situasie en postuur (die liggaam, stem en asemhaling van die teks) verander word, is die oorspronklike teks reeds “verraai” (Gräbe 1984:178–280; Brink 1998:1–19; Attridge 2005:1–205). Tog is dit goed dat dit so is. ’n Omdigting (vertaling) in die eie taal is soos soetvye op die tong. Die Satyrica kry in Afrikaans ’n eie lewe, ritme en stukrag. Elke taal bied ’n ander opvatting van kennis en dus van die wêreld. Daarom verwelkom nuwe metafore die Latynse vertaling by die Afrikaanse hawe.

Om te vertaal is in die eerste plek om keuses te maak. Dit strek ’n vertaling tot voordeel deur nie te hou by die vaste prosodie (maat en ritme) van die oorspronklike teks nie en deur ook nie die prosodie te domestikeer nie. Hiermee word bedoel dat die vertaler nie die oorspronklike teks (wat ook gedigte insluit) so moet probeer tem dat hy dit vir sy doeleindes “inheems” maak nie. Hiervan is Henderson se digterlike vertaling in hoofstuk 55 ’n uitstekende voorbeeld. Henderson se vertaling van die digterlike teks is skitterend. Trimalchio, ’n uiters elegante man, het sonder om lank te talm, die volgende gedig voorgedra:

Wat jy nie verwag nie, gebeur van die ander kant
– en bo-oor ons versorg die Noodlot ons sake,
Dus: gee aan ons Falerniese wyn, ou seun! (bl 55)

’n Vertaling vra ook na die musikaliteit en samevoeging van woorde en sinne. Die vertaler moet na die woorde luister wat hy kies en dit vergelyk met die letterlike betekenis van die oorspronklike taal. Hy moet dan die gevoelswaarde daarteen opweeg ten einde die geskikte toonaard en kadens te vind.

Met reg skryf William H Gass (1999:55): “The translating reader reads the inside of the verse and sees, like the physician, either its evident health or its hidden disease.” Met sy sonar kan die vertaler die binnewerkinge van die teksliggaam sien, en alles binne sy of haar vermoë doen om deur ’n kreatiewe en kundige vertaling ’n gesonde teks na die lesers toe te stuur. Aan al die eise het Henderson lofwaardig voldoen.

........
Die afstand tussen die kultuurhistoriese konteks van die oorspronklike teks of gedig en die teks van die omdigting moet altyd in ag geneem word. Dit vra van die vertaler om so ver dit menslik moontlik is, kennis te dra van die kultuurhistoriese situasie van die oorspronklike teks. In ’n sekere sin is vertaling verduistering, maar dit is ook ’n verheldering.
........

Ek is deeglik daarvan bewus dat vertalers langs donker afgronde loop. Vertalers moet steeds bewus bly van die risiko’s van vertaling. Die afstand tussen die kultuurhistoriese konteks van die oorspronklike teks of gedig en die teks van die omdigting moet altyd in ag geneem word. Dit vra van die vertaler om so ver dit menslik moontlik is, kennis te dra van die kultuurhistoriese situasie van die oorspronklike teks. In ’n sekere sin is vertaling verduistering, maar dit is ook ’n verheldering.

Die vertaler moet ook die woorde van Brian Holton (2012:354) oorweeg en heroorweeg:

[...] if we translators do not treat our texts with the high seriousness, the craftsman’s precision, and the titanic struggle for meaning that poets bring to bear, then we are not doing our job as well as we should. Samuel Beckett famously laid it out for us: “Try again. Fail again. Fail better.”

Henderson se vertaling is summa cum laude.

In Deel 2 kom die bekende ete by Trimalchio voor, waar die buitensporige weelde en disse, verdraaide kennis en menings en uitspattige gedrag aan die lig kom (bl 31–78). Deel 3 word onder andere gewy aan Eumolpus, die lostong-digter en -filosoof. Hy is deur wyn aangetas en beoog om met sy kwinkslae teen bleskoppe en herkenbare misdadigers uit te vaar. Nadat sy gevatheid opgeraak het, keer hy na sy gedigte terug en begin om ’n elegie oor hare voor te dra. Hierdie elegie word deur onder andere satire en ironie gekenmerk. Hier tref ons Henderson se voortreflike en poëties-gekleurde vertaling aan.

Hare wat die enigste sieraad van jou liggaam is,
het uitgeval. Droewige winter het die hare van die lente
weggevoer. Nou is die slape van hul skadu gestroop
en treur reeds, en die kaal, ou area blink waar die hare
verslete is. O die bedrieglike aard van die gode:
die eerste vreugdes wat u in ons jeug skenk,
neem u eerste weg. Arme skepsel, onlangs
het jou hare nog mooier as Apollo en sy suster
Artemis s’n geblink. Maar nou is jy gladder as brons
of as die ronde tuinsampioen wat deur reën
geskep word, en jy vrees laggende
meisies. Sodat jy kan glo die dood kom vinniger,
weet goed dat ’n deel van jou kop reeds gesterf het.

Daar is talle van Henderson se poëtiese weelde in Die Satyrica van Petronius. ’n Meester het die boeiende werk meesterlik vertaal. Nou kan die leser die boek met vreugde begin lees. Die leeservaring bied nie slegs ’n insiggewende blik op die Romeinse wêreld nie, maar veral ook op die wêreld van ons dag.

Bronnelys

Attridge, D. 2005. J.M. Coetzee and the ethics of reading. Londen: University of Chicago.

Brink, AP. 1998. The novel. Language and narrative from Cervantes to Calvino. Kaapstad: University of Cape Town Press.

Gass, WH. 1999. Reading Rilke. Reflections on the problems of translation. New York: Basic Books.

Gräbe, I. 1984. Aspekte van poëtiese taalgebruik. Teoretiese verkenning en toepassing. Potchefstroom: Departement Sentrale Publikasies PU vir CHO.

Henderson, WJ. 2024. Die Satyrica van Petronius. Gansbaai: Naledi.

Henderson, WJ. 2009. Vir Griekse fluite. Pretoria: Protea Boekhuis.

Holton, B. 2012. Phrases that shall be musical in the mouth. In N.W. Herbert en Y. Lian, met B. Holton en X. Qin. Jade Ladder. Contemporary Chinese Poetry. Glasgow, Skotland: Bell & Bain.

Lees ook:

LitNet wag op jou lesersindruk!

WJ Henderson se meesterlike vertalings van Latynse gedigte

Taal en ver-taal II: Hermeneutiese perspektief op die Inferno

Die Psalms in omdigting en vertaling

Literêre vertaling – 'n paar praktiese wenke

The post Die Satyrica van Petronius, vertaal deur WJ Henderson: ’n lesersindruk first appeared on LitNet.

The post <em>Die Satyrica van Petronius</em>, vertaal deur WJ Henderson: ’n lesersindruk appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21697

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>