Draai jou sente om
Abrie Coetzee
LAPA
ISBN: 9780799374858
Skrywers oor hulle nuwe boeke: Abrie Coetzee oor Draai jou sente om
Hallo Abrie, jy is die skrywer van Draai jou sente om: wenke om geld te spaar met aftrede. Is jou boek geskryf vir diegene wat reeds afgetree het, of diegene wat aan aftrede begin dink?
Die boek is geskryf vir afgetredenes wat finansieel swaarkry, asook diegene wat op pad is na aftrede en besef dat hulle voorsiening vir aftrede onvoldoende is. Interessant genoeg kry ek baie positiewe teugvoering van jonger mense wat die boek as geskenk vir hul ouers koop en dit dan self lees. Hulle kom tot die besef dat hulle baie meer aandag aan hul eie finansies moet skenk.
Wat is, terloops, ‘n goeie ouderdom om aan aftrede te begin dink? Enige wenke vir diegene wat nog nie afgetree is nie en moet voorsiening maak vir aftrede?
Daar is nie meer 'n spesifieke ouderdom waarop jy aan aftrede kan dink nie. Die gewaarborgde pensioene wat ons ouers en voorouers van die staat en groot werknemers ontvang het, bestaan nie meer nie. Jy moet vandag na jou eie belange omsien en seker maak jou fondse is voldoende. Het jy genoeg kapitaal bymekaar gemaak om te oorleef wanneer jy aftree? Indien wel, dan is dit miskien 'n goeie ouderdom om aan afskaling te dink.
Indien jou fondse onvoldoende is om af te tree, begin met ʼn reusepoging om geld weg te sit. Doen alles in jou vermoë om in jou pos aan te bly. As dit nie moontlik is nie, begin soek vir 'n ander betrekking.
Terselfdertyd moet jy jou uitgawes daadwerklik afskaal sodat jy elke maand die maksimum moontlike fondse kan spaar. Onthou as afgetredene word jy in die gesig gestaar met inflasie wat die waarde van jou geld wegvreet, mediese onkoste wat buitengewoon styg en die moontlikheid van 'n lang lewe. Dit verg groot beleggings.
ʼn Veilige syfer vir voorsiening vir aftrede is 25 maal die inkomste wat jy as afgetredene wil ontvang. Sou jy R200 000 per jaar as inkomste benodig, moet jy oor 25 x R200 000 = R5 000 000 se beleggings beskik.
Hoe algemeen is dit vir mense om nie te spaar nie en van die hand na die mond te leef? Hoe breek mens hierdie soort siklus?
Opnames deur die banke en versekeraars toon jaar na jaar dat die gemiddelde gesin nie spaar nie en 'n groot persentasie leef trouens op skuld. 'n Verandering kan net deur 'n verandering in denke bewerkstellig word. 'n Groot kopskuif moet gemaak word vanaf 'n leefstyl van oorlewing na 'n leefstyl van finansiële vryheid.
Tegnieke en formules om te spaar gaan jou nie help tensy jy besef dat jy vasgevang is in 'n leefstyl van afhanklikheid nie. Elke maand neem jy jou voor om die bose siklus te breek, maar vind nog steeds jou geld is op voor die maand verby is.
Hierdie siklus kan net gebreek word as jy minder uitgee as wat jy inkry, nadat jy voorsiening gemaak het vir spaar, en nadat jy ontslae geraak het van ten minste jou korttermynskuld. Dit verg egter dat jy bereid moet wees om af te skaal, 'n begroting op te stel en daarvolgens te leef, en om jou kooplus te tem. Kortom, jou leefstyl moet drasties verander.
Jy noem vroeg in die boek, en ook hier bo, dat mense vroeër jare gevoel het daar is meer sekerheid rondom aftrede: maatskappye het vir hul werknemers gesorg. Deesdae is dit nie meer so nie. Wat is die eerste raad wat jy vir iemand sal gee wat besef hulle tree nou af en het nie voorsiening gemaak nie?
As jy in daardie situasie beland, moet jy eerstens presies bepaal wat jou maandelikse inkomstetekort is. Neem alle uitgawes van die afgelope 3–6 maande in ag sodat jy ʼn akkurate syfer kan bekom. Sodra jy weet wat jou maandeliks tekort is, doen jy ʼn ontleding van elke uitgawe-item ten einde te bepaal waar en hoeveel jy op uitgawes kan bespaar.
Indien besparing op jou lopende maandelikse uitgawes nie voldoende is om die inkomstetekort aan te vul nie, moet jy jou kostes aan behuising en vervoer ontleed. Afskaling hiervan bring gewoonlik groot besparings in die vorm van verlaagde onderhoud, versekering asook belasting mee.
Indien jy nog steeds ʼn inkomstetekort ondervind, sal jy verplig wees om addisionele inkomste te vind. Begin weer werk of skep jou eie werk.
Jy noem die belang van ‘n begroting. Wat is die belangrikste aspekte waarvoor voorsiening gemaak behoort te word in ‘n begroting?
Aan die uitgawekant behoort ʼn begroting voorsiening te maak vir alle uitgawes verbonde aan behuising, vervoer, voedsel, gesondheid, vermaak en ontspanning, persoonlike uitgawes asook ander uitgawes soos skuld, troeteldiere en kredietkaarte. Inkomstes van ʼn afgetredene bestaan gewoonlik uit pensioen, annuïteite en rente/dividende.
Noem asseblief ‘n paar praktiese maniere om finansieel af te skaal.
Is dit nodig dat jy ʼn groot huis met ʼn welige tuin en swembad bewoon? ʼn Kleiner blyplek op enkelvlak met ʼn klein tuin (of glad nie ʼn tuin nie) kan duisende rande se besparing op onderhoud, versekering en munisipale dienste meebring. Oorweeg om na ʼn woonbuurt te verhuis waar eiendomswaardes laer is en waarskynlik ook nader is aan die mediese en handelsdienste wat jy benodig.
Skaal die luukses soos hoëspoed-internet, satelliet-TV, lidmaatskap van gholf- en ander klubs af om ʼn aansienlike bedrag elke maand te bespaar.
As jy maandeliks steeds finansieel bydra tot jou kinders se uitgawes, staak dit onmiddellik. Praat met hulle en verduidelik jou finansiële probleem. Hulle mag dalk ʼn onrealistiese idee oor jou finansiële vermoëns hê.
Kry jou kooplus in bedwang. Stel altyd ʼn inkopielys op en koop slegs wat op die lys voorkom. Kyk dan ook of jy daarop kan bespaar. Indien jy iets sien wat jy graag wil koop, plaas dit as item op die volgende inkopielys. Jy mag dalk anders besluit wanneer jy daaroor gedink het.
Pensionarisse kan goedkoper gaan fliek. Watter ander finansiële voordele bestaan daar vir mense wat ouer as 60 is?
Talle besighede bied korting aan ouer mense. Die geheim is om elke keer wanneer jy iets aankoop, vir afslag te vra. Indien jy dit nie kry, soek jy verskaffers wat dit wel aanbied.
Nasionale Parke bied byvoorbeeld akkommodasie aan ouer mense teen ʼn baie goeie prys. Jy moet egter spesifiek daarvoor vra. Ander sluit in Spar, Pick n Pay, Clicks, Mango-lugdiens, SpecSavers, SAUK-TV, InterCape-busvervoer en talle ander. Vra daarvoor, want hulle gaan dit nie bloot aanbied nie.
As mens nodig het om vir jouself werk te skep, hoe doen jy dit op jou oudag?
Dit is so dat om vir jouself te werk ʼn ernstige belegging in tyd en energie verg. Dis nie vir almal bedoel nie. Jy moet entrepreneuries wees, oor deursettingsvermoë beskik, ʼn goeie ondersteuningstelsel hê en goeie tydsbestuur kan toepas. Dis egter die moeite werd om te probeer.
Een van die moeilikste besluite wat jy moet neem, is watter produk of diens om aan te bied. Dit moet binne konteks van jou belangstellings, opleiding, ondervinding en persoonlikheid ontwikkel of geïdentifiseer word. Dan moet jy toets of daar ʼn vraag na die produk of diens is en wat die inkomstepotensiaal sal wees.
Afgetredenes behaal dikwels sukses met produkte of dienste vir die volgende: geskenke, persoonlike dienste, gesondheid, handwerk, hersteldienste, kunsprodukte, opleiding, besigheidsdienste, internetdienste en direkte verkope. Die boek verskaf etlike voorbeelde van elke kategorie wat ek hier noem.
Wat is ‘n goeie beleggingskeuse? Hoe weet mens wie en wat om te vertrou?
Dis eerstens nodig om te kyk na wat jy nie moet doen nie: om in skemas te belê wat bogemiddelde opbrengste belowe, of beleggings te maak in vriende en familie (insluitend kinders) se besighede, werk nie. Werk slegs met adviseurs verbonde aan erkende finansiële instellings wat by die Finansiële Diensteraad geregistreer is en hul registrasies kan bewys.
ʼn Goeie beleggingskeuse moet aan die volgende voldoen:
- ʼn inkomste vir die res van jou lewe voorsien en nie net vir enkele jare nie
- jou kapitaal beskerm
- sodanige gelde hef dat dit nie die inkomstevoorsiening asook kapitaalbeskerming in gevaar stel nie.
Jou adviseur moet dit op skrif bevestig in ʼn taal wat jy verstaan. Miskien moet jy jou finansiële geletterdheid ook opskerp terwyl jy hiermee besig is. Dis makliker as wat jy dink en kan jou eindelose kopsere bespaar.
Om ouer te word, het nie net te doen met verminderde inkomste nie. Mense voel selfbewus en onbelangrik, asof die samelewing hulle nie meer as nuttig beskou nie. Tog meen jy hierdie mense behoort te dink aan geld spaar? Dalk kan jy bietjie hierop uitbrei – waarom is dit nodig om op jou oudag te spaar?
Ons lewensverwagting is vandag baie langer as etlike jare gelede. Die helfte van alle mans wat tans 60 jaar oud is, behoort tot 85 te leef. Vroue wat tans 70 jaar oud is, kan tot ʼn ouderdom van 93 leef. Dis lang leeftye wat aansienlike beleggings verg om te onderhou. Baie afgetredenes onderskat dit en dink hulle fondse is voldoende. Daarom die klem op matigheid en besparing.
Jy raak egter ʼn belangrike aspek aan. Heelwat afgetredenes is onvergenoegd en voel onbelangrik. Geldelike probleme vererger hul ontevredenheid. Nie alles draai egter net om geld nie. Aftrede bied juis die geleentheid om vriendskappe te hernu, meer tyd saam met kleinkinders deur te bring, ʼn stokperdjie aan te leer, baie te lees, tyd af te staan aan ander wat minder bevoorreg as jy is, in te skakel by jou kerk of gemeenskap se aktiwiteite, die natuur om jou te waardeer. Daar is soveel dinge waarmee jy jou lewe kan aanvul.
Dit vereis ʼn gesindheidsverandering. Moenie so vasgevang raak in jou eie probleme dat jy die wêreld om jou nie raaksien nie. Wanneer jy jou houding verander, gaan jy vind dat jy ook meer kreatief na jou finansiële probleme begin kyk. Jy gaan oplossings vind waaraan jy tans nie dink nie.
The post Tien vrae: Abrie Coetzee oor Draai jou sente om appeared first on LitNet.